Tahiti en die soeke na ’n paradys
Die skip is dae lank deur die golwe van die Stille Oseaan heen en weer geslinger. Die matrose het dieselfde sieldodende roetine onder die skroeiende son herhaal en was ongetwyfeld moeg vir die suur wyn, die stinkende water en die vrot kos. Skielik het iemand uitgeroep: “Land! Land voor na bakboord!” In die verte kon die piek van ’n eiland net-net gesien word. ’n Paar uur later het niemand meer getwyfel nie—’n eiland was in sig.
Vandat Europeërs Tahiti die eerste keer gesien het, was dit sinoniem met die woord “paradys”. Die 18de-eeuse Franse ontdekkingsreisiger Louis-Antoine de Bougainville, wat die leier van die bogenoemde ekspedisie was, het later geskryf: “Ek het gedink dat ek in die tuin van Eden was.” Twee eeue later lok Tahiti nog steeds besoekers. Soos hulle voorgangers kom baie hiernatoe op soek na ’n paradys.
Maar waarom word die mens so gefassineer deur die droom van ’n paradys? En hoe het dit gebeur dat Tahiti as die verwesenliking van daardie droom beskou is? Kom ons gaan terug na die begin van die mens se bestaan om daardie vraag te beantwoord.
Verlore paradys
Daar is goeie rede waarom die woord “paradys” weerklank by ons vind. Ons is gemaak om in die Paradys te lewe! Volgens die Bybel het God ons eerste ouers met ’n tuiste geseën wat beskryf word as ’n “paradys”—’n pragtige park of tuin (Genesis 2:8, voetnoot in NW). Hierdie park het blykbaar ’n deel van ’n gebied beslaan wat Eden genoem is en “plesier” beteken. Hoewel hedendaagse geleerdes geneig is om Eden as ’n mite te beskou, beskryf die Bybel dit as ’n geskiedkundige plek en gee dit geografiese leidrade oor die oorspronklike ligging daarvan (Genesis 2:10-14). Twee geografiese bakens—die Pison- en die Gihonrivier—kan nie meer geïdentifiseer word nie. Die tuin se presiese ligging is dus onbekend.
Ons eerste ouers het teen God in opstand gekom en die Paradys vir ons almal verloor (Genesis 3:1-23). Maar die mens kon nie die begeerte na ’n paradys uit sy hart verwyder nie. Spore van die Bybelverslag het selfs in die mitologie van baie lande verskyn. Die Grieke het byvoorbeeld die mite van ’n Goue Eeu geskep—’n tyd van voorspoed toe die mens ’n sorgelose, vreedsame lewe gelei het.
Baie het al die langverlore Eden probeer vind. Sommige het Eden in Etiopië gesoek—natuurlik tevergeefs. Volgens legende het ’n sesde-eeuse geestelike, Brendan, ’n paradys op ’n eiland in die suidwestelike Atlantiese Oseaan gevind. Ander legendes het beweer dat daar ’n paradys op ’n hoë berg versteek was. Die beroemde ontdekkingsreisiger Christophorus Columbus het uit frustrasie met die teenstrydighede van hierdie legendes gesê: “Ek het nog nie ’n teks in Latyn of Grieks gevind of gelees wat met sekerheid gesê het in watter uithoek van die wêreld die aardse paradys gevind kan word nie.” Hy het uiteindelik daarvan oortuig geword dat dit êrens suid van die ewenaar is.
Ná sy derde reis na die Nuwe Wêreld het Columbus gesê: “Dit lyk of hierdie land die aardse paradys is, want dit stem ooreen met die beskrywing van die heiliges en die geleerde teoloë wat ek genoem het.” Die Nuwe Wêreld was egter nie die paradys wat Columbus hom voorgestel het nie.
