Is dit ontwerp?
Been—Ongelooflik sterk
● Been is al beskryf as “’n ingenieursmeesterstuk van trek-, druk- en reksterkte”. Waarom?
Dink hieraan: Die menslike skelet bestaan uit ongeveer 206 bene en 68 gewrigte. Die langste been is die femur, of dybeen; die kleinste is die stiebeuel, ’n beentjie in jou oor. Soos duidelik gesien kan word in die geval van vaardige gimnaste, kan bene, spiere, kraakbeen en gewrigte ’n verstommende mate van buigsaamheid en omvang van beweging aan ’n gesonde liggaam verleen. “Die duim alleen sal enigiemand oortuig dat die argitek van ons liggaam (wie dit ook al vir elkeen van ons is) ’n genie moet wees!” sê die Nasionale Instituut vir Biomediese Navorsing in verband met Ruimte- vaart.
Bene kan ook ongelooflike aanslae verduur. “[Hulle] is op presies dieselfde manier as gewapende beton saamgestel”, sê die instituut. “Die staal in gewapende beton voorsien die treksterkte, terwyl die sement, sand en klip die druksterkte voorsien. Maar die druksterkte van been is groter as dié van selfs die beste gewapende beton.” “Ons wens net dat ons dit kon namaak”, het Robert O. Ritchie gesê, ’n professor in materiaalwetenskap aan die Universiteit van Kalifornië, Berkeley, VSA.
In teenstelling met beton is been ’n noodsaaklike deel van tallose lewende organismes. En dit is dinamies. Dit kan vanself herstel, op hormone reageer wat die groei en ontwikkeling daarvan beïnvloed en selfs ’n sleutelrol speel in die vervaardiging van bloedselle. Soos spiere raak dit geleidelik sterker namate ’n groter las daarop geplaas word. Gevolglik het atlete swaarder bene as wat sogenaamde rusbanksitters het.
Wat dink jy? Is been ’n produk van die toeval? Of is dit ontwerp?
[Prent op bladsy 25]
Beenstruktuur (vergroot)
[Foto-erkennings op bladsy 25]
Beenpyp: © MedicalRF.com/age fotostock; nabyfoto: © Alfred Pasieka/Photo Researchers, Inc.; gimnas: Cultura RF/Punchstock