Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g 9/09 bl. 12-15
  • Meer as 70 jaar lank getrou aan God

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Meer as 70 jaar lank getrou aan God
  • Ontwaak!—2009
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Ek maak my geloof bekend
  • Oorlog bring beproewinge mee
  • Verdere toetse van geloof
  • Ons preek oor ware vryheid
  • Weer onder ’n verbod
  • ’n Wonderlike lewe!
  • ’n Vreeslose pionier
    2016 Jaarboek van Jehovah se Getuies
  • Is dit moontlik om eerlik te wees in ’n korrupte wêreld?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2012
  • Hulle soeke na die regte godsdiens
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1994
  • God se Woord verrig “wonderwerke”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
Sien nog
Ontwaak!—2009
g 9/09 bl. 12-15

Meer as 70 jaar lank getrou aan God

Soos vertel deur Josephine Elias

“Moenie bekommerd wees nie”, het my man deur die tronktralies gefluister. “Of hulle my nou doodmaak of vrylaat, ek sal aan Jehovah getrou bly.” Ek was ook vasbeslote om getrou te bly. Vandag voel ek nog steeds dieselfde.

EK IS in 1916 gebore in Sukabumi, ’n kleinerige stad in die hoogland van Wes-Java, Indonesië. My ouers was ryk Chinese wat in ’n groot huis gewoon het en bediendes gehad het. Ek het vyf broers gehad, drie ouer en twee jonger as ek. Ek was die enigste meisie, en ek was ’n regte rabbedoe. Ek het oor dakke geklouter en sport geniet. Maar daar was iets waaroor ek baie bekommerd was.

Ek was doodbang dat ek eendag in die hel sou brand. Stoute meisies word hel toe gestuur, het my onderwyseresse gesê. En omdat ek stout was, het ek gedink dat ek daar sou beland. Later, toe ek op hoërskool was in Djakarta (wat destyds Batavia genoem is), het ek siek geword. Die dokter het gedink dat ek sou sterf, en daarom het die vrou by wie ek gebly het, my probeer troos deur te sê dat ek binnekort in die hemel sou wees. Maar ek was bang dat ek op pad hel toe was.

My ma, Kang Nio, en my ouer broer Dodo het dadelik na Djakarta gereis om my te kom haal. Op pad huis toe het Dodo gevra: “Het jy geweet dat die Bybel nie leer dat daar ’n helse vuur is nie?”

“Hoe weet jy dit?” het ek gevra. My ma het vir my tekste uit die Bybel gelees wat toon dat die dooies van niks bewus is nie en op ’n opstanding wag (Prediker 9:5, 10; Johannes 5:28, 29). “Ons het hierdie dinge by Jehovah se Getuies geleer”, het hulle verduidelik. Hulle het vir my ’n boekie gegee met die titel Waar is die dode?, wat ek onmiddellik begin lees het.a Voordat ons by die huis aangekom het, het ek opgewonde gesê: “Dit is die waarheid!”

Ek maak my geloof bekend

My gesin het intussen na Bandung verhuis, ’n groot stad in Wes-Java. Daar het ek geleidelik van my siekte herstel. In Maart 1937 het Clem Deschamp, ’n Australiese Getuie wat in Djakarta gedien het, ons besoek. Gedurende sy besoek het ek, my ma en my ouer broers—Felix, Dodo en Peng—ons toewyding aan God deur doop gesimboliseer. Later het my jonger broers, Hartanto en Jusak, en my pa, Tan Gim Hok, ook Getuies geword.b

Nadat ons gedoop is, het ons saam met Clem aan ’n spesiale nege dae lange predikingsveldtog deelgeneem. Hy het vir ons gewys hoe om te preek met behulp van ’n getuieniskaart waarop daar ’n eenvoudige Bybelboodskap in drie tale was. Ons het ook informeel vir familielede en vriende getuig. Kort voor lank het ons groepie in Bandung ’n gemeente geword, die tweede in Indonesië.

Later daardie jaar het ons gesin na Djakarta getrek om vir die 80 000 Chinese inwoners daar te gaan preek. Ek, my ma en Felix het as pioniers aan die voltydse Christelike bediening begin deelneem. Ek het ook in Bandung, Surabaya en ander plekke gepreek. Ek het meeste van die tyd alleen gepreek. Ek was jonk, sterk en bly om God te dien. Maar oorlogswolke het op die horison begin saampak, en my geloof sou binnekort op die proef gestel word.

Oorlog bring beproewinge mee

In Desember 1941 is Asië in die chaos van die Tweede Wêreldoorlog gedompel. Die Japannese Keiserlike Leër het Indonesië beset en dit in ’n ystergreep gehou. Ons Bybellektuur is verbied, en ons kon nie meer in die openbaar preek nie. Ek het ’n skaakbord rondgedra wanneer ek belangstellendes by hulle huise besoek het sodat ander sou dink dat ek maar net gaan skaak speel.

In 1943 het ek met André getrou, ’n vreeslose pionier met ’n sterk en imponerende stem. Ons het saam Bybellektuur na Getuies regoor Java gesmokkel. As ons gevang is, sou dit marteling en die dood beteken het. Ons het talle noue ontkomings gehad.

Eenkeer toe ek en André in Sukabumi op ’n trein wou klim, is ons voorgekeer deur die gevreesde Kempeitai, die Japannese militêre polisie. Ek het verbode lektuur diep onder in my sak gedra. “Wat het jy in die sak?” wou ’n polisieman weet.

“Klere”, het André geantwoord.

“En wat is onder die klere?” het hy gevra.

“Nog klere”, het André gesê.

“Maar wat is onder in die sak?” wou die polisieman weet. Ek het my asem opgehou en ’n skietgebed tot Jehovah gedoen. “Dalk is dit beter as jy self kyk”, het André geantwoord.

Die polisieman se assistent het sy hand diep in die sak gesteek. Skielik het hy van pyn uitgeroep en sy hand uit die sak geruk. ’n Speld het hom gesteek. Die verleë offisier het ons gou beveel om die sak toe te maak en op die trein te klim.

Op ’n ander reis na Sukabumi het die Kempeitai my as ’n Getuie geïdentifiseer en my beveel om na hulle plaaslike hoofkwartier toe te gaan. André en my broer Felix het saam met my gegaan. Daar is André eerste ondervra. Hulle het hom met vrae gepeper. “Wie is Jehovah se Getuies? Staan julle die Japannese regering teë? Is jy ’n spioen?”

“Ons is knegte van die almagtige God en het niks verkeerds gedoen nie”, het André geantwoord. Die bevelvoerende offisier het ’n samoerai-swaard van die muur afgeruk en dit in die lug gehou.

“En as ek jou nou doodmaak?” het hy woedend gesê. André het sy kop op die lessenaar gesit en ’n stille gebed gedoen. Ná ’n lang stilte het die offisiere uitgebars van die lag. “Jy is dapper!” het die offisier gesê. Toe het hy André uitgestuur en vir my en Felix ingeroep. Toe ons verklaring met André s’n ooreengestem het, het die offisier ons toegesnou: “Julle is nie spioene nie. Maak dat julle wegkom!”

Die drie van ons het huis toe gestap en Jehovah vreugdevol geloof. Min het ons geweet dat selfs moeiliker beproewinge vir ons voorgelê het.

Verdere toetse van geloof

’n Paar maande later is André deur “valse broers” verraai en deur die Kempeitai in die tronk gegooi (2 Korintiërs 11:26). Ek het hom in die tronk besoek. Hy was maer en swak. Hy het aan die lewe gebly deur afvalkos te eet wat hy in die sel se drein gevind het. Die tronkbewaarders kon hom nie sy onkreukbaarheid laat prysgee nie. Soos aan die begin genoem is, het hy deur die tronktralies gefluister: “Moenie bekommerd wees nie. Of hulle my nou doodmaak of vrylaat, ek sal aan Jehovah getrou bly. Hulle kan my hier uitdra as ’n lyk, maar nie as ’n verraaier nie.”

Ná ses maande in die tronk het André voor Djakarta se Hooggeregshof verskyn. Ons familie en vriende het die hofsaal gevul. Daar was ’n gespanne atmosfeer.

“Waarom weier jy om by die Japannese leër aan te sluit?” wou die regter weet.

“Ek is ’n soldaat van God se Koninkryk”, het André geantwoord, “en ’n soldaat kan nie terselfdertyd in twee leërs dien nie.”

“Sal jy vir ander sê om nie by die leër aan te sluit nie?” het die regter gevra.

“Nee”, het André gesê, “dit is hulle eie keuse.”

André het sy verdediging voortgesit en dikwels uit die Bybel aangehaal. Die regter, ’n vroom Moslem, was beïndruk. “Ons geloof verskil dalk, maar ek sal niemand dwing om teen sy gewete op te tree nie”, het die regter gesê. “Jy is vry.”

Almal in die hofsaal was verlig, en my hart het gespring van vreugde. André het na my toe gekom en my hand vasgehou. Familielede en vriende het om ons saamgedrom en ons opgewonde gelukgewens.

Ons preek oor ware vryheid

Nadat die Tweede Wêreldoorlog geëindig het, het ’n vier jaar lange revolusie teen die Nederlandse koloniale bewind in Indonesië uitgebreek. Duisende mense is doodgemaak, en die inwoners van hele dorpies het gevlug. Patriotte het ons probeer dwing om hulle oorlogskreet “Merdeka” uit te roep, wat “Vryheid” beteken. Maar ons het vir hulle gesê dat ons in sulke politieke aangeleenthede neutraal is.

Ondanks die geweld het ons weer van huis tot huis begin preek. Ons het ons ou getuieniskaarte gebruik, asook die lektuur wat ons van voor die oorlog oorgehad het. In Mei 1948, toe die geweld afgeneem het, het ek en André weer begin pionier, en ons was die enigste pioniers in Indonesië. Drie jaar later was ons verheug om 14 Getuies in Djakarta te verwelkom, wat almal gegradueer het aan die Wagtoring-Bybelskool Gilead in die noorde van die staat New York, Verenigde State. Die opleiding wat hulle ons gegee het, het ons op verdere verantwoordelikhede voorberei.

In Junie 1952 het ek en André ’n toewysing aanvaar om as spesiale pioniers in Semarang, Sentraal-Java, te gaan dien. Die volgende jaar het ons self die 22ste klas van Gilead bygewoon. Nadat ons gegradueer het, het ons na Indonesië teruggekeer en is ons na Kupang, Timor, gestuur. Latere toewysings was in Suid-Sulawesi en Noord-Sulawesi. Daar het ons voor nog toetse van geloof te staan gekom.

Weer onder ’n verbod

In 1965 het ’n mislukte staatsgreep die dood van honderde duisende mense veroorsaak. Party van die Christendom se geestelikes het kant gekies en beweer dat Jehovah se Getuies Kommuniste is. Gelukkig is die regering nie maklik om die bos gelei nie. Maar die geestelikes het nie opgehou met hulle lasterlike aanvalle op die Getuies nie. Op die ou end is daar op 25 Desember 1976 ’n verbod op Jehovah se Getuies geplaas.

Kort nadat die verbod aangekondig is, het die distriksprokureur in Manado André na sy kantoor ontbied. “Weet jy dat daar ’n verbod op Jehovah se Getuies is?” het hy gevra.

“Ja”, het André geantwoord.

“Is jy nou bereid om van godsdiens te verander?” het die amptenaar gevra.

André het vorentoe geleun en dramaties op sy bors geslaan. “Jy kan my hart uit my liggaam skeur, maar jy kan my nooit dwing om van godsdiens te verander nie”, het hy met ’n harde stem gesê.

Die prokureur was stomgeslaan en het gevra: “Wat moet ek nou in my verslag sê?”

“Skryf dat ek nog steeds een van Jehovah se Getuies is en niks verkeerds gedoen het nie”, het André gesê.

“Ek moet julle lektuur konfiskeer”, het die prokureur gesê.

Daardie nag het jong Getuies die lektuur by ons huis kom haal en net leë kartonne agtergelaat. Ons het aangehou om te preek deur net die Bybel te gebruik. Wat die distriksprokureur betref, hy het ons nooit weer lastig geval nie.

’n Wonderlike lewe!

Ek en André het later gepionier in Surabaya, op die eiland Java en op Bangka, ’n eiland aan die kus van Suidoos-Sumatra. Maar in 1982 het slegte gesondheid ons gedwing om na Djakarta terug te keer. Hier het André in 2000 op die ouderdom van 85 gesterf, ’n ywerige pionier tot die einde toe. Die verbod is die jaar ná sy dood opgehef.

Wat ’n wonderlike lewe het ek tog gehad! Ek is nou 93, en ek het meer as 70 jaar in die pionierbediening deurgebring. In 1937, toe ek gedoop is, was daar net 25 Getuies van Jehovah in Indonesië. Vandag is daar byna 22 000. Hoe verheug is ek tog dat ek ’n deel kon hê aan hierdie groei! Maar my reis het nog net begin. Ek wil God vir ewig getrou dien.

[Voetnote]

a Uitgegee deur Jehovah se Getuies, maar nou uit druk.

b Die hele gesin het aan Jehovah getrou gebly. Josephine en Jusak, die enigste oorlewende gesinslede, dien Jehovah nog steeds ywerig in Djakarta.

[Lokteks op bladsy 13]

“Ek is ’n soldaat van God se Koninkryk, en ’n soldaat kan nie terselfdertyd in twee leërs dien nie”

[Lokteks op bladsy 14]

“Jy kan my hart uit my liggaam skeur, maar jy kan my nooit dwing om van godsdiens te verander nie”

[Kaart op bladsy 15]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

Plekke waar ons gewoon en gepreek het

INDONESIË

Sulawesi

Manado

Sumatra

Bangka

Java

DJAKARTA

Sukabumi

Bandung

Semarang

Surabaya

Timor

Kupang

[Prent op bladsy 15]

Saam met André in die 1970’s

[Prente op bladsy 15]

Toe ek 15 was, het die boekie “Waar is die dode?” my van Bybelwaarheid oortuig

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel