Is dit ontwerp?
Termiethoop-ventilasie
◼ Termiethope is al ingenieurswonders genoem, en met goeie rede. Hierdie indrukwekkende strukture, wat van grond en speeksel gemaak is, kan tot ses meter hoog word. Die wande, wat 45 sentimeter dik is, word deur die son gebak totdat dit so hard soos beton is. Party hope is letterlik oornag gebou.
Naby die middel van die hoop kan die koningin gevind word, wat etlike duisende eiers per dag kan lê. Vlerklose, blinde “werkertermiete” dra die eiers na selle wat spesiaal hiervoor gebou is. Daar sien hulle na die larwes om wanneer hulle uitbroei. Maar die grootste wonder van die termiethoop is moontlik die ventilasiestelsel.
Dink hieraan: ’n Reeks kamers en tonnels hou die binnekant van die termiethoop teen ’n konstante temperatuur—ten spyte van die veranderende toestande buitekant. In Zimbabwe kan die buitetemperatuur byvoorbeeld wissel van omtrent 2 grade Celsius in die nag tot meer as 38 grade gedurende die dag. Tog bly die temperatuur in die termiethoop konstant teen 31 grade. Waarom?
Ventilasiegate wat strategies aan die onderkant van die termiethoop geleë is, laat vars lug binne, terwyl warm, bedompige lug aan die bokant uitforseer word. Koeler lug vloei vanaf ’n ondergrondse holte in die termiethoop in en sirkuleer dan deur die gange en selle. Termiete maak die gate oop en toe om die temperatuur te reguleer. ’n Konstante temperatuur is noodsaaklik sodat die termiete die soort swam kan kweek wat hulle vernaamste bron van voedsel is.
Die ontwerp van die termiethoop is so indrukwekkend dat argitekte van ’n kantoorgebou in Zimbabwe soortgelyke tegnologie ingespan het. Die gebou gebruik net 10 persent van die energie wat konvensionele geboue van dieselfde grootte gebruik.
Wat dink jy? Het die termiet per toeval die vermoë ontwikkel om die temperatuur in sy tuiste te reguleer? Of is dit ’n bewys van ontwerp?
[Foto-erkennings op bladsy 25]
Bo: Stockbyte/Getty Images; onder: Scott Bauer/Agricultural Research Service, USDA