Hoofstuk 22
Vasgevang tussen kulture—Wat kan ek doen?
Is jou pa of ma ’n immigrant?
□ Ja □ Nee
Is die taal of kultuur by jou skool anders as dié by die huis?
□ Ja □ Nee
“My familie is Italiaans, en hulle gee openlik uiting aan hulle gevoelens en liefde. Maar ons woon nou in Brittanje. Hier is mense blykbaar baie formeel en hoflik. Ek voel ontuis in albei kulture—ek is te Italiaans om Brits te wees en te Brits om Italiaans te wees.”—Giosuè, Engeland.
“By die skool het my onderwyser vir my gesê dat ek na hom moet kyk wanneer hy met my praat. Maar my pa het weer gesê dat ek ongeskik is as ek hom in die oë kyk wanneer hy met my praat. Dit het gevoel asof ek tussen twee kulture vasgevang is.”—Patrick, wat vir Algeriese ouers in Frankryk gebore is.
TOE jou ouers geïmmigreer het, het hulle voor groot uitdagings te staan gekom. Skielik was hulle omring deur mense wie se taal, kultuur en klere van hulle s’n verskil het. Hulle was opvallend anders. Gevolglik is hulle dalk disrespekvol behandel en is daar moontlik weens vooroordeel teen hulle gediskrimineer.
Het dit ook met julle gebeur? Hieronder is ’n paar van die uitdagings waarvoor ander jongmense in hierdie situasie al te staan gekom het. Maak ’n ✔ langs die een wat vir jou die moeilikste is om te hanteer.
□ Bespotting. Noor was ’n jong meisie toe sy en haar gesin uit Jordanië na Noord-Amerika geïmmigreer het. “Ons klere was anders, en daarom het mense ons gespot”, sê sy. “En ons het beslis nie die Amerikaanse humor verstaan nie.”
□ ’n Identiteitskrisis. “Ek is in Duitsland gebore”, sê ’n jong meisie met die naam Nadia. “Aangesien my ouers Italiaans is, het ek Duits met ’n aksent gepraat, en die kinders by die skool het my ’n ‘dom uitlander’ genoem. Maar wanneer ek Italië besoek, vind ek dat ek Italiaans met ’n Duitse aksent praat. Dit voel dus asof ek nie ’n ware identiteit het nie. Waar ek ook al gaan, is ek ’n uitlander.”
□ ’n Kultuurgaping by die huis. Ana was agt toe sy saam met haar gesin na Engeland geïmmigreer het. “Ek en my boetie het so te sê outomaties by die lewe in Londen aangepas”, sê sy. “Maar dit was moeilik vir my ouers, wat so lank op die klein Portugese eiland Madeira gewoon het.”
Voeun was drie toe sy en haar Kambodjaanse ouers in Australië aangekom het. “My ouers het nie baie goed aangepas nie”, sê sy. “Om die waarheid te sê, my pa het dikwels ontsteld en kwaad geraak omdat ek nie sy gesindheid en manier van dink verstaan het nie.”
□ ’n Taalprobleem by die huis. Ian was agt toe hy saam met sy gesin uit Ecuador na New York geïmmigreer het. Ná ses jaar in die Verenigde State sê hy: “Nou praat ek meer Engels as Spaans. By die skool praat my onderwysers Engels, my vriende praat Engels en ek praat Engels met my boetie. My kop is vol Engels, en daarom vergeet ek my Spaans.”
Lee, wat in Australië vir Kambodjaanse ouers gebore is, sê: “Wanneer ek met my ouers praat en wil verduidelik hoe ek oor sekere dinge voel, vind ek dat ek eenvoudig nie hulle taal goed genoeg kan praat nie.”
Noor, wat vroeër aangehaal is, sê: “My pa het hard probeer om ons te dwing om sy taal by die huis te praat, maar ons wou nie Arabies praat nie. Vir ons was dit moeite om Arabies te leer. Ons vriende het Engels gepraat. Al die TV-programme waarna ons gekyk het, was in Engels. Waarom het ons Arabies nodig gehad?”
Wat kan jy doen?
Soos die bogenoemde kommentare toon, is jy nie die enigste persoon wat voor hierdie moeilike uitdagings te staan kom nie. Jy kan probeer om alle spore van jou kulturele agtergrond uit te wis en by jou nuwe omgewing in te pas, eerder as om hierdie uitdagings die hoof te bied. Maar dit sal jou ouers waarskynlik aanstoot gee en vir jou frustrasie veroorsaak. Waarom leer jy nie eerder om die uitdagings die hoof te bied en om jou omstandighede tot jou voordeel te gebruik nie? Kyk na die volgende wenke:
Hoe om bespotting te beskou. Wat jy ook al doen, jy sal nooit by almal gewild wees nie. Mense wat dit geniet om met ander die spot te dryf, sal altyd ’n verskoning vind om dit te doen (Spreuke 18:24). Moet dus nie jou asem mors om hulle bevooroordeelde beskouings te probeer regstel nie. “Die spotter hou nie daarvan dat ’n mens hom bestraf nie”, het die wyse koning Salomo gesê (Spreuke 15:12, Ou Afrikaanse Bybelvertaling). Bevooroordeelde aanmerkings openbaar net die spreker se onkunde, nie die slagoffer se sogenaamde foute nie.
Hoe om ’n identiteitskrisis te hanteer. Dit is ’n natuurlike begeerte om aan ’n groep te wil behoort, soos aan ’n familie of ’n kultuur. Maar dit is ’n fout om te dink dat jou waarde deur jou kulturele of familieagtergrond bepaal word. Mense oordeel jou dalk daarvolgens, maar God doen dit nie. “God [is] nie partydig . . . nie”, het die apostel Petrus gesê. “In elke nasie is die mens wat hom vrees en regverdigheid beoefen, vir hom aanneemlik” (Handelinge 10:34, 35). As jy jou bes doen om Jehovah God te behaag, sal hy jou as deel van sy familie beskou (Jesaja 43:10; Markus 10:29, 30). Kan daar ’n beter identiteit wees?
Hoe om die kultuurgaping by die huis te oorbrug. In byna elke gesin sal ouers en kinders verskillende beskouings hê. In jou geval is hierdie verskille dalk groter—jou ouers wil dalk hê dat jy die gebruike van hulle vaderland moet volg, terwyl jy die gebruike van jou nuwe tuiste wil volg. Maar as jy suksesvol wil wees in die lewe, moet jy “jou vader en jou moeder [eer]”.—Efesiërs 6:2, 3.
Pleks van te rebelleer teen jou ouers se gebruike omdat jy nie daarvan hou nie, kan jy eerder probeer verstaan waarom hierdie gebruike vir jou ouers belangrik is (Spreuke 2:10, 11). Vra jou die volgende vrae af: ‘Is die gebruike in stryd met Bybelbeginsels? Indien nie, watter spesifieke dinge maak dat ek nie daarvan hou nie? Hoe kan ek op ’n respekvolle manier vir my ouers vertel hoe ek daaroor voel?’ (Handelinge 5:29). Dit sal natuurlik baie makliker wees om jou ouers te eer—om hulle denke te verstaan en jou gevoelens uit te druk—as jy hulle taal goed kan praat.
Hoe om die taalprobleem by die huis te oorkom. Party gesinne het gevind dat dit die kinders bevoordeel as hulle net hulle moedertaal by die huis praat, aangesien hulle albei tale dan goed leer ken. Probeer dit gerus in julle huis. Jy kan jou ouers dalk ook vra om jou te leer om in hulle taal te skryf. Stelios, wat in Duitsland grootgeword het, maar wie se moedertaal Grieks is, sê: “My ouers het elke dag ’n Bybelteks met my bespreek. Hulle het dit hardop gelees, en dan het ek dit neergeskryf. Nou kan ek Grieks sowel as Duits lees en skryf.”
Wat is nog ’n voordeel? “Ek het my ouers se taal geleer omdat ek emosioneel, en bowenal geestelik, na aan hulle wou wees”, sê Giosuè, wat vroeër aangehaal is. “Omdat ek hulle taal geleer het, kan ek beter verstaan hoe hulle voel. En dit het hulle gehelp om my te verstaan.”
’n Brug, nie ’n versperring nie
Sal jy jou kulturele agtergrond beskou as ’n versperring wat jou van ander skei of as ’n brug wat jou met hulle verbind? Talle jong Christene het besef dat hulle ’n bykomende rede het om die gaping tussen kulture te oorbrug. Hulle wil ander immigrante van die goeie nuus van God se Koninkryk vertel (Matteus 24:14; 28:19, 20). “Dit is wonderlik om die Bybel in twee tale te kan verduidelik!” sê Salomão, wat na Londen geïmmigreer het toe hy vyf was. “Ek het amper my moedertaal vergeet, maar noudat ek in ’n Portugese gemeente is, kan ek Engels sowel as Portugees vlot praat.”
Noor, wat vroeër aangehaal is, het besef dat daar ’n behoefte is aan evangeliedienaars wat Arabies kan praat. Sy sê: “Nou neem ek lesse en probeer ek weer die taal leer. My gesindheid het verander. Nou wil ek hê dat mense my moet reghelp. Ek wil leer.”
Dit is beslis tot jou voordeel as jy twee kulture ken en twee of meer tale kan praat. Jou kennis van twee kulture help jou om mense se gevoelens beter te verstaan en hulle vrae oor God te beantwoord (Spreuke 15:23). “Omdat ek twee kulture verstaan”, sê Preeti, wat in Engeland vir Indiërouers gebore is, “voel ek meer op my gemak in die bediening. Ek verstaan mense van albei kulture—wat hulle glo en wat hulle gesindhede is.”
Kan jy ook jou omstandighede as ’n voordeel eerder as ’n nadeel beskou? Onthou, Jehovah is lief vir jou weens die persoon wat jy is, nie weens die land waarvandaan jy of jou gesin kom nie. Kan jy, soos die jongmense wat hier aangehaal is, jou kennis en ondervinding gebruik om ander van dieselfde etniese agtergrond te help om van ons onpartydige, liefdevolle God, Jehovah, te leer? As jy dit doen, kan jy ware geluk smaak!—Handelinge 20:35.
SLEUTELTEKSTE
‘God is nie partydig nie.’—Handelinge 10:34.
WENK
As jou portuurs jou weens jou etniese agtergrond spot, moet jy jou sin vir humor behou en jou nie daaraan steur nie. As jy dit doen, sal hulle heel moontlik belangstelling verloor en jou nie meer spot nie.
HET JY GEWEET . . . ?
As jy twee tale bemeester, kan dit jou kanse vergroot om werk te kry.
AKSIEPLAN!
Om my ouers se taal beter te verstaan, sal ek ․․․․․
Wat ek graag vir my ouer(s) hieroor wil vra ․․․․․
WAT DINK JY?
● Hoe kan dit jou help om jouself beter te verstaan as jy jou ouers se kulturele agtergrond ken?
● Watter voordele geniet jy in vergelyking met jongmense wat nie ’n multikulturele agtergrond het nie?
[Lokteks op bladsy 160]
Dit maak my gelukkig om ander te kan help. Ek kan die Bybel verduidelik aan mense wat Russies, Frans of Moldowies praat.’’—Oleg
[Prent op bladsy 161]
Jy kan besluit om jou kulturele agtergrond te beskou as ’n brug wat jou met ander verbind