Toekomstige Utopias
Party geleerdes het egter nie hoop opgegee nie. Hulle het nie ’n terugkeer na Eden voorgestaan nie, maar het eerder die konsep van ’n toekomstige, mensgemaakte paradys begin bevorder. Skrywers het verhale van “volmaakte” gemeenskappe begin uitdink—’n welkome kontras met die korrupte gemeenskappe waarin hulle gelewe het. Maar nie een van hierdie fantasiewêrelde was werklik soos Eden nie. Hierdie idealiste het hulle nie ’n vreedsame lewe in ’n grenslose park voorgestel nie, maar het eerder van ’n hoogs georganiseerde stedelike paradys gedroom. In die 16de eeu het die Britse staatsman sir Thomas More van ’n denkbeeldige reis vertel na ’n land wat hy Utopia genoem het. Hierdie woord beteken “nêrens”.
Latere skrywers het op More se idees voortgebou en ’n paar van hulle eie idees bygevoeg. Gedurende die daaropvolgende eeue het tientalle Europese skrywers “Utopias” beskryf. Hierdie denkbeeldige “ideale” gemeenskappe was weer eens allesbehalwe tuine van plesier. Die Utopias het geluk probeer skep deur streng ordelikheid af te dwing. In die proses het hulle egter oorspronklikheid en menslike vryheid gesmoor. Maar soos die geskiedenisprofessor Henri Baudet opgemerk het, het drome van Utopiese gemeenskappe ’n “nimmerkwynende begeerte na ’n beter lewe . . . en ’n regverdiger gemeenskap” geopenbaar.
Tahiti—die geboorte van ’n legende
In die 18de eeu het die onverkende Suidsee ontdekkingsreisigers ’n laaste kans gebied om ’n onontdekte paradys te vind. Maar toe Bougainville in Desember 1766 na die Stille Oseaan uitgevaar het, was dit hoofsaaklik om te verken, nuwe kolonies te verower en nuwe markte te vind.
Ná maande op see het Bougainville Tahiti ontdek. Weens die koraalriwwe van die ander eilande wat hy gesien het, kon hy nie by hulle anker gooi nie. Tahiti het hulle ’n veilige hawe gebied. Daar het die uitgemergelde bemanning vriendelike mense en oorvloedige voorrade gevind. Vir daardie matrose het dit gelyk of die werklikheid hulle verwagtinge oortref het. Tahiti was nie net ’n tropiese paradys nie, maar dit het ook in baie opsigte met die denkbeeldige Utopias ooreengekom.
Om maar een ding te noem, Tahiti was ’n eilandgemeenskap, net soos die Utopiese lande wat in fiksieliteratuur uitgebeeld is. Verder het dit werklik soos ’n paradys gelyk. Dit het asemrowende landskappe met welige plantegroei, honderde snelvloeiende riviere en watervalle gehad. Geil tropiese plante het skynbaar sommer vanself gegroei. Tahiti se idilliese prag is aanlokliker gemaak deur ’n gesonde klimaat en die feit dat dit vry was van die tipiese tropiese gevare. Daar was geen slange, gevaarlike insekte of aktiewe vulkane op hierdie eiland nie.
Dan was daar die Tahitiane self—lank, aantreklik en gesond. Die tandlose matrose wie se tandvleis weens skeurbuik geswel was, was beïndruk deur die Tahitiane se wit tande. Die eilandbewoners het ook ’n opgeruimde geaardheid gehad; hulle het die matrose gou bevriend deur hulle gasvryheid. Met die eerste oogopslag het dit ook voorgekom of alle Tahitiane gelyk is—een van die grondbeginsels van Utopiese literatuur. Armoede was iets onbekends. Tahitiane het sonder seksuele beperkings gelewe. Trouens, die matrose het onsedelike omgang met party van die pragtige Tahitiaanse vroue gehad.
Ja, vir Bougainville en sy bemanning het dit gelyk of Tahiti die verlore Eden was. Toe Bougainville die eiland verlaat, was hy dus gretig om die wêreld te vertel van die paradys wat hy gevind het. Nadat hy sy drie jaar lange reis om die wêreld voltooi het, het hy ’n verslag van sy avonture gepubliseer. Die boek was ’n reusesukses en het aanleiding gegee tot die mite dat die eksotiese eiland in elke opsig volmaak is. Die mens het sy paradys verloor, maar dit het gelyk of Tahiti nou die paradys was!
Die gevare van ’n mite
Maar mites bots dikwels met die werklikheid. Om maar een ding te noem, Tahitiane het net soos alle ander mense siek geword en gesterf. Almal was nie gelyk nie, inteendeel, daar het ’n streng, en soms tirannieke, sosiale hiërargie onder hulle bestaan. Hulle het stamoorloë gevoer en menseoffers gebring. Soos mense oor die algemeen was nie alle Tahitiane beeldskoon of aantreklik nie. En die geskiedskrywer K. R. Howe meen dat die vroue wat Bougainville se manne teëgekom het, waarskynlik “beveel is om ontug met hulle te pleeg” en sodoende die besoekers op hulle gemak te laat voel.
Nogtans het die mite van die “herwonne paradys” al hoe gewilder geword. Skrywers en kunstenaars, soos die Franse skilder Paul Gauguin, het soontoe gestroom. Gauguin se kleurvolle uitbeelding van die lewe in Tahiti het gehelp om die eiland selfs gewilder te maak. Watter uitwerking het dit op Tahiti gehad? Die mite het gemaak dat die eiland en sy bewoners as blote stereotipes beskou is. Wanneer besoekers aan die eiland tuisgekom het, is hulle dikwels gevra: “Vertel ons van julle avonture met die Tahitiaanse meisies.”
Die Paradys—’n Verlore hoop?
In onlangse jare het Tahiti voor ander uitdagings te staan gekom. Siklone het die eiland herhaaldelik in die vroeë 1980’s getref en sy koraalriwwe beskadig. Maar die grootste bedreigings het van die mens self gekom. Bouprojekte het gronderosie en besoedeling veroorsaak. Donna Leong, ’n deskundige op die gebied van afvalbestuur, sê: “Die toeristebedryf bring groot hoeveelhede afvalprodukte voort. . . . As iets nie aan die besoedeling van die omgewing gedoen word nie, sal Tahiti en die ander eilande nie die land van welige plantegroei, oorvloedige dierelewe en kristalblou strandmere wees nie.”
Maar die hoop op ’n herstelde paradys is nog lank nie dood nie. Trouens, Jesus Christus self het ’n berouvolle kwaaddoener belowe: “Jy sal saam met my in die Paradys wees”! (Lukas 23:43). Jesus het nie gepraat van die een of ander streng beheerde Utopia, soos dit in die fiksieliteratuur uitgebeeld word nie, maar van ’n aardwye paradys onder die toesig van ’n hemelse regering.a Daar is meer as 1 700 Getuies van Jehovah in Tahiti, en hulle stel hulle hoop op hierdie toekomstige Paradys. Hulle bied hulle tyd vrywillig aan om hulle bure van daardie hoop te vertel. Want hoewel die pragtige Tahiti in baie opsigte soos ’n paradys is, kan dit nie vergelyk word met die aardwye Paradys wat God binnekort tot stand gaan bring nie. Die soeke na hierdie Paradys is nie tevergeefs nie.
[Voetnoot]
a Sien die boek Kennis wat tot die ewige lewe lei, uitgegee deur Jehovah se Getuies, vir verdere inligting oor God se belofte van die Paradys.
[Prent op bladsy 16]
Tahiti het soos ’n idilliese paradys gelyk
[Erkennings]
Skildery deur William Hodges, 1766
Yale Center for British Art, Paul Mellon Collection, USA/Photo: Bridgeman Art Library
[Prent op bladsy 17]
Gasvrye Tahitiane verwelkom Bougainville vriendelik
[Erkenning]
By permission of the National Library of Australia NK 5066
[Prente op bladsy 18]
Jehovah se Getuies vertel hulle bure met graagte van die komende Paradys
[Foto-erkenning op bladsy 17]
Photo courtesy of Tahiti Tourisme
[Foto-erkenning op bladsy 19]
Bladsy 18: Kanovaarders, waterval en agtergrond: Photos courtesy of Tahiti Tourisme