Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g97 3/22 bl. 10-13
  • ’n Soeke na oplossings

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • ’n Soeke na oplossings
  • Ontwaak!—1997
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die nie-so-groen-revolusie
  • Drie positiewe stappe
  • Doen beleggings
  • Die woud vir die bome
  • ’n Tweede lewe vir verwoeste grond
  • Hoe om reguit te maak wat krom is
  • Verligte tye op hande
  • Skaduwees oor die reënwoud
    Ontwaak!—1997
  • Die verkragting van die reënwoude
    Ontwaak!—1998
  • Die vergroening van die Amasonewoud
    Ontwaak!—2000
  • Die wonderlike verskeidenheid van lewe in die Bo-Amasone
    Ontwaak!—2010
Sien nog
Ontwaak!—1997
g97 3/22 bl. 10-13

’n Soeke na oplossings

“TERWYL ons oor die skaduwee redeneer”, het die Engelse skrywer John Lyly geskryf, “sien ons die werklikheid oor die hoof.” As ons daardie valstrik wil vermy, moet ons inderdaad in gedagte hou dat hedendaagse skaduwees oor die reënwoud bloot weerkaatsings van dieperliggende probleme is en dat woudvernietiging sal voortgaan tensy aandag aan die grondoorsake gegee word. Wat is daardie oorsake? Die “fundamentele kragte wat die Amasone se voortbestaan aanval”, sê ’n VN-ondersteunde studie, is “armoede en mense se onregverdighede”.

Die nie-so-groen-revolusie

Woudvernietiging, voer party navorsers aan, is deels ’n newe-effek van die sogenaamde groen revolusie wat ’n paar dekades gelede in die suidelike en sentrale deel van Brasilië aan die gang gesit is. Voor daardie tyd het duisende kleinboere ’n bestaan gemaak deur rys, bone en aartappels te kweek en dan ook nog vee te teel. Toe het grootskaalse, gemeganiseerde bedrywe vir die kweek van sojabone asook hidro-elektriese projekte hulle landerye oorgeneem en koeie en plaaslike gewasse met landbouprodukte vervang om die nywerheidslande te voed. Tussen 1966 en 1979 alleen het landbougrond wat vir uitvoergewasse opsy gesit is met 182 persent toegeneem. Gevolglik het 11 uit elke 12 tradisionele boere hulle landerye en lewensonderhoud verloor. Vir hulle het die groen revolusie ’n sombere revolusie geword.

Waarheen kon hierdie boere, wat nou sonder grond was, gaan? Politici, wat nie bereid was om die onregverdige verdeling van grond in hulle eie gebied te hanteer nie, het hulle die oplossing gebied deur die Amasonegebied aan te beveel as “grond sonder mense vir mense sonder grond”. Binne ’n dekade ná die opening van die eerste Amasone-hoofweg het meer as tweemiljoen arm boere uit die suide van Brasilië en droogtegeteisterde en armoedige gebiede in noordoostelike Brasilië hulle in duisende plakkershuise langs die hoofweg gevestig. Toe meer paaie aangelê is, het meer voornemende boere na die Amasone gereis, gereed om die woud in landbougrond te omskep. Terwyl navorsers terugkyk op hierdie kolonisasieprogramme, sê hulle dat “die balansstaat van bykans 50 jaar van kolonisasie negatief is”. Armoede en ongeregtigheid is “na die Amasone gestuur” en ook “nuwe probleme is in die Amasonegebied geskep”.

Drie positiewe stappe

Ten einde werk te maak van die oorsake van ontbossing en die mens se lewensomstandighede in die Amasonereënwoud te verbeter, het die Kommissie vir Ontwikkeling en Omgewingsake vir die Amasonegebied ’n dokument uitgegee wat, onder andere, aanbeveel dat die regerings in die Amasonebekken drie aanvangstappe doen. (1) Pak die ekonomiese en maatskaplike probleme in die armoedige gebiede buite die Amasonereënwoud aan. (2) Gebruik die gevestigde woud en herbenut die gebiede wat reeds ontbos is. (3) Gee aandag aan die samelewing se ernstige onregverdighede—die werklike oorsake van mense se ellende en woudvernietiging. Kom ons beskou hierdie drie-stap-benadering van naderby.

Doen beleggings

Gee aandag aan sosio-ekonomiese probleme. “Een van die doeltreffendste maniere om ontbossing te verminder”, sê die kommissie, “is om te belê in ’n paar van die armste gebiede in die Amasonelande, dié wat bevolkings noodsaak om na die Amasone te verhuis om na ’n beter toekoms te soek.” Die kommissielede voeg egter by dat “hierdie opsie skaars oorweeg word in lande of streke se ontwikkelingsplanne of deur diegene in die nywerheidslande wat skerp verlagings in die tempo van Amasone-ontbossing voorstaan”. Maar, verduidelik die owerhede, as staatsamptenare en besorgde buitelandse regerings hulle vakkundigheid en geldelike ondersteuning gebruik om probleme soos ontoereikende landverdeling of stedelike armoede in die Amasone se omliggende gebiede op te los, sal hulle die toevloei van boere na die Amasone vertraag en die woud help red.

Wat kan egter gedoen word vir kleinboere wat reeds in die Amasone woon? Hulle daaglikse voortbestaan hang af van die kweek van gewasse in grond wat nie vir landbou geskik is nie.

Die woud vir die bome

Gebruik en herbenut die woud. “Tropiese woude word oorbewerk maar swak benut. Hulle voortbestaan hang van hierdie skynbare teenstrydigheid af”, sê The Disappearing Forests, ’n VN-publikasie. Die mens moenie die woud misbruik deur dit uit te kap nie, sê die deskundiges, maar moet eerder die woud benut deur sy produkte, soos vrugte, neute, olie, rubber, geursels, geneeskragtige plante en ander natuurprodukte, te oes. Na bewering verteenwoordig sulke produkte “ongeveer 90 persent van die ekonomiese waarde van die woud”.

Doug Daly, van die New York- Botaniese Tuin, verduidelik waarom hy dink dit maak sin om van woudvernietiging na woudbenutting oor te gaan: “Dit paai die regering—hulle sien nie hoe groot dele van die Amasone van die mark af weggeneem word nie. . . . Dit sal mense aan die lewe kan hou, en dit bewaar die woud. Dit is nogal moeilik om iets negatiefs te kry om daaroor te sê.”—Wildlife Conservation.

As die woud ter wille van die bome ongesteurd gelaat word, verbeter dit eintlik die lewensomstandighede van die woudbewoners. Navorsers in Belém, in die noorde van Brasilië, het byvoorbeeld bereken dat dit ’n wins van slegs R120 per jaar oplewer as ’n hektaar grond in weiveld omskep word. As ’n man dus net Brasilië se maandelikse minimum loon wil verdien, sal hy 48 hektaar weiveld en 16 beeste nodig hê. Veja berig dat ’n voornemende veeboer baie meer geld kan verdien as hy aftreksels van die woud se natuurprodukte maak. En die omvang van produkte wat reg staan om ingesamel te word, is verbasend, sê bioloog Charles Clement. “Daar is tientalle groentegewasse, honderde vrugtegewasse, gom en olies wat beheer en geoes kan word”, voeg dr. Clement by. “Maar die probleem is dat die mens moet leer dat die woud die bron van rykdom is en nie ’n belemmering om ryk te word nie.”

’n Tweede lewe vir verwoeste grond

Ekonomiese ontwikkeling en omgewingsbewaring kan saam toegepas word, sê João Ferraz, