Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g 3/08 bl. 5-6
  • Ware godsdiens—Wie moet bepaal wat dit is?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ware godsdiens—Wie moet bepaal wat dit is?
  • Ontwaak!—2008
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Wat die Bybelverslag toon
  • Nadat Jesus aarde toe gekom het
  • Aanbidding wat God se goedkeuring wegdra
    Wat leer die Bybel werklik?
  • Die regte manier om God te aanbid
    Wat kan die Bybel ons leer?
  • Wie se aanbidding is vir God aanneemlik?
    Kennis wat tot die ewige lewe lei
  • Oor ware aanbidding
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2010
Sien nog
Ontwaak!—2008
g 3/08 bl. 5-6

Ware godsdiens—Wie moet bepaal wat dit is?

JESUS het dit duidelik gemaak dat party vorme van aanbidding nie vir God aanvaarbaar is nie. Hy het van “valse profete” gepraat en hulle vergelyk met ’n boom wat waardelose vrugte voortbring en “afgekap en in die vuur gegooi” word. Hy het ook gesê: “Nie elkeen wat vir my sê: ‘Here, Here’, sal in die koninkryk van die hemele ingaan nie.”—Matteus 7:15-22.

Trouens, Jesus het aangaande party wat sou beweer dat hulle hom volg, gesê: “Ek [sal] dan openlik vir hulle sê: Ek het julle nooit geken nie! Gaan weg van my af, julle werkers van wetteloosheid” (Matteus 7:23). Verder het Jesus, toe hy met die godsdiensleiers van sy dag gepraat het, God se woorde oor afvallige Israel op hulle toegepas en gesê: “Tevergeefs bly hulle my aanbid, want hulle leer gebooie van mense as leerstellings.”—Markus 7:6, 7.

Dit is duidelik dat nie alle vorme van aanbidding deur God of sy Seun goedgekeur word nie. Nie alle aanbidding is dus ware aanbidding nie. Beteken dit dat net een godsdiens die waarheid leer? Werk God nie dalk deur ’n aantal godsdienste, terwyl hy sekere ander godsdienste verwerp nie? Of aanvaar God moontlik selfs die aanbidding van individue wat onder ’n aantal godsdienste versprei is, terwyl hy die aanbidding van ander individue verwerp, ondanks wat hulle organisasies leer?

Die apostel Paulus het onder goddelike inspirasie geskryf: “Ek vermaan julle dan nou, broers, deur die naam van ons Here Jesus Christus, dat julle almal eenstemmig moet praat en dat daar nie verdeeldhede onder julle moet wees nie, maar dat julle paslik verenig kan wees in dieselfde denke en in dieselfde gedagtegang” (1 Korintiërs 1:10). Die Bybel vermaan Christene ook om “eendersdenkend te wees en dieselfde liefde te hê, terwyl [hulle] saamgevoeg is in siel en die een ding in gedagte hou”.—Filippense 2:2.

Waar sulke eenheid bestaan, is die gevolg in werklikheid een godsdiens. Daarom sê die Bybel dat daar “een Here, een geloof, een doop” is.—Efesiërs 4:4, 5.

Wat die Bybelverslag toon

Die Bybelverslag toon duidelik dat die gevolgtrekking hierbo ’n vaste skriftuurlike grondslag het. As jy hierdie verslag ondersoek, sal jy vind dat God deur middel van een stelsel van aanbidding met sy knegte gehandel het. Vroeg in die mensegeskiedenis het God aartsvaders, of familiehoofde, as sy verteenwoordigers gebruik. Vernames onder hulle was Noag, Abram (Abraham), Isak en Jakob.—Genesis 8:18-20; 12:1-3; 26:1-4; 28:10-15.

Die volk wat van Jakob afgestam het, het slawe geword in Egipte. Terwyl hulle daar was, is hulle wreed onderdruk, maar nogtans het hulle toegeneem totdat daar miljoene van hulle was. God het hulle uit gevangenskap verlos en hulle wonderdadig deur die Rooi See gelei. Toe het hy hulle as sy volk aangeneem en vir hulle wette deur die middelaar Moses gegee. Hulle het die eertydse nasie Israel, God se nasie, geword.—Eksodus 14:21-28; 19:1-6; 20:1-17.

Dit is betekenisvol dat God nie die vorme van aanbidding goedgekeur het wat die mense van die nasies om Israel beoefen het nie. Trouens, hy het sy volk gestraf wanneer hulle van sy wette afgewyk het en sulke vorme van aanbidding aangeneem het.—Levitikus 18:21-30; Deuteronomium 18:9-12.

Wat van individue uit ander nasies wat die ware God wou aanbid? Hulle moes eers hulle vorige valse aanbidding die rug toekeer en dan by Israel in die aanbidding van Jehovah God aansluit. Baie van hulle het God se goedkeuring verkry en sy lojale knegte geword. Dit het vroue ingesluit, soos Ragab, die Kanaäniet, en Rut, die Moabiet; mans, soos Uria, die Hetiet, en Ebed-Meleg, die Etiopiër; en groepe mense, soos die Gibeoniete. Israel se koning Salomo het ’n hartgrondige gebed gedoen namens almal wat, soos hulle, by God se volk in ware aanbidding aangesluit het.a—2 Kronieke 6:32, 33.

Nadat Jesus aarde toe gekom het

Later, nadat Jesus na die aarde gestuur is, is die weg van ware aanbidding op sy leringe gegrond en is daar op ’n wonderlike manier lig op God se voornemens gewerp. Ware aanbidders het mettertyd as “Christene” bekend geword (Handelinge 11:26). Jode wat God se goedkeuring wou hê, moes dus hulle vorige manier van aanbidding laat vaar. Hulle het nie die opsie gehad om te kies tussen twee stelsels van aanbidding of om as afgesonderde individue te aanbid nie. Soos ons in God se Woord gesien het, was ware aanbidders in “een geloof” verenig.—Efesiërs 4:4, 5.

Vandag is die idee dat God deur middel van net een godsdiens met die mensdom handel, dalk vir party ekstremisties en aanstootlik. Nogtans is dit die gevolgtrekking waarop die Bybel wys. In die verlede het baie mense wat op hulle eie manier aanbid het, hierdie feit aanvaar. Hulle het hulle by die ware aanbidders van Jehovah aangesluit, en enige aanvanklike bedenkinge het plek gemaak vir groot seëninge en vreugde. Die Bybel sê byvoorbeeld dat een Etiopiese man, nadat hy die Christelike geloof aanvaar het en gedoop is, “sy reis met blydskap voortgesit” het.—Handelinge 8:39.

Enigeen wat vandag die ware godsdiens aanvaar en dit beoefen, sal soortgelyke seëninge ontvang. Maar hoe kan jy die een ware godsdiens uitken, aangesien daar soveel godsdienste is om van te kies?

[Voetnoot]

a Jy kan in die volgende Bybelverslae omtrent hierdie mense lees: Josua 2:1-7; 6:22-25; Rut 1:4, 14-17; 2 Samuel 11:3-11; Jeremia 38:7-13 en Josua 9:3-9, 16-21.

[Prent op bladsy 5]

Wat sal gebeur met ’n godsdiens wat waardelose vrugte voortbring?

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel