Wat hou die toekoms in vir die Christelike godsdiens?
SAL almal in die wêreld Christene word, of sal die Christelike godsdiens uitsterf? Het die Christelike godsdiens suiwer gebly in ’n donker wêreld, of het dit verdorwe geraak? Dit is alles vrae wat ons vandag raak.
Jesus het deur middel van ’n eenvoudige illustrasie getoon dat daar onmiddellik nadat hy die saad van die Christelike godsdiens geplant het, ’n vyand, Satan, sou kom en onkruid sou saai (Matteus 13:24, 25). Dit was dus nie bloot ’n sosiale verskynsel wat veroorsaak het dat die Christelike godsdiens gedurende die eerste paar eeue ná Jesus se bediening verander het nie. Dit was die werk van die vyand, Satan. Vandag laat die kerke van die Christendom die foute wat in die verlede gemaak is, voortbestaan en dra hulle die gevolge daarvan.—2 Korintiërs 11:14, 15; Jakobus 4:4.
’n Listige aanval op die Christelike godsdiens
Jesus het voorspel dat sy leringe ondermyn sal word. Hy het gesê: “Die koninkryk van die hemele het geword soos ’n man wat goeie saad in sy saailand gesaai het. Terwyl die mense geslaap het, het sy vyand gekom en onkruid daaroor gesaai, tussen die koring in, en weggegaan.” Verbasend genoeg, toe knegte die bose daad onder die man se aandag bring en toestemming vra om die onkruid bymekaar te maak, het die man gesê: “Nee; sodat julle nie miskien, terwyl julle die onkruid bymekaarmaak, die koring daarmee saam uittrek nie. Laat al twee saam groei tot die oes toe; en in die oestyd sal ek vir dié wat oes, sê: Maak eers die onkruid bymekaar en bind dit in bondels om dit te verbrand, en gaan bring dan die koring in my voorraadskuur bymekaar.”—Matteus 13:24-30.
Soos Jesus self verduidelik het, verteenwoordig die man in sy illustrasie wat die koring op die saailand gesaai het Jesus, en die saad wat hy geplant het, verteenwoordig ware Christene. Die vyand wat die onkruid tussen die koring gesaai het, verteenwoordig “die Duiwel”. Die onkruid verteenwoordig wettelose, afvallige mense wat valslik beweer dat hulle knegte van God is (Matteus 13:36-42). Die apostel Paulus het verdere besonderhede gegee oor wat sou gebeur. Hy het gesê: “Ek weet dat onderdrukkende wolwe ná my vertrek onder julle sal inkom en die kudde nie met teerheid sal behandel nie, en uit julle eie midde sal manne opstaan en verdraaide dinge spreek om die dissipels agter hulle aan weg te trek.”—Handelinge 20:29, 30.
Die Christelike godsdiens word ondermyn
Is Jesus se illustrasie en wat Paulus voorspel het, bewaarheid? Dit is beslis. Ambisieuse manne het beheer oor die gemeente wat Jesus gestig het, oorgeneem en dit gebruik om hulle eie belange te bevorder. Jesus het vir sy volgelinge vertel: “Julle [is] geen deel van die wêreld . . . nie” (Johannes 15:19). Maar magsugtige mense het verbintenisse met heersers aangegaan en Staatskerke gevorm wat ontsaglike mag en rykdom ingepalm het. Hierdie kerke het “verdraaide dinge” geleer. Byvoorbeeld, hulle het mense geleer om die Staat te aanbid en om hulle lewe daarvoor in oorlog op te offer. Daarom het sogenaamde Christene aan die Kruistogte deelgeneem en mense vermoor wat hulle as ongelowiges beskou het. Hulle het ook in oorloë geveg en hulle eie “broers” van dieselfde godsdiens doodgemaak. Hulle het beslis nie Christelike neutraliteit en liefde vir hulle naaste beoefen nie.—Matteus 22:37-39; Johannes 15:19; 2 Korintiërs 10:3-5; 1 Johannes 4:8, 11.
