Daar is lewe in Death Valley
IN 1848 is goud ontdek naby Sacramento, Kalifornië, VSA. Teen die volgende jaar het sowat 80 000 fortuinsoekers in die staat ingestroom in die hoop dat hulle ’n slag sou slaan. Op 25 Desember 1849 het een groep, wat deel was van ’n karavaan van sowat 100 waens wat vanaf Salt Lake City weswaarts gereis het, ’n vallei binnegegaan wat vandag as Death Valley bekend staan. Hulle het gehoop dat hierdie dorre laagte naby die grens tussen Kalifornië en Nevada ’n kortpad sou wees.
Die vallei was koel daardie tyd van die jaar, maar die terrein was ongenaakbaar. Die groep het in ’n paar kleiner groepies verdeel, wat elkeen ’n ander roete gevolg het. Een groepie, wat vroue en kinders ingesluit het, het tevergeefs probeer om ’n pad uit die vallei te vind oor die berge in die weste. Uitgeput en met min kosvoorraad oor het hulle by ’n spruit kamp opgeslaan, naby wat vandag Furnace Creek is, waarna hulle verder gegaan het na ’n watergat wat later Bennett’s Well genoem is. Daarvandaan het twee 20-jariges, William Manly en John Rogers, gaan hulp soek. Die res het daar gebly.
Manly en Rogers het verwag om binne ’n paar dae die stad Los Angeles te bereik. Min het hulle geweet dat dit sowat 300 kilometer suidwes daarvandaan was. Ná byna twee weke te voet het hulle die San Fernando-vallei bereik, noord van die stad. Daar het hulle kosvoorraad gekry en dadelik teruggegaan.
Toe hulle ná 25 dae weer by die kamp kom, het hulle geen teken van lewe gesien nie. Manly het ’n skoot afgetrek, en ’n man het onder ’n wa uitgekom. Manly het later geskryf: “Hy het sy arms omhoog gegooi en uitgeroep—‘Die seuns het gekom. Die seuns het gekom!’” Ander het ook te voorskyn gekom, te oorstelp van emosie om te praat. Danksy Manly en Rogers het almal behalwe een man dit oorleef—hy het die kamp verlaat om op sy eie uit die vallei te loop. Toe die groep setlaars vertrek, het een vrou volgens berig teruggekyk en gesê: ‘Totsiens, Death Valley!’ En dit is hoe die vallei sy naam gekry het.
Land van uiterstes
Death Valley—wat sowat 225 kilometer lank en tussen 8 en 24 kilometer breed is—is die droogste, laagste en warmste plek in Noord-Amerika. Die lugtemperatuur by Furnace Creek het die kwik al tot 57 grade Celsius laat styg, terwyl die grondtemperatuur al ’n versengende 94 grade bereik het—6 grade onder die kookpunt van water by seespieël!a
Die reënval is gemiddeld minder as 50 millimeter per jaar, en sommige jare reën dit glad nie. Die laagste plek in die hele Westelike Halfrond—86 meter onder seespieël—word in die vallei naby ’n soutpan by Badwater gevind. Net 140 kilometer daarvandaan is die 4 418 meter hoë Mount Whitney—die hoogste punt in die Verenigde State buite Alaska.
Teen 1850 is klein hoeveelhede goud in die vallei by Salt Spring ontdek. Prospekteerders het ook silwer, koper en lood in die gebied gevind. Myndorpe met interessante name soos Bullfrog, Greenwater, Rhyolite en Skidoo het oral in die vallei soos paddastoele opgeskiet. Toe die erts opraak, het hierdie paddastoeldorpe egter spookdorpe geword. Maar in 1880 is boraks—’n wit kristalagtige verbinding wat in die vervaardiging van seep en ander produkte gebruik word—in Death Valley ontdek, wat tot die suksesvolste tydperk van mynbedrywighede in die vallei se geskiedenis gelei het. Tot 1888 het spanne wat uit 18 muile en 2 perde bestaan het, vyf meter lange dubbelwaens vol boraks ’n veeleisende 270 kilometer ver getrek na die dorp Mojave. Maar geen besendings is van Junie tot September vervoer nie; die hitte was te intens vir mens of dier.
Death Valley is in 1933 tot nasionale monument verklaar. Sy grense is geleidelik uitgebrei totdat die gebied 1,3 miljoen hektaar beslaan het. In 1994 het hierdie gebied Death Valley- Nasionale Park geword—een van die grootste nasionale parke in die Verenigde State.
