Ons beskou die wêreld
◼ Die amptelike webwerf van Jehovah se Getuies (www.watchtower.org) voorsien tans inligting in 314 tale. Verlede jaar is die webwerf meer as 22 miljoen keer besoek—gemiddeld meer as 60 000 keer per dag.
◼ “Die uitdaging om te verseker dat almal suiwer en genoeg water het, is een van die moeilikste uitdagings waarmee die wêreld vandag te kampe het. . . . Ons vind alte dikwels vuurwapens waar ons water nodig het.”—BAN KI-MOON, SEKRETARIS-GENERAAL VAN DIE VN.
Geluk en gesondheid
Mense is al lank van mening dat gelukkige en positiewe mense oor die algemeen gesonder is as mense wat gespanne, vyandig of pessimisties is. In ’n onlangse studie het navorsers tot die gevolgtrekking gekom dat mense met “’n opgeruimde gemoedstemming” laer vlakke van kortisol het—’n streshormoon wat aanleiding kan gee tot ’n groot verskeidenheid kwale as ’n mens chronies hoë vlakke daarvan het. Sulke mense het ook laer vlakke van “twee proteïene wat ’n teken is van wydverspreide ontsteking in die liggaam”. Volgens dr. Andrew Steptoe van die Universiteitskollege van Londen “word ons gemoedstoestand nie net deur ons gene bepaal nie, maar hang dit af van ons sosiale verhoudings en ons tevredenheid met die lewe”.
Hipertegnologiese maanwaarneming
Moslems hou die hemelruim al honderde jare lank fyn dop op soek na die eerste teken van die nuwemaan, wat aandui dat die einde van die maand Ramadaan aangebreek het en dat die fees wat aan die einde van die vastyd gehou word, kan begin. Volgens die tradisie moes dit in sommige gebiede met die blote oog gesien word, waarna ’n godsdiensleier dit vir die getroues aangekondig het. Maar in die afgelope paar jaar het party geestelikes die gebruik van hipertegnologiese metodes goedgekeur. Irannese sterrekundiges, saam met geestelikes wat hulle waarnemings bevestig, maak nou gebruik van hoëdefinisie-teleskope, nagsigtoerusting en selfs vliegtuie met sensitiewe waarnemingstoerusting. Hoe vroeër hulle die nuwemaan sien, hoe vroeër kan die viering begin.
Sosiale vaardighede van babas?
Babas van net ses maande ontwikkel “sosiale oordeelsvermoëns voordat hulle [kan] praat”, sê navorsers aan die Yale-universiteit, VSA. Babas tussen die ouderdomme van ses en tien maande het toegekyk terwyl ’n speelding met groot oë teen bulte probeer opklim het terwyl ander speelgoed dit óf gehelp óf teruggestoot het. “Die speelgoed is [daarna vir die kinders] gegee om te kyk waarmee hulle sou speel”, verduidelik die Houston Chronicle. “Amper al die babas het die behulpsame speelding gekies en nie die slegte een nie.” Dit toon dus dat “selfs klein kindertjies [in sekere mate] die verskil kan sien tussen stout en soet speelmaatjies, en hulle weet watter maatjies om te kies”, sê die koerant.
“Dors na gebottelde water”
“Dit lyk asof Amerika ’n onlesbare dors na gebottelde water het—byna 30 miljard bottels per jaar”, sê U.S.News & World Report. Baie verbruikers besef egter nie dat die meeste gebottelde water bloot kraanwater is nie, wat beteken dat “enigiemand wat weens gesondheidsredes gebottelde water bo munisipale water verkies, om die bos gelei word”, sê die tydskrif. In baie lande word kraanwater gemonitor om te verseker dat dit aan streng standaarde voldoen. En in vergelyking met die “buitensporige duur” gebottelde alternatief is kraanwater ook “so te sê verniet”!