Doelgerigte ontwerp of ’n verstandelose proses?
In 1802 het die Engelse geestelike en teoloog William Paley sy redes vir geloof in ’n Skepper verduidelik. Hy het gesê dat hy, as hy oor ’n kaal vlakte sou loop en ’n klip op die grond sou sien lê, dalk redelikerwys tot die slotsom sou kom dat dit weens natuurlike prosesse daar beland het. Maar as hy ’n horlosie daar sou optel, sou hy nouliks tot dieselfde slotsom kom. Waarom nie? Om die eenvoudige rede dat ’n horlosie al die kenmerke het van iets wat ontwerp is en met ’n doel gemaak is.
PALEY se idees het ’n groot invloed gehad op die Engelse naturalis Charles Darwin. Maar in teenstelling met Paley se logika het Darwin later aan die hand gedoen dat die skynbare ontwerp in lewende organismes verduidelik kan word deur ’n proses wat hy “natuurlike seleksie” genoem het. Baie het Darwinistiese evolusie beskou as die finale antwoord op argumente ten gunste van ontwerp.
Baie is al sedert die dae van Paley en Darwin oor die onderwerp geskryf. Die argumente ten gunste van ontwerp aan die een kant en natuurlike seleksie aan die ander kant is al herhaaldelik verfyn, uitgebrei en bygewerk. En albei kante van die onderwerp het ’n groot invloed gehad op wat mense glo oor ’n doel—of die gebrek aan ’n doel—in die heelal. Wat jy glo, sal heel waarskynlik ’n invloed hê op hoe doelgerig jy meen jou lewe is. Hoe so?
Die logiese gevolge van Darwinisme
Geloof in Darwin se teorie het talle opregte mense tot die slotsom laat kom dat hulle bestaan nie werklik ’n doel het nie. As die kosmos en alles daarin die produk is van spontane verbindings van elemente ná die oerknal, dan kan die lewe nie werklik ’n doel hê nie. Wyle Jacques Monod, bioloog en Nobelpryswenner, het gesê: “Die mens weet uiteindelik dat hy alleen is in die gevoellose uitgestrektheid van die heelal waaruit hy per toeval te voorskyn gekom het. Sy lot is nêrens uitgespel nie, en ook nie sy plig nie.”
Peter William Atkins, ’n professor in chemie in Oxford, huldig ’n soortgelyke mening: “Daar is vir my ’n wonderlike, ontsagwekkende grootsheid verbonde aan die bestaan van hierdie uitsonderlike heelal. Dit hang daar in al sy heerlikheid, geheel en al nutteloos.”
Nie alle wetenskaplikes stem saam met hierdie beskouing nie. En om baie goeie redes.
Fyn instelling—Bewys van doelgerigte ontwerp?
Wanneer navorsers die natuurwette ondersoek, skop baie van hulle teen die idee dat die kosmos geen doel het nie. Hulle is byvoorbeeld beïndruk deur die fundamentele kragte wat die heelal beheer. Die wette agter hierdie kragte is blykbaar fyn ingestel sodat dit ’n heelal teweeggebring het wat lewe kan onderhou. “As die bestaande wette selfs net effens verander word, kan dit dodelike gevolge hê”, sê die kosmoloog Paul Davies. Byvoorbeeld, as protone ’n bietjie swaarder as neutrone was, in plaas van ’n bietjie ligter soos die geval is, sou al die protone in neutrone verander het. Sou dit so sleg gewees het? “Sonder protone en hulle uiters noodsaaklike elektriese lading”, verduidelik Davies, “kan atome nie bestaan nie.”
Die elektromagnetiese krag trek elektrone na protone toe aan, wat molekules laat vorm. As hierdie krag veel swakker was, sou elektrone nie in hulle baan om die kern van ’n atoom kon bly nie en sou geen molekules kon vorm nie. As hierdie krag daarenteen baie sterker was, sou elektrone aan die kern van ’n atoom vasgesit het. Dan sou chemiese reaksies en lewe eenvoudig onmoontlik gewees het.
’n Effense verskil in die elektromagnetiese krag sou ’n invloed hê op die son en die sonenergie wat ons aarde bereik. So ’n verskil sou fotosintese in plante waarskynlik moeilik of onmoontlik maak. Die presiese sterkte van die elektromagnetiese krag bepaal dus of lewe op die aarde moontlik is of nie.a
Die boek Science & Christianity—Four Views gebruik ’n interessante manier om die delikate balans tussen kragte en elemente in die kosmos toe te lig. Die skrywer het sy lesers gevra om ’n navorser se besoek aan ’n denkbeeldige “beheerkamer vir die ganse heelal” te visualiseer. Daar sien die navorser rye en rye stelknoppe wat op enige syfer gestel kan word, en hy kom agter dat elkeen op ’n spesifieke syfer gestel moet wees om lewe moontlik te maak. Een stelknop beheer die sterkte van swaartekrag, een die sterkte van elektromagnetiese aantrekkingskrag, ’n ander die verhouding tussen die gewig van die neutron en die proton, ensovoorts. Terwyl die navorser al hierdie stelknoppe ondersoek, sien hy dat hulle op ander syfers gestel kon gewees het. Ná noukeurige berekeninge word dit ook vir hom duidelik dat selfs ’n klein verandering in enige van die stelknoppe se instellings die samestelling van die kosmos só sal verander dat lewe sal ophou bestaan. Tog is elke stelknop op presies die regte syfer gestel sodat die heelal aan die gang en bewoonbaar kan bly. Wat behoort die besoeker af te lei uit die feit dat die stelknoppe op hierdie spesifieke manier ingestel is?
Die sterrekundige George Greenstein sê: “Terwyl ons al die bewyse ondersoek, kom die gedagte voortdurend by ons op dat die een of ander bonatuurlike mag—of eerder Mag—betrokke moet wees. Is dit moontlik dat ons onverwags, sonder dat ons wou, afgekom het op wetenskaplike bewys dat ’n Opperwese bestaan?”
Wat dink jy? Watter verduideliking pas die beste by die fyn instelling wat in die kosmos gesien kan word? Doelgerigte ontwerp of ’n verstandelose proses?
‘Ons is maar net hier —en dis al’
Ateïste het natuurlik hulle teenargumente. Party heg geen betekenis aan die fyn instelling wat duidelik in die natuur gesien word nie en sê: ‘Natuurlik kan die waarneembare heelal menselewe onderhou. As dit nie kon nie, sou ons nie hier gewees het om ons daaroor te bekommer nie. Daar is dus eintlik niks om te verduidelik nie. Ons is maar net hier, en dis al.’ Maar is dit vir jou ’n bevredigende verklaring vir die feit dat ons bestaan?
Nog ’n argument is dat daar eendag bewys sal word dat net een moontlike stel syfers kan werk in die vergelykings waardeur die fundamentele wette van die natuur weergegee word. Dit wil sê, die bogenoemde stelknoppe moes reg ingestel gewees het sodat die heelal hoegenaamd kon bestaan. Party sê: ‘Dis so omdat dit so moes wees!’ Selfs al was hierdie sirkelredenering waar, sou dit nog steeds nie ’n deurslaggewende verklaring vir ons bestaan voorsien nie. Kortom, is dit blote toeval dat die heelal bestaan en dat dit lewe onderhou?
In hulle pogings om natuurlike prosesse alleen te gebruik om die ontwerp en fyn instelling te verklaar wat in die kosmos gesien kan word, wend ander hulle tot die teorie dat daar talle heelalle is. Volgens hierdie veronderstelling lewe ons moontlik in net een van tallose heelalle—in almal heers verskillende toestande, maar nie een het enige doel of is ontwerp nie. Volgens hierdie redenasie en die waarskynlikheidswette behoort daar, as daar genoeg heelalle is, uiteindelik een te wees met die regte toestande om lewe te onderhou. Maar daar is in werklikheid geen wetenskaplike bewyse wat die teorie dat tallose heelalle bestaan, staaf nie. Dit is bloot spekulasie.
Nadat die Nobelpryswenner en biochemikus Christian de Duve gesê het dat hy nie met hierdie veronderstelling saamstem nie, het hy bygevoeg: “Na my mening is die lewe en die verstand sulke buitengewone verskynsels dat dit betekenisvol bly, ongeag hoeveel heelalle waarin dit nie voortgebring kan word nie, bestaan of moontlik is. Om ons heelal as net een van biljoene te beskou, verminder geensins hoe betekenisvol die unieke eienskappe daarvan is nie, wat na my mening leidrade voorsien aangaande die ‘Hoogste Werklikheid’ wat daaragter is.”
Menslike bewustheid
Die feit dat ons teorieë vorm om die bestaan van die kosmos te verklaar, is merkwaardig. In ’n heelal sonder ’n doel, sou so ’n vermoë bloot die gevolg van ’n verstandelose proses gewees het. Klink dit vir jou redelik?
Die mensebrein is al beskryf as “die wonderlikste en raaiselagtigste voorwerp in die ganse heelal”. Al die kennis op die gebied van fisika en chemie kan op sigself nie bevredigende verklarings voorsien vir die mens se vermoë om abstrak te dink en ons wydverspreide soeke na ’n doel in die lewe nie.
Die menseverstand, met sy soeke na begrip, is óf deur ’n hoër intelligensie daargestel óf dit het toevallig ontstaan. Watter een van hierdie twee moontlikhede klink vir jou die redelikste?
’n Ander verduideliking?
Die wetenskap het ons waarlik baie vertel oor hoe die kosmos, die wêreld en lewende organismes werk. Hoe meer die wetenskap ons vertel, “hoe onwaarskynliker lyk dit dat ons bestaan” vir sommige mense. Dit wil sê, onwaarskynlik as ons bestaan bloot ’n produk van evolusie is. Maar, in die woorde van die wetenskapskrywer John Horgan, “die werklikheid lyk alte veel of dit ontwerp is en, in party opsigte, te goed om bloot toevallig hier te wees”. Die fisikus Freeman Dyson het eweneens gesê: “Hoe meer ek die heelal ondersoek en die besonderhede van die argitektuur daarvan bestudeer, hoe meer bewyse vind ek dat die heelal in sekere sin moes geweet het dat ons kom.”
Sal dit nie in die lig van die bewyse—die kompleksiteit in die natuur, fyn instelling, klaarblyklike ontwerp en menslike bewustheid—logies wees om ten minste die moontlikheid te oorweeg dat ’n Skepper bestaan nie? ’n Baie goeie rede om dit te doen, is dat ’n Skepper vir ons sal kan vertel hoe lewe ontstaan het en of die lewe ’n doel het—vrae wat die wetenskap nie kan beantwoord nie.
Hierdie vrae word bespreek in die geskrifte wat die Bybel, of die Heilige Skrif, genoem word, waarvan die skrywers beweer het dat hulle deur die Skepper geïnspireer is. Jy kan gerus ondersoek wat die Bybel oor hierdie sake sê.
[Voetnoot]
a Vir meer inligting oor hierdie onderwerp, sien asseblief bladsye 10-26 van die boek Is daar ’n Skepper wat vir jou omgee?, uitgegee deur Jehovah se Getuies.
[Lokteks op bladsy 8]
Is die mensebrein die gevolg van ’n verstandelose proses?
[Venster/Prent op bladsy 6]
Waardeur word die wetenskap moontlik gemaak?
Wetenskaplike navorsing is moontlik omdat die fisiese wêreld ordelik is en omdat energie en materie in ’n gegewe stel omstandighede op ’n voorspelbare, konstante manier reageer. Hierdie orde kan uitgedruk word in die fundamentele wette van die wiskunde, fisika, chemie, ensovoorts. Sonder hierdie orde, kan wetenskaplike werk, die tegnologie en lewe self eenvoudig nie bestaan nie.
Daarom ontstaan die vrae: Wat is die oorsprong van fisiese wette? En waarom werk hulle juis op ’n spesifieke manier? Baie glo dat ’n Opperintellek die redelikste antwoord is. Wat glo jy?
[Venster/Prente op bladsy 7]
Het dit uit niks ontstaan?
Die DNS- (deoksiribonukleïensuur) molekules in elke lewende sel bevat uitvoerige, gedetailleerde instruksies wat nodig is sodat organismes reg kan ontwikkel. Hoewel DNS baie komplekser is, kan dit vergelyk word met die digitale inligting wat op ’n DVD vasgelê word. Wanneer die gekodeerde data op ’n DVD verwerk word, word dit ’n video waarna jy kan kyk of musiek waarna jy kan luister. Net so bevat DNS-molekules, wat soos gedraaide toulere lyk, gekodeerde inligting wat die grondslag van alle lewe vorm en lewende dinge van mekaar laat verskil—piesangs van bone, sebras van miere, mense van walvisse.
Niemand sal tog beweer dat die digitale inligting op ’n DVD moontlik as gevolg van spontane gebeure daar gekom het nie. Is dit redelik om te beweer dat die uiters komplekse inligting in die DNS uit niks ontstaan het?
[Foto-erkenning op bladsy 6]
Sombrero-sterrestelsel: NASA and The Hubble Heritage Team (STScI/AURA)