Gevaartekens?
“Veu Lesa, ’n 73-jarige wat in ’n dorpie in Toewaloe woon, het nie wetenskaplike verslae nodig om hom te oortuig dat die seevlak styg nie”, sê The New Zealand Herald. “Die strande van sy kindertyd is besig om te verdwyn. Die gewasse wat sy gesin gevoed het, is deur soutwater vergiftig. In April [2007] moes hy sy huis verlaat toe ’n springgety dit oorstroom het en branders vol klippe en opdrifsels daarteen gebreek het.”
VIR die mense van Toewaloe, ’n groep eilande wat nie meer as vier meter bo seespieël is nie, is aardverwarming nie abstrakte wetenskap nie, maar “’n daaglikse werklikheid”, sê die Herald.a Duisende het alreeds die eilande verlaat, en baie meer tref voorbereidings om dit te doen.
Robert, wat in Brisbane, Australië, woon, kan sy tuin net op sekere dae natgooi, met ’n emmer—nie ’n tuinslang nie. En tensy hy na ’n motorwassery gaan wat hulle water hersirkuleer, kan hy net dele van sy motor was—spieëls, vensters en nommerplate. Waarom hierdie beperkings? Robert woon in ’n deel van die land wat na bewering die ergste droogte in ’n eeu beleef. In ander gebiede gaan dit nog slegter. Is die probleme in Australië en Toewaloe bewyse van aardverwarming?
Wat sommige voorspel
Baie glo dat menslike bedrywighede ’n hoofoorsaak is van aardverwarming, wat rampspoedige gevolge vir die klimaat en die omgewing kan hê. Byvoorbeeld, landys wat op groot skaal smelt en oseane wat in volume toeneem namate die water warmer word, kan veroorsaak dat seevlakke drasties styg. Laagliggende eilande soos Toewaloe kan verdwyn, asook groot dele van Nederland en Florida, om maar net twee ander gebiede te noem. Miljoene mense kan gedwing word om weg te trek van plekke soos Sjanghai en Kolkata sowel as dele van Bangladesj.
Terselfdertyd kan stygende temperature storms, vloede en droogtes vererger. In die Himalajas kan gletsers wat verdwyn—in gebiede wat sewe rivierstelsels voed—varswatertekorte vir 40 persent van die wêreld se bevolking veroorsaak. Duisende diersoorte is ook in gevaar, insluitende ysbere, wat hoofsaaklik op die ys jag. Trouens, verslae dui reeds aan dat baie bere gewig verloor en dat sommige selfs verhonger.
Stygende temperature kan ook die verspreiding van siektes bevorder omdat dit muskiete, weeluise en ander organismes wat siektes dra, insluitende fungi, in staat stel om oor ’n groter gebied te versprei. “Die gevare wat klimaatsverandering inhou, is byna so ernstig soos dié wat kernwapens inhou”, sê die Bulletin of the Atomic Scientists. “Die uitwerking is dalk minder dramaties op die kort termyn . . . , maar oor die volgende drie of vier dekades kan klimaatsveranderinge die habitats waarop mensegemeenskappe vir oorlewing staatmaak, onherstelbaar beskadig.” Op ’n selfs onheilspellender noot glo sommige wetenskaplikes dat veranderinge wat aan aardverwarming toegeskryf kan word, vinniger plaasvind as wat hulle verwag het.
Hoe moet ons hierdie voorspellings beskou? Het lewe op die aarde werklik ’n kruispad bereik? Skeptici van aardverwarming sê dat sulke verskriklike voorspellings ongegrond is. Ander is nie seker nie. Wat is dan die waarheid? Is die aarde se toekoms—en ons s’n—in groot gevaar?
[Voetnoot]
a “Aardverwarming” verwys na ’n algehele styging in die temperatuur van die aarde se atmosfeer en oseane.