Jongmense vra
Het ek beter vriende nodig?
“As ek kwaad is, het ek iemand nodig met wie ek oor my gevoelens kan praat. As ek hartseer is, wil ek hê dat iemand vir my moet sê dat dinge beter gaan word. As ek gelukkig is, wil ek dit met iemand deel. Vir my is dit noodsaaklik om vriende te hê.”—Brittany.
DAAR is al gesê dat klein kindertjies speelmaats nodig het, terwyl adolessente vriende nodig het. Wat is die verskil?
’n Speelmaat is iemand wat jou geselskap hou.
’n Vriend is iemand wat ook dieselfde waardes as jy het.
Verder sê die Bybel: “’n Ware metgesel het te alle tye lief en is ’n broer wat gebore word vir die tyd wanneer daar benoudheid is” (Spreuke 17:17). Dit beskryf waarskynlik ’n dieper soort vriendskap as wat jy op die speelgrond sal vind!
Feit: Terwyl jy tot volwassenheid groei, het jy vriende nodig wat
(1) Bewonderenswaardige eienskappe het.
(2) Prysenswaardige standaarde volg.
(3) ’n Positiewe invloed op jou het.
Vraag: Hoe sal jy weet of jou vriende aan hierdie vereistes voldoen? Kom ons ondersoek hierdie faktore een vir een.
Vriendskapsfaktor #1—Bewonderenswaardige eienskappe
Wat jy moet weet. Nie almal wat sê dat hulle ’n vriend is, het wat dit verg om ’n ware vriend te wees nie. Die Bybel sê selfs: “Daar is metgeselle wat geneig is om mekaar te verpletter” (Spreuke 18:24). Dit klink dalk na ’n oordrywing. Maar dink hieraan: Het jy al ooit ’n “vriend” gehad wat misbruik gemaak het van jou? Wat van iemand wat agter jou rug gepraat het of valse stories oor jou versprei het? So ’n ondervinding kan jou vertroue vernietig.a Onthou altyd dat kwaliteit belangriker is as kwantiteit wanneer dit by vriende kom!
Wat jy kan doen. Kies as jou vriende persone wat navolgenswaardige eienskappe het.
“Almal het altyd iets positiefs om van my vriendin Fiona te sê. Ek wil hê mense moet ook van my goed praat. Ek wil dieselfde reputasie as sy hê. Dit is iets wat ek bewonder.”—Yvette, 17.
Probeer hierdie oefening.
1. Lees Galasiërs 5:22, 23.
2. Vra jou af: ‘Het my vriende die eienskappe wat “die vrugte van die gees” genoem word?
3. Skryf die name van jou beste vriende hieronder neer. Skryf langs elke naam die eienskap neer wat die persoon die beste beskryf.
Naam Eienskap
․․․․․ ․․․․․
․․․․․ ․․․․․
․․․․․ ․․․․․
Wenk: As jy net aan negatiewe eienskappe kan dink, is dit dalk tyd om beter vriende te soek!
Vriendskapsfaktor #2—Prysenswaardige standaarde
Wat jy moet weet. Hoe desperater jy is om vriende te hê, hoe waarskynliker is dit dat jy tevrede sal wees met die verkeerde soort vriende. Die Bybel sê: “Hy wat hom met die sotte inlaat, met hom sal dit sleg gaan” (Spreuke 13:20). Die woord “sotte” verwys nie na mense wat onintelligent is nie. Dit beskryf eerder diegene wat gesonde oordeel die rug toekeer en ’n sedelik onverstandige weg verkies—die soort vriende waarsonder jy kan klaarkom!
Wat jy kan doen. Moenie vriende maak met sommer enigiemand wat jou sal aanvaar nie; wees eerder kieskeurig (Psalm 26:4). Dit beteken nie dat jy bevooroordeeld moet wees nie. In hierdie konteks beteken kieskeurigheid dat jy genoeg insig het om “die onderskeid [te] sien tussen ’n regverdige en ’n goddelose, tussen iemand wat God dien en iemand wat hom nie gedien het nie”.—Maleagi 3:18.
God is nie partydig nie, maar hy is kieskeurig wanneer dit kom by wie hy as ‘’n gas in sy tent’ verwelkom (Psalm 15:1-5). Jy kan dieselfde doen. Lewe volgens regverdige standaarde, en dit sal die kanse vergroot dat ander wat dieselfde probeer doen, jou sal vind. Op die ou end sal hulle die beste soort vriende wees!
“Ek is dankbaar dat my ouers my gehelp het om vriende te vind—mense van my ouderdom wat geestelik goed doen.”—Christopher, 13.
Probeer hierdie oefening.
Beantwoord die volgende vrae:
◼ Is ek, wanneer ek saam met my vriende is, dikwels bang dat hulle druk op my sal plaas om iets te doen wat ek weet verkeerd is?
□ Ja □ Nee
◼ Is ek huiwerig om my vriende aan my ouers voor te stel omdat ek bang is dat my ouers hulle dalk nie sal goedkeur nie?
□ Ja □ Nee
Wenk: As jy ja geantwoord het op die vrae hierbo, moet jy vriende soek wat hoër standaarde het. Begin gerus by dié wat ’n bietjie ouer is as jy en wat ’n voorbeeldige Christelike lewe lei.
Vriendskapsfaktor #3—Positiewe invloed
Wat jy moet weet. Die Bybel sê: “Slegte metgeselle bederf ’n goeie karakter” (1 Korintiërs 15:33, Today’s English Version). ’n Jong meisie met die naam Lauren sê: “My skoolmaats het my aanvaar solank ek presies gedoen het wat hulle vir my sê. Ek was eensaam, en daarom het ek besluit om soos hulle op te tree net sodat ek kan inpas.” Wanneer ’n mens volgens ander se standaarde lewe, kan jy soos ’n pion op hulle skaakbord word wat hulle rondskuif soos hulle wil, het Lauren uitgevind. Jy verdien beter as dit!
Wat jy kan doen. Beëindig jou vriendskappe met diegene wat daarop aandring dat jy by hulle lewenswyse moet aanpas. As jy dit doen, sal jy beter omtrent jouself voel en sal dit vir jou moontlik wees om beter vriendskappe te smee—die soort wat jou positief sal beïnvloed.—Romeine 12:2.
“’n Goeie vriend van my, Clint, is verstandig en het empatie, en daarom is hy vir my ’n baie groot bron van aanmoediging.”—Jason, 21.
Probeer hierdie oefening.
Vra jou die volgende vrae af:
◼ Verander ek die manier waarop ek aantrek, praat of optree om my vriende tevrede te stel?
□ Ja □ Nee
◼ Gaan ek na twyfelagtige plekke wat ek andersins nie sou besoek het as dit nie vir my vriende was nie?
□ Ja □ Nee
Wenk: As jy ja geantwoord het op die vrae hierbo, moet jy jou ouers of ’n ander verantwoordelike volwassene vir raad gaan vra. As jy een van Jehovah se Getuies is, kan jy ook ’n Christen- ouer man nader en vir hom sê dat jy graag hulp wil hê om vriende te kies wat ’n beter invloed op jou sal hê.
Nog artikels uit die reeks “Jongmense vra” kan gevind word op die webwerf www.watchtower.org/ype
[Voetnoot]
a Almal maak natuurlik foute (Romeine 3:23). Wanneer ’n vriend jou dus seermaak, maar dan opreg om verskoning vra, moet jy onthou dat ‘die liefde ’n menigte sondes bedek’.—1 Petrus 4:8.
IETS OM OOR TE DINK
◼ Watter eienskappe sal jy die meeste in ’n vriend waardeer, en waarom?
◼ Aan watter eienskappe moet jy werk om ’n beter vriend te wees?
[Venster/Prente op bladsy 19]
WAT JOU PORTUURS SÊ
“Toe my ouers my van ’n sekere groep vriende wou wegkry, het ek vir myself gesê dat hierdie die enigste mense is met wie ek wil assosieer. Maar my ouers het vir my goeie raad gegee, en toe ek eers my oogklappe afhaal, het ek besef dat daar baie mense is wat beter vriende sal wees.”—Cole.
“Die beste manier vir my om mense in die gemeente te leer ken, is om aan die Christelike bediening deel te neem. Dit is waar ek met ’n verskeidenheid mense, oud en jonk, kan gesels. En ek bring tyd deur saam met mense wat lief is vir Jehovah.”—Yvette.
“Ek het gebid vir vriende, maar toe besef dat ek niks doen om hulle te vind nie. Ek het dus die inisiatief begin neem om by Christelike vergaderinge met ander te praat. Kort voor lank het ek ’n klomp nuwe vriende gehad. Ek voel amper nooit meer eensaam nie.”—Sam.
[Venster op bladsy 20]
PROBEER HIERDIE WENKE
Praat met jou ouers oor vriendskappe. Vra hulle watter soort vriende hulle gehad het toe hulle jou ouderdom was. Is hulle spyt oor hulle keuse van vriende? Indien wel, hoekom? Vra hulle hoe jy van die probleme kan vermy wat hulle ondervind het.
Stel jou vriende aan jou ouers voor. As jy huiwerig is om dit te doen, vra jou af: ‘Waarom voel ek so?’ Is daar iets omtrent jou vriende wat jy weet jou ouers nie sal goedkeur nie? As dit die geval is, moet jy dalk meer selektief wees in jou keuse van vriende.
[Venster op bladsy 20]
DRIE MANIERE OM GOEIE VRIENDE TE BEHOU
◼ Wees ’n goeie luisteraar. Toon belangstelling in jou vriende se welsyn en bekommernisse.—Filippense 2:4.
◼ Wees vergewensgesind. Moenie volmaaktheid verwag nie. “Ons almal struikel dikwels.”—Jakobus 3:2.
◼ Gee hulle ruimte. Daar is geen rede om aan hulle vas te klou nie. Ware vriende sal daar wees wanneer jy hulle nodig het.—Prediker 4:9, 10.
[Prent op bladsy 18, 19]
Wanneer ’n mens volgens ander se standaarde lewe net om in te pas, kan jy soos ’n pion op hulle skaakbord word, wat hulle rondskuif soos hulle wil