Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g90 12/22 bl. 5-9
  • Wie kry eetversteurings?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Wie kry eetversteurings?
  • Ontwaak!—1990
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Strewe na volmaaktheid
  • Gevoel van onvolwaardigheid
  • Hantering van pynlike emosies
  • Die rol wat ’n dieet speel
  • Waarom ’n hedendaagse siekte?
    Ontwaak!—1990
  • Het ek ’n eetversteuring?
    Ontwaak!—2006
  • Hoe om diegene met eetversteurings te help
    Ontwaak!—1992
  • Waarom het ek ’n obsessie oor my gewig?
    Ontwaak!—1999
Sien nog
Ontwaak!—1990
g90 12/22 bl. 5-9

Wie kry eetversteurings?

Hoewel ’n redelike belangstelling in ’n mens se voorkoms normaal is, kan ’n eetversteuring ontstaan wanneer jou voorkoms ’n obsessie word. Die volgende onderhoud lig die saak toe.

ONTWAAK!: Was jy oorgewig, Ann, toe jou probleme begin het?

ANN: Nee, maar ek het met seuns begin uitgaan en ek wou mooi lyk.

ONTWAAK!: Het jou eiewaarde afgehang van hoe jy lyk?

ANN: Ek is seker dit het. Wanneer mense na my gekyk het, het ek my altyd afgevra: ‘Wat dink hulle?’ My verstand het bly sê: ‘Jy moet ’n mooi figuur hê om aantreklik te kan wees.’

ONTWAAK!: Jy was dus vol selfvertroue wanneer jy gedink het jy lyk mooi?

ANN: Beslis! As ek gewig aangesit het, het ek myself gehaat. Wanneer ek in die spieël gekyk het, het ek nie aan die innerlike eienskappe gedink nie.

Niemand weet waarom sommige mense ’n eetversteuring kry terwyl ander in ’n soortgelyke situasie dit nie kry nie. Kultuur, oorerflikheid, gesondheid of biochemiese afwykings en die gesinsomgewing speel alles blykbaar ’n rol. Maar dit wil voorkom of daar sekere persoonlikheidseienskappe is wat kenmerkend van die meeste lyers is.

Strewe na volmaaktheid

As ’n groep is die meeste van dié met eetversteurings puik presteerders en perfeksioniste wat op skool of by die werk uitblink. Nadat dr. Hilde Bruch meer as 130 pasiënte met anoreksie behandel het, beskryf sy in haar boek The Golden Cage die gevoelens wat kenmerkend is van sulke mense: “Jy het een groot vrees, jy wil nie iemand wees wat gewoon of gemiddeld of alledaags is nie—dit is eenvoudig nie goed genoeg nie. . . . Jy dink dat jy net aansien sal geniet as jy iets baie spesiaals doen, iets so groot en skitterend dat jou ouers en ander vir wie jy omgee, beïndruk sal wees en jou sal bewonder omdat jy superspesiaal is.”

Lee, wat anoreksie gekry het, het erken: “Ek het probeer uitblink, om in alles wat ek gedoen het die beste te wees.” Hierdie strewe na volmaaktheid blyk dikwels uit ’n vurige begeerte om ander te behaag, om die ‘beste meisietjie in die hele wêreld te wees’.

Die wyse waarop ’n vrou haar rol in die samelewing beskou, kan haar veral kwetsbaar maak. Hoewel mans ook eetversteurings kry, is dit hoofsaaklik vroue wat getref word. Die boek Surviving an Eating Disorder verduidelik: “Meisies wat aan eetversteurings ly, het dikwels grootgeword met die gedagte dat hulle nie veeleisend moet wees nie. Die goeie meisie is die stil, ongesiene meisie wat leer om nie te wys wat haar pla nie.” So ’n opvoeding laat sommige egter voel dat hulle geen beheer oor hulle lewe het nie.

Sommige vroue probeer altyd om ander te behaag, terwyl hulle hulle eie begeerte onderdruk om beheer oor hulle lewe oor te neem. Dit skep ’n innerlike konflik wat tot ’n eetversteuring kan lei. Dawn, wat nou genees is van kompulsiewe ooretery en bulimie, verduidelik: “My gesin het verwag dat ek alles op hulle manier moes doen, dat ek moes wees wat hulle wou hê ek moet wees. Hoewel ek uiterlik die indruk geskep het dat ek baie selfversekerd en baie intelligent is, het ek innerlik glad nie so gevoel nie. Dit het gevoel asof ek nooit aan hulle verwagtinge sou kon voldoen nie. Ek kon niemand behaag nie—nie my vriende of my ouers nie. Toe het ek besef dat ek die gewig kon beheer! Ek kon dit aansit, ek kon dit verloor, ek kon daarmee doen net wat ek wou. Dit het my die gevoel gegee dat ek my lewe beheer. As ek dít kon beheer, kon ek alles beheer.”

Gevoel van onvolwaardigheid

Dawn se gebrek aan selfvertroue is kenmerkend van baie met eetversteurings. Ten spyte daarvan dat hulle talente het, skort daar iets met die meeste se gevoel van eiewaarde. Ooretery kan soms ’n aanduiding van ’n gebrek aan selfrespek wees. Die persoon sê in werklikheid: ‘Ek beteken niks nie. Waarom moet ek my oor myself en my gewig bekommer?’ Sulke gevoelens lei tot neerslagtigheid, iets waaraan byna almal ly wat eetversteurings het.

Wat is die oorsaak van hierdie gevoel dat jy niks werd is nie? Die Bybel antwoord: “By verdriet van die hart is die gees neerslagtig” (Spreuke 15:13). Daar is verskillende dinge wat innerlike pyn kan veroorsaak—bittere teleurstellings, verwerping, ’n omgewing waar ’n mens se emosionele behoeftes geïgnoreer word of traumatiese ondervindinge tydens die kinderjare, om ’n paar te noem. Navorsing toon dat ’n verbasende aantal pasiënte met eetversteurings seksueel misbruik, selfs verkrag, is.

Maar ’n swak gevoel van eiewaarde kan ook vanweë ander se gesindheid ontstaan. “Vandat ek kan onthou, was ek te vet en het my ma altyd daarop gehamer”, het een jong vrou verduidelik. “Alles is gedoen om my maerder te kry; dit is al wat saak gemaak het. Dit is waarom ek my en my liggaam haat.” Vandag se sosiale klimaat, wat slankheid aanprys, dra by tot die eiehaat van sommige wat oorgewig is.

In ander gevalle beroof die eetversteuring self ’n mens van jou selfrespek. Lynn, wat tot tien maal per dag gevomeer het, het erken: “Ek het na my gesig in die spieël gekyk na ek van alles ontslae geraak het en gesê: ‘Ek haat jou’, en dan het ek gehuil. Ek het gevoel of ek niks werd is nie.”

Die meeste mense met eetversteurings is in hulle diepste wese daarvan oortuig dat daar iets met hulle persoonlikheid skort. Alles wat hulle doen, is dus daarop gemik om hulle gevreesde gebrek, naamlik hulle gevoel van onvolwaardigheid, weg te steek en om maniere te vind om hulle selfrespek te verhoog. Diegene wat anorekties word, probeer dit op unieke wyse doen. Hulle poging om selfrespek te vind, is wat anoreksie so ’n sluipende—en dodelike—siekte maak.

Toe Lee afgesê is deur ’n man vir wie sy lief was, het haar selfrespek ’n geweldige knou gekry. “Ek wou bewys dat hy iets goeds prysgegee het”, het sy gesê. “Ek was dus vasbeslote om supermaer en supermodieus te wees.” Om gewig te verloor het sy opgehou eet en baie bedrywig geraak. “Ek het goed omtrent myself begin voel. Ek het gedink dat ek werklik spesiaal is omdat ek iets kan doen wat ander nie kan nie. Ek het gedink: ‘Ek is ’n sterk mens.’”

Lee se gewig het van 73 kilogram tot ’n kommerwekkende 47 kilogram afgeneem. Sy sê oor diegene wat haar sover probeer kry het om te eet: “Ek het gedink al daardie mense probeer net om my lewe en my geluk te vernietig deur my al my selfrespek te ontneem. Ek het gedink dat ek op die ou einde net soos al die ander sou wees.” Daardie gesindheid van Lee is kenmerkend van anoreksie-lyers, wat probeer om eiewaarde te verkry deur hulle begeertes te onderdruk en te doen wat ander nie kan nie.

As ’n meisie se emosies uitgebuit is, kan haar pogings om haar brose selfrespek teen verdere misbruik te beskerm tot anoreksie lei. Byvoorbeeld, die seuns se reaksie op Shirley se nuwe, welgevormde figuur het haar ontstel. Toe het haar eie pa onwelvoeglike toenadering gesoek. “Ek was so verneder en gewalg dat ek na my ma gegaan en net gehuil het”, het Shirley gesê. “Nadat ek gewig verloor en van my rondinge ontslae geraak het, het niemand my gepla nie. Die ander geslag het my uitgelos.”

In sommige gevalle is anoreksie ’n manier om van die verpligtinge van volwassenheid weg te kom. “Ek wou nie grootword en gesinsverantwoordelikhede aanvaar nie”, het Shirley gesê. “Hoe kon ek ooit toelaat dat ek gewig aansit? Nee, nooit nie! Vir niemand nie!” Ongelukkig het haar obsessie om die tyd te laat stilstaan tot ’n pynlike dood weens selfgeïnduseerde uithongering gelei.

Nie alle anoreksie-lyers pas hierdie beskrywings nie. Dit lyk egter of hulle almal ’n magsgevoel kry deur van hulleself iemand te maak wat hulle kan bewonder. Daardeur verkry hulle ’n bietjie selfrespek. Skraalheid word hulle trots en vreugde.

Hantering van pynlike emosies

Aangesien kos tevrede stel en kalmeer, kan dit misbruik word om gevoelens van eensaamheid, kommer, verveeldheid, woede, terneergedruktheid, verwerping of troubreuk die hoof te bied. “Toe ek op skool was, was ek die slagoffer van ’n wrede ondervinding wat te pynlik was om oor te praat”, het Dawn verduidelik. “Elke keer as ek aan daardie insident gedink het of wanneer daar ’n situasie was wat ek nie kon hanteer nie, het ek my aan kos vergryp. Ek het net probeer om hierdie gevoelens met kos te onderdruk.” Die kos het haar emosionele pyn verlig. Maar haar kompulsiewe ooretery het daartoe gelei dat sy 45 kilogram aangesit het.

Soms help die eetversteuring om aan die druk van die lewe te ontkom. Byvoorbeeld, Anne is grootgemaak in ’n huis waar haar pa ’n alkholis was en sy is gedurig oor haar gewig geterg. Sy het verduidelik waarom sy ’n bulimie-lyer geword het: “Dit was my manier om die daaglikse spanning die hoof te bied, en dit het gewerk, want wanneer jy ’n obsessie het oor iets hoef jy nie aan jou werklike probleme te dink nie. Jy gee die feit dat jy oorgewig is die skuld vir alles en jy maak jouself wys dat die lewe wonderlik sal wees sodra jy gewig verloor.”

Hoewel ons almal moontlik ’n bietjie meer eet as ons ontsteld of eensaam is, bied die persoon wat gevaar loop om ’n eetversteuring te kry nie die innerlike verwardheid op normale wyse die hoof nie. Byvoorbeeld, die persoon is moontlik kwaad vir iemand of oor die een of ander situasie, maar hy sal eerder eet om te kalmeer as om sulke griewe te lug.

Die rol wat ’n dieet speel

Volgens navorsing sê die meeste mense dat ’n streng dieet die rede is dat hulle hulle aan kos vergryp. ’n Studie wat in 1989 oor die oorsake van vetsug gemaak is, het gesê: “Dit lyk of diëte as gevolg van besorgdheid oor gewig juis oorgewig tot gevolg het.” Maar waarom?

Wanneer mense ’n streng dieet probeer volg, vermy hulle gewoonlik lekkernye en ander lekker kossoorte. Hierdie “verbode” kossoorte word ’n voortdurende versoeking. Dan, wanneer hulle ontsteld, bekommerd of eensaam is, kry hulle hulleself jammer. Om beter te voel prop hulle hulle vol met dié kossoorte wat hulle hulle ontsê het. Daarna volg ’n selfs strenger dieet, met dieselfde gevolg—hulle vergryp hulle aan kos. Hierdie bose kringloop lei tot gewigstoename en eetversteurings. Lee het verduidelik hoe diëte die weg gebaan het vir haar anoreksie: “Ek het allerhande diëte probeer. Ek het gewig verloor, en dan het ek dit weer aangesit. Hierdie keer wou ek dit nie weer aansit nie.”

Hoewel kennis van die oorsake van die eetversteuring ’n mens nie sal help om die probleem ten volle te bowe te kom nie, kan sulke kennis jou help om met die gewoonte te breek. Dit kan ook help keer dat probleme begin. Maar wat as jy ’n paar van hierdie karaktertrekke in jouself, jou familielede of ’n vriend sien? Hoe kan sulke neigings oorkom word?

[Prent op bladsy 7]

Oordrewe besorgdheid oor ’n mens se voorkoms kan tot ’n eetversteuring lei

[Prent op bladsy 8]

Party vergryp hulle aan kos om pynlike emosies die hoof te bied

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel