Die ware godsdiens—Hoe om dit te vind
‘As God werklik vir ons waarheid gegee het, waarom moet ek daarna soek om dit te vind?’ vra party. ‘As God ’n belangrike boodskap vir die hele mensdom het, sou hy dit dan nie duidelik genoeg oorgedra het sodat mense dit onmiddellik kon begryp, sonder dat hulle ondersoek hoef in te stel nie?’
GOD het sekerlik die vermoë om so iets te doen. Maar is dit die manier wat hy gekies het om die waarheid bekend te maak?
Hoe God die waarheid oordra
Eintlik dra God sy boodskappe oor op ’n manier wat dit vir opregte waarheidsoekers moontlik maak om dit te vind (Psalm 14:2). Beskou die boodskap wat God eeue gelede deur sy profeet Jeremia oorgedra het. Dit is aan God se weerspannige volk gegee aangaande die komende vernietiging van Jerusalem deur die Babiloniërs.—Jeremia 25:8-11; 52:12-14.
Maar terselfdertyd het ander profete ook beweer dat hulle boodskappe van God af kom. Hananja het vrede vir Jerusalem voorspel. Hierdie boodskap was baie anders as Jeremia s’n. Wie moes ’n persoon dus destyds glo—Jeremia of diegene wat hom weerspreek het?—Jeremia 23:16, 17; 28:1, 2, 10-17.
Om te weet wie reg was, moes opregte Jode Jehovah as persoon ken. Hulle moes sy wette en beginsels verstaan, sowel as sy beskouing van oortreding. Dan sou hulle saamgestem het met God se woorde wat hy deur Jeremia gespreek het, dat “niemand . . . berou gehad [het] oor sy slegtheid” nie (Jeremia 8:5-7). Wat meer is, hulle sou onderskei het dat hierdie droewige situasie niks goeds vir Jerusalem en sy inwoners ingehou het nie.—Deuteronomium 28:15-68; Jeremia 52:4-14.
Jeremia se profesieë oor Jerusalem is bewaarheid. Die stad is in 607 v.G.J. deur die Babiloniërs verwoes.
Hoewel die gevolge van ongehoorsaamheid lank vooruit voorspel is, het dit inspanning geverg om tot die besef te kom dat die tyd aangebreek het vir God om op te tree.
Wat van Christelike waarheid?
Wat van die waarheid wat deur Jesus Christus verkondig is? Het almal dit as ’n boodskap van God erken? Nee. Hoewel Jesus daar onder die volk Israel was en hy hulle geleer en wonderwerke verrig het, het die meeste van sy toehoorders nie onderskei dat hy die voorspelde Messias—die Christus, of Gesalfde—is nie.
Jesus het vir die Fariseërs wat gevra het wanneer God se Koninkryk sou kom, gesê: “Die koninkryk van God kom nie met opvallende waarneembaarheid nie.” Hy het bygevoeg: “Die koninkryk van God is in julle midde” (Lukas 17:20, 21). God se aangestelde Heerser, Jesus, was in hulle midde! Maar daardie Fariseërs het geweier om die bewyse te aanvaar dat hy die Messiaanse profesieë vervul en dat hy “die Christus, die Seun van die lewende God”, is.—Matteus 16:16.
Daar was ’n soortgelyke reaksie op die waarheid wat deur Christus se eerste-eeuse dissipels verkondig is. Hoewel wonderwerke gehelp het om te bewys dat die dissipels God se ondersteuning het, was die waarheid nog steeds vir die meeste mense nie duidelik nie (Handelinge 8:1-8; 9:32-41). Jesus het sy volgelinge die opdrag gegee om “dissipels van mense [te maak]” deur hulle te leer. Opregte waarheidsoekers het gelowiges geword omdat hulle geluister het en skriftuurlike waarhede geleer het.—Matteus 28:19; Handelinge 5:42; 17:2-4, 32-34.
Dieselfde geld vandag. Die “goeie nuus van die koninkryk” word “in die hele bewoonde aarde verkondig . . . as ’n getuienis vir al die nasies” (Matteus 24:14). Dit word nie noodwendig “met opvallende waarneembaarheid” gedoen nie—op so ’n duidelike manier dat elkeen op aarde dit as ’n boodskap van God af sal erken nie. God se waarheid is nogtans herkenbaar en raak ’n ontvanklike snaar in opregtes van hart wat God wil aanbid op die manier wat hy goedkeur.—Johannes 10:4, 27.
Die feit dat jy ’n Bybeltydskrif lees, toon dat jy heel moontlik ’n opregte waarheidsoeker is. Hoe kan jy vasstel watter godsdiens die waarheid leer?
’n Benadering wat werk
Party eerste-eeuse inwoners van Berea is deur die apostel Paulus geprys vir die manier waarop hulle gereageer het toe hy hulle onderrig het. Hulle het nie wat Paulus gesê het, onmiddellik as die waarheid aanvaar nie; nogtans het hulle respekvol geluister. Ons kan leer uit wat die Bereane gedoen het nadat hulle die boodskap gehoor het.
Let op dat die Bybel verduidelik: “En [die Bereane] was edelmoediger as dié in Tessalonika, want hulle het die woord met die grootste gretigheid van verstand ontvang en die Skrif elke dag sorgvuldig ondersoek of hierdie dinge so was. Baie van hulle het dus gelowiges geword” (Handelinge 17:10-12). Hulle soeke was dus nie oppervlakkig nie. Hulle het nie verwag om al die antwoorde te hê ná net een of twee kort besprekings met Paulus nie.
Let ook op dat die Bereane “die woord met die grootste gretigheid van verstand ontvang” het. Dit sê vir ons iets omtrent die gesindheid waarmee hulle hulle studie van die Skrif benader het. Hulle was nie liggelowig nie, maar hulle was ook nie sinies nie. Hulle het nie ’n kritiese gesindheid gehad teenoor die dinge wat Paulus, een van God se menseverteenwoordigers, aan hulle verduidelik het nie.
Dink ook hieraan: Dit was die eerste keer dat die Bereane van die Christelike geloof gehoor het. Dit het goed geklink, dalk te goed om waar te wees. Maar eerder as om dit summier te verwerp, het hulle die Skrif sorgvuldig ondersoek om te sien ‘of die dinge wat Paulus gesê het, so was’. Let ook daarop dat diegene in Berea en Tessalonika wat so ’n deeglike ondersoek gedoen het, gelowiges geword het (Handelinge 17:4, 12). Hulle het nie moed opgegee en tot die slotsom gekom dat die waarheid nie gevind kan word nie. Hulle het die ware godsdiens geïdentifiseer.
Hoe die waarheid mense se lewens raak
Wanneer iemand die waarheid vind, soos in die geval van die Bereane, word hy beweeg om dit entoesiasties aan ander bekend te maak. Ander stem dalk nie hiermee saam nie en meen dat dit nederiger is om die beskouing te hê dat ander godsdienste net so reg kan wees. Maar die waarheid van die Bybel—wanneer dit eers gevind word—boesem oortuiging in. ’n Mens wonder nie of die waarheid gevind kan word en of alle godsdienste moontlik tot redding lei nie. Maar om die waarheid te vind, moet ’n mens eers ’n opregte selfondersoek doen, wat wel nederigheid vereis.
Jehovah se Getuies het so ’n ondersoek gedoen. Daarom glo hulle dat hulle die ware godsdiens gevind het. En hulle nooi jou om die Skrif te ondersoek sodat jy dié kan identifiseer wat vandag die ware godsdiens beoefen. Hoewel dit baie meer behels as wat enige eenvoudige lys kan dek, kan die inligting oor die eerste-eeuse Christene in die bygaande venster op hierdie bladsy jou moontlik help om met jou ondersoek te begin.
As jy ’n gratis tuisbybelstudie met Jehovah se Getuies aanvaar, kan jy noukeurig ondersoek instel na wat die Bybel werklik leer. Hierdie kennis sal jou in staat stel om die ware godsdiens te identifiseer.
[Venster op bladsy 9]
Kenmerke van die ware godsdiens
Let op die gebruike en leringe van die eerste-eeuse Christene:
◼ Hulle het op God se Woord vertrou vir leiding.—2 Timoteus 3:16; 2 Petrus 1:21.
◼ Hulle het geleer dat Jesus God se Seun is, nie God self nie en dat hy ondergeskik is aan Hom.—1 Korintiërs 11:3; 1 Petrus 1:3.
◼ Hulle het geleer dat die dooies weer sal lewe deur middel van ’n opstanding in die toekoms.—Handelinge 24:15.
◼ Hulle was bowenal bekend vir die liefde wat onder hulle geheers het.—Johannes 13:34, 35.
◼ Hulle het nie net as individue aanbid nie, maar was in gemeentes georganiseer en verenig onder opsieners en ’n sentrale liggaam van ouer manne wat Jesus as hulle Hoof beskou het.—Handelinge 14:21-23; 15:1-31; Efesiërs 1:22; 1 Timoteus 3:1-13.
◼ Hulle was ywerige verkondigers van God se Koninkryk as die mensdom se enigste hoop.—Matteus 24:14; 28:19, 20; Handelinge 1:8.
[Prent op bladsy 7]
Hoe sou mense geweet het dat Jeremia ’n ware profeet is, aangesien ander hom weerspreek het?
[Prente op bladsy 8, 9]
Die eerste-eeuse Bereane het na Paulus geluister, maar het toe die Skrif ondersoek om seker te maak dat wat hy gesê het, waar is
[Prent op bladsy 8, 9]
’n Noukeurige studie van die Bybel kan jou help om godsdienswaarheid te identifiseer