Die kerke bereik Tahiti
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN TAHITI
AAN die einde van die 18de eeu het ’n evangelisasiegees in Europa vlamgevat. In Brittanje het die toekomstige sendeling William Carey Protestantse harte geroer met sy vurige aansporings om die evangelisasiewerk in onaangeraakte gebiede, waaronder Tahiti, te gaan doen. Carey is beweeg deur Jesus se opdrag aan sy volgelinge om dissipels te maak van mense van alle nasies (Matteus 28:19, 20). In 1802 het die Franse skrywer François-Auguste-René de Chateaubriand se blitsverkoper Le Génie du christianisme (Die Gees van die Christelike godsdiens) ook Katolieke se sendingywer gewek.
Kort voor lank het Katolieke en Protestantse sendingverenigings en -genootskappe oral begin opskiet. In 1797 het die Londense Sendinggenootskap 29 sendelinge na Tahiti gestuur. In 1841 het ’n groep Katolieke daar aangekom wat tot ’n godsdiensorde met die naam die Picpus-vaders behoort het, en drie jaar later het lede van die Mormoonse Kerk daar aangekom. Maar dit was nie lank voordat baie van die nuwe aankomelinge van hulle hoofdoelwit om geestelike belange te bevorder, afgewyk het en by die politiek en die handel betrokke geraak het nie. Waarom hierdie afwyking?
Bondgenote van die Ariʽi
Aanvanklik is die leringe van die Protestantse sendelinge nie goed ontvang nie. Volgens een skrywer “het hulle boodskap meer vuur en swael bevat as medelye en naasteliefde”. En soos die predikers vinnig besef het, sou niemand dit in elk geval gewaag het om as ’n Christen gedoop te word voordat die ariʽi, of hoofmanne, wat ook godsdiensgesag gehad het, dit gedoen het nie. Daarom het die sendelinge besluit om op die leiers te konsentreer.
Veral een hoofman, Pomare II, het die sendelinge verwelkom omdat hy gedink het dat hulle ekonomiese en militêre bondgenote kon wees. Op hulle beurt het hulle Pomare beskou as iemand wat hulle belange kon bevorder. Verder het die sendelinge uit die staanspoor ’n mate van invloed gehad omdat hulle as tussengangers gedien het tussen die Tahitiane en die seemanne wat gereeld daar aangedoen het om hulle voorrade aan te vul.
In die hoop dat die sendelinge hom sou help om sy politieke ambisies te bevorder en om wapens te verkry, het Pomare belangstelling getoon in hulle boodskap en het hy reeds in 1811 gevra om gedoop te word. Die volgende jaar het hy sy begeerte op skrif gestel. Sy versoek is egter agt jaar lank geweier omdat die sendelinge gevoel het dat dit verstandig sou wees om te sien of hy waarlik in ooreenstemming met die Bybel se sedelike standaarde sou lewe.
Intussen het Pomare daarin geslaag om hom te vestig as die onbestrede koning van die eiland Tahiti en die omliggende eilande, wat die Genootskapseilande uitmaak. Weer het hy gevra om gedoop te word. Uiteindelik, in 1819, het die sendelinge ingestem.
Die uitwerking was onmiddellik. Binne sowat vyf jaar was feitlik al die inwoners van die Genootskapseilande, die westelike Tuamotu-eilandgroep en die helfte van die Austral-eilande verklaarde Christene.
Die Wet van Pomare
Die grootskaalse “bekering” van die eilandbewoners het dit genoodsaak dat ou waardes, gebruike en wette met nuwes vervang word. Om dit te bewerkstellig, het Pomare hom tot die sendelinge gewend. Trouens, laasgenoemde wou al lank stamgebruike hervorm en die mag van die koning beperk. Daarom het die sendelinge aan Pomare se versoek voldoen en ’n stel wette geformuleer wat, volgens een naslaanwerk, “die algemene beginsels van die Britse grondwet, die verklarings van die Skrif en die gebruike van Christelike nasies” saamgevat het. Ná baie hersienings het die koning die finale produk as Tahiti se eerste geskrewe wet aanvaar. Dit het later as die Wet van Pomare bekend gestaan.
Die Wet van Pomare het ’n model geword vir naburige eilande en eilandgroepe, waar soortgelyke stelsels van wette uitgevaardig is. Die wet het vereis dat die Sabbat streng onderhou moet word; straf is vir oortredings soos owerspel, bigamie, diefstal en opstand opgelê; en die doodstraf is vir moord en kindermoord ingestel. Alle vorme van wellustige vermaak is verbied.
Deelname aan die politiek
Die Protestantse sendelinge was “diep betrokke by die hoogste vlak van die politiek op die eiland”, sê die boek Where the Waves Fall. “Buiten hulle suiwer evangeliese rol, het hulle militêre strateë, ekonomiese raadgewers, politieke wysgere en opstellers van die wet en grondwet geword.” Net so het Mormoonse en Katolieke sendelinge in werklikheid beheer oorgeneem oor die burgerlike en politieke aangeleenthede van die eilande waar hulle hulle gevestig het. Op die eiland Tubuai, een van die Austral-eilande, het ’n Mormoonse sendeling verklaar: “Die leisels van die regering lê binne die kerk. . . . Ek is die eerste minister van die eiland.” Op die Gambier-eilande het Katolieke soortgelyke invloed verkry, en een geestelike het die amp van regeringsminister beklee.
Pleks van hulle uitsluitlik by geestelike dinge te bepaal, het die sendelinge “’n politieke evangelisasie verkies”, sê die geskiedkundige Claire Laux. Hulle het dit as ’n geriefliker manier beskou om resultate te verkry. Deur dit te doen, het die sendelinge in stryd met die riglyne van hulle kerkowerhede opgetree. Nogtans word godsdiens en politiek tot vandag toe steeds in Frans-Polinesië vermeng.
Die rol van die handel
Vir sekere sendelinge “was daar ’n noue verband tussen politieke opportunisme en die handelsgees”, sê professor Niel Gunson van die Universiteit van Canberra in Australië. ’n Aantal sendelinge het handelaars geword en het handelskepe van voorraad voorsien, hulle uitverhuur en selfs gebou. Party het plantasies gehad en pylwortel, koffie, katoen, suikerriet en tabak verbou.
Sendelinge het kommersieel so goed gevestig geraak dat hulle 25 jaar lank die handel tussen Australië en Tahiti beheer het, veral in sout varkvleis en kokosolie. Van hulle was egter ontsteld oor hierdie bedrywighede en het die Londense Sendinggenootskap gevra om in te gryp. Ander was van mening dat handel noodsaaklik is om hulle godsdiensdoeleindes te bevorder. Hoe so?
Die sendelinge het van die begin af hulle tegniese vaardighede en hulle fabrieksware gebruik om die eilandbewoners te beïndruk. Hulle het geglo dat die mense gelukkiger sou wees as hulle “beskaafd” was; daarom het hulle die mense aangemoedig om hard te werk en materieel voorspoedig te wees en het hulle selfs te kenne gegee dat laasgenoemde ’n aanduiding van God se seën is.
Ware bekering?
’n Geskiedskrywer van die Londense Sendinggenootskap het later geskryf dat in die vinnige massabekering van hierdie eilandbewoners “sedelike beweegredes nie juis ’n rol gespeel het nie, om nie eens te praat van geestelike godsdiens en ’n verandering in gesindheid nie”. Volgens Gunson het die Tahitiane hulle slegs bekeer “omdat dit Pomare II se wil was, en [hulle bekering] was gebaseer op die godsdiensgewoontes (nie die oortuigings nie) van die Engelse sendelinge”.
Baie Tahitiane het net in naam Christene geword, en binne ’n paar jaar het heidense gebruike teruggekeer in die vorm van ’n godsdiensbeweging wat Mamaia genoem is. Mamaia was ’n losbandige vorm van aanbidding wat selfs deur die troonopvolgster aangeneem is en het kenmerke van die Christelike godsdiens met tradisionele oortuigings en gebruike vermeng.
Die Protestantse groepe—wat Anglikane, Calviniste en Metodiste ingesluit het—het baie onder mekaar getwis, en die Protestante en Katolieke het mekaar gehaat. “Eilandbewoners het geen leerstellige verskille tussen die denominasies gesien nie, en kon nie die intense wedywering verstaan onder mense wat broederskap verkondig het nie”, sê die boek The Cambridge History of the Pacific Islanders. Toe twee Katolieke sendelinge byvoorbeeld op Tahiti voet aan wal gesit het, is hulle onmiddellik gedeporteer op bevel van ’n vooraanstaande voormalige Protestantse sendeling. Hierdie voorval het ’n diplomatieke geskil tussen Brittanje en Frankryk laat ontstaan wat byna tot konflik gelei het. Uiteindelik het Brittanje ingestem dat Tahiti onder Franse “beskerming” kom.
’n Positiewe erfenis
Aan die positiewe kant het ’n aantal vroeë sendelinge geletterdheid ywerig bevorder en gehelp om ’n einde aan kindermoord, kannibalisme en menseoffers te maak. Hoewel party sendelinge dalk oormatig streng en ernstig was, het hulle probeer om die eilandbewoners sedelik op te hef.
’n Baie kosbare geskenk van die sendelinge was die vertaling van die Bybel in Tahitiaans. Deur middel hiervan het hulle bowendien die goddelike naam, wat nog steeds welbekend op die eilande is, aan die mense bekend gemaak.a—Psalm 83:18.
[Voetnoot]
a Sien die artikel “Manne van nederige herkoms vertaal die Bybel”, in Die Wagtoring van 1 Julie 2003.
[Venster op bladsy 15]
‘Julle is geen deel van die wêreld nie’
Hierdie woorde, wat deur Jesus Christus gespreek is, is ’n beginsel waardeur sy ware volgelinge gerig word (Johannes 15:19). Trouens, hierdie beginsel is vir hulle so belangrik dat Jesus in gebed tot God gesê het: “Hulle is geen deel van die wêreld nie, net soos ek geen deel van die wêreld is nie” (Johannes 17:16). In ooreenstemming hiermee het Jesus nie aan die politiek deelgeneem nie, en hy het dit ook nie gebruik as ’n manier om dissipels te werf nie. Daarbenewens het hy die gierige najaging van materiële rykdom—nog ’n weerspieëling van die wêreld se gees—verwerp. Hy het eerder ’n eenvoudige lewe aanbeveel wat om die verkryging van geestelike rykdom draai (Matteus 6:22-24, 33, 34). Sy ware volgelinge volg sy voorbeeld na.
[Prent op bladsy 13]
Die ontvangs van die eerste sendelinge, 1797
[Erkenning]
The Granger Collection, New York
[Prent op bladsy 14]
’n Sendeling saam met Tahitiaanse bekeerlinge, ca. 1845
[Prent op bladsy 14]
Koning Pomare II
[Prent op bladsy 15]
Tahiti en die hoofstad, Papeete
[Erkenning]
Photo courtesy of Tahiti Tourisme
[Foto-erkennings op bladsy 14]
Links: Photo by Henry Guttmann/Getty Images; regs: Collection du Musée de Tahiti et de ses Îles, Punaauia, Tahiti