Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g 2/08 bl. 4-7
  • Kan die probleem van misdaad opgelos word?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Kan die probleem van misdaad opgelos word?
  • Ontwaak!—2008
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Misdadigers—noodgedwonge of uit vrye keuse?
  • Misdaad begin in die verstand
  • Mense kan verander!
  • Die belangrikheid van ’n goeie “dieet”
  • God is barmhartig
  • Waarom soveel misdaad?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
  • Die einde van misdaad is nou naby!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
  • Toe daar geen misdaad was nie
    Ontwaak!—1998
  • Die stryd om ’n einde te maak aan misdaad
    Ontwaak!—1996
Sien nog
Ontwaak!—2008
g 2/08 bl. 4-7

Kan die probleem van misdaad opgelos word?

“studies toon dat die meeste gewoontemisdadigers, selfs nadat hulle in die tronk was, sal aanhou om die gemeenskap te teister, en die koste, wat nie net in dollar gemeet kan word nie, sal astronomies bly.”—Inside the Criminal Mind, deur Dr. Stanton E. Samenow.

DIT lyk of daar elke dag nog ’n vlaag afgryslike misdade is, ongeag waar jy in die wêreld woon. Daarom is dit redelik om te vra: Is die huidige afskrikmiddels—swaar strawwe, tronkvonnisse, ensovoorts—doeltreffend? Word misdadigers deur tronkstraf hervorm? Nog belangriker, doen die samelewing enigiets omtrent die grondoorsaak van misdaad?

Aangaande huidige afskrikmiddels skryf dr. Stanton E. Samenow: “Nadat [die misdadiger] in die tronk was, sal hy moontlik meer geslepe en versigtiger wees, maar hy hou aan om op ander te teer deur misdade te pleeg. Statistiek in verband met residivisme [die terugval in misdaad] is net ’n aanduiding dat hy agterlosig genoeg was om [weer] gevang te word.” Gevolglik word tronke dikwels “afrondingskole” wat misdadigers in werklikheid help om hulle antisosiale vaardighede te slyp.—Sien die venster “‘Skole vir misdaad’?” op bladsy 7.

Wat meer is, baie misdade bly ongestraf, wat misdadigers laat glo dat misdaad wel lonend is. Hierdie beskouing kan hulle vermeteler laat raak en kan maak dat hulle verstok raak in hulle gedrag. ’n Wyse heerser het eenkeer geskryf: “Omdat die vonnis oor ’n slegte werk nie gou voltrek is nie, daarom is die hart van die mensekinders in hulle volkome daarop gerig om kwaad te doen.”—Prediker 8:11.

Misdadigers—noodgedwonge of uit vrye keuse?

Is misdaad die enigste keuse wat sommige mense het om aan die lewe te bly? “Ek het misdaad beskou as ’n byna normale, indien nie verskoonbare, reaksie op die nypende armoede, onstabiliteit en wanhoop waarin [misdadigers] gedompel is”, erken Samenow. Maar ná deeglike navorsing het hy van mening verander. “Misdadigers besluit om misdaad te pleeg”, was sy gevolgtrekking. “Misdaad . . . word ‘veroorsaak’ deur [die persoon] se denkwyse, nie deur sy milieu nie.” Samenow voeg by: “Gedrag is grootliks ’n produk van denke. Alles wat ons doen, word deur denke voorafgegaan, gaan gepaard daarmee en word daardeur gevolg.” Hy het misdadigers dus nie as slagoffers beskou nie, maar het tot die slotsom gekom dat “hulle uitbuiters is wat hulle lewenswyse vryelik gekies het”.a

Die sleutelwoord is “gekies”. Trouens, ’n onlangse opskrif in ’n Britse koerant het gesê: “Misdaad is die gunstelingberoep van jong stedelike mans wat hulle lot in die lewe wil verbeter.” Mense het wilsvryheid en kan kies watter weg hulle wil inslaan, selfs onder moeilike omstandighede. Die feit is dat miljoene daagliks maatskaplike onregte en armoede moet verduur of dalk deel is van disfunksionele gesinne; maar hulle word nie misdadigers nie. “Misdaad word deur misdadigers veroorsaak”, sê Samenow, “nie deur slegte buurte, onbevoegde ouers . . . of werkloosheid nie. Misdaad het sy ontstaan in die mens se verstand en word nie deur maatskaplike toestande veroorsaak nie.”

Misdaad begin in die verstand

Die Bybel lê klem op die innerlike persoon, nie sy omstandighede nie. Jakobus 1:14, 15 sê: “Elkeen word beproef deurdat hy deur sy eie begeerte meegesleep en verlok word. Daarna, wanneer die begeerte vrugbaar geword het, baar dit sonde.” Wanneer ’n persoon aan slegte dinge dink, voed hy verkeerde begeertes. Dit kan weer skadelike dade tot gevolg hê. Byvoorbeeld, ’n terloopse belangstelling in pornografie kan ontwikkel tot ’n obsessie met seks wat ’n persoon dryf om uiteindelik sy fantasieë uit te leef, moontlik op ’n kriminele manier.

Nog ’n faktor om in ag te neem, is die wêreld se ek-eerste-mentaliteit en beheptheid met geld, genot en onmiddellike bevrediging. Die Bybel het aangaande ons tyd voorspel: “In die laaste dae [sal] mense . . . liefhebbers van hulleself wees, liefhebbers van geld, . . . wreedaardig, sonder liefde vir die goeie [en] liefhebbers van genot eerder as liefhebbers van God” (2 Timoteus 3:1-5). Die wêreld bevorder ongelukkig sulke eienskappe deur middel van rolprente, videospeletjies, leesstof en slegte rolmodelle, wat net nog misdaad tot gevolg het.b Maar as individue hoef mense nie aan hierdie invloede toe te gee nie. Trouens, sommige wat voorheen wel hieraan toegegee het, het hulle beskouing en lewenswyse heeltemal verander.

Mense kan verander!

Dit is moontlik vir ’n misdadiger om ’n nuwe blaadjie om te slaan. Die boek Inside the Criminal Mind sê dat net soos iemand dalk ’n lewe van misdaad gekies het, hy of sy ook “kan kies om ’n nuwe rigting in te slaan en kan leer om ’n verantwoordelike lewe te lei”.

Ondervinding toon dat mense van alle soorte agtergronde kan verander.c Wat nodig is, is ’n bereidwilligheid om ’n mens se gesindhede, beweegredes en denkpatrone aan te pas sodat dit ooreenstem, nie met die veranderlike waardes van mense nie, maar met die bestendige standaarde van ons Skepper. Wie ken ons immers beter as hy? Wat meer is, het God nie die reg om vir die mensegesin te besluit wat goed en wat sleg is nie? Daarom het hy ongeveer 40 godvresende manne geïnspireer om dit wat ons vandag as die Heilige Bybel ken, op skrif te stel—’n wonderlike boek wat tereg die mensdom se handleiding vir ’n gelukkige en sinvolle lewe genoem kan word.—2 Timoteus 3:16, 17.

Dit sal dalk nie maklik wees om die nodige veranderinge te maak om God te behaag nie, aangesien ons ons sondige neigings moet weerstaan. Trouens, een Bybelskrywer het sy innerlike konflik as ’n “stryd” beskryf! (Romeine 7:21-25). Hy het die stryd gewen omdat hy nie op sy eie krag staatgemaak het nie, maar op God s’n, wie se geïnspireerde Woord ‘lewend is en krag uitoefen’.—Hebreërs 4:12.

Die belangrikheid van ’n goeie “dieet”

Die fisiese liggaam het heilsame voedsel nodig om gesond te word. Daardie voedsel moet ook goed gekou en verteer word, wat tyd en inspanning verg. As ons geestelik gesond wil word, moet ons eweneens peins oor God se woorde sodat dit in ons verstand en hart opgeneem kan word (Matteus 4:4). Die Bybel sê: “Alles wat waar is, alles wat van ernstige belang is, alles wat regverdig is, alles wat kuis is, alles wat lieflik is, alles waarvan goed gepraat word, watter deug en watter lofwaardige saak daar ook al is, hou aan om hierdie dinge te bedink . . . , en die God van vrede sal met julle wees.”—Filippense 4:8, 9.

Let daarop dat ons God se gedagtes moet ‘aanhou bedink’ as ons wil hê dat ou karaktertrekke moet plek maak vir nuwes. Dit verg geduld, want geestelike groei vind nie oornag plaas nie.—Kolossense 1:9, 10; 3:8-10.

Kyk na die voorbeeld van ’n vrou wat as kind gemolesteer is, dwelms, drank en tabak begin gebruik het en nou lewenslange tronkstraf uitdien vir ’n aantal misdade. In die tronk het sy die Bybel saam met Jehovah se Getuies begin studeer, en sy het die waarhede wat sy geleer het, ter harte geneem. Die gevolg? Haar ou persoonlikheid is geleidelik deur ’n nuwe, Christelike persoonlikheid vervang. Nou is sy nie meer ’n slaaf van vernietigende denke en gewoontes nie. Een van haar gunstelingtekste in die Bybel is 2 Korintiërs 3:17, wat sê: “En Jehovah is die Gees; en waar die gees van Jehovah is, daar is vryheid.” Ja, selfs al is sy opgesluit, geniet sy ’n vryheid wat sy nooit tevore geken het nie.

God is barmhartig

In Jehovah God se oë is niemand outomaties ’n verlore saak nie.d God se Seun, Jesus Christus, het gesê: “Ek het nie gekom om regverdiges tot berou te roep nie, maar sondaars” (Lukas 5:32). Die aanpassing om volgens Bybelstandaarde te lewe, kan wel ’n uitdaging wees. Maar diegene wat geduldig is en gebruik maak van die hulp wat God voorsien, insluitende die liefdevolle ondersteuning van geestelikgesinde Christene, behaal sukses (Lukas 11:9-13; Galasiërs 5:22, 23). Daarom besoek Jehovah se Getuies gereeld tronke oor die hele wêreld om gratis Bybelstudies te hou met opregte mans en vroue wat allerhande misdade gepleeg het.e In ’n aantal tronke hou die Getuies ook weekliks Christelike vergaderinge.—Hebreërs 10:24, 25.

Al het sommige voormalige kwaaddoeners met hulle slegte gewoontes gebreek en ware Christene geword, praat die Bybel duidelik van ’n “toename in wetteloosheid” (Matteus 24:12). Soos ons in die volgende artikel sal sien, is hierdie voorspelling deel van ’n groter profesie wat besonder goeie nuus bevat.

[Voetnote]

a Geestesiekte kan ’n faktor wees by sommige misdade, veral in lande waar geestesversteurdes toegelaat word om in die strate rond te dwaal en waar hulle toegang tot wapens het. Maar hierdie ingewikkelde onderwerp word nie in hierdie artikel behandel nie.

b Vir meer inligting oor misdaad, sien die Ontwaak! van 22 Februarie 1998, bladsye 3-9, “’n Wêreld sonder misdaad—Wanneer?” en 8 Augustus 1985, bladsye 3-12, met die titel “Sal ons strate ooit misdaadvry wees?”

c Hierdie tydskrif en sy metgesel, Die Wagtoring, het al dikwels vertel van mense wat deur Bybelwaarheid beweeg is om ’n lewe van misdaad te laat vaar. Sien die Ontwaak! van Julie 2006, bladsye 11-13, en 8 Oktober 2005, bladsye 20-1, sowel as Die Wagtoring van 1 Januarie 2000, bladsye 4-5; 15 Oktober 1998, bladsye 27-9; en 15 Februarie 1997, bladsye 21-4.

d Sien die artikel “Die Bybel se beskouing: Vergewe God ernstige sondes?” op bladsy 10.

e Sien die venster “Geestelike hulp vir gevangenes”, op bladsy 9.

[Lokteks op bladsy 5]

Miljoene wat armoede verduur, wend hulle nie tot misdaad nie

[Venster/Prent op bladsy 6, 7]

“BINNE TWEE JAAR TERUG IN DIE TRONK”

Onder hierdie opskrif het die koerant The Times van Londen, Engeland, berig dat meer as 70 persent van diegene in Brittanje wat vir inbraak en diefstal gevonnis word, binne twee jaar weer skuldig bevind word. Baie misdade word gepleeg deur dwelmslawe wat geld dringend nodig het om vir hulle duur, selfvernietigende gewoonte te betaal.

[Venster op bladsy 7]

“SKOLE VIR MISDAAD”?

“Tronke is skole vir misdaad”, skryf professor John Braithwaite in die UCLA Law Review. In sy boek Inside the Criminal Mind sê dr. Stanton E. Samenow dat “die meeste misdadigers wel uit ondervinding leer”, maar nie wat die samelewing wil hê hulle moet leer nie. “In die tronk”, skryf hy, “het ’n persoon baie tyd en geleenthede om te leer hoe om ’n beter misdadiger te wees. . . . Sommige word in werklikheid suksesvoller misdadigers en raak diep betrokke by misdaad, maar is geslepe genoeg om nie gevang te word nie.”

In ’n latere hoofstuk sê Samenow: “Tronkstraf verander nie ’n misdadiger se basiese persoonlikheid nie. Hetsy hy op straat of in die tronk is, hy bou kontakte op, leer nuwe vaardighede en gee ’n paar wenke van sy eie aan ander.” ’n Jong misdadiger het gesê: “Die tronk het my die kwalifikasies gegee om ’n leermeester van misdaad te word.”

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel