Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g95 5/22 bl. 17-19
  • Die Termiet—Vriend of vyand?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die Termiet—Vriend of vyand?
  • Ontwaak!—1995
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die termietvesting
  • Die termietgemeenskap
  • Vriende of vyande?
  • Vindingryke ingenieurs
    Ontwaak!—1993
  • Termiethoop-ventilasie
    Ontwaak!—2008
  • Eetbare insekte—’n Onvergeetlike maaltyd
    Ontwaak!—2012
  • Ons beskou die wêreld
    Ontwaak!—1997
Sien nog
Ontwaak!—1995
g95 5/22 bl. 17-19

Die Termiet—Vriend of vyand?

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN KENIA

“KUMBE! Mchwa!” Dit was die uitroep van ’n Christenbedienaar toe hy en ’n paar ander ’n draagbare houtswembad opgelig het. Hulle het gehoop om dit tydens ’n kringbyeenkoms van Jehovah se Getuies in Kenia as ’n doopbad te gebruik. Maar tot hulle ontsteltenis het hulle ontdek dat baie van die hout weggevreet was. Dit is waarom hy gefrustreerd uitgeroep het. Wanneer dit vertaal word, beteken dit: “Ag! Termiete!”

Daar is moontlik geen ander insek wat so dikwels met die beskadiging van eiendom geassosieer word as die kleine termiet nie. Maar is hierdie gogga werklik ’n vyand van die mens? Laat ons die termiet van naderby beskou om hierdie vraag te beantwoord.

Die termietvesting

In Kenia sien ’n mens dikwels toringhoë termiethuise. Dit is skoorsteenvormige strukture wat vyf tot ses meter hoog bo die grond uitsteek. Die hope, wat na ’n betonvesting lyk, word met sulke presisie gebou dat termiete al meesterargitekte genoem is. Gaan dit nie die verstand te bowe om te dink dat klein insekte sulke indrukwekkende vestings kan oprig nie, ondanks die feit dat hulle taamlik stadig beweeg—en blind is?

Binne-in die hoop is daar ’n uitgebreide doolhof van kamers en tonnels. Hierdie woelige metropolis spog ook met ’n doeltreffende dreineerstelsel, ventilasie en selfs lugversorging. Warm lug ontsnap deur openinge aan die bokant van die hoop. Koel lug kom van onder af in. Verdere verkoeling vind deur ’n eenvoudige verdampingstelsel plaas: Die termiete maak hulle mure met water nat deur daarop te spuug. Terwyl die water verdamp, verkoel dit die lug en help dit met sirkulasie. Die termiettuiste is dus altyd, 24 uur per dag, ’n aangename 30 grade Celsius!

Die termietgemeenskap

Die termietgemeenskap is selfs verbasender. Party termiethope huisves goed georganiseerde gemeenskappe, of kolonies, wat uit tot vyfmiljoen inwoners bestaan. ’n Kolonie is alles behalwe chaoties, maar is ’n toonbeeld van organisasie. Die termietfamilie bestaan uit drie kastes, naamlik arbeiders, soldate en voortplanters. Die arbeiders bou die hope en gebruik hulle speeksel as sement.

Die soldate is die aggressiewer lede van die familie. Gewapen met sterk kake en skerp tande beskerm hulle die vesting teen indringers, soos die swerfmier. Hulle dien ook as lyfwagte wat die arbeiders beskerm wanneer hulle die hoop verlaat op soek na voedsel. As dit nodig is, maak die soldate van chemiese oorlogvoering gebruik; ’n spesiale klier werk soos ’n waterpistool en skei ’n dodelike vloeistof af.

Hoe word die soldate vir hulle dienste vergoed? Wel, dit lyk asof hulle kake so groot is dat hulle nie voedsel kan kou om hulleself te voed nie. Wanneer ’n soldaat dus honger is, vryf hy eenvoudig ’n arbeider se kop met sy voelers. Dit beteken: “Gee vir my kos!” Die arbeider plaas dan uitgebraakte voedsel in die soldaat se mond.

Die voortplanters—die koning en koningin—woon in die koninklike kamer, wat in algehele donkerte gehul is. In vergelyking met haar klein mannetjie is die koningin ’n reus. Haar agterlyf, wat geswolle is van eiers, lewer bewys van haar ontsaglike voortplantingsvermoë. Na raming kan sy van 4000 tot 10 000 eiers per dag lê. Dit is geen wonder dat party die koningin “’n outomatiese eierlê-masjien” noem nie.

Die koningspaar het egter nie baie privaatheid nie, aangesien hulle deur ’n span termietarbeiders bedien word. Hulle is oral om die koningin terwyl hulle haar onmiddellike behoeftes vervul en haar van voedsel voorsien. Wanneer die eiers voortgebring word, dra die arbeiders dit tussen hulle kake weg na die broeikamer.

Vriende of vyande?

Hoewel min mense sou ontken dat hierdie insekte fassinerend is, beskou die meeste mense hulle steeds as ’n verpesting—vyande! Dr. Richard Bagine, die hoof van die Soölogiedepartement: Ongewerweldes van die Nasionale Museum van Kenia, het vir Ontwaak! gesê: “Dit is so dat mense termiete as een van die vernietigendste insekte beskou. Maar wetenskaplikes beskou termiete in ’n ander lig. In die natuur is termiete nuttige lede van die plant- en diergemeenskap.

“Eerstens breek hulle dooie plantmateriaal tot eenvoudige verbindings af. Op hierdie manier hersikleer termiete voedingstowwe wat plante nodig het. Tweedens is hulle ’n belangrike voedselbron. Hulle word deur byna elke soort voël en deur baie soogdiere, reptiele, amfibieë en ander insekte geëet. Baie mense in Wes- en Noord-Kenia hou ook van hulle soet, ryk smaak; hulle is ryk aan vette en proteïene. Derdens help hulle om grond te maak. Wanneer termiete hulle neste bou en herstel, meng hulle onder- en bogrond. Hulle breek groot stukke dooie plantmateriaal in kleiner dele af en vorm sodoende humus. Terwyl hulle deur die grond beweeg, maak hulle gange vir lug en water wat deur plantwortels benodig word. Termiete verbeter dus die grondtekstuur, -struktuur en -vrugbaarheid.”

Maar waarom dring termiete mense se woonplekke binne? Dr. Bagine sê: “Eintlik is dit mense wat in termiete se habitats ingetrek het en die meeste van die plantmateriaal wat deur termiete gebruik word, verwyder het. Termiete moet eet om te leef, en hulle sal gewoonlik van dooie plante leef. Wanneer dit van hulle af weggeneem word, leef termiete van mensgemaakte strukture, soos huise en graanskure.”

Hoewel dit dus soms voorkom asof die termiet ’n plaag is, is dit beslis nie ons vyand nie. Dit is in werklikheid ’n treffende voorbeeld van Jehovah se uitnemende skeppingsvermoë (Psalm 148:10, 13; Romeine 1:20). En namate die mens in God se komende nuwe wêreld leer om in harmonie met al die diere te lewe, sal hy ongetwyfeld die kleine termiet as ’n vriend en nie as ’n vyand beskou nie.—Jesaja 65:25.

[Prente op bladsy 17]

’n Tipiese kasteelagtige termiethoop

Inlas: Termietarbeiders

[Prent op bladsy 18]

Die termietsoldaat, met sy groot kop en kliere wat dodelike chemikalieë vervaardig, is toegerus om die termietkolonie te verdedig

[Prent op bladsy 18]

Die koningin, met haar geswolle agterlyf vol eiers

[Prent op bladsy 18]

Die koningin met haar span bediendes

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel