Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g 4/09 bl. 4-8
  • ‘Ek het te veel om te doen!’

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • ‘Ek het te veel om te doen!’
  • Ontwaak!—2009
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Eindelose huiswerk
  • Buitemuurse bedrywighede hou hulle aan die hardloop
  • Die najaging van rykdom
  • Hoe kan ek my huiswerk klaarmaak?
    Jongmense vra
  • Hoe kan ek die tyd vind om my huiswerk te doen?
    Ontwaak!—2004
  • Só baie huiswerk—Wat kan ek doen?
    Ontwaak!—1993
  • Hoe kan ek stres by die skool die hoof bied?
    Vrae wat jongmense vra—Antwoorde wat werk, Deel 1
Sien nog
Ontwaak!—2009
g 4/09 bl. 4-8

‘Ek het te veel om te doen!’

OLIMPIESE gewigoptellers probeer nie elke dag ’n nuwe rekord opstel nie. Hulle oefen gereeld met kleiner gewigte en bou sodoende hulle krag op vir wanneer hulle ’n groot gewig moet optel. As hulle hulleself voortdurend tot die uiterste ingespan het, sou hulle skadelike druk op hulle spiere en gewrigte plaas en hulle loopbaan in gevaar stel.

Net so werk jy, as ’n leerder, waarskynlik hard op skool. En wanneer jy moeilike opdragte kry of vir eksamens voorberei, is jy bereid en in staat om jou selfs meer in te span.a Maar sê nou al jou dae word net deur skoolwerk en ander opdragte in beslag geneem? Jy vind dit dalk moeilik om reg te eet of ’n goeie nagrus te kry. As jy die hele tyd hoë stresvlakke ondervind, kan dit jou uiteindelik siek maak. Dalk is dit hoe jy nou voel.b

Eindelose huiswerk

“Hoe verder ek op skool vorder, hoe meer huiswerk kry ek en hoe moeiliker word dit. Dit neem ’n lang tyd om dit klaar te maak”, sê Hiroko,c ’n 15-jarige leerder in Japan. “Daar is baie ander dinge wat ek wil doen, maar die huiswerk moet die volgende dag ingegee word. Ek voel soms paniekerig.” Die 14-jarige Swetlana in Rusland skryf oor die huiswerk wat sy moet doen: “Dit het vir my moeiliker geword om my huiswerk klaar te kry. Elke jaar het ek meer vakke, en die onderwysers gee baie meer leerwerk. Boonop dink elke onderwyser dat sy vak belangriker is as die res. Dis moeilik om ’n balans te vind en alles gedoen te kry.”

Waarom word daar soveel klem op huiswerk geplaas? Die 18-jarige Gilberto in Brasilië skryf: “Onderwysers sê dat hulle ons vir die hoogs mededingende arbeidsmark wil voorberei.” Hoe dit ook al sy, jy voel moontlik oorweldig deur die groot hoeveelheid huiswerk wat jy kry. Dalk kan jy jou stres verminder deur jou beskouing daarvan te verander sowel as praktiese stappe te doen om georganiseerd te raak.

Beskou die groter hoeveelheid huiswerk as opleiding wat jy nodig het om as ’n volwassene suksesvol te wees. Hoewel die tyd wat jy aan huiswerk bestee, dalk eindeloos lyk, sal jou skooljare vinniger verbygaan as wat jy dink. Wanneer jy begin werk om jouself te onderhou, sal jy bly wees dat jy daardie moeilike opdragte voltooi het. Jy sal ‘die goeie sien weens die harde werk’ wat jy in jou skoolwerk ingesit het.—Prediker 2:24.

Jou stres kan baie verlig word as jy selfdissipline aan die dag lê en georganiseerd is. (Sien die venster “Praktiese maniere om stres te verminder”.) As jy altyd jou skoolwerk stiptelik en sorgvuldig doen, sal jou onderwysers leer om jou te vertrou en bereid wees om jou te help. Sê nou jy het so ’n verhouding met een van jou onderwysers? Dink jy nie dat jou onderwyser meer geneig sal wees om jou tegemoet te kom as iets voorval en jy hom of haar vroegtydig sê dat jy nie ’n opdrag betyds sal kan voltooi nie? Een van God se knegte met die naam Daniël ‘was betroubaar en daar is hoegenaamd geen nalatigheid of verdorwenheid in hom gevind nie’. Omdat Daniël sy werk so ywerig gedoen het, het hy die lof en vertroue van die koning gewen (Daniël 6:4). As jy Daniël navolg in die manier waarop jy jou skoolopdragte doen, sal jou onderwyser dalk vir jou ’n toegewing maak wanneer jy dit nodig het.

Sal dit al jou stres op skool verlig as jy aandag gee in die klas, jou huiswerk doen en take betyds klaarkry? Nee, jy sal moontlik nog steeds ’n mate van stres voel omdat jy wil presteer. Op die ou end sal jy dalk werklik wíl leer en by jou klasse wíl baat vind pleks van na maniere te soek om nie jou skoolwerk te doen nie.

Daardie soort stres is positief en goed vir jou. Maar jy sal dalk voor stres te staan kom wat skadelik en onnodig is.

Buitemuurse bedrywighede hou hulle aan die hardloop

Dink aan iemand wat sy motor altyd woes bestuur. Hy jaag tot by stoptekens en kom met skreeuende bande tot stilstand. Dan sit hy voet in die hoek en trek met rokende bande weg. Wat sal daardie roekelose bestuurder op die ou end aan sy motor doen? Hy sal waarskynlik die enjin en ander onderdele beskadig. Maar voor dit gebeur, sal hy dit dalk in ’n ernstige ongeluk afskryf.

Net so dryf baie leerders hulleself genadeloos wat hulle liggaam en verstand betref, voor en ná skool. Denise Clark Pope het in haar boek Doing School die volgende geskryf oor etlike leerders wat sy ontmoet het: “Hulle skooldag het vroeg begin, ’n hele uur of twee voor die meeste volwassenes met hulle werksdag begin, en het dikwels eers laat in die nag opgehou, ná sokkeroefening, dansklasse, leerlingraadvergaderinge, verantwoordelikhede van ’n sekulêre werk en huiswerk.”

Wanneer leerders dag ná dag so ’n vinnige pas handhaaf, skep hulle probleme vir hulleself. Hewige stres kan veroorsaak dat hulle aan maagkwale en hoofpyne begin ly. Wanneer voortdurende uitputting hulle immuunstelsel verswak, kan hulle siek word. Dan word die vinnige pas ’n slakkepas en is dit dalk vir hulle baie moeilik om hulle kragte te herwin. Is so iets besig om met jou te gebeur?

Dit is goed om hard te werk om lonende doelwitte te bereik, maar ongeag hoe sterk jy is, jy kan net soveel in ’n dag doen. Die Bybel gee hierdie goeie raad: “Laat julle redelikheid aan alle mense bekend word” (Filippense 4:5). Twee definisies van die woord “redelik” is “nie geneig tot uiterstes of oordrewe nie” en “met goeie oordeel”. ’n Redelike persoon maak nie besluite wat vir hom of vir ander skadelik is nie. Hy openbaar volwassenheid, iets wat van onskatbare waarde is in vandag se onbestendige wêreld. Sien dus om na jou gesondheid deur redelik te wees—skakel van die minder belangrike bedrywighede uit waartoe jy jou verbind het.

Die najaging van rykdom

Sommige jongmense voel egter dat redelikheid ’n hindernis pleks van ’n hulp is wanneer dit by hulle doelwitte kom. Hierdie leerders glo dat ’n goed betaalde werk asook die rykdom wat so ’n werk meebring, die sleutel tot sukses is. Pope het hierdie soort denke teëgekom onder party van die jongmense wat sy ontmoet het. Sy het opgemerk: “Hierdie leerders het gewens dat hulle meer slaap kon kry en hulle gesondheid kon verbeter, maar hulle vol roosters, waaronder skool-, gesins- en werksverpligtinge, het dit nie moontlik gemaak nie. Hulle het ook gewens dat hulle meer tyd saam met vriende kon deurbring, aan ander bedrywighede kon deelneem of ’n blaaskans kon vat, maar die meeste het geglo dat hulle nie hierdie dinge kon doen en nog steeds hoë punte kon behaal nie. Hulle het besef dat hulle ’n keuse moes maak, en vir hulle was toekomstige sukses belangriker as geluk in die hede.”

Leerders wat hulleself so dryf, kan gerus ag slaan op wat ’n wyse man eenkeer gesê het: “Sal ’n persoon enigiets verkry as hy die hele wêreld wen, maar sy lewe verloor? Natuurlik nie! Daar is niks wat hy kan gee om sy lewe terug te kry nie” (Matteus 16:26, Today’s English Version). Met daardie woorde het Jesus Christus gewaarsku dat die doelwitte waarna ons dalk in hierdie wêreld streef, nie die fisiese, emosionele en geestelike prys werd is wat ’n mens moet betaal om dit te bereik nie.

In haar boek The Price of Privilege het die sielkundige Madeline Levine geskryf van “die feit dat geld, opvoeding, mag, aansien en materiële dinge geen beskerming bied teen ongelukkigheid of emosionele kwale nie”. Pope, wat vroeër aangehaal is, het hierdie opmerking gemaak: “Ek sien soveel kinders en ouers wat na volmaaktheid streef—volgens ’n gebrekkige definisie van sukses.” En sy het bygevoeg: “Ons behoort daarna te streef om gesond te wees—verstandelik en fisies en geestelik.”

Party dinge is baie belangriker as geld. Dit sluit emosionele en fisiese welsyn in, asook ’n goeie gewete en vriendskap met ons Skepper. Dit is kosbare gawes van God af. As jy dit in die najaging van roem of rykdom verloor, sal jy dit dalk nooit weer terugkry nie. Let dus op wat Jesus geleer het: “Gelukkig is dié wat bewus is van hulle geestelike behoefte, want die koninkryk van die hemele behoort aan hulle.”—Matteus 5:3.

Talle jongmense het daardie waarheid aanvaar. Hoewel hulle hulle bes doen op skool, weet hulle dat akademiese prestasies en materiële rykdom nie blywende geluk bring nie. Hulle besef dat die najaging van sulke doelwitte onnodige stres veroorsaak. Daardie leerders het tot die besef gekom dat die bevrediging van “hulle geestelike behoefte” die grondslag is vir ’n waarlik gelukkige toekoms. Die uitgewers van hierdie tydskrif of Jehovah se Getuies in jou omgewing sal jou met graagte wys hoe om gelukkig te wees terwyl jy jou geestelike behoefte bevredig.

[Voetnote]

a Vir leerders wat onderpresteerders is of hulle nie juis inspan nie, sien “Jongmense vra . . . Kan ek beter vaar op skool?” in die Ontwaak! van 22 Maart 1998, bladsye 20-22.

b Vir verdere inligting oor hierdie onderwerp, sien “Jongmense vra . . . Só baie huiswerk—Wat kan ek doen?” in die Ontwaak! van 8 April 1993, bladsye 13-15.

c Van die name is verander.

[Lokteks op bladsy 6]

Ongeag hoe sterk jy is, jy kan net soveel in ’n dag doen

[Lokteks op bladsy 8]

Om kennis van jou Skepper in te neem, is die beste opvoeding wat jy kan kry

[Venster/Prent op bladsy 5]

PRAKTIESE MANIERE OM STRES TE VERMINDER

❑ Bestee jy baie tyd daaraan om deur papiere en aantekeningboeke te soek? Sommige mense het hulp nodig om beter georganiseerd te wees. Moenie skaam wees om ander vir wenke te vra nie.

❑ Stel jy dinge uit? Probeer, as ’n toets, om ’n opdrag vroegtydig te voltooi. Dit sal jou verbaas hoe verlig en tevrede jy sal voel en sal jou dalk motiveer om op te hou om jou skoolwerk uit te stel.

❑ Vind jy dat jy dikwels in die klas sit en dagdroom? Probeer ’n maand lank die volgende: Luister aandagtig na besprekings in die klas, en maak goeie aantekeninge wat jy later kan gebruik. Jy sal dalk aangenaam verras wees oor hoeveel makliker jou huiswerk word. Hierdie goeie resultaat sal jou stres op skool verminder.

❑ Het jy vakke gekies sodat jy jou skoolloopbaan vinniger kan voltooi, maar wat baie meer tyd en inspanning verg? Is hierdie vakke werklik noodsaaklik? Praat met jou ouers hieroor. Kry die mening van iemand wat ’n redelike beskouing van opvoeding het. Jy sal dalk vind dat daardie opsionele vakke jou nie juis sal help om vinniger met skool klaar te maak nie.

[Venster op bladsy 6]

’N DENKBEELDIGE MUUR VAN BESKERMING

“Die waardevolle dinge van die [ryk man] is sy sterk stad, en hulle is soos ’n beskermende muur in sy verbeelding” (Spreuke 18:11). In die ou tyd het mense op hoë mure staatgemaak om hulle teen aanvalle te beskerm. Maar sê nou jy woon in ’n stad wat omring word deur ’n muur wat slegs in jou gedagtes bestaan? Hoe hard jy ook al probeer om jouself van die teendeel te oortuig, daardie muur sal geen beskerming teen jou vyande bied nie.

Soos mense wat in so ’n onbeskermde stad woon, stuur jonges wat rykdom najaag, op teleurstelling af. Is jy ’n ouer? Dit sal goed wees om jou kind te help om die strik van materialisme te vermy en nie in ’n stad te gaan woon wat ’n denkbeeldige muur het nie.

Die volgende Bybelwaarhede kan jou help om met jou seun of dogter te redeneer:

◼ Groot rykdom bring dikwels baie meer probleme as wat dit oplos. “Die oorvloed wat aan die ryke behoort, laat hom nie toe om te slaap nie.”—Prediker 5:12; 1 Timoteus 6:9, 10.

◼ Met goeie beplanning het ’n mens nie rykdom nodig om gelukkig te wees nie. “Die planne van die vlytige lei gewis tot voordeel.”—Spreuke 21:5; Lukas 14:28.

◼ ’n Redelike inkomste wat jou in staat stel om in jou behoeftes te voorsien, lei tot tevredenheid. “Gee my nie armoede of rykdom nie.” —Spreuke 30:8.d

[Voetnoot]

d Verdere inligting oor die strik van materialisme kan gevind word in die Ontwaak! van 8 April 2003, bladsye 20-21.

[Prente op bladsy 7]

Om te veel te probeer doen, is teenproduktief

[Prent op bladsy 7]

MOENIE huiswerk as ’n probleem beskou nie, maar as deel van jou werksopleiding

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel