Die Bybel se beskouing
’n Verhouding met die oog op die huwelik
Julie en Lee het met mekaar uitgegaan en was vasbeslote om sedelik rein te bly.a Maar een aand toe hulle alleen was, het hulle seksuele gevoelens byna die oorhand gekry. Gelukkig het hulle tot hulle sinne gekom voordat hulle te ver gegaan en ’n ernstige sonde gepleeg het.
WARE aanbidding behels meer as om net ’n weeklikse kerkdiens by te woon. Dit is ’n lewenswyse wat ’n mens se gedrag en sedelike standaarde beïnvloed. Jesus Christus het gesê dat slegs diegene wat “die wil doen” van God, Sy guns verdien (Matteus 7:21). Om God te behaag, moet ons ons verhouding met die teenoorgestelde geslag eerbaar hou en slegs ’n romantiese verhouding aanknoop as ons van plan is om te trou.
Hoe kan julle julle verhouding in God se oë rein hou, veral in die lig van die geweldige druk waaronder paartjies verkeer om sedelike waardes oorboord te gooi? Eerstens, erken dat God ons belange op die hart gedra het toe hy sy standaarde daargestel het. Tweedens, aanvaar die waarheid omtrent die menslike natuur. Derdens, stel besliste perke vas vir aanvaarbare gedrag. En vierdens, maak God deel van julle verhouding. Kom ons bespreek hierdie punte een vir een.
Standaarde saamgestel tot ons voordeel
In Jesaja 48:17, 18 lees ons: “Ek, Jehovah, is jou God, die Een wat jou leer om jouself te bevoordeel, die Een wat jou laat loop op die weg wat jy moet bewandel. Ag, as jy maar aan my gebooie aandag sal skenk! Dan sal jou vrede net soos ’n rivier word, en jou regverdigheid soos die golwe van die see.”
Ja, die gebooie en beginsels wat in God se geïnspireerde Woord, die Heilige Bybel, uiteengesit word, is tot ons voordeel (2 Timoteus 3:16, 17). Dit bewys dat ons Skepper werklik vir ons omgee en wil hê dat ons in alle aspekte van die lewe gelukkig en suksesvol moet wees (Psalm 19:7-10). Is dit hoe jy in jou hart voel? Indien wel, openbaar jy ware wysheid.
Aanvaar die waarheid omtrent jouself
Soos ’n ware vriend, is Jehovah eerlik met ons; hy vertel ons die waarheid omtrent onsself. Byvoorbeeld, sy Woord waarsku ons: “Die hart is verraderliker as enigiets anders en is desperaat. Wie kan dit ken?” (Jeremia 17:9). Die Bybel sê ook: “Hy [of sy] wat op sy eie hart vertrou, is dwaas, maar hy wat in wysheid wandel, sal ontkom.”—Spreuke 28:26.
Hoe kan ’n paartjie wat met mekaar uitgaan, toon dat hulle op hulle eie hart vertrou? Een manier is deur toe te laat dat hulle in omstandighede beland waar hulle in die versoeking kan kom om te intiem te raak, soos die paartjie wat hierbo genoem is. Nog ’n manier is deur die wyse raad van godvresende ouers te verontagsaam. Sulke ouers weet dat seksuele gevoelens, veral gedurende die jeug, soos ’n kragtige enjin kan wees wat goed onder beheer gehou moet word.
Daarom neem jongmense wat ‘in goddelike wysheid wandel’, hulle ouers se leiding ernstig op. Ja, hulle neem die raad ter harte van ouers wat hulle lief genoeg het om dinge te sê wat ’n seun of dogter dalk nie wil hoor nie. Die een wat jou die liefste het, is natuurlik jou hemelse Vader, Jehovah God, wat jou hierdie raad gee: “Verwyder . . . kwelling uit jou hart, en hou rampspoed weg van jou vlees” (Prediker 11:9, 10). Hoe kan jy dit doen? Deur nie voor ongepaste begeertes te swig nie.
Stel duidelike perke vir gedrag
“By dié wat saam beraadslaag, is wysheid” (Spreuke 13:10). Verstandige paartjies pas hierdie woorde vroeg in hulle verhouding toe deur saam te besluit watter liefdesblyke volgens die Skrif gepas is en deur vasbeslote te wees om binne daardie perke te bly. As julle julle sekere vryhede met mekaar veroorloof of te selfversekerd is, is dit soos om roekeloos te bestuur. Dit is te laat om goeie voornemens oor padveiligheid te maak wanneer jy uit ’n wrak getrek word!
“’n Verstandige mens sien die moeilikheid kom en verberg hom”, sê die Bybel. “Die dwase loop reguit daarin en boet daarvoor” (Spreuke 22:3, The New English Bible). Paartjies kan baie moeilikheid voorkom deur mekaar beter te leer ken in die geselskap van ’n groep heilsame vriende of ’n gepaste chaperone. As julle dwaas optree terwyl julle met mekaar uitgaan, kan die gevolge dinge insluit soos ’n slegte gewete, ’n gebrek aan respek vir jouself en die ander persoon en skande vir almal wat betrokke is, insluitende familielede. Wees dus verstandig; besluit saam om skriftuurlike standaarde toe te pas, en bly daarby!
Maak Jehovah deel van die “driedubbele tou”
Die huwelik is soos ’n driedubbele tou, waarvan God die vernaamste draad is. “’n Driedubbele tou kan nie gou in twee gebreek word nie”, sê Prediker 4:12. Dieselfde beginsel kan toegepas word op paartjies wat met mekaar uitgaan. Diegene wat God se seën op hulle verhouding wil hê, ontvang hierdie seën wanneer hulle as individue na aan God bly. Psalm 1:1-3 sê: “Gelukkig is die man [of vrou] wat nie in die raad van die goddeloses gewandel het . . . nie. Maar sy behae is in die wet van Jehovah, en in sy wet lees hy dag en nag op gedempte toon . . . , en alles wat hy doen, sal suksesvol wees.”
Ja, ’n waarlik suksesvolle lewe, insluitende ’n suksesvolle hofmakery en huwelik, is moontlik wanneer ons dinge op Jehovah se manier doen. Hy is immers ons Skepper, en romantiese aantrekkingskrag en die huwelik is kosbare geskenke van hom. As sodanig verdien dit ons grootste respek.—Jakobus 1:17.
[Voetnoot]
a Van die name is verander.
HET JY AL GEWONDER?
● Hoe weet ons dat God die beste vir ons wil hê?—Jesaja 48:17, 18.
● Watter waarheid omtrent onsself moet ons aanvaar?—Jeremia 17:9.
● Wat is die sleutel tot sukses terwyl ’n mens met iemand uitgaan en, later, in die huwelik?—Psalm 1:1-3.
[Prent op bladsy 13]
Verstandige paartjies besluit vroeg in hulle verhouding watter liefdesblyke volgens die Skrif gepas is en is vasbeslote om binne daardie perke te bly