Kamtsjatka—Rusland se sprokieswêreld langs die Stille Oseaan
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN RUSLAND
MEER as driehonderd jaar gelede het Russiese ontdekkingsreisigers wat oos deur Asië gereis het, op ’n bergagtige skiereiland afgekom wat suid in die Stille Oseaan instrek en die See van Okhotsk van die Beringsee skei. Min buitelanders is bekend met die geheimsinnige skoonheid van hierdie land, wat ’n rapsie groter as Italië is.
Kamtsjatka, wat op byna dieselfde breedtegraad as die Britse Eilande is, het ’n koel klimaat. Die winters is matiger naby die kus, maar op party plekke in die binneland val daar meer as 6 meter sneeu en soms byna 12 meter! Gedurende die somer is die skiereiland dikwels in seemis gehul en waai daar sterk winde. Die oorvloedige reën wat op Kamtsjatka se vulkaniese grond val, laat welige plantegroei voortspruit, insluitende bessiestruike, grassoorte so hoog soos ’n mens asook pragtige veldblomme, soos die roos wat bekend staan as die koningin van die grasland.
Goudberke bedek byna ’n derde van die skiereiland, en hulle stamme en takke is gebuig en verwring deur sterk winde en swaar sneeuvalle. Hierdie stadiggroeiende berke is buitengewoon gehard en hulle wortels is sterk, wat die bome in staat stel om op byna enige plek te groei—selfs horisontaal teen kranse! Hulle blare loop in Junie uit, dikwels terwyl daar nog sneeu is, en word in Augustus geel, wat die koms van die winter aankondig.
Vulkane, geisers en warmbronne
Kamtsjatka is in die Vuurgordel geleë—’n streek om die Stille Oseaan waar daar baie seismiese aktiwiteit is—en het sowat 30 aktiewe vulkane. Die Kloetsjewskaja-vulkaan, wat al beskryf is as ’n vulkaan met “’n volmaakte, ongelooflike mooi keël”, is 4 750 meter bo seespieël, wat dit die grootste aktiewe vulkaan in Eurasië maak. Sedert 1697—die jaar toe Russiese ontdekkingsreisigers die eerste keer in Kamtsjatka aangekom het—is meer as 600 uitbarstings op die skiereiland opgeteken.
In 1975/76 het lineêre uitbarstings, oftewel spleet-uitbarstings, in die Tolbatsjik-omgewing ’n vlammende “fakkel” geskep wat hoër as 2 500 meter was! Weerlig het in die aswolke geflits. Terwyl die uitbarstings byna ’n jaar en ’n half lank voortgeduur het, het dit vier nuwe vulkaniese keëls geskep. Mere en riviere het verdwyn, en warm as het woude geheel en al tot die wortels toe verdroog. Uitgestrekte dele van die platteland is in woestyn verander.
Gelukkig het die meeste uitbarstings ver van bewoonde gebiede plaasgevind, en baie min mense het al as gevolg daarvan gesterf. Maar besoekers het ander redes om versigtig te wees, veral wanneer hulle na die Vallei van die Dood gaan, wat aan die voet van die Kitsjpinitsj-vulkaan lê. Wanneer die lug stil is, en veral gedurende die warmer weer in die lente wat die sneeu laat smelt, raak die konsentrasie giftige vulkaangasse in die vallei hoog, wat dit ’n lewensgevaarlike plek vir natuurlewe maak. Eenkeer het die karkasse van tien bere en talle kleiner diere oor die vallei verstrooi gelê.
Die enorme krater wat as die Uzon-kaldera bekend staan, het borrelende moddergate en stomende kratermere met kleurvolle alge. In dieselfde gebied is die Vallei van Geisers, wat in 1941 ontdek is. Party geisers bars elke twee tot drie minute uit, en ander elke paar dae. Helikopters neem besoekers na hierdie asemrowende plekke, wat sowat 180 kilometer noord van die stad Petropawlofsk-Kamtsjatski geleë is. Daar word egter streng beheer uitgeoefen oor die aantal besoekers sodat die delikate ekologiese balans nie versteur word nie. Met dié doel word ses gebiede in Kamtsjatka as Wêrelderfenisgebiede beskerm.
Kamtsjatka het talle warmbronne, waarvan baie met ’n temperatuur van 30 tot 40 grade Celsius groot genot aan besoekers verskaf en tot ’n mate vergoed vir die lang, koue wintermaande. Geotermiese hitte is ook al gebruik om elektrisiteit op te wek. Trouens, Rusland se eerste geotermiese kragstasie is op hierdie skiereiland gebou.
Bere, salm en seearende
Daar is nog sowat 10 000 Kamtsjatkabere op die skiereiland. Hulle weeg gemiddeld 150 tot 200 kilogram, hoewel hulle tot byna drie maal so groot kan word as hulle alleen gelaat word. In die volksoorleweringe van die inheemse Itelmen-volk was die beer hulle “broer”, en hulle het hierdie diere gerespekteer. Hierdie broederskap het geëindig met die koms van vuurwapens. Nou is bewaringsgesindes bekommerd oor die toekoms van hierdie diere.
Die bere is skugter en word dus selde gesien. Maar in Junie, wanneer die salm in die riviere begin eiers lê, kom die bere in groot getalle uit om te smul aan die vis, en een beer kan oor die twintig salm verorber! Waarom het hulle so ’n enorme eetlus? Gedurende die somer moet die bere genoeg liggaamsvet opbou om hulle deur die maer, koue wintermaande aan die lewe te hou wanneer hulle in ’n beskutte lêplek slaap om energie te bespaar.
Nog ’n dier met ’n eetlus vir salm is die Steller-seearend, ’n pragtige voël met ’n vlerkspan van tot 2,5 meter. Dit is meestal swart met ’n wit kol op die skouers en ’n wigvormige wit stert. Hierdie arende, waarvan daar ’n krimpende bevolking van sowat 5 000 is, word net in hierdie deel van die wêreld, en soms ook in die Aleoetiese en Pribilof-eilande van Alaska, gevind. Die voëls gebruik dieselfde neste jaar ná jaar deur dit in stand te hou en dit te vergroot. Een nes het ’n deursnee van drie meter bereik en so swaar geword dat dit die berkeboom waarin dit was, laat kraak het!
Die mense van Kamtsjatka
Die hedendaagse inwoners van Kamtsjatka is meestal Russe, maar daar is nog steeds etlike duisende inheemse mense, waarvan die grootste groep die Korjak is, wat in die noorde woon. Van die ander groepe is die Tsjoektsji en die Itelmen, elk met hulle eie taal. Die meeste van die inwoners van Kamtsjatka woon in Petropawlofsk-Kamtsjatski, die administratiewe sentrum. Die res van die skiereiland is yl bevolk, en die meeste dorpies langs die kus en die riviere kan net per boot of vliegtuig bereik word.
Die vang van vis en van krappe is die belangrikste ekonomiese bedrywighede. Kamtsjatka se koningkrappe is veral gewild. Met ’n lengte van ongeveer 1,7 meter van knyper tot knyper helder hulle die verkopers se tafels op en maak hulle dit interessanter.
Sedert 1989 besoek Jehovah se Getuies Kamtsjatka om in ’n ander sin vis te vang. As “vissers van mense” het hulle die goeie nuus van God se Koninkryk vir die afgesonderde mense van Kamtsjatka gebring (Matteus 4:19; 24:14). Party het hierop gereageer, en nou help hulle nog ander om die Skepper, Jehovah God, eerder as sy skepping, te leer ken en te aanbid. Gevolglik is baie plaaslike mense bevry van die algemene vrees van bose geeste (Jakobus 4:7). Hulle leer ook omtrent ’n toekomstige tyd wanneer die hele aarde, wat van alle kwaad en kwaaddoeners gereinig sal wees, “vol [sal] wees van die kennis van Jehovah soos die waters die see bedek”.—Jesaja 11:9.
[Venster/Prente op bladsy 18]
’N AANSKOULIKE KALDERA
Die Uzon-kaldera, die bekken van ’n oeroue vulkaan, is sowat tien kilometer in deursnee. Binne sy steil wande is ’n “versameling van alles waarvoor Kamtsjatka beroemd is”, sê ’n naslaanwerk. Die bekken het warm- en kouebronne, borrelende moddergate, moddervulkane, ongerepte mere wat wemel van vis en swane, en daar is volop plantegroei.
Die boek Miracles of Kamchatka Land sê dat “daar seker nie nog ’n plek op aarde is” waar die herfs so pragtig is as wat dit kort is nie. Die skarlaken toendra vorm ’n skerp teenstelling met die helder geel en goue kleure van die berkebome, terwyl die kokende aarde plek-plek kolomme wit stoom uitblaas wat teen die diepblou lug uitstaan. En vroegoggend “sing” die woud wanneer tallose miljoene blare wat met ryp bedek is, met ’n geklingel grond toe val, wat die koms van die winter saggies aankondig.
[Venster op bladsy 19]
’N DODELIKE MEER!
In 1996 het ’n vulkaan wat mense gedink het uitgedoof was, onder die Karimski-meer uitgebars, wat tien meter hoë golwe veroorsaak het wat die omliggende woude platgevee het. Binne minute het die suurgehalte in die meer te hoog geword om lewe te kan onderhou. Nietemin is geen dooie diere naby die meer gevind nie, ten spyte van die vulkaniese neerslag en die golwe wat oor die oewer gespoel het, verduidelik die navorser Andrew Logan. “Voor die uitbarsting”, sê hy, “het etlike miljoene visse (hoofsaaklik salm en forel) in die Karimski-meer voorgekom. Ná die uitbarsting was daar geen lewe in die meer nie.” Maar ’n aantal visse het moontlik oorleef. Wetenskaplikes spekuleer dat die visse gewaarsku is deur die een of ander sein—dalk ’n verandering in die chemiese samestelling van die water—wat hulle na die naburige Karimski-rivier laat vlug het.
[Kaart op bladsy 16]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
RUSLAND
KAMTSJATKA