Wanneer sukses ontwykend is
Teen haar vroeë twintigerjare het sy die musiekwêreld gaande gehad en was sy skatryk. Min mense is op so ’n jong ouderdom so beroemd en finansieel so suksesvol. Maar toe het dinge in haar lewe begin skeef loop. Ná twee verbrokkelde huwelike moes sy tyd in alkohol- en dwelmrehabilitasiesentrums deurbring. Haar hele lewe het in duie gestort.
ONGELUKKIG is hierdie jong vrou se verhaal baie algemeen; tragiese berigte oor beroemdes is dikwels in die nuus. Selfs in die konserwatiewer sakewêreld is mense wat skynbaar suksesvol is, se lewens dikwels vol probleme. ’n Koerantberig het aangaande New York se finansiële uitblinkers gesê: “[Die] druk om rekordwinste te maak, vernietig loopbane, skeur gesinne uitmekaar en hou dwelmhandelaars besig . . . Terwyl rekordbonusse sommige bankiers op Wall Street onoorwinlik laat voel, word ander emosionele wrakke weens die druk om te presteer en bereik hulle op emosionele gebied hulle laagste punt.”
Is hierdie probleme die gevolg van misplaaste pogings om geluk te vind en sukses te behaal? Dit is waar dat ons ’n mate van finansiële sekuriteit nodig het. Maar hang ons sukses in die lewe van rykdom af? Studies toon dat dit nie die geval is nie. Byvoorbeeld, volgens ’n studie in China het mense gedurende ’n onlangse tydperk waarin die gemiddelde inkomste met 250 persent toegeneem het, in werklikheid meer onvergenoegd geraak.
Ware sukses moet dan gemeet word aan iets wat betekenisvoller is as sekulêre loopbane en hoeveel ’n mens se huis, motor of horlosie kos. Moet dit nie eerder weerspieël wat iemand in sy geheel is, insluitende die beginsels waarvolgens hy lewe en die doel wat hy in die lewe het nie? Byvoorbeeld, ’n persoon is moontlik slim en invloedryk, maar sedelik bankrot en sonder liefde of enige ware vriende. Of hy is dalk beroemd en ryk, maar as hy terugkyk op sy lewe, vra hy moontlik: ‘Wat was die doel daarvan? Watter sin het my lewe?’
Dit spreek dus vanself dat mense wat waarlik suksesvol is, ’n sinvolle lewe sal lei en deur betroubare beginsels gerig sal word. Gevolglik sal hulle innerlike vrede, selfrespek en die respek van ander geniet. Hulle sal ook ’n doel in die lewe hê wat verhewe is bo blote eiebelang en wat hulle lewe sinvol en bevredigend maak. ‘Watter beginsels?’ vra sommige dalk. ‘En watter doel?’ Kan die antwoorde op sulke vrae in onsself gevind word, of moet ons iewers anders daarna soek? Die volgende artikels sal dit bespreek.
[Venster op bladsy 3]
’n VERWRONGE BESKOUING VAN SUKSES
Volgens mediese navorsers gebruik al hoe meer jong atlete potensieel gevaarlike opkikkermiddels sodat hulle in sport kan uitblink. Education Update het op die Internet berig: “Byna almal het ja gesê toe universiteitstudente in ’n onlangse opname gevra is: ‘As jy geweet het dat jy sal wen of vir die span gekies sal word as jy steroïede gebruik, maar dat jy binne vyf jaar sal siek word, sou jy dit nog steeds doen?’ Toe die vraag verander is na ‘as jy geweet het dat jy binne vyf jaar sal sterf’, het 65 persent nog steeds ja gesê.”