’n Oorvloed lewe in Death Valley
’n Mens sal nie kwalik geneem word as jy dink dat Death Valley leweloos is nie. Tog is daar honderde diersoorte wat hier besoek aflê of lewe, waarvan baie nagdiere is omdat dit so warm is. Die grootste soogdiere is die indrukwekkende woestyndikhoringskape, wat dit soms waag om uit die nabygeleë berge in die vallei in te kom. Ander diere sluit dasse (badgers), vlermuise, voskatte, prêriewolwe, kitvosse, kangaroerotte, bergleeus, ystervarke, konyne, muishonde, wilde-esels, akkedisse, slange en Kaliforniese woestynskilpaaie in. Van die voëls wat hier voorkom, is meerkoete, valke, reiers, kwartels, rawe, strandlopers, aasvoëls en honderde ander soorte.
Van die taaiste van al hierdie diere is die kangaroerotte. Hulle hoef hulle hele lewe lank nie ’n druppel water te drink nie! “Al die water wat hulle nodig het om te oorleef, kan in hulle liggaam gemetaboliseer word uit stysel en vette in die droë sade wat hulle eet”, sê ’n naslaanwerk. En hulle niere kan urine tot vyf keer meer gekonsentreerd maak as wat menseniere kan. Hierdie klein, grawende knaagdiere vermy die intense hitte van die dag deur snags kos te soek.
Meer as duisend plantsoorte floreer in die vallei. Die Shoshones, Indiane wat al meer as duisend jaar daar woon, het plaaslike plante gebruik vir kos en vir grondstof om gereedskap te maak. As jy weet waarna om te soek, sê hulle, sal jy baie kos in Death Valley vind.
Wanneer die woestyn bloei
Elke nou en dan is daar ’n skouspelagtige vertoning van veldblomme in Death Valley. Dit spruit uit die tallose saadjies wat rustend in die grond lê—soms dekades lank—en wag vir net die regte kombinasie van reënval en temperatuur om te ontkiem. “Daar is baie jare [wanneer] ons nie ’n enkele blom sien nie”, sê die plantkundige Tim Croissant van die Nasionale Parkediens.
Maar gedurende die winter van 2004/2005 het Death Valley sy hoogste aangetekende reënval gehad—meer as drie keer die normale reënval. Die gevolg was ’n see van meer as 50 veldblomsoorte, insluitende ridderspore, seringblomme, orgideë, papawers, sleutelblomme, sonneblomme en ysterkruid. Die vallei het soos ’n blommewinkel geruik, het een besoeker gesê. Blomme lok natuurlik bye en ander insekte. Wanneer Death Valley bloei, gons dit dus ook van tallose klein insekte.
As jy ooit besluit om hierdie vallei van uiterstes te besoek, moet jy seker maak dat jy ’n betroubare voertuig en baie water het. En as jy kom wanneer die bye kom, moet jy jou kamera ook saambring. Jou familie en vriende sal verbaas wees oor hoeveel lewe daar in Death Valley floreer.
[Voetnoot]
a Die huidige wêreldrekord van 58 grade is in 1922 in Libië opgeteken. Maar wat gemiddelde somertemperature betref, is Death Valley blykbaar die warmste plek op aarde.
[Lokteks op bladsy 15]
Die droogste, laagste en warmste plek in Noord-Amerika
[Venster op bladsy 17]
Vis in die woestyn!
Vier spesies van ’n verbasende vissie wat die staalblou woestynvis genoem word, lewe in Death Valley. In die winter lê hierdie ses sentimeter lange silwerkleurige visse in ’n rustende toestand in die modder op die bodem van spruitjies en afgesonderde poele in die vallei. Dan, wanneer die lenteson die strome en poele warm maak, word hulle aktief en paar hulle. Mannetjies word ’n helder blou en verdedig hulle gebied met alle mag teen ander mannetjies. Maar die somer se versengende hitte laat die meeste van die water gou opdroog, en baie van die staalblou woestynvisse sterf. Dié wat dit oorleef, het te kampe met water wat baie sout word en ’n temperatuur van 44 grade Celsius kan bereik.
[Erkennings]
Visse bo: © Neil Mishalov—www.mishalov.com; vis onder: Donald W. Sada, Desert Research Institute
[Kaarte op bladsy 14]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
Verenigde State van Amerika
Kalifornië
Death Valley- Nasionale Park
[[Foto-erkennings op bladsy 15]
Muile: Courtesy of The Bancroft Library/University of California, Berkeley
[Foto-erkennings op bladsy 16]
Esels: ©Joseph C. Dovala/age fotostock; panorama bo: © Neil Mishalov—www.mishalov.com; blomme: Photo by David McNew/Getty Images