Aborsie—Nie ’n probleemvrye oplossing nie
BILL het grootgeword met die oortuiging dat aborsie ’n ernstige sonde is, gelykstaande aan moord. Maar die ferm standpunt wat hy dekades lank gehandhaaf het, het in 1975 verswak toe die kwessie hom persoonlik geraak het. Sy meisie, Victoria, het swanger geraak, en Bill het nie vir die verantwoordelikhede van die huwelik en ouerskap kans gesien nie. “Ek het vinnig die maklike uitweg gekies”, het Bill erken, “en vir Victoria gesê dat sy ’n aborsie moet kry.”
Wat Bill ’n maklike uitweg vir ’n onbeplande en ongewenste swangerskap genoem het, is nie iets ongewoons nie. ’n Wêreldwye studie in 2007 het getoon dat daar in 2003 na raming 42 miljoen aborsies gedoen is. Vroue wat aborsies ondergaan, kom uit elke ras en nasie, uit ’n verskeidenheid godsdiensagtergronde, uit elke vlak van die samelewing ongeag hulle inkomste of opvoeding en uit enige ouderdomsgroep tussen puberteit en menopouse. Maar hoe sou jy op ’n ongewenste swangerskap reageer? Waarom besluit so baie om ’n aborsie te ondergaan?
“Ek kon geen ander uitweg sien nie”
“Ek het kort tevore ’n verskriklike swangerskap en ’n moeilike geboorte deurgemaak, en ons finansiële en gesinsprobleme was vir ons soos ’n berg”, het ’n 35-jarige vrou verduidelik. “Ses weke ná die geboorte was ek weer swanger. Ons het op ’n aborsie besluit. In my hart het ek geweet dat dit verkeerd is, maar ek kon geen ander uitweg sien nie.”
Die redes waarom vroue aborsies wil hê, wissel van finansiële probleme tot ’n mislukte verhouding, waarin die vrou dalk mishandel is, en wat daartoe lei dat sy geen verdere bande met die man wil hê nie. Of dalk pas die swangerskap eenvoudig nie in by die vrou of egpaar se planne nie.
Soms word aborsie gekies om iemand se goeie naam te beskerm. Dit was die geval met ’n pasiënt waarvan dr. Susan Wicklund in haar boek This Common Secret—My Journey as an Abortion Doctor melding maak. Hierdie pasiënt wat ’n aborsie wou hê, het erken: “My ouers is baie godsdienstig. . . . As ek ’n buite-egtelike kind het, sal dit hulle in die skande steek. Al hulle vriende sal weet dat hulle dogter gesondig het.”
Dr. Wicklund het toe gevra: “Jy het nou wel in hulle oë gesondig, maar hoe voel hulle oor aborsie?” Die meisie het erken: “O, aborsie. Dis heeltemal onvergeeflik. Maar dis die minste van twee kwade omdat dit ’n geheim sal wees. As ek ’n aborsie kry, sal [my ouers se] vriende in die kerk nooit weet nie.”
Wat die situasie ook al is, die besluit om ’n swangerskap doelbewus te beëindig, is gewoonlik nie maklik nie. Dit veroorsaak dikwels groot hartseer. Maar is aborsie ’n probleemvrye oplossing?
Kyk na die gevolge
In 2004 het ’n navorsingstudie van 331 Russiese en 217 Amerikaanse vroue wat aborsies ondergaan het, aan die lig gebring dat omtrent die helfte van al twee groepe ná die aborsie ontsteld gevoel het. Byna 50 persent van die Russe en amper 80 persent van die Amerikaners het “skuldig” gevoel oor die prosedure. Meer as 60 persent van die Amerikaanse vroue ‘kon hulleself nie vergewe nie’. Waarom ondergaan soveel jong vroue nog steeds aborsies as skuldgevoelens so ’n algemene probleem is—selfs onder dié wat hulleself nie as godsdienstig beskou nie?
Daar word dikwels hewige druk op hulle geplaas om ’n aborsie te hê. Ouers, ’n maat of welmenende vriende moedig hulle dalk aan om ’n aborsie te kry as die minste van twee kwade. Dit kan tot ’n oorhaastige, ongeligte besluit lei. “Maar nadat die stres van die besluit en die prosedure verby is”, het dr. Priscilla Coleman, ’n deskundige op die gebied van die geestesgesondheidsrisiko’s van aborsie, verduidelik, “keer vroue se kognitiewe vermoëns weer tot die normale terug, en bring dit sterk gevoelens van skuld, hartseer en spyt mee.”
Hierdie spyt ontstaan dikwels omdat hulle wonder oor die vraag: Het die aborsie ’n lewe beëindig wat reeds bestaan het? ’n Verslag deur Suid-Dakota se Taakspan vir die Bestudering van Aborsie het getoon dat baie swanger vroue wat ’n aborsie oorweeg, “onder die verkeerde indruk gebring is dat niks anders as ‘weefsel’ verwyder word nie, en sê dat hulle nie ’n aborsie sou ondergaan het as hulle die waarheid vertel is nie”.
Ná ’n ontleding van die “skokkende en hartverskeurende verklarings” van 1 940 vroue wat aborsies gehad het, is daar tot die volgende slotsom gekom: “Baie van hierdie vroue is kwaad omdat hulle bedroef is oor die verlies van ’n kind wat hulle gesê is nooit bestaan het nie.” Daar is ook bevind dat “die sielkundige skade wat veroorsaak is deur die wete dat sy haar kind doodgemaak het, dikwels verpletterend is”.
Maar wat is die waarheid? Is ’n aborsie bloot die verwydering van weefsel uit ’n swanger vrou se liggaam? Is ’n ongebore kind werklik ’n lewende persoon terwyl dit in die baarmoeder is?
[Venster/Prente op bladsy 4]
GEBOORTE TEENOOR ABORSIE
In 2006 het ’n studie die lewensgeskiedenis van talle vroue wat as tieners swanger geword het, ondersoek. Die helfte van hulle het geboorte gegee aan hulle baba, en die ander helfte het ’n aborsie ondergaan. Die studie het getoon dat “kindergeboorte verband hou met ’n kleiner waarskynlikheid dat [die moeder] sielkundige berading nodig sal hê, slaapprobleme sal hê en ’n kleiner waarskynlikheid dat sy dagga sal rook as in die geval van aborsie”.—Journal of Youth and Adolescence.
Nog ’n verslag voorsien “die bevindings van die vier grootste studies ter wêreld wat op rekords gebaseer is”. Wat het hierdie studies aan die lig gebring? “Verskeie vorme van geestesgesondheidsprobleme kom algemener voor onder vroue met ’n bekende geskiedenis van aborsie as onder vroue met geen bekende geskiedenis van aborsie nie.”—Report of the South Dakota Task Force to Study Abortion—2005.