Jongmense vra . . .
Aborsie—Is dit die oplossing?
“Toe die uitslae van my swangerskapstoets aangedui het dat ek swanger is”, sê Judy, “het my kêrel onmiddellik daarop aangedring dat ek ’n aborsie ondergaan. Hy het my selfs die geld daarvoor gegee.” Judy was 17 jaar oud.a
TOE die 15-jarige Marta uitgevind het dat sy swanger is, het sy met ’n raadgewer by die aborsiekliniek gepraat. “Sy het dit alles aan my verduidelik”, sê Marta. “Sy het vir my gesê dat ek ’n aborsie kon ondergaan of dat sy my sou help om ’n aannemingsagentskap of ’n kraaminrigting te vind, as dit was wat ek wou hê.”
In die Verenigde State alleen raak meer as ’n miljoen tienermeisies elke jaar swanger. Onder hulle is ’n aantal jongmense wat, ondanks Christelike opleiding, God se opdrag om hulle “van hoerery” of voorhuwelikse seks te onthou, verontagsaam het (1 Tessalonisense 4:3). Hierdie onsedelikheid het baie onnodige lyding tot gevolg. Baie van hierdie jongmense is egter later spyt oor hulle lewenswandel en wil hulle lewe regruk. Maar met die skrikwekkende vooruitsig van ’n buite-egtelike baba wat hulle in die gesig staar, wonder party van hulle dalk of ’n aborsie nie moontlik ’n maklike oplossing vir hulle probleme is nie. Veral aangesien daar jaarliks byna ’n halfmiljoen swanger meisies in die Verenigde State besluit om ’n aborsie te ondergaan. Is dit werklik die beste oplossing vir ’n ongewenste swangerskap?
Waarom party aborsies ondergaan?
Dit is verstaanbaar dat daar kragtige, selfs teenstrydige, emosies kan wees. ’n Jong vrou sal waarskynlik ’n mate van natuurlike geneentheid vir die kind hê wat in haar groei, maar sy het dalk ook gegronde vrese en bekommernisse.
Die agtienjarige Vicky wou byvoorbeeld “universiteit toe gaan en moontlik selfs ’n meestersgraad verwerf het”. Sy het gevoel dat ’n baba haar planne omver sou werp (die tydskrif ’Teen, Maart 1992). Marta het tot dieselfde gevolgtrekking gekom: “As jy ’n moeder is, bly jy by die huis met jou kind en jy’s klaar met skool. Ek was nie gereed daarvoor nie.” Volgens een studie vrees 87 persent van die tieners wat aborsies ondergaan dat ’n baba hulle lewe dramaties sal verander op ’n manier wat hulle nie bereid is om te aanvaar nie.
Die vrees vir finansiële probleme en die bekommernis dat ’n mens dalk nie die verantwoordelikhede van enkelouerskap sal kan nakom nie, is ook algemene redes waarom baie ’n aborsie kies. Vicky het dit so gestel: “Ek kom uit ’n gesin waar my ouers geskei het, en my moeder het haar drie kinders op haar eie grootgemaak. Ek het gesien hoe sy sukkel . . . Ek kon net sien hoe ek ook ’n enkelouer soos my moeder word.”
Druk van ander, veral van ’n kêrel, kan ’n mens ook daartoe dryf om ’n swangerskap te beëindig. Judy se kêrel het aan haar die ultimatum gestel: “As jy nie ’n aborsie ondergaan nie, wil ek jou nooit weer sien nie.” In Nancy se geval het druk om ’n aborsie te ondergaan van haar moeder sowel as ander familielede gekom.
Die gewilde beskouing dat aborsie nie werklik beteken dat ’n baba doodgemaak word nie, oefen ook ’n sterk invloed uit. Vicky sê: “Ek het myself nie toegelaat om daaraan te dink as ’n baba nie. . . . Ek het gelees dat die fetus tydens die vyfde week van swangerskap kleiner as die vingernael van ’n mens se pinkie is. Jy sou nie kon glo hoe ek aan daardie idee vasgeklou het nie. Ek het vir myself gesê dat dit nie werklik ’n baba is as dit net die grootte van ’n pinkie se nael is nie. Ek het probeer om dit nie ’n werklikheid in my verstand te maak nie sodat ek met die aborsie kon voortgaan.”
Party sê ook dat aborsie, ten minste in tegnies ontwikkelde lande, veilig is—oënskynlik veiliger vir ’n swanger tiener as om aan ’n kind geboorte te skenk. Alles in ag genome, lyk dit dus of ’n aborsie dalk wenslik is. Die feite toon nietemin dat baie wat aborsie kies later spyt is. Een vrou sê: “Ek het ’n aborsie ondergaan toe ek 20 was. Ek is nou 34, en dit is vir my moeilik om te verwerk wat ek gedoen het. Ek wou my baba hê, maar my kêrel wou nie. Ek ervaar steeds emosionele trauma; die pyn bly jou die res van jou lewe by.”
Emosionele letsels
In plaas dat aborsie ’n maklike oplossing is, kan dit ’n mens se probleme vererger. Op sy allerminste druis dit in teen ons natuurlike sin vir reg en verkeerd—die gewete wat God in die mens geplaas het (Romeine 2:15). Daarbenewens vereis aborsie dat ’n jong vrou die deur van haar tere medelye sluit vir die lewetjie wat binne-in haar ontwikkel. (Vergelyk 1 Johannes 3:17.) Hoe ontmoedigend tog!
Marta sê: “Dit was eers ná ’n paar weke verbygegaan het [ná die aborsie] dat ek skuldig begin voel het en op ’n manier skaam was oor wat ek gedoen het.” Dinge het selfs moeiliker geword toe Februarie aangebreek het—die maand waarin die baba gebore sou gewees het. ’n Ander jong vrou genaamd Eliasa sê: “Ek het 15 jaar gelede ’n aborsie ondergaan. Ek het daarna aan ernstige depressie gely en moes ’n aantal kere in ’n kliniek behandel word. Ek wou selfs selfmoord pleeg.”
Dit is weliswaar so dat nie alle jong vroue só reageer nie. Baie glo werklik dat ’n fetus nie ’n menselewe is nie. Maar wat sê die Skepper—“die fontein van die lewe”—in hierdie verband? (Psalm 36:10). Die Bybel maak dit duidelik dat die ongebore kind wat in die baarmoeder ontwikkel vir Jehovah God baie meer as net fetale weefsel is. Hy het koning Dawid geïnspireer om te skryf: “U oë het selfs my embrio gesien‚ en in u boek was al die dele daarvan beskrywe” (Psalm 139:16, NW). Die Skepper beskou dus selfs die embrio as ’n afsonderlike mens, ’n lewende wese. Daarom het hy gesê dat ’n persoon verantwoording sal moet doen as hy ’n ongebore kind beseer (Exodus 21:22, 23). Ja, wat God betref, word ’n menselewe geneem as ’n ongebore kind doodgemaak word. ’n Meisie wat God wil behaag, kan dus nie aborsie as ’n aanvaarbare opsie beskou nie—ongeag die druk wat op haar uitgeoefen word.b
Waar om ondersteuning te kry
Judy, wat aan die begin genoem is, het besluit om nie ’n aborsie te ondergaan nie. Sy sê: “My ouer suster het uitgevind, en sy was reg van die begin af ondersteunend, veral op emosionele gebied. Sy het selfs gesê dat sy sou aanhou om my te ondersteun ná ek die baba gehad het. Dit is al wat ek nodig gehad het om te hoor om te doen wat ek diep in my hart gevoel het reg is. Ek het toe ook die baba gehad.” Dit was nege jaar gelede. Vandag kyk Judy na haar agtjarige seuntjie en sê: “Dit sou die grootste fout van my lewe gewees het as ek met die aborsie voortgegaan het.”
’n Jong vrou genaamd Natisa vertel eweneens: “Ek het vyf jaar gelede in ’n aborsiekliniek gesit en my beurt afgewag. In plaas daarvan dat ek ingegaan het toe dit my beurt was, het ek my bedink en by die kliniek uitgestap. Ek het nou ’n pragtige vierjarige seuntjie, daar is nog ’n baba op pad en ek is met ’n liefdevolle vader getroud.”
As ’n buite-egtelike swangerskap iemand in die gesig staar, moet die persoon nie ’n oorhaastige besluit neem nie. Hoe sleg dinge ook al mag lyk, dit is nie die einde van die wêreld nie. Maar hulle het definitief ondersteuning en volwasse leiding nodig. ’n Goeie begin is om die saak openhartig met hulle ouers uit te praat, veral as hulle Christene is (Spreuke 23:26). Hulle sal weliswaar in die begin hartseer voel en kwaad wees. Maar mettertyd sal hulle waarskynlik beweeg word om te help. Hulle kan byvoorbeeld vir voorgeboortelike sorg reël. Hulle kan ook help dat daar baat gevind word by enige staatsprogramme wat beskikbaar is vir diegene wat moontlik daarvoor kwalifiseer. Van die allergrootste belang is dat hulle die een wat die misstap begaan het, kan aanmoedig om die nodige geestelike hulp van die gemeentelike ouer manne te ontvang.—Jakobus 5:14, 15.
Party ongehude moeders verkies dit om hulle babas te laat aanneem omdat hulle voel dat hulle die baba nie die beste kan gee nie. Hoewel aanneming beslis beter is as om die kind se lewe te beëindig, hou God wel ’n ouer verantwoordelik om ‘vir die wat syne of hare is te sorg’ (1 Timoteus 5:8). ’n Enkelouer sal moontlik nie materieel vir haar kind die beste kan gee nie, maar sy kan iets baie belangrikers gee—liefde (Spreuke 15:17). In die meeste gevalle sal dit dus vir ’n ongehude moeder beter wees om die kind self groot te maak.
Wat van die taak om ’n baba groot te maak—en die drastiese verandering in lewenswyse wat ongetwyfeld gemaak sal moet word? Dit alles lyk moontlik oorweldigend. Die Bybel voorsien nietemin praktiese raad wat mense kan help om hierdie uitdagings die hoof te bied. Berouvolle ongehude moeders kan ook voordeel trek uit geestelike hulp wat stewig op God se Woord gegrond is. Ja, met liefdevolle sorg en die regte leiding kan hulle die situasie ten beste benut.c Aborsie is eenvoudig nie die oplossing nie!
[Voetnote]
a Van die name is verander.
b Enigeen wat in die verlede ’n fout begaan en ’n ongebore lewe beëindig het, hoef nie tot die gevolgtrekking te kom dat alles verlore is nie. Hulle kan seker wees dat Jehovah berouvolle sondaars ondersteun en ‘menigvuldiglik vergeef’ (Jesaja 55:7). Hoewel die emosionele letsels moontlik nog daar sal wees, gee die psalmis ons die versekering: “So ver as die ooste verwyderd is van die weste, so ver verwyder Hy ons oortredinge van ons.”—Psalm 103:12.
c Sien Die Wagtoring van 1 Desember 1980, “Hoe enkelouers in vandag se wêreld die mas kan opkom”. Sien ook “Jongmense vra . . . Hoe kan ongehude moeders hulle omstandighede ten beste benut?” in die Ontwaak! van 8 Oktober 1994.
[Prent op bladsy 26]
Kêrels probeer dikwels druk op meisies uitoefen om ’n aborsie te ondergaan