Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g96 10/8 bl. 12-14
  • Wie moet oor die grootte van ’n gesin besluit?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Wie moet oor die grootte van ’n gesin besluit?
  • Ontwaak!—1996
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Geboortebeperking —Waarom ’n omstrede saak?
  • Wat die Bybel sê
  • Neem besluite waarmee jy kan saamleef
  • Kinders—Bates of laste?
    Ontwaak!—1993
  • Is die gebruik van voorbehoedmiddels sedelik verkeerd?
    Ontwaak!—2007
  • Gesinsbeplanning—die Christelike beskouing
    Ontwaak!—1993
  • Ouers – Leer julle kinders om Jehovah lief te hê
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2019
Sien nog
Ontwaak!—1996
g96 10/8 bl. 12-14

Wie moet oor die grootte van ’n gesin besluit?

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN BRASILIË

DIE seuntjie, net drie dae oud, is in ’n plastieksak in ’n moltreinstasie gelaat. Maar ’n Brasiliaanse koerant het gemeld dat verskeie gesinne aangebied het om die baba aan te neem.

Hoewel hierdie soort voorval seldsaam is, is die getal ongewenste en weggooikinders besig om dwarsoor die wêreld te styg. Daar is alte dikwels ’n gebrek aan verantwoordelike ouerskap. Is geboortebeperking die oplossing? Sal dit verkeerd wees om die grootte van jou gesin te beplan?

Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie is ongeveer 50 persent van swangerskappe regoor die wêreld onbeplan. ’n Swangerskap is dikwels nie net onbeplan nie, maar ook ongewens.

Talle probeer swangerskap voorkom, moontlik weens probleme met gesondheid, behuising of werk. Gevolglik is voorbehoedmiddels, soos geboortebeperkingspille of kondome, iets algemeens. Aborsie en sterilisasie word ook as geboortebeperkingsmetodes gebruik. Die koerant O Estado de S. Paulo berig aangaande aborsie in Brasilië: “Die Wêreldgesondheidsorganisasie raam dat daar uit die 13 miljoen vrouens wat in Brasilië swanger word jaarliks 5 miljoen is wat die swangerskap in die geheim beëindig.” En die tydskrif Time het berig dat 71 persent van die vroue in Brasilië wat van vrugbare leeftyd is en met ’n maat saamleef geboortebeperking toepas. Die pil word deur 41 persent van hulle gebruik en 44 persent is gesteriliseer.

’n Opname het getoon dat 75 persent van die Brasiliane dit as noodsaaklik beskou om te beplan hoeveel kinders ’n mens wil hê. Ander verwerp gesinsbeplanning omdat hulle aan die noodlot glo of dink dat dit God se wil is dat ’n gesin ‘soveel kinders moet hê as wat God stuur’. Wie moet die grootte van die gesin bepaal—die egpaar of lands- of godsdiensbelange?

Geboortebeperking —Waarom ’n omstrede saak?

Hoewel die Rooms-Katolieke Kerk, Brasilië se grootste godsdiens, die ritme-metode toelaat, maak hulle beswaar teen voorbehoedmiddels, of dit nou aborsie veroorsaak of nie. Pous Paulus VI het gesê: “Met elke geslagsdaad [moet] die oordraging van lewe moontlik wees.” Pous Johannes-Paulus II het gesê: “Wanneer geboortebeperking objektief beoordeel word, is dit so totaal ongeoorloof dat dit nooit, om geen rede, geregverdig kan word nie.” Gevolglik huiwer baie Katolieke om die grootte van hulle gesin te beheer; hulle beskou geboortebeperking as ’n sonde.

Daarenteen sê die mediese tydskrif Lancet: “Miljoene sal ongeletterd, werkloos, met swak behuising en sonder toegang tot die eenvoudigste gesondheids-, welsyns- en sanitêre dienste deur die lewe gaan, en onbeheerde bevolkingstoename is ’n groot oorsaak hiervan.” Daarom word gesinsbeplanning ten spyte van die kerk se besware deur sekere regerings bevorder, wat besorg is oor oorbevolking en armoede. Die bioloog Paul Ehrlich sê byvoorbeeld dat “Costa Rica die gemiddelde getal kinders [per gesin] van 7 tot 3 verminder het”.

Die VN-publikasie Facts for Life—A Communication Challenge sê: “Nadat ’n vrou vier kinders gehad het, hou verdere swangerskappe groter gevare in vir die lewe en gesondheid van die moeder sowel as die kind. Veral as die vorige geboortes nie meer as twee jaar uitmekaar was nie, kan ’n vrou se liggaam maklik uitgeput raak deur herhaalde swangerskappe, kindergeboortes, borsvoeding en die versorging van klein kindertjies.”

Groot gesinne is steeds algemeen waar kindersterftes hoog is, veral in die landelike gebiede van Afrika, Asië en Latyns-Amerika. Waarom? Baie is nie met voorbehoedmiddels vertroud nie. In sommige gebiede kan een faktor wees dat “’n man homself steeds slegs as ’n ware man beskou as sy vrou elke jaar swanger word”, het ’n wetgewer gesê. Jornal da Tarde meld nog ’n moontlike faktor, veral vanuit die vrou se oogpunt: “Die kinders is een van hulle min bronne van vreugde en gee hulle die gevoel dat hulle iets bereik het.” Paulo Nogueira Neto, die voormalige Sekretaris van die Omgewing in Brasilië, het gesê: “’n Kind is die maatskaplike sekuriteit van die arm bevolking.”

Wat die Bybel sê

Het jy geweet dat God se Woord, die Bybel, dit aan die man en vrou oorlaat om oor die grootte van hulle gesin te besluit? Dit toon ook dat die huwelik gepas is, hetsy vir voortplanting of vir die betoning van toegeneentheid deur eerbare geslagsomgang.—1 Korintiërs 7:3-5; Hebreërs 13:4.

Maar het God nie in die Paradys vir Adam en Eva gesê om ‘vrugbaar te wees en te vermeerder en die aarde te vul’ nie? (Genesis 1:28). Ja, en tog is daar niks in die Bybel wat toon dat ons vandag onder daardie selfde bevel is nie. Skrywer Ricardo Lezcano het daarop gewys: “Dit kom ietwat teenstrydig voor om dieselfde voorskrif wat op die enigste twee bewoners van die planeet toegepas is op [miljarde] mense toe te pas.” Selfs as die egpaar besluit om geen kinders te hê nie, is dit hulle keuse en moet dit gerespekteer word.

Interessant genoeg, die New Catholic Encyclopedia meld dat die beskouing van Jehovah se Getuies op die Bybel gegrond is. Dit sê: “Afgesien van geboortebeperking, waaroor hulle die egpaar self laat besluit, is hulle sedelikheid wat die huwelik en geslagsomgang betref nogal streng.” Dit voeg by: “Hulle beskou die Bybel as die enigste bron van hulle opvattings en gedragsreëls.”

Is alle metodes om die grootte van ’n gesin te beperk aanvaarbaar? Nee. Aangesien lewe heilig is, het God se Wet aan Israel bepaal dat iemand wat ’n aborsie veroorsaak het as ’n moordenaar beskou moes word (Exodus 20:13; 21:22, 23, NW). In die geval van sterilisasie, soos deur vasektomie, is die besluit ’n gewetensaak, aangesien dit nie regstreeks in die Bybel genoem word nie. “Elkeen sal sy eie vrag dra” (Galasiërs 6:5).a En aangesien daar verskeie metodes van geboortebeperking is, kan mediese voorligting ’n egpaar help besluit of hulle ’n sekere metode wil gebruik of nie.

Neem besluite waarmee jy kan saamleef

’n Mens kan nie alles in die lewe beplan nie. Maar sal jy ’n motor of ’n huis koop sonder om ernstig na te dink oor wat alles daarby betrokke is? ’n Motor of ’n huis kan weer verkoop word, maar kinders kan nie teruggegee word nie. Behoort die man en vrou dan nie hulle vermoë om die lewensbenodigdhede te voorsien in ag te neem wanneer hulle ’n swangerskap beplan nie?

Ons wil sekerlik nie hê dat ons gesin ondervoed moet wees nie, en ons wil ook nie ’n las vir ander wees nie (1 Timoteus 5:8). Daarteenoor het kinders, buiten voedsel en onderdak, ook opvoeding, sedelike waardes en liefde nodig.

Behalwe dat ’n mens moet bereken wat uit die oogpunt van werk, geld en geduld vereis word, moet die vrou se gesondheid ook in aanmerking geneem word. Die verstandige tydsbeplanning van swangerskappe red lewens en bevorder beter gesondheid. Facts for Life sê: “Een van die doeltreffendste maniere om die gevare van swangerskap en die bevalling vir beide die moeder en die kind te verminder, is om die tyd van geboortes te beplan. Die gevare verbonde aan kinderbaring is die grootste wanneer die toekomstige moeder onder 18 of oor 35 is, of vier of meer vorige swangerskappe gehad het of wanneer daar minder as twee jaar sedert die laaste geboorte verloop het.”

Egpare wat dit oorweeg om kinders te hê, behoort in gedagte te hou dat ons, soos die Bybel voorspel het, deur ’n wêreld omring word wat vol misdaad, hongersnood, oorlog en ekonomiese onsekerheid is (Matteus 24:3-12; 2 Timoteus 3:1-5, 13; Openbaring 6:5, 6). Opregte liefde vir kinders sal egpare help om realisties te wees oor die wêreld waarin ons leef en te besef dat dit ’n groot uitdaging is om kinders in ons tyd groot te maak. Baie verkies dus om eerder te beplan hoe groot hulle gesin gaan wees, sodat hulle kinders ’n groter mate van geluk en veiligheid kan geniet, as om sake net hulle gang te laat gaan en soveel kinders te hê as wat daar sonder beplanning gebore kan word met die hoop dat alles goed sal afloop.

Benewens die feit dat God se Woord ons help om wyse besluite te neem wat gesinsake betref, gee dit ons ook ’n vaste toekomshoop. Die Bybel toon dat dit die Skepper se voorneme is dat mense vir ewig in vrede en geluk op ’n paradysaarde moet lewe. Om dit te volbring, sal God binnekort ’n einde maak aan hierdie goddelose stelsel van dinge. Dan sal kinders, in ’n regverdige nuwe wêreld vry van armoede en oorbevolking, nooit weer weggegooi word omdat hulle ongewens is nie.—Jesaja 45:18; 65:17, 20-25; Matteus 6:9, 10.

As egpare mekaar en die kinders in ag neem, asook ’n gebalanseerde beskouing van voortplanting het, sal dit hulle ongetwyfeld help om oor die grootte van hulle gesin te besluit. Hulle moet eerder tot God bid om leiding as om sake maar net hulle gang te laat gaan. “Die seën van Jehovah—dit maak ryk‚ en hy voeg daar geen smart by nie.”—Spreuke 10:22, NW.

[Voetnoot]

a Sien Die Wagtoring, 1 Mei 1985, bladsy 31.

[Prent op bladsy 12]

Miljoene kinders word weggegooi

[Prent op bladsy 13]

Kinders het liefdevolle sorg nodig

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel