Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g 4/10 bl. 16-19
  • Die wonderlike verskeidenheid van lewe in die Bo-Amasone

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die wonderlike verskeidenheid van lewe in die Bo-Amasone
  • Ontwaak!—2010
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die antieke oorsprong van die bevolking
  • Botsende kulture
  • Hoe hulle vandag lewe
  • Die invloed van sjamane en bygelowe
  • Sal dit verdwyn?
  • Die magtige Amasone—’n Lewensaar vir miljoene
    Ontwaak!—2003
  • ’n Soeke na oplossings
    Ontwaak!—1997
  • Skaduwees oor die reënwoud
    Ontwaak!—1997
  • Die vergroening van die Amasonewoud
    Ontwaak!—2000
Sien nog
Ontwaak!—2010
g 4/10 bl. 16-19

Die wonderlike verskeidenheid van lewe in die Bo-Amasone

VANAF die voet van die Peruaanse Andes strek ’n tak- en blarekombers sowat 3 700 kilometer ver ooswaarts oor die Suid-Amerikaanse vasteland. Eindelik grens hierdie see van groen aan die blou van die Atlantiese Oseaan.

Die deel van hierdie oerwoud wat in Peru geleë is—die land se Amasonestreek—beslaan byna 60 persent van hierdie land. Hoewel net ’n klein deeltjie van Peru se mensebevolking in hierdie gebied woon, floreer daar ’n magdom plante en diere onder die woud se 35 meter hoë blaredak. Trouens, die Amasone word beskou as een van die rykste ekologiese skatkiste op aarde. Meer as 3 000 soorte skoenlappers sweef en fladder deur die bedompige lug. Sowat 4 000 soorte orgideë vertoon hulle pragtige blomme. Meer as 90 slangspesies skuil in die boomtakke en op die woudvloer. En ’n geraamde 2 500 visspesies—waaronder sidderale en piranhas—patrolleer die riviere en strome.

Die belangrikste van al hierdie waterweë is die magtige Amasonerivier. Op party plekke kan tussen twee en ’n half en drie meter reën die woud jaarliks deurweek, sodat die Amasonerivier en sy 1 100 sytakke die woudvloer oorstroom. Die kombinasie van hitte en vog skep ’n stoombadatmosfeer, waarvan die plante hou. Dit is egter merkwaardig dat die geil plantegroei in kleigrond floreer wat as die armste grond op aarde beskou word, ongeskik vir permanente verbouing.

Die antieke oorsprong van die bevolking

Wie sou kies om in so ’n plek te woon? Argeoloë meen dat die Amasonebekken in vorige eeue die tuiste van miljoene mense was. Na raming woon daar tans 300 000 mense—wat in meer as 40 etniese groepe verdeel is—in die Peruaanse deel van die Amasone. En blykbaar is 14 van hierdie inheemse groepe nou feitlik heeltemal afgesonderd van die buitewêreld. Nadat hierdie volke kortliks aan die “beskaafde” samelewing blootgestel is, het hulle hulle in die diepste dele van die woud gaan vestig, in die hoop om enige verdere kontak te vermy.

Wanneer het hierdie oerwoudbewoners hier kom woon, en waar het hulle vandaan gekom? Kenners vermoed dat die eerste migrasies, eeue voor die huidige jaartelling, uit die noorde gekom het. Die Jivaro (wat daarvoor bekend is dat hulle hulle verslane vyande se koppe gekrimp het) het van die Karibiese eilande gekom; en die Arawak, van Venezuela. Ander stamme het moontlik van Brasilië in die ooste en van Paraguay in die suide gekom.

Toe hulle eers gevestig was, het meeste van die stamgroepe blykbaar binne spesifieke gebiede beweeg, waar hulle gejag en kos ingesamel het. Hulle het ook die paar gewasse verbou wat geskik was vir die suur grond, soos kassawe, brandrissies, piesangs en mielies. Volgens Spaanse kroniekskrywers was van die volke goed georganiseerd en het hulle fasiliteite ontwikkel om voedsel te berg en maniere gevind om wilde diere te teel.

Botsende kulture

Gedurende die 16de en 17de eeu het Spaanse veroweraars die Amasone binnegeval. Kort op hulle hakke was Fransiskaanse en Jesuïetesendelinge wat vasbeslote was om die inboorlinge tot die Rooms-Katolieke geloof te bekeer. Hierdie sendelinge het uitstekende kaarte geteken wat die Amasone vir Europese belange oopgestel het. Maar die sendelinge het ook die deur oopgemaak vir siekte en verwoesting.

In 1638 is daar byvoorbeeld ’n sendingstasie opgerig in wat nou die Maynas-provinsie is. Die sendelinge het die inboorlinge aangekeer, en vyandige groepe is saamgegooi en gedwing om as een gemeenskap te lewe. Wat was die “edele” doelwit? Omdat die inboorlinge as onkundig en minderwaardig beskou is, is hulle gedwing om vir die sendelinge en veroweraars te werk. As gevolg van noue kontak met Europeërs het duisende inboorlinge aan masels, pokke, witseerkeel en melaatsheid gesterf. Duisende ander het van die honger omgekom.

