Die Bybel se beskouing
Is die gebruik van voorbehoedmiddels sedelik verkeerd?
WAT dink jy? Is dit vir ’n egpaar verkeerd om voorbehoedmiddels te gebruik? Jou antwoord hang waarskynlik af van jou godsdiensoortuigings. Die Katolieke Kerk leer dat enigiets wat bedoel is om voortplanting te keer, “in wese boos” is. Katolieke dogma staan die idee voor dat elke geslagsdaad tussen huweliksmaats tot swangerskap moet kan lei. Vir die Katolieke Kerk is die gebruik van voorbehoedmiddels dus “sedelik onaanvaarbaar”.
Baie mense vind hierdie beskouing moeilik om te aanvaar. Volgens ’n artikel in die Pittsburgh Post-Gazette oor die onderwerp “sê meer as driekwart van die Katolieke in die Verenigde State dat die kerk die gebruik van kunsmatige geboortebeperking moet toelaat. . . . En miljoene ignoreer die verbod elke dag.” Een van hulle, Linda, ’n moeder van drie, erken openlik dat sy voorbehoedmiddels gebruik, maar sê: “Ek glo nie werklik dat ek sondig nie, my gewete pla my nie.”
Wat sê God se Woord oor hierdie saak?
Lewe is kosbaar
God beskou die lewe van ’n kind as kosbaar, selfs in die heel vroegste stadium van ontwikkeling. Koning Dawid van Israel het onder inspirasie geskryf: “U het my afgeskerm gehou in die skoot van my moeder. . . . U oë het selfs my embrio gesien, en in u boek was al die dele daarvan opgeskrywe” (Psalm 139:13, 16). ’n Nuwe lewe begin by bevrugting, en die Mosaiese Wet toon dat ’n persoon aanspreeklik gehou kon word as hy ’n ongebore baba leed aangedoen het. Trouens, Eksodus 21:22, 23 bepaal dat die saak voor die aangestelde regters gebring moes word as ’n swanger vrou of haar ongebore kind noodlottig beseer is weens ’n bakleiery tussen twee mans. Hulle moes die omstandighede en mate van opsetlikheid oorweeg, maar die straf kon “siel vir siel”, of lewe vir lewe, wees.
Hierdie beginsels is van toepassing op die gebruik van voorbehoedmiddels, aangesien sommige metodes van geboortebeperking blykbaar vrugafdrywend is. Die gebruik van sulke voorbehoedmiddels is nie in ooreenstemming met die goddelike beginsel van respek vir lewe nie. Maar die meeste voorbehoedmiddels is nie vrugafdrywend nie. Wat van die gebruik van sulke metodes van geboortebeperking?
Nêrens in die Bybel word Christene beveel om kinders te hê nie. God het vir die eerste mensepaar en vir Noag se gesin gesê: “Wees vrugbaar en word baie en vul die aarde.” Maar hierdie bevel is nie aan Christene gegee nie (Genesis 1:28; 9:1). Egpare kan dus self besluit of hulle ’n gesin wil hê, hoeveel kinders hulle wil hê en wanneer hulle hulle sal hê. Die Skrif veroordeel ook nie geboortebeperking nie. Uit ’n Bybelse beskouing is dit dus werklik ’n persoonlike besluit of ’n man en vrou die een of ander nievrugafdrywende voorbehoedmiddel gaan gebruik. Waarom veroordeel die Katolieke Kerk dan die gebruik van voorbehoedmiddels?
Menslike wysheid teenoor goddelike wysheid
Katolieke bronne verduidelik dat verklaarde Christene vir die eerste keer in die tweede eeu G.J. ’n Stoïsynse reël aangeneem het waarvolgens voortplanting die enigste geoorloofde doel van geslagsomgang in die huwelik is. Die redenasie agter hierdie standpunt was dus eerder filosofies as Bybels. Dit is op menslike wysheid gegrond en nie op goddelike wysheid nie. Hierdie filosofie het deur die eeue heen voortbestaan, en verskeie Katolieke teoloë het dit verder ontwikkel.a Die logiese uitvloeisel van hierdie lering was egter die idee dat geslagsomgang uitsluitlik vir seksuele genot ’n sonde is en gevolglik dat geslagsomgang wat die moontlikheid van voortplanting uitsluit, onsedelik is. Maar dit is nie wat die Skrif leer nie.
Die Bybelboek Spreuke gebruik digterlike taal om die vreugde te beskryf wat kan spruit uit gepaste seksuele intimiteit tussen ’n man en sy vrou: “Drink water uit jou eie reënbak en stroompies uit jou eie put. . . . Laat jou waterbron geseënd wees, en verheug jou met die vrou van jou jeug, ’n lieflike takbokooitjie en ’n bekoorlike bergbokkie. Laat haar borste jou te alle tye bedwelm. Mag jy voortdurend met haar liefde in ekstase wees.”—Spreuke 5:15, 18, 19.
Geslagsomgang tussen ’n man en sy vrou is ’n godgegewe gawe. Maar voortplanting is nie die enigste doel daarvan nie. Geslagsomgang laat ’n egpaar toe om teerheid en liefde teenoor mekaar te betoon. As ’n egpaar dus besluit om die moontlikheid van ’n swangerskap uit te sluit deur ’n voorbehoedmiddel te gebruik, is dit hulle keuse, en niemand moet hulle oordeel nie.—Romeine 14:4, 10-13.
[Voetnoot]
a Wat die New Catholic Encyclopedia “die eerste universele wetgewing deur ’n pous teen die gebruik van voorbehoedmiddels” noem, is eers in die 13de eeu deur Gregorius IX uitgevaardig.
HET JY AL GEWONDER?
◼ Is geslagsomgang tussen ’n man en sy vrou in enige opsig ’n sonde?—Spreuke 5:15, 18, 19.
◼ Wat moet Christene in gedagte hou as hulle voorbehoedmiddels gebruik?—Eksodus 21:22, 23.
◼ Hoe moet ander persone egpare beskou wat voorbehoedmiddels gebruik?—Romeine 14:4, 10-13.
[Lokteks op bladsy 11]
God het vir die eerste mensepaar en vir Noag se gesin gesê: “Wees vrugbaar en word baie en vul die aarde.” Maar hierdie bevel is nie aan Christene gegee nie