Jongmense vra . . .
Het ek ’n eetversteuring?
“Soms wanneer ek gaan sit om te eet, raak ek senuweeagtig en begin ek bewe. Ek is bang ek gaan gewig optel. Ek sê vir myself: ‘Ek moet nog twee kilogram verloor.’”—Melissa.a
“Ek wil aantreklik wees, en ek is doodbang dat ek vet sal word. Maar ek wil nie hê enigiemand moet weet dat ek opgooi nadat ek geëet het nie. Ek voel baie verleë daaroor.”—Amber.
“Ek sê vir myself: ‘ . . . Vandag gaan ek beter doen . . . ’ Maar later in die dag kan ek nie anders nie en vergryp ek my aan kos. Dan voel ek skuldig en wil ek doodgaan.”—Jennifer.
JY WIL goed lyk, en dit is normaal. Jy wil vertroos word wanneer jy kwaad of terneergedruk is. Dit is ook nie verkeerd nie. Maar as jy soos enige van die meisies is wat hier aangehaal word, het jy dalk ’n probleem. Indien wel, is jy nie die enigste een nie. Die feit is dat miljoene jongmense—waarvan die meeste meisies is—’n eetversteuring het.b
Kom ons kyk van naderby na anoreksie, bulimie en kosvergryping. Elkeen van hierdie versteurings het verskillende simptome, maar elkeen het te doen met ’n abnormale gesindheid teenoor kos. As enige van die volgende beskrywings jou pas, wees verseker dat hulp beskikbaar is. Jy kan gesond word!
’n Oorsig
◼ ANOREKSIE. Wanneer ’n meisie met anoreksie in die spieël kyk, sien sy iemand wat oorgewig is, ongeag hoe skraal sy is. Sy sal na uiterstes oorgaan om gewig te verloor. “Ek het kompulsief kalorieë begin tel”, sê een lyer. “Ek het sorgvuldig beplan wat ek gedurende die week gaan eet, en dan het ek maaltye oorgeslaan en hard geoefen wanneer ek gedink het dat ek te veel kalorieë ingeneem het. Ek het tot ses keer per dag lakseermiddels geneem.”
Kort voor lank raak die simptome van anoreksie sigbaar. Gewigsverlies is ’n algemene teken, maar die lyer kan ook haarverlies, droë vel, moegheid en ’n vermindering van beendigtheid ondervind. Menstruasie kan ongereeld raak of selfs vir etlike opeenvolgende maande ophou.
Dalk klink hierdie simptome onskadelik, maar wees gewaarsku—Anoreksie is lewensgevaarlik. In een studie is bevind dat tot 10 persent van lyers mettertyd weens hulle versteuring sterf, gewoonlik omdat hulle organe ingee of as gevolg van ander probleme wat met wanvoeding verband hou.
◼ BULIMIE. ’n Meisie met bulimie vermy nie kos nie, maar vergryp haar daaraan en neem tot 15 000 kalorieë binne net twee uur in! Dan raak sy ontslae van wat sy geëet het, gewoonlik deur haarself te laat opgooi of deur lakseermiddels of ontwateringsmiddels te neem.
Kosvergryping vind dikwels in die geheim plaas. “As ek ná skool voor enigiemand anders by die huis gekom het, het ek my gewoonlik aan kos vergryp”, sê een meisie. “Ek het seker gemaak dat ek die bewyse wegsteek.” Nadat sy haar so vergryp het, is sy egter deur skuldgevoelens oorweldig. “Ek het verskriklik sleg oor myself gevoel”, sê sy, “maar ek het geweet dat ek my dade kan uitvee. Ek het opgegaan badkamer toe, opgegooi en dan nie net verlig gevoel nie, maar ook in beheer.”
Ongeag enige voordele wat dit skynbaar inhou, is dit gevaarlik om so van kos ontslae te raak. Die misbruik van lakseermiddels verswak die dermwand en kan inflammasie of infeksie veroorsaak. Herhaalde opgooiery kan tot dehidrasie, tandbederf, beskadiging van die slukderm en selfs hartversaking lei.
◼ KOSVERGRYPING. Soos die bulimielyer, sal iemand wat haar aan kos vergryp, groot hoeveelhede kos eet. Die verskil is dat sy nie daarvan ontslae raak nie. Gevolglik is die persoon wat haar aan kos vergryp, moontlik oorgewig. Maar party sal hulle ná ’n episode van kosvergryping verhonger of sal strawwe oefening doen. Wanneer die lyer haar gewig so onder beheer hou, bly haar familie en vriende soms onbewus van haar probleem.
Soos anoreksie- en bulimielyers, het diegene wat hulle aan kos vergryp, ’n ongesonde gesindheid teenoor kos. Een meisie sê van haarself en ander lyers: “Kos is ons persoonlike, geheime vriend—dalk ons enigste vriend.” Nog een sê: “Wanneer ek my aan kos vergryp, is dit asof niks anders saak maak nie. Kos is die belangrikste ding—dit is vertroostend—en nadat ek my so vergryp het, voel ek skuldig en terneergedruk.”
Selfs wanneer iemand nie van die kos ontslae raak nie, is dit gevaarlik om jou aan kos te vergryp. Dit kan suikersiekte, hoë bloeddruk, hartsiekte en ’n aantal ander kwale veroorsaak. Dit kan ook baie emosionele skade aanrig.
Kan dit met jou gebeur?
Die meeste mense wat gewig wil verloor of fiks wil word, het natuurlik nie ’n eetversteuring nie. Maar wanneer jy aan die bogenoemde dink, wonder jy dalk of jy daarheen op pad is. Vra jou af:
◼ Is ek skaam of verleë oor my gewoontes of rituele in verband met kos?
◼ Steek ek my eetgewoontes vir ander weg?
◼ Het kos die belangrikste ding in my lewe geword?
◼ Weeg ek my meer as een keer per dag?
◼ Is ek bereid om my aan gevaar bloot te stel om gewig te verloor?
◼ Het ek myself al laat opgooi of geëksperimenteer met lakseermiddels of ontwateringsmiddels?
◼ Het my eetgewoontes my sosiale lewe beïnvloed? Verkies ek byvoorbeeld om alleen eerder as saam met ander te eet sodat ek my in die geheim aan kos kan vergryp of daarvan ontslae kan raak?
As jou antwoorde op hierdie vrae toon dat jy ’n probleem het, vra jou af:
◼ Is ek werklik gelukkig met hierdie lewenswyse?
Wat kan jy omtrent die situasie doen?
Tree nou op!
Die eerste stap is om aan jouself te erken dat jy ’n probleem het. “Nadat ek daaroor gedink het”, sê Danielle, “het ek besef dat ek dieselfde gevoelens en gewoontes het as meisies met anoreksie. Dit het my bang gemaak om te erken dat ek dieselfde dinge doen as wat hulle doen.”
Daarna moet jy tot Jehovah bid oor jou probleem.c Smeek hom vir insig om te sien wat die oorsaak is van jou versteuring sodat jy dit kan oorkom. Jy kan bid soos Dawid: “Deurvors my, o God, en ken my hart. Ondersoek my, en ken my verontrustende gedagtes, en kyk of daar in my enigsins ’n pynlike weg is, en lei my op die weg van onbepaalde tyd.”—Psalm 139:23, 24.
Aan die ander kant wil jy dalk nie graag jou eetversteuring oorkom nie. Jy het dalk daarvan afhanklik geraak, amper soos ’n verslawing. Dit is nog iets waaroor jy met Jehovah in gebed kan praat. Dit is wat Danielle moes doen. “Aan die begin”, erken sy, “wou ek nie werklik herstel nie. Ek moes dus bid vir die begeerte om te herstel.”
Derdens moet jy met een van jou ouers of ’n ander volwassene praat wat jou kan help. Liefdevolle volwassenes sal jou nie verleë laat voel nie. Hulle sal Jehovah eerder probeer navolg, van wie die Bybel sê: “Hy het die ellende van die geteisterde nie verag of verafsku nie; en hy het sy aangesig nie vir hom verberg nie, en wanneer hy tot hom om hulp geroep het, het hy gehoor.”—Psalm 22:24.
Die pad na herstel is wel nie maklik nie. In sommige gevalle is professionele hulp nodig.d Dit is belangrik dat jy optree. Dit is wat een meisie met bulimie besluit het om te doen. “Eendag”, het sy gesê, “het ek besef dat ek in werklikheid beheer word deur die begeerte om van my kos ontslae te raak. Maar ek was nie seker dat ek daarmee kon ophou nie. Uiteindelik het ek die moeilikste ding gedoen wat ek al ooit moes doen. Ek het hulp gevra.”
Jy kan dit ook doen!
[Voetnote]
a Van die name in hierdie artikel is verander.
b Aangesien die meerderheid van diegene met eetversteurings vroulik is, sal ons na lyers as vroulik verwys. Maar baie van die beginsels wat hier bespreek word, is ook op mans van toepassing.
c Wanneer jy angstig is, kan jy oor tekste soos die volgende peins, wat jou die versekering sal gee dat Jehovah vir jou persoonlik omgee: Eksodus 3:7; Psalm 9:9; 34:18; 51:17; 55:22; Jesaja 57:15; 2 Korintiërs 4:7; Filippense 4:6, 7; 1 Petrus 5:7; 1 Johannes 5:14.
d Christene moet seker maak dat enige behandeling wat hulle oorweeg, nie met Bybelbeginsels bots nie.
IETS OM OOR TE DINK
◼ Dink jy dat jy dalk ’n eetversteuring het? Indien wel, wie kan jy om hulp vra?
◼ Hoe kan jy ’n vriend help wat ’n eetversteuring het?
[Venster op bladsy 19]
“Ek dink jy het ’n probleem ...”
As ’n gesinslid of vriendin dit vir jou sê, moet jy teen die begeerte stry om jou te verdedig. Gestel ’n vriendin let op dat die soom aan die agterkant van jou rok lostrek. Sal jy dit nie waardeer dat sy iets sê voordat dit heeltemal loskom nie? Die Bybel sê: “Daar is ’n vriend wat sterker aanhang as ’n broer” (Spreuke 18:24). Wanneer iemand na jou toe kom omdat hulle besorg is oor ’n probleem wat jy dalk het, is daardie persoon so ’n vriend!
[Venster/Prent op bladsy 19]
‘Ek moes skraal wees’
“Ek het gewig begin verloor. Toe het ek my verstandtande laat trek en kon ek nie eet nie. Dit het my in anoreksie laat verval. Ek het behep geraak met my voorkoms en my figuur. Ek was nooit skraal genoeg nie. My laagste gewig was skokkend. Ek het my liggaam soveel skade aangedoen! Nou kan ek nie my naels laat groei nie. My interne klok is heeltemal omvergegooi. Ek het al vier miskrame gehad. Ek is in vroeë menopouse en my metabolisme is heeltemal ontwrig. Ek het ook dikdermontsteking. Dit alles omdat ek skraal moes wees.”—Nicole.
[Venster op bladsy 20]
As jy ’n terugslag ervaar
Jy wen dalk die stryd teen jou eetversteuring, net om weke of maande later ’n terugslag te ondervind. Moenie tou opgooi as dit gebeur nie. Die Bybel erken dat “die regverdige . . . selfs sewe keer [kan] val” (Spreuke 24:16). ’n Terugslag beteken nie dat jy ’n mislukking is nie. Dit beklemtoon net dat jy meer vasbeslote moet wees, die gevaartekens van ’n naderende terugslag moet herken en, moontlik weer ’n keer, met mense moet praat wat jou kan help.
[Venster/Prent op bladsy 20]
Lees meer daaroor
As jy ’n eetversteuring het, is dit verstandig om meer oor die onderwerp te lees. Hoe meer jy van die probleem weet, hoe makliker sal dit wees om daarteen te stry. Jy sal waarskynlik daarby baat vind om die nuttige inligting in die Ontwaak! van 22 Januarie 1999, bladsye 3-12, en 22 April 1999, bladsye 13-15, te hersien.
[Venster op bladsy 21]
WENKE AAN OUERS
Wat kan jy doen as jou dogter ’n slagoffer van ’n eetversteuring word? Kyk eers noukeurig na die inligting in hierdie artikel en in die ander verwysings op bladsy 20. Probeer verstaan waarom sy dit doen.
Daar is bevind dat baie mense met eetversteurings ’n swak selfbeeld het en perfeksionisties is en dus onredelik hoë verwagtinge van hulleself koester. Maak seker dat jy nie hiertoe bydra nie. Bou jou dogter op (Jesaja 50:4). En werk perfeksionisme teë deur ‘jou redelikheid bekend te laat word’.—Filippense 4:5.
Neem jou eie gesindheid teenoor kos en gewig ook goed onder oë. Het jy dalk onwetend, deur wat jy sê of deur jou voorbeeld, te veel klem daarop geplaas? Onthou dat jongmense baie gesteld is op hulle voorkoms. Selfs as iemand net spot oor “babavet” of die feit dat ’n adolessent vinnig opgeskiet het, kan dit gevaarlike idees in die verstand van ’n beïnvloedbare jongmens saai.
Nadat jy die saak biddend deurdink het, moet jy ’n openhartige gesprek met jou dogter hê.
◼ Dink goed na oor wat om te sê en wanneer om dit te sê.
◼ Spreek jou besorgdheid en jou begeerte om te help, duidelik uit.
◼ Moenie verbaas wees as die eerste reaksie verdedigend is nie.
◼ Luister geduldig.
Die belangrikste is om jou dogter se pogings om te herstel, heelhartig te ondersteun. Werk as ’n gesin saam om die lyer te help herstel!
[Prent op bladsy 21]
Jy sal moontlik moet bid vir die begeerte om te herstel