Baie Indiane het weggevlug van die sendingstasies wat deur die verskillende godsdiensordes gestig is, en tientalle sendelinge is in opstande vermoor. Trouens, op een stadium in die vroeë dekades van die 19de eeu was daar net een priester in die Amasonestreek oor.

Hoe hulle vandag lewe

Vandag lewe baie inboorlinge nog steeds volgens hulle tradisies. Hulle maak byvoorbeeld die huise in hulle dorpies op die eeue oue manier—met ’n raamwerk van pale wat uit die woud gekap is en met palmblare of ander plantmateriaal bedek is. Omdat hierdie huise op stelte staan, skep die jaarlikse oorstromings geen probleem nie en word die mense selde deur gevaarlike diere lastig geval.

Die stamgroepe klee en versier hulle op verskillende maniere. Mans en vroue wat diep in die oerwoud woon, dra lendedoeke of kort geweefde rompe, en hulle kinders loop kaal rond. Diegene wat meer kontak met die buitewêreld het, het Westerse klerestyle aangeneem. Sommige inboorlinge steek gate deur hulle neus en oorlelle en versier dit met ringe, stokkies, bene of vere. Ander, soos die Mayoruna, steek gate deur hulle wange. Party Tucunas en Jivaro’s vyl selfs hulle tande. Onder die verskillende stamme is daar baie wat hulle liggaamshare verwyder en tatoeëermerke op hulle vel aanbring.

Die volke van die Amasone ken duisende verskillende plante en gebruik die woud as ’n medisynekas. Daaruit verkry hulle behandelings vir slangbyt, disenterie en velkwale, om maar net ’n paar te noem. Lank voordat Westerse gemeenskappe rubber ontdek het, het die bewoners van die Amasone die sap van rubberbome getap en dit gebruik om hulle werksmandjies waterdig te maak en rubberballe te maak om mee te speel. Die woud voorsien ook die materiaal wat nodig is vir vervoer en langafstandkommunikasie. Die mans kap byvoorbeeld bome af en hol dit uit om kano’s te maak waarin hulle op hulle waterweë vaar, en hulle hol groot stompe uit om tromme te maak waarop hulle slaan om boodskappe oor baie groot afstande oor te dra!

Die invloed van sjamane en bygelowe

Die bewoners van die Amasone glo dat die oerwoud vol siele is wat snags ronddwaal, asook geeste wat siekte veroorsaak en gode wat in die riviere skuil en niksvermoedende slagoffers voorlê. Neem byvoorbeeld die Aguaruna, een van die grootste groepe in Peru. Hulle vereer vyf verskillende gode: “Vader Kryger”, “Vader Water”, “Moeder Aarde”, “Vader Son” en ’n “Sjamaanvader”. Baie glo dat mense in plante en diere verander word. Omdat die inboorlinge bang is om geesskepsele aanstoot te gee, maak hulle sekere diere nie dood nie en jag hulle ander net wanneer nodig.

Die sjamane, of toordokters, wat die leiding in die tradisionele godsdienslewe en in die gemeenskap neem, gebruik hallusinogene plante om in ’n beswyming te raak. Van die dorpsbewoners wend hulle tot hierdie manne om siektes te genees, om vooruit te sien hoe jagtogte en oeste sal afloop en om ander toekomstige gebeure te voorspel.

Sal dit verdwyn?

Die wêreld van die Amasonebewoners krimp vinnig. Nuwe hoofpaaie deurkruis die woud. Plase en kokaverbouing verswelg groot dele van die oerwoud. Onwettige houtkappery ontbos groot dele daarvan en vernietig elke dag ’n gebied so groot soos 1 200 sokkervelde! Selfs die waterweë word benadeel omdat wettige mynbedrywighede en onwettige kokaïenproduksie die sytakke besoedel wat die Amasonerivier voed.

Ja, die afgesonderde bewoners van die Amasone voel die uitwerking daarvan om in ’n tydperk te lewe wat volgens Bybelprofesie “kritieke tye sal wees wat moeilik is om deur te kom” (2 Timoteus 3:1-5). Is die Amasone gedoem tot algehele vernietiging? Die Bybel bied die versekering dat dit nie die geval is nie. Onder die heerskappy van God se Koninkryk sal die ganse aarde in ’n paradys omskep word, soos ons Skepper dit wou hê.—Jesaja 35:1, 2; 2 Petrus 3:13.

[Prent op bladsy 16]

Amasonerivier

[Prent op bladsy 17]

Die Aguarunas aanbid vyf verskillende gode

[Prent op bladsy 17]

Inboorlingvroue van Lamas

[Prent op bladsy 18, 19]

’n Inboorling van die Amasone gebruik ’n blaaspyp om pyltjies te skiet

[Erkenning]

© Renzo Uccelli/PromPerú

[Prent op bladsy 18]

Tipiese huis in ’n dorpie

[Prent op bladsy 19]

’n Gebied so groot soos 1 200 sokkervelde word elke dag onwettig ontbos

[Erkenning]

© José Enrique Molina/age fotostock

[Foto-erkenning op bladsy 16]

© Alfredo Maiquez/age fotostock

[Foto-erkennings op bladsy 17]

Bo: © Terra Incógnita/PromPerú; onder: © Walter Silvera/PromPerú

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel