Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g 1/07 bl. 4-9
  • Sal die wetenskap die wêreld genees?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Sal die wetenskap die wêreld genees?
  • Ontwaak!—2007
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Skynbaar onoorkombare struikelblokke
  • Peste in die 20ste eeu
    Ontwaak!—1997
  • Weerwraak van die mikrobes
    Ontwaak!—1996
  • Die wêreldwye gesondheidsituasie—’n groeiende gaping
    Ontwaak!—1995
  • ’n Wêreld sonder siektes
    Ontwaak!—2004
Sien nog
Ontwaak!—2007
g 1/07 bl. 4-9

Sal die wetenskap die wêreld genees?

SAL die moderne wetenskap die wêreld genees? Wys die Bybelprofesieë van Jesaja en Openbaring na ’n tyd wanneer die mens self ’n wêreld sonder siekte tot stand sal bring? In die lig van al die prestasies op die gebied van gesondheidsorg meen party dat dit nie ’n vergesogte idee is nie.

Regerings en weldoeners werk tans saam met die Verenigde Nasies in ’n ongekende veldtog teen siekte. Een daadwerklike poging konsentreer op die immunisering van kinders in ontwikkelende lande. As lande hulle doelwitte bereik, sal “meer as 70 miljoen kinders wat in die wêreld se armste lande woon, teen 2015 elke jaar lewensreddende inentings ontvang teen die volgende siektes: tuberkulose, witseerkeel, klem-in-die-kaak, kinkhoes, masels, Duitse masels, geelkoors, haemophilus influenzae tipe B, hepatitis B, polio, rotavirus, pneumokokkus, meningokokkus en Japannese breinontsteking”, sê die Verenigde Nasies-kinderfonds. Maatreëls word ook getref om in basiese gesondsbehoeftes, soos voldoende toegang tot skoon water, beter voeding en opleiding in gesondheidsleer, te voorsien.

Maar wetenskaplikes streef daarna om in baie meer as net die basiese behoeftes van gesondheidsorg te voorsien. Ultramoderne tegnologie is besig om ’n omwenteling in die mediese veld teweeg te bring. Daar is al gesê dat wetenskaplikes hulle mediese kennis ongeveer elke agt jaar verdubbel. Die volgende is net ’n paar voorbeelde van party van die jongste tegnologiese prestasies en doelwitte in die stryd teen siekte.

◼ X-straalbeelde Dokters en hospitale gebruik al meer as 30 jaar lank ’n metode wat as CT-skandering bekend staan. Die akroniem CT staan vir computed tomography (rekenaartomografie). Met behulp van CT-skandeerders kan driedimensionele X-straalbeelde van die binnekant van ons liggaam verkry word. Hierdie beelde is nuttig om siekte te diagnoseer en interne abnormaliteite te ondersoek.

Hoewel daar omstredenheid bestaan oor die gevare wat blootstelling aan straling inhou, is mediese deskundiges optimisties oor die toekomstige voordele van hierdie progressiewe tegnologie. Michael Vannier, ’n professor in radiologie aan die Universiteit van Chicago se Hospitaal, sê: “In net die afgelope paar jaar is daar soveel vordering gemaak dat dit ’n mens se kop laat draai.”

CT-skandeerders is nou vinniger, akkurater en goedkoper. Die spoed van die nuutste skandeermetodes is ’n belangrike voordeel. Dit is veral die geval wanneer die hart geskandeer word. Omdat die hart aanhoudend klop, het baie X-straalbeelde daarvan onduidelik uitgekom, wat dit moeilik maak om akkuraat te ondersoek. Soos die tydskrif New Scientist verduidelik, beweeg nuwe skandeerders “in slegs ’n derde van ’n sekonde om die liggaam, vinniger as ’n enkele hartklop”, wat dus skerper beelde tot gevolg het.

Met behulp van die jongste skandeerders kan dokters nie net ’n beeld verkry van die anatomiese besonderhede binne die liggaam nie, maar hulle kan ook die biochemiese aktiwiteit van spesifieke gebiede ondersoek. Hierdie toepassing kan dit moontlik maak om kanker in sy vroeë stadiums op te spoor.

◼ Robot-chirurgie Gesofistikeerde robotte word nie meer net in wetenskapsfiksie gevind nie—ten minste nie op mediese gebied nie. Duisende operasies word reeds met behulp van robotte gedoen. In sommige gevalle opereer die chirurge met behulp van ’n afstandbeheertoestel wat hulle in staat stel om verskeie robot-arms te beweeg. Hierdie arms is toegerus met skalpels, skêre, kameras, kouteriemesse en ander chirurgiese instrumente. Die tegnologie stel chirurge in staat om uiters ingewikkelde operasies met ongelooflike presisie uit te voer. “Chirurge wat hierdie stelsel gebruik, het gevind dat pasiënte minder bloedverlies en pyn het, sowel as ’n laer risiko van komplikasies, ’n korter hospitaalverblyf en ’n vinniger hersteltyd as dié wat ope-chirurgie ondergaan”, berig die tydskrif Newsweek.

◼ Nanogeneeskunde Nanogeneeskunde is die gebruik van nanotegnologie in die mediese veld. Nanotegnologie is die wetenskap van die vervaardiging en manipulasie van mikroskopiese voorwerpe. Die maateenheid wat in hierdie tegnologie gebruik word, word die nanometer genoem, wat gelyk is aan een miljardste van ’n meter.a

Die volgende voorbeelde help ’n mens om hierdie maateenheid in perspektief te plaas: die bladsy wat jy nou lees, is ongeveer 100 000 nanometer dik, en ’n mensehaar ongeveer 80 000. ’n Rooibloedsel is sowat 2 500 nanometer in deursnee. ’n Bakterie is ongeveer 1 000 nanometer lank, en ’n virus ongeveer 100 nanometer. Jou DNS is ongeveer 2,5 nanometer in deursnee.

Voorstanders van hierdie tegnologie glo dat wetenskaplikes in die nabye toekoms piepklein toestelle sal kan bou wat ontwerp is om mediese prosedures in die menseliggaam uit te voer. Hierdie klein robotte, wat dikwels nanomasjiene genoem word, sal mikroskopiese rekenaars dra wat met baie spesifieke instruksies geprogrammeer is. Wat verbasend is, is dat hierdie taamlik ingewikkelde masjiene gebou sal word met komponente wat niks groter as 100 nanometer is nie. Dit is 25 keer kleiner as die deursnee van ’n rooibloedsel!

Omdat hulle so klein is, word daar gehoop dat nanotoestelle eendag deur klein haarvaatjies sal kan beweeg om suurstof na bloedarm weefsel te neem, verstoppings in bloedvate sowel as plaak van breinselle te verwyder en selfs om virusse, bakterieë en ander besmetlike agense op te spoor en te vernietig. Nanomasjiene sal dalk ook gebruik word om geneesmiddels direk na spesifieke selle te neem.

Wetenskaplikes voorspel dat die opsporing van kanker dramaties sal verbeter met behulp van nanogeneeskunde. Dr. Samuel Wickline, ’n professor in geneeskunde, fisika en biomediese ingenieurswese, het gesê: “Daar bestaan ’n groot moontlikheid dat baie klein kankers heelwat vroeër as ooit tevore gevind sal kan word en dat slegs die gewas self met kragtige geneesmiddels behandel sal kan word, wat terselfdertyd enige skadelike newe-effekte sal verminder.”

Hoewel dit dalk soos ’n futuristiese verbeeldingsvlug klink, is nanogeneeskunde ’n werklikheid vir sommige wetenskaplikes. Vooraanstaande navorsers op hierdie gebied verwag dat nanotegnologie in die volgende dekade gebruik sal word om die molekulêre struktuur van lewende selle te herstel en te herrangskik. Een voorstander beweer: “Nanogeneeskunde sal feitlik alle algemene siektes van die 20ste eeu uitwis, feitlik alle mediese pyn en lyding uit die weg ruim en dit moontlik maak om mense groter vermoëns te gee.” Party wetenskaplikes het volgens berig reeds goeie resultate behaal met die gebruik van nanogeneeskunde op laboratoriumdiere.

◼ Genomika Die studie van die struktuur van gene staan bekend as genomika. Elke sel in die menseliggaam is vol komponente wat noodsaaklik is vir lewe. Een van hierdie komponente is die geen. Elkeen van ons het ongeveer 35 000 gene wat ons haarkleur en -tekstuur, vel- en oogkleur, lengte en ander kenmerke van ons individuele fisiese voorkoms bepaal. Ons gene speel ook ’n belangrike rol daarin om die gehalte van ons interne organe te bepaal.

Wanneer gene beskadig word, kan dit ’n nadelige uitwerking op ons gesondheid hê. Trouens, sommige navorsers meen dat alle siektes as gevolg van genetiese defekte ontstaan. Party defektiewe gene erf ons van ons ouers. Ander word beskadig deur blootstelling aan skadelike elemente in ons omgewing.

Wetenskaplikes hoop dat hulle binnekort die spesifieke gene sal kan identifiseer wat ons vir siekte vatbaar maak. Byvoorbeeld, dit sal dokters moontlik help om te verstaan waarom sekere mense vatbaarder is vir kanker as ander of waarom ’n sekere soort kanker aggressiewer is in party mense as in ander. Genomika sal dalk ook aan die lig bring waarom ’n middel vir party pasiënte werk en vir ander nie.

Hierdie spesifieke genetiese inligting kan aanleiding gee tot wat individugerigte geneeskunde genoem word. Hoe kan jy by hierdie tegnologie baat vind? Volgens die konsep van individugerigte geneeskunde sal mediese sorg by jou unieke genetiese profiel aangepas kan word. As ’n studie van jou gene byvoorbeeld aan die lig sou bring dat jy vatbaar is vir ’n sekere siekte, kan dokters so ’n siekte opspoor lank voordat enige simptome verskyn. Voorstanders beweer dat die regte behandeling, dieet en veranderinge aan gedrag dalk selfs die siekte heeltemal kan voorkom in gevalle waar die siekte nog nie teenwoordig is nie.

Jou gene kan dokters ook waarsku dat jy waarskynlik ’n slegte reaksie op medisyne sal hê. Hierdie inligting sal dokters dalk in staat stel om die presiese soort medisyne en dosis voor te skryf wat in jou geval nodig is. The Boston Globe berig: “Teen 2020 sal die impak [van individugerigte geneeskunde] waarskynlik baie verreikender wees as wat enigeen van ons ons vandag kan voorstel. Nuwe middels wat volgens die individuele pasiënt se genetiese profiel ontwerp is, sal ontwikkel word vir suikersiekte, hartkwale, Alzheimer se siekte, skisofrenie en talle ander toestande wat groot druk op ons samelewing plaas.”

Die bogenoemde tegnologieë is maar net ’n paar voorbeelde van wat die wetenskap vir die toekoms belowe. Mediese kennis neem steeds teen ’n ongekende tempo toe. Maar wetenskaplikes verwag nie om siekte in die nabye toekoms heeltemal uit te wis nie. Daar is baie struikelblokke wat nog steeds onoorkombaar lyk.

Skynbaar onoorkombare struikelblokke

Mensegedrag kan die vooruitgang in die uitwissing van siekte vertraag. Byvoorbeeld, wetenskaplikes glo dat skade wat die mens aan sekere ekosisteme aangerig het, tot nuwe, gevaarlike siektes gelei het. In ’n onderhoud met die tydskrif Newsweek het Mary Pearl, president van die Natuurlewetrust, verduidelik: “Sedert die middel-1970’s het meer as 30 nuwe siektes kop uitgesteek, waaronder vigs, Ebola, Lyme-siekte en EARS. Die meeste van hierdie siektes is vermoedelik van wilde diere aan mense oorgedra.”

Daarbenewens eet mense minder vars vrugte en groente en meer suiker, sout en versadigde vet. Dít, tesame met ’n afname in fisiese aktiwiteit, sowel as ander ongesonde gewoontes, het meer hartvatsiektes tot gevolg gehad. Al hoe meer mense rook tabak, wat vir miljoene oor die hele wêreld tot ernstige gesondheidsprobleme en die dood lei. Elke jaar is daar sowat 20 miljoen mense wat ernstig beseer word of sterf as gevolg van motorongelukke. Oorlog en ander vorme van geweld dood en vermink tallose ander. Miljoene ly aan swak gesondheid as gevolg van alkohol- of dwelmmisbruik.

Maar ongeag die oorsaak en selfs met al die vooruitgang in mediese tegnologie, is dit ’n feit dat sekere siektes steeds ’n swaar tol eis. Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) ‘is daar op enige tydstip meer as 150 miljoen mense wat aan depressie ly, ongeveer 25 miljoen wat aan skisofrenie ly en 38 miljoen wat aan epilepsie ly’. MIV/vigs, diarreale siektes, malaria, masels, longontsteking en tuberkulose besmet miljoene en eis die lewens van tallose kinders en jong volwassenes.

Daar is ander skynbaar onoorkombare struikelblokke wat die uitwissing van siekte belemmer. Armoede en swak landsbestuur is twee groot struikelblokke. In ’n onlangse verslag het die WGO gesê dat miljoene wat aan besmetlike siektes sterf, gered sou kon word as dit nie was vir slegte landsbestuur en ’n tekort aan fondse nie.

Sal wetenskaplike kennis en die dramatiese vooruitgang in mediese tegnologie help om hierdie struikelblokke te bowe te kom? Sal ons binnekort ’n wêreld sonder siekte sien? Die voorafgaande bespreking voorsien weliswaar nie ’n duidelike antwoord nie. Maar die Bybel werp lig op hierdie vraag. Die volgende artikel sal bespreek wat die Bybel sê oor die vooruitsig van ’n toekomstige tyd wanneer siekte iets van die verlede sal wees.

[Voetnoot]

a Die voorvoegsel “nano”, afkomstig van die Griekse woord vir dwerg, beteken “een miljardste”.

[Venster/Prente op bladsy 7]

X-straalbeelde

Duideliker, akkurater beelde van die menseliggaam kan help om siektes in die vroeë stadiums daarvan op te spoor

[Erkennings]

© Philips

Siemens AG

Robot-chirurgie

Dokters gebruik robotte wat met chirurgiese instrumente toegerus is, om uiters ingewikkelde operasies met ongelooflike presisie uit te voer

[Erkenning]

© 2006 Intuitive Surgical, Inc.

Nanogeneeskunde

Mensgemaakte mikroskopiese masjiene kan dokters in staat stel om siektes op sellulêre vlak te behandel. Hierdie foto toon ’n kunstenaar se voorstelling van nanomasjiene wat die funksie van rooibloedselle naboots

[Erkenning]

Kunstenaar: Vik Olliver (vik@diamondage.co.nz)/ Ontwerper: Robert Freitas

Genomika

Deur die struktuur van ’n persoon se gene te bestudeer, hoop wetenskaplikes om siektes op te spoor en te behandel selfs voordat die pasiënt enige simptome ondervind

[Erkenning]

Chromosome: © Phanie/Photo Researchers, Inc.

[Venster op bladsy 8, 9]

Ses onoorwonne vyande

Mediese kennis en verwante tegnologieë vorder steeds teen ’n ongekende tempo. Ten spyte hiervan teister besmetlike siektes die wêreld nog altyd. Die dodelike siektes in die lys hieronder is nog steeds onoorwonne.

MIV/vigs

Sowat 60 miljoen mense is al met MIV besmet, en sowat 20 miljoen het al aan vigs gesterf. Gedurende 2005 was daar vyfmiljoen nuwe besmettings en meer as driemiljoen vigsverwante sterftes. Die slagoffers het meer as 500 000 kinders ingesluit. Die oorgrote meerderheid van MIV-slagoffers het nie toegang tot voldoende behandeling nie.

Diarree

Dit word beskryf as ’n vername doodsoorsaak onder die armes, en daar is elke jaar sowat viermiljard gevalle daarvan. Dit word veroorsaak deur verskeie besmetlike siektes wat versprei kan word deur besoedelde water of kos of ’n gebrek aan persoonlike higiëne. Hierdie infeksies is jaarliks verantwoordelik vir sowat tweemiljoen sterftes.

Malaria

Jaarliks kry sowat 300 miljoen mense malaria. Omtrent eenmiljoen slagoffers sterf elke jaar, waarvan baie kinders is. In Afrika sterf een kind ongeveer elke 30 sekondes aan malaria. Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) “het die wetenskap nog steeds geen wondermiddel teen malaria nie, en baie twyfel dat daar ooit so ’n enkele oplossing sal wees”.

Masels

Gedurende 2003 het masels die lewens van meer as 500 000 mense geëis. Masels is ’n vername doodsoorsaak onder kinders en is hoogs aansteeklik. Elke jaar kry sowat 30 miljoen mense masels. Ironies genoeg, ’n doeltreffende en goedkoop entstof daarteen is al die afgelope 40 jaar beskikbaar.

Longontsteking

Volgens die WGO sterf meer kinders aan longontsteking as aan enige ander besmetlike siekte. Ongeveer tweemiljoen kinders onder die ouderdom van vyf sterf elke jaar daaraan. Die meeste van hierdie sterfgevalle is in Afrika en Suidoos-Asië. In baie wêrelddele veroorsaak beperkte toegang tot gesondheidsdienste dat slagoffers nie lewensreddende mediese behandeling ontvang nie.

Tuberkulose

Gedurende 2003 het tuberkulose (TB) tot die dood van meer as 1 700 000 mense gelei. Gesondheidsamptenare is baie besorg oor die feit dat daar nou TB-kieme is wat bestand is teen geneesmiddels. Party soorte het ’n weerstand teen al die vernaamste TB-middels opgebou. TB-soorte wat teen geneesmiddels bestand is, ontwikkel in pasiënte wat mediese behandeling ondergaan waaroor daar nie behoorlik toesig gehou word nie of wat nie voltooi word nie.

[Venster/Prent op bladsy 9]

Alternatiewe vorme van geneeskunde wen veld

Daar is ’n wye verskeidenheid geneesmetodes wat nie algemeen aanvaar word deur dokters wat konvensionele geneeskunde beoefen nie. Hierdie metodes staan gewoonlik bekend as tradisionele geneeskunde en alternatiewe geneeskunde. In ontwikkelende lande maak die meeste van die bevolking staat op tradisionele geneeskunde vir hulle gesondheidsbehoeftes. In arm gebiede kan baie mense nie konvensionele mediese behandelings bekostig nie, terwyl ander eenvoudig tradisionele metodes verkies.

Alternatiewe vorme van geneeskunde floreer ook in ryk lande. Onder die gewildste soorte alternatiewe behandeling is akupunktuur, chiropraktyk, homeopatie, natuurgenesing en kruiegeneeskunde. Party van hierdie vorme van behandeling is wetenskaplik nagevors en daar is bewys dat dit help vir sekere toestande. Maar die doeltreffendheid van sekere metodes is nog nie voldoende bevestig nie. Die toenemende gewildheid van alternatiewe soorte geneeskunde het ’n paar veiligheidskwessies geopper. In baie lande word hierdie geneeswyses nie gereguleer nie. Dit voorsien ’n vrugbare teelaarde vir skadelike selfbehandeling, nagemaakte produkte en kwaksalwery. Vriende en familielede wat onvoldoende opleiding het, word ondanks hulle goeie bedoelings dikwels selfaangestelde praktisyns. Dit alles het skadelike newe-effekte en ander gesondheidsgevare tot gevolg gehad.

In etlike lande waar alternatiewe vorme van behandeling gereguleer word, word dit al hoe meer in die konvensionele mediese gemeenskap aanvaar en deur dokters aangebied. Nogtans lyk dit nie of daar enige rede is om te glo dat hierdie metodes ooit ’n wêreld sonder siekte tot stand sal kan bring nie.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel