Kan optimisme jou gesondheid verbeter?
“’n Vreugdevolle hart is ’n goeie geneesmiddel”, het ’n wyse Israelitiese koning sowat 3 000 jaar gelede geskryf (Spreuke 17:22). Vandag erken dokters die wysheid van daardie geïnspireerde woorde. Maar baie van ons het dalk nie van nature ’n “vreugdevolle hart” nie.
Min van ons kan die druk van die daaglikse lewe vryspring, en dit kan tot frustrasie en ’n pessimistiese uitkyk lei. Maar ten spyte van die probleme is dit, volgens onlangse studies, steeds die moeite werd om optimisme aan te kweek.
Optimisme word beskryf as “’n hoopvolle beskouing of gesindheid; ’n geneigdheid om ’n gunstige uitslag te verwag”. Hoe voel ’n optimis wanneer hy teëspoed ondervind? Hy beskou dit nie as ’n permanente nederlaag nie. Dit beteken nie dat hy blind is vir die werklikheid nie. Hy aanvaar eerder die situasie en ondersoek dit. Na gelang van die omstandighede tree hy dan op om die situasie te verander of te verbeter.
Aan die ander kant sal ’n pessimistiese persoon homself dikwels vir teëspoed blameer. Hy veronderstel dat dit permanent is en dat dit as gevolg van sy eie dwaasheid, onbevoegdheid of onaantreklikheid is. Gevolglik berus hy hom maar daarin dat hy misluk het.
Het optimisme ’n uitwerking op ons gesondheid en welstand? Ja. Tydens ’n 30 jaar lange studie wat deur die Mayo-kliniek in Rochester, Minnesota, VSA, onder meer as 800 pasiënte gedoen is, het wetenskaplikes gevind dat optimiste gesonder was en aansienlik langer as ander gelewe het. Die navorsers het ook opgelet dat optimiste stres beter hanteer het en minder geneig was om depressie te ontwikkel.
Maar dit is allesbehalwe maklik om optimisties te wees in ’n wêreld waar probleme blykbaar aanhoudend toeneem. Dit is dus nie verbasend dat baie mense dit moeilik vind om positief te dink nie. Wat kan gedoen word om hierdie probleem op te los? In die bygaande venster sal jy ’n paar idees vind wat jou kan help.
Hoewel ’n vreugdevolle gesindheid nie al jou probleme sal laat verdwyn nie, kan dit tot ’n gesonder en bevredigender lewe bydra. Die Bybel sê: “Vir die bedroefde is elke dag sleg, maar die vrolike van hart vier gedurigdeur fees.”—Spreuke 15:15, The Jerusalem Bible.
[Venster/Prent op bladsy 26]
’n Paar wenke om meer optimisties te weesa
◼ Wanneer jy dink dat jy iets nie sal geniet nie of dat die een of ander projek onsuksesvol gaan wees, moet jy die gedagte verwerp. Konsentreer op die positiewe.
◼ Probeer om jou werk te geniet. Ongeag watter werk jy doen, wees op die uitkyk na aspekte wat jy bevredigend vind.
◼ Soek na vriende wat ’n positiewe lewensbeskouing het.
◼ Hanteer die situasies waaroor jy beheer het; probeer om dié wat jy nie kan beheer nie, te aanvaar.
◼ Skryf elke dag drie goeie dinge neer wat met jou gebeur het.
[Voetnoot]
a Die bostaande lys is gedeeltelik gebaseer op ’n publikasie wat deur die Mayo-kliniek saamgestel is.