Dit is duidelik dat die kerke wat eeue lank hulleself Christelik noem, net ’n skyn van Christelikheid het. Dit verklaar waarom, soos ons in die vorige artikels gesien het, die tendens voortduur dat kerke in sektes versplinter, kerke in die politiek inmeng en kerke God se wette verontagsaam. Hierdie slegte vrugte is die resultaat, nie van die ware Christelike godsdiens nie, maar van die valse Christelike godsdiens, wat die Duiwel geplant het. Waarheen is hierdie valse godsdiens op pad? Soos Jesus in sy illustrasie getoon het, sal dit nie eenvoudig uitsterf weens ’n gebrek aan ondersteuning nie. Dit sal geoordeel en vernietig word.
Ware Christene skyn in die duisternis
Voordat die “onkruid”, of die valse Christelike godsdiens, egter bymekaargemaak en vernietig word, moet iets anders eers gebeur, soos Jesus se illustrasie toon. Die valse Christelike “onkruid” het eeue lank so welig gegroei dat die “koring” van die ware Christelike godsdiens feitlik nie gesien kon word nie. Maar Jesus het beskryf dat die koring van die onkruid geskei sal word gedurende die “oes”, wat hy gesê het “’n voleinding van ’n stelsel van dinge” verteenwoordig. Hy het ook gesê: “In dié tyd sal die regverdiges so helder soos die son skyn” (Matteus 13:39-43). Die bewyse dui daarop dat ons sedert die Eerste Wêreldoorlog, wat meer as 90 jaar gelede plaasgevind het, in die voleinding van die stelsel van dinge lewe (Matteus 24:3, 7-12). Is hierdie deel van Jesus se profetiese illustrasie ook bewaarheid?
Ware Christene is wel van die “onkruid” van die Christendom geskei. Jehovah se Getuies ‘skyn so helder soos die son’ en hulle help ander om die ware God, Jehovah, te leer ken. Die Getuies water nie sy standaarde af nie. Inteendeel, mense wat Getuies word, moet gewoonlik groot veranderinge in hulle lewe aanbring om die Christelike beginsels in die Bybel te gehoorsaam.
Jehovah se Getuies bied nie vermaak by hulle vergaderinge aan nie, maar hulle bied wel gratis Bybelonderrig aan. Hulle geniet ook hartlike liefde en vriendskap onder mekaar, eienskappe wat hulle aankweek danksy hulle studie van die Skrif. Hulle glo dat God die aarde in ’n paradys gaan omskep en dat dit deur die sagmoediges bewoon sal word, soos hy hom oorspronklik voorgeneem het. Maar eers moet die wêreld gereinig word van die negatiewe invloed van valse godsdiens, wat in die Bybel bekend staan as Babilon die Grote. Volgens Bybelprofesie sal Jehovah binnekort daardie drastiese verandering teweegbring.—Matteus 5:5; Openbaring 18:9, 10, 21.
Wanneer gehoorsame mense eers verlos is van die bedrieglike gebruike van valse godsdiens, sal ware Christelike aanbidding almal op die aarde verenig. Wat ’n wonderlike toekoms is daar tog vir die ware Christelike godsdiens wat Jesus geplant het! ’n Paradys soos in Eden sal herstel word op ’n vreedsame aarde met geen verdelende godsdienste wat weer onenigheid sal saai nie!
[Prent op bladsy 7]
“Sy vyand [het] gekom en onkruid daaroor gesaai.”—Matteus 13:25
[Prente op bladsy 8, 9]
Jy word hartlik uitgenooi na enige Koninkryksaal van Jehovah se Getuies, waar gratis Bybelonderrig aangebied word
[Prent op bladsy 9]
“Bring dan die koring in my voorraadskuur bymekaar.”—Matteus 13:30