Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g 9/07 bl. 18-20
  • Vasgevang tussen kulture—Wat kan ek doen?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Vasgevang tussen kulture—Wat kan ek doen?
  • Ontwaak!—2007
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Kultuurgapings en taalgrense
  • Redes om die gaping te oorbrug
  • ‘God is nie partydig nie’
  • Vasgevang tussen kulture—Wat kan ek doen?
    Vrae wat jongmense vra—Antwoorde wat werk, Deel 1
  • Die grootmaak van kinders in ’n vreemde land—Die uitdagings en belonings
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2002
  • Help die kinders van “inwonende vreemdelinge”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe)—2017
  • Wil jy ’n ander taal aanleer?
    Ontwaak!—2000
Sien nog
Ontwaak!—2007
g 9/07 bl. 18-20

Jongmense vra . . .

Vasgevang tussen kulture—Wat kan ek doen?

“My familie is Italiaans, en hulle druk hulle liefde en geneentheid spontaan uit. Ons woon nou in Brittanje. Hier lyk dit asof mense baie formeel en hoflik is. Ek voel ontuis in albei kulture—ek is te Italiaans om Brits te wees en te Brits om Italiaans te wees.”—Giosuè, Engeland.

“By die skool het my onderwyser vir my gesê dat ek vir hom moet kyk wanneer hy met my praat. Maar toe ek my pa in die oë kyk terwyl hy met my gepraat het, het hy gesê dat ek ongeskik is. Ek het gevoel asof ek tussen twee kulture vasgevang is.”—Patrick, ’n Algeriese immigrant wat in Frankryk woon.

Is jou pa of ma ’n immigrant?

◻ Ja ◻ Nee

Is die taal of kultuur by jou skool anders as dié by die huis?

◻ Ja ◻ Nee

MILJOENE mense migreer elke jaar, en baie van hulle kom voor groot uitdagings te staan. Skielik word hulle omring deur mense wie se taal, kultuur en klere anders as hulle s’n is. Gevolglik is immigrante dikwels die teiken van bespotting—’n feit wat ’n meisie met die naam Noor ontdek het. Sy het saam met haar gesin uit Jordanië na Noord-Amerika geïmmigreer. “Ons klere was anders, en daarom het mense met ons gespot”, sê sy. “En ons het beslis nie die Amerikaanse humor verstaan nie.”

’n Jong meisie met die naam Nadia het met ’n ander uitdaging te kampe gehad. “Ek is in Duitsland gebore”, verduidelik sy. “Aangesien my ouers Italiaans is, praat ek Duits met ’n aksent, en die kinders by die skool het my ’n ‘dom uitlander’ genoem. Maar wanneer ek Italië besoek, vind ek dat ek Italiaans met ’n Duitse aksent praat. Dit voel dus asof ek nie ’n ware identiteit het nie. Waar ek ook al gaan, is ek ’n uitlander.”

Met watter ander uitdagings het kinders van immigranteouers te kampe? En hoe kan hulle die situasie suksesvol die hoof bied?

Kultuurgapings en taalgrense

Jongmense met immigranteouers sien dalk hoe ’n kultuurgaping selfs by die huis ontstaan. Hoe so? Kinders pas dikwels vinniger by ’n nuwe kultuur aan as hulle ouers. Byvoorbeeld, Ana was agt toe sy saam met haar gesin na Engeland geïmmigreer het. “Ek en my boetie het so te sê outomaties by die lewe in Londen aangepas”, sê sy. “Maar my ouers het dit moeilik gevind, want hulle het baie lank op die klein Portugese eiland Madeira gewoon.” Voeun, wat drie was toe haar ouers uit Kambodja in Australië aangekom het, sê: “My ouers het nie baie goed aangepas nie. Om die waarheid te sê, my pa het dikwels ontsteld en kwaad geraak omdat ek nie sy gesindheid en manier van dink verstaan het nie.”

Hierdie kultuurgaping kan soos ’n grag, oftewel ’n diep sloot om ’n kasteel, wees wat jongmense van hulle ouers skei. En, soos ’n kasteelmuur wat langs ’n grag gebou is, kan ’n taalgrens gesinne verder verdeel. Die fondament van hierdie “muur” word gelê wanneer kinders die nuwe taal vinniger as hulle ouers aanleer. Die muur word hoër wanneer die kinders hulle moedertaal begin vergeet en betekenisvolle kommunikasie al hoe moeiliker word.

Ian, wat nou 14 is, het so ’n skeiding tussen hom en sy ouers sien ontwikkel nadat sy gesin uit Ecuador na New York geïmmigreer het. “Nou praat ek meer Engels as Spaans”, sê hy. “My onderwysers by die skool praat Engels, my vriende praat Engels en ek praat Engels met my boetie. Engels is besig om my kop te vul en die Spaans te verdring.”

Voel jy soos Ian? As jou gesin gemigreer het toe jy nog baie jonk was, het jy moontlik nie besef dat jou moedertaal later in jou lewe vir jou van nut kan wees nie. Daarom het jy dit miskien begin vergeet. Noor, wat vroeër aangehaal is, sê: “My pa het hard probeer om ons sover te kry om sy taal by die huis te praat, maar ons wou nie Arabies praat nie. Dit het vir ons so onnodig gelyk om Arabies te leer. Ons vriende het Engels gepraat. Die TV-programme waarna ons gekyk het, was almal in Engels. Waarom het ons Arabies nodig gehad?”

Namate jy egter ouer word, sal jy dalk die voordele daarvan begin besef om jou moedertaal goed te kan praat. Maar jy sal dit miskien moeilik vind om die woorde te onthou wat eens op ’n tyd vanself gekom het. “Ek meng die twee tale”, sê die 13-jarige Michael, wie se ouers uit China na Engeland geïmmigreer het. Ornelle, wat 15 is en van Kongo (Kinshasa) na Londen getrek het, sê: “Ek probeer soms om vir my ma iets in Lingala te sê, maar ek kan nie omdat ek meer daaraan gewoond is om Engels te praat.” Lee, wat in Australië vir Kambodjaanse ouers gebore is, is spyt dat sy nie haar ouers se taal vlot kan praat nie. Sy verduidelik: “Wanneer ek met my ouers praat en wil verduidelik hoe ek oor sekere sake voel, vind ek dat ek hulle taal eenvoudig nie goed genoeg kan praat nie.”

Redes om die gaping te oorbrug

As jy vind dat jou moedertaal ’n bietjie verroes is, moet jy nie moed verloor nie. Jy kan weer jou taalvaardighede opbou. Maar eerstens moet jy die voordele daarvan duidelik voor oë hê. Wat is party hiervan? “Ek het my ouers se taal aangeleer omdat ek emosioneel, en bowenal geestelik, na aan hulle wou wees”, sê Giosuè, wat vroeër aangehaal is. “Deur hulle taal aan te leer, kon ek beter verstaan hoe hulle voel. En dit het hulle gehelp om my te verstaan.”

Talle jong Christene bemeester hulle ouers se taal omdat hulle ander immigrante van die goeie nuus van God se Koninkryk wil vertel (Matteus 24:14; 28:19, 20). “Dit is wonderlik om die Skrif in twee tale te kan verduidelik!” sê Salomão, wat na Londen geïmmigreer het toe hy vyf was. “Ek het my moedertaal amper vergeet, maar noudat ek in ’n Portugese gemeente is, kan ek Engels sowel as Portugees vlot praat.” Oleg, wat 15 is en tans in Frankryk woon, sê: “Dit maak my gelukkig om ander te kan help. Ek kan die Bybel verduidelik vir mense wat Russies, Frans of Moldowies praat.” Noor het besef dat daar ’n behoefte aan evangeliedienaars in die Arabiese veld is. Sy sê: “Nou loop ek klasse en probeer ek terugkry wat ek verloor het. My gesindheid het verander. Nou wil ek hê dat mense my moet reghelp. Ek wil leer.”

Wat kan jy doen om weer jou ouers se taal vlot te kan praat? Party gesinne het gevind dat as hulle ’n punt daarvan maak om by die huis net hulle moedertaal te praat, die kinders albei tale goed leer.a Jy kan jou ouers dalk ook vra om jou te help om in daardie taal te skryf. Stelios, wat in Duitsland grootgeword het maar wie se moedertaal Grieks is, sê: “My ouers het elke dag ’n Bybelteks met my bespreek. Hulle het dit hardop gelees, en dan het ek dit neergeskryf. Nou kan ek Grieks en Duits lees sowel as skryf.”

As jy twee kulture ken en twee of meer tale kan praat, het jy beslis ’n groot voorsprong. Jou kennis van twee kulture sal jou help om mense se gevoelens beter te verstaan en om hulle vrae omtrent God makliker te beantwoord. Die Bybel sê: “’n Man vind blydskap in die antwoord van sy mond, en hoe goed is ’n woord op die regte tyd tog!” (Spreuke 15:23). Preeti, wat in Engeland vir Indiese ouers gebore is, verduidelik: “Omdat ek twee kulture verstaan, voel ek meer op my gemak in die bediening. Ek verstaan mense van albei agtergronde—hulle oortuigings en hulle gesindhede.”

‘God is nie partydig nie’

As jy voel dat jy tussen twee kulture vasgevang is, moet jy nie mismoedig raak nie. Jou situasie is soortgelyk aan dié van verskeie Bybelkarakters. Josef is byvoorbeeld uit sy Hebreeuse kultuur geneem toe hy ’n jong seun was en het die res van sy lewe in Egipte deurgebring. Nietemin het hy klaarblyklik nooit sy moedertaal vergeet nie (Genesis 45:1-4). Gevolglik kon hy sy gesin help.—Genesis 39:1; 45:5.

Timoteus, wat na baie plekke saam met die apostel Paulus gereis het, het ’n Griekse pa en ’n Joodse ma gehad (Handelinge 16:1-3). Hy het nie toegelaat dat sy gemengde agtergrond ’n hindernis vir hom word nie, maar het ongetwyfeld sy begrip van kultuurverskille eerder gebruik om ander te help terwyl hy aan die sendingwerk deelgeneem het.—Filippense 2:19-22.

Kan jy ook jou omstandighede beskou as ’n voordeel eerder as ’n nadeel? Onthou, “God [is] nie partydig . . . nie, maar in elke nasie is die mens wat hom vrees en regverdigheid beoefen, vir hom aanneemlik” (Handelinge 10:34, 35). Jehovah het jou lief as persoon, nie omdat jy van ’n sekere land kom nie. Kan jy, soos die jongmense wat hierbo aangehaal is, jou kennis en ondervinding gebruik om ander van dieselfde etniese agtergrond te help om oor ons onpartydige, liefdevolle God, Jehovah, te leer? Deur dit doen, kan jy ware geluk smaak!—Handelinge 20:35.

Nog artikels uit die reeks “Jongmense vra . . . ” kan gevind word op die webwerf www.watchtower.org/ype

[Voetnoot]

a Vir bykomende praktiese wenke, sien die artikel “Die grootmaak van kinders in ’n vreemde land—die uitdagings en belonings”, in Die Wagtoring van 15 Oktober 2002.

IETS OM OOR TE DINK

◼ Voor watter kultuurgapings of taalgrense kom jy te staan?

◼ Hoe kan jy party van hierdie uitdagings die hoof bied?

[Prent op bladsy 20]

As jy jou ouers se taal praat, kan dit julle gesinsbande versterk

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel