Ons beskou die wêreld
◼ Die krag wat deur elektriese toestelle in gereedmodus (standby mode) gebruik word, maak sowat 5 persent van die gemiddelde Kanadese huishouding se elektrisiteitsrekening uit.—NATIONAL POST, KANADA.
◼ Volgens die resultate van een opname glo Russe dat van die belangrikste kwessies waaraan die regering aandag moet skenk, is om “korrupsie” hok te slaan en “wegholpryse in te perk”.—PRAWDA, RUSLAND.
◼ Volgens een opname het sowat 26,4 persent van Taiwannese kinders in graad vyf en graad ses “al daaraan gedink om selfmoord te pleeg”.—THE CHINA POST, TAIWAN.
◼ “Hoewel tegnologie gehelp het om die gemiddelde Amerikaanse werkweek oor die afgelope eeu met 38% te verkort, het werknemers nie meer ontspanningstyd as vroeër nie weens langer pendelritte, meer opleiding vir volwassenes en meer huishoudelike takies.”—FORBES, VERENIGDE STATE.
◼ Tussen 2003 en 2004 het die vrystelling van kweekhuisgasse in nywerheidslande met 1,6 persent gestyg en “die hoogste vlak in meer as ’n dekade” bereik.—REUTERS, OSLO, NOORWEË.
China se waterkrisis
“Waterbesoedeling en ’n tekort aan skoon water” is ’n groot probleem in China. Die meeste stede is toegerus met suiweringsaanlegte vir afvalwater, maar baie van die stede het nie genoeg geld om dit aan die gang te hou nie. “Die meeste van die land se riviere, mere en kanale word besoedel deur onbehandelde nywerheids- en huishoudelike afvalwater wat daarin gestort word, sowel as plaasafloopwater wat vol plaagdoders is”, berig The Wall Street Journal. Wat meer is, “sowat 300 miljoen mense het nie toegang tot skoon drinkwater nie”. Dit is ’n “sombere” situasie, sê die Journal, en dit word erger.
“Wie is julle? Jehovah se Getuies?”
Toeriste op die strande van die Italiaanse eiland Elba is verlede jaar genader deur jong Katolieke wat ’n uitnodiging aanvaar het van die biskop van die bisdom van Massa Marittima-Piombino. Hy het vir hulle gesê dat hulle, as hulle Christene wil wees en wil bly, hulle geloof moet verkondig. Dit het vakansiegangers verbaas. Volgens die koerant Il Tempo was die algemeenste reaksie wat die jongmense gekry het: “Wie is julle? Jehovah se Getuies?”
Verband tussen musiek en seksuele aktiwiteit
Volgens een studie waaroor die Associated Press berig gelewer het, sal tieners wat na musiek met “prikkelende, seksuele lirieke” luister, waarskynlik “vroeër seks begin hê as dié wat ander liedjies verkies”. “Dit is waarskynliker dat liedjies wat mans as ‘seksbehep’ en vroue as seksvoorwerpe uitbeeld en wat eksplisiete verwysings na seksdade bevat, aanleiding sal gee tot vroeë seksuele gedrag as liedjies waarin die seksuele verwysings minder direk is en verhoudings as iets meer permanents uitgebeeld word”, het die berig gesê. Dit het gesê dat “ouers, onderwysers en tieners self meer krities ingestel moet wees op die boodskappe in lirieke”.
Verkwistende verbruikers
Volgens ’n verslag van die Australië-instituut, ’n navorsingsorganisasie, het Australiërs gedurende 2004 ongeëte kos ter waarde van 5,3 miljard dollar (R29,5 miljard) weggegooi. Dit is meer as 13 keer soveel as wat Australiërs in 2003 vir buitelandse hulp geskenk het. Die totale bedrag wat Australiërs verkwis aan goedere en dienste wat nooit of selde gebruik word, beloop 10,5 miljard dollar (R58,4 miljard) per jaar—meer as wat daardie land aan universiteite en paaie spandeer.