Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g 5/07 bl. 4-6
  • Waarom soveel armes in ’n ryk wêreld?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Waarom soveel armes in ’n ryk wêreld?
  • Ontwaak!—2007
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Les uit die verlede
  • Toestande van vandag
  • Binnekort sal niemand meer arm wees nie!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
  • Gevangenes van armoede
    Ontwaak!—1998
  • Die einde van armoede kom nader
    Ontwaak!—1998
  • Watter hoop vir die armes?
    Ontwaak!—2007
Sien nog
Ontwaak!—2007
g 5/07 bl. 4-6

Waarom soveel armes in ’n ryk wêreld?

“JULLE het die armes altyd by julle”, het Jesus Christus in die eerste eeu G.J. gesê (Matteus 26:11). Van Jesus se tyd af tot nou toe was daar nog altyd ’n groot aantal behoeftige mense. Maar waarom word so baie deur armoede geteister in ’n wêreld wat so ryk is?

Sommige glo dat mense arm word omdat hulle slegte besluite neem. Dit is dalk in party gevalle waar. Diegene wat hulle oorgee aan sterk drank, dwelms en dobbelary kan maklik hulle materiële bates verloor. Maar nie alle arm mense is arm weens hulle eie swak oordeel nie.

Baie mense het hulle werk verloor weens veranderinge in industrieë. Baie werkende mense het al gesien hoe hulle neseier opgebruik word weens stygende mediese koste. En die meeste van die honderdmiljoene behoeftiges in die ontwikkelende wêreld is arm sonder dat dit enigsins hulle skuld is. Die oorsake van armoede is dikwels buite die beheer van die slagoffers daarvan, soos die volgende voorbeeld toon.

’n Les uit die verlede

In die vroeë 1930’s was die wêreld in die wurggreep van die finansiële ramp wat later die Groot Depressie genoem is. In een land het miljoene mense hulle werk verloor en het honderdduisende gesinne hulle huise verloor. Maar terwyl baie mense honger gely het, het plaasboere enorme hoeveelhede melk in slote gegooi en het regeringsamptenare boere gedwing om miljoene plaasdiere van kant te maak.

Waarom hierdie vermorsing? Die ekonomiese stelsel het bepaal dat plaasprodukte en ander verbruiksartikels teen ’n wins verkoop moet word. Die armes het melk, vleis en graan dringend nodig gehad. Maar toe daardie voedselprodukte nie teen ’n wins verkoop kon word nie, is dit as waardeloos beskou en is dit weggegooi.

Oproere het in baie stede uitgebreek weens die tekort aan voedsel. Sommige burgers wat nie voedsel vir hulle gesinne kon koop nie, het ander met vuurwapens gedreig om te kry wat hulle nodig gehad het. Ander het verhonger. Hierdie gebeure het in die Verenigde State plaasgevind. Vroeg in die Groot Depressie het hierdie land se magtige finansiële stelsel diegene met die laagste inkomste in die steek gelaat. In plaas daarvan om voorkeur te gee aan die burgers se behoefte aan voedsel, behuising en werk, het die ekonomiese stelsel daardie behoeftes as blote bysake in die geldmaakproses beskou.

Toestande van vandag

Die wêreldekonomie het herstel van die Groot Depressie, en nou lyk dit of baie mense ryker is en groter finansiële sekuriteit geniet as ooit tevore. Maar ondanks die groot oorvloed wat bestaan, het die armes dikwels ’n geringe kans om hulle lot in die lewe te verbeter. Berigte van hongersnood en armoede in die ontwikkelende wêreld is so algemeen dat baie mense moeg raak om daarvan te lees. Wanneer vlugtelinge egter weens oorlog honger ly, wanneer voedselvoorrade weens politieke manipulasie vrot raak en wanneer markkragte die prys van lewensbenodigdhede opstoot na vlakke wat die armes nie kan bekostig nie, sien ons die gevolge van ’n stelsel wat nie na sy kwesbaarste burgers kan omsien nie. Die wêreld se ekonomiese struktuur verwaarloos miljoene behoeftige mense.

In werklikheid het geen ekonomiese stelsel wat deur mense geskep is, al ooit die materiële behoeftes van die hele mensdom bevredig nie. Sowat 30 eeue gelede het ’n skerpsinnige waarnemer van die lewe tot hierdie slotsom gekom: “Ek het teruggekeer sodat ek al die dade van onderdrukking kon sien wat onder die son gepleeg word, en kyk! die trane van die onderdruktes, maar hulle het geen vertrooster gehad nie; en aan die kant van hulle onderdrukkers was daar mag, sodat hulle geen vertrooster gehad het nie” (Prediker 4:1). In hierdie dae van materiële oorvloed is daar nog steeds baie dade van finansiële onderdrukking.

Daar is vandag miljoene mense wat ’n geringe kans het om uit die afgrond van armoede uit te kom. En tog het baie geleer hoe om hulle ekonomiese probleme met welslae die hoof te bied. Hulle sien ook uit na ’n beter lewe in die toekoms.

[Venster op bladsy 5]

Die stryd om ’n bestaan te maak

In sy boek The Working Poor—Invisible in America gee die skrywer en joernalis David K. Shipler ons ’n idee van die situasie van sommige in die Verenigde State wat op die randjie van ’n ekonomiese afgrond lewe: “’n Vervalle woonstel kan ’n kind se asma vererger, wat daartoe lei dat ’n ambulans ontbied moet word, wat ’n mediese rekening tot gevolg het wat nie betaal kan word nie, wat ’n slegte kredietrekord beteken, wat die rentekoers op ’n motorlening opstoot, wat beteken dat ’n onbetroubare gebruikte motor gekoop moet word, wat veroorsaak dat die moeder nie altyd betyds by die werk kom nie, wat haar kanse op bevorderings en salarisverhogings beperk, wat beteken dat sy net swak behuising kan bekostig.” Rampspoed hang soos ’n donker wolk oor daardie kind en sy moeder, al lewe hulle in die wêreld se rykste land.

[Venster op bladsy 6]

Is goeie bedoelings genoeg?

In November 1993 het ’n groep amptenare in ’n staatsgebou in Washington, DC, ’n oplossing vir ’n ernstige probleem probeer vind. Daardie amptenare het honderdmiljoene dollars tot hulle beskikking gehad en wou dit tot voordeel van die hawelose mense in die Verenigde State gebruik. Terwyl hulle gepraat het, het polisiemanne, brandweermanne en mediese noodpersoneel by ’n bushalte oorkant die straat saamgedrom. Ambulanspersoneel het die liggaam van ’n hawelose vrou opgetel. Sy het voor die Amerikaanse Departement van Behuising en Stedelike Ontwikkeling (HUD) gesterf, die staatsdepartement wat mense moet help wat geen heenkome het nie.

’n Verslaggewer vir The New York Times het later ’n onderhoud gevoer met ’n werknemer van die HUD, wat oor die aantal noodpersoneel en noodhulpvoertuie op die toneel gesê het: “Dit is vreemd om te sien hoeveel hulpbronne tot ’n mens se beskikking is wanneer jy eers dood is—jy kry nie ’n fraksie daarvan voor die tyd nie.”

[Prent op bladsy 4, 5]

’n Swerwende moeder met haar drie kinders gedurende die Groot Depressie van die 1930’s

[Erkenning op bladsy 5]

Dorothea Lange, FSA Collection, Library of Congress

[Venster/Prent op bladsy 6]

In fabrieke soos hierdie een, wat net hongerlone betaal, verdien werkers gemiddeld R100 per maand en kan hulle gedwing word om 70 uur per week te werk

[Erkenning]

© Fernando Moleres/Panos Pictures

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel