Die Bybel se beskouing
Is jou probleme ’n straf van God af?
“Dit voel asof ek gestraf word”, sê ’n vrou in haar middelvyftigs nadat sy uitgevind het dat sy kanker het. Sy het teruggedink aan ’n oortreding wat sy jare tevore begaan het, en dié gevolgtrekking gemaak: “Dit moet God se manier wees om vir my te sê dat ek gesondig het.”
WANNEER mense teëspoed ondervind, voel baie van hulle dat God hulle straf vir ’n oortreding uit die verlede. Hulle voel dalk oorweldig deur ’n skielike vlaag van probleme en kla dalk: “Waarom gebeur dit met my? Wat het ek gedoen om dit te verdien?” Moet ons tot die slotsom kom dat ons probleme ’n aanduiding van God se misnoeë is? Is persoonlike teëspoed werklik ’n straf van God af?
Getroue aanbidders het teëspoed ondervind
Let op wat die Bybel oor ’n man genaamd Job sê. Hy het skielik, sonder waarskuwing, sy rykdom verloor. Toe is al tien sy kinders in ’n windstorm dood. Kort daarna is hy deur ’n aftakelende, weersinwekkende siekte getref (Job 1:13-19; 2:7, 8). Hierdie teëspoed het Job laat uitroep: “Die hand van God het my getref!” (Job 19:21, Ou Afrikaanse Bybelvertaling). Klaarblyklik het Job, soos baie mense vandag, gevoel dat God hom straf.
Die Bybel toon egter dat God self, voordat Job se beproewinge begin het, gesê het dat Job “’n onberispelike en regskape man [is], wat God vrees en afwyk van die kwaad” (Job 1:8). Hierdie woorde van goddelike goedkeuring toon dus duidelik dat Job se teëspoed nie ’n straf van God af was nie.
Die feit is dat die Bybel baie verslae bevat van regskape individue wat persoonlike teëspoed ondervind het. Hoewel Josef ’n getroue kneg van God was, het hy jare van onregverdige gevangenisstraf verduur (Genesis 39:10-20; 40:15). Die getroue Christen Timoteus het weens “herhaalde gevalle van siekte” gely (1 Timoteus 5:23). Selfs Jesus Christus, wat nooit gesondig het nie, is wreed mishandel voordat hy ’n pynlike dood gesterf het (1 Petrus 2:21-24). Gevolglik is dit ’n fout om tot die slotsom te kom dat teëspoed ’n blyk van God se misnoeë moet wees. Maar as God nie verantwoordelik is vir teëspoed nie, wie, indien enigiemand, is dan?
Die oorsake van ons probleme
Die Bybel toon dat Satan die Duiwel die oorsaak van Job se tragedies was (Job 1:7-12; 2:3-8). Verder identifiseer dit Satan as die hoofoorsaak van die probleme wat ons vandag ondervind wanneer dit sê: “Wee die aarde en die see, want die Duiwel het na julle toe neergedaal en het groot toorn, omdat hy weet dat hy ’n kort tydjie het” (Openbaring 12:12). As “die heerser van hierdie wêreld” het Satan baie mense beïnvloed sodat hulle hulle aan bose dade skuldig gemaak het, wat eindelose ellende en hartseer tot gevolg gehad het.—Johannes 12:31; Psalm 37:12, 14.a
Ons moet egter nie die Duiwel sonder meer blameer elke keer wanneer ons teëspoed ondervind nie. As gevolg van oorgeërfde sonde en onvolmaaktheid is ons geneig om onwyse besluite te neem wat vir ons probleme kan veroorsaak (Psalm 51:5; Romeine 5:12). Stel jou byvoorbeeld ’n man voor wat uit eie keuse nie reg eet of genoeg rus nie. Kan hy die Duiwel blameer as dit uiteindelik tot ernstige gesondheidsprobleme lei? Nee, die man pluk bloot die wrange vrugte van sy eie slegte oordeel (Galasiërs 6:7). In só ’n geval is dit net soos ’n Bybelspreuk dit stel: “’n Mens se sotheid bederwe sy weg.”—Spreuke 19:3, OAB.
Laastens moet ’n mens besef dat talle onaangename ondervindinge bloot die gevolg is van “tyd en onvoorsiene gebeurtenisse” (Prediker 9:11). Dink aan iemand wat onverwags in ’n reënstorm beland. Of hy ’n bietjie nat of sopnat gaan word, hang eenvoudig af van waar hy staan wanneer dit begin reën. In hierdie “kritieke tye . . . wat moeilik is om deur te kom”, kan negatiewe toestande ook gou in ’n stortvloed van probleme ontaard (2 Timoteus 3:1-5). Tot watter mate ons persoonlik geraak word, is dikwels die gevolg van tyd en omstandighede, waaroor ons dalk min of geen beheer het nie. Beteken dit dus dat ons altyd deur teëspoed geteister sal word?
Alle teëspoed sal binnekort eindig
Gelukkig sal Jehovah God binnekort ’n einde aan alle teëspoed maak (Jesaja 25:8; Openbaring 1:3; 21:3, 4). Intussen toon hy dat hy werklik vir ons omgee deur “onderrigting” en “vertroosting van die Skrif” te voorsien sodat ons nou beproewinge die hoof kan bied terwyl ons uitsien na die wonderlike toekoms wat só naby is (Romeine 15:4; 1 Petrus 5:7). Dan sal diegene wat in God se oë regskape is, die ewige lewe in ’n nuwe wêreld vry van enige teëspoed geniet.—Psalm 37:29, 37.
[Voetnoot]
a Sien die artikel “Die Bybel se beskouing: Wie is Satan? Bestaan hy werklik?” in die Ontwaak! van Februarie 2007.
HET JY AL GEWONDER?
◼ Is dit net oortreders wat teëspoed ondervind?—Job 1:8.
◼ Dra die Duiwel die skuld vir al ons probleme?—Galasiërs 6:7.
◼ Sal daar altyd teëspoed wees?—Openbaring 21:3, 4.
[Lokteks op bladsy 29]
“Tyd en onvoorsiene gebeurtenisse tref hulle almal.”—Prediker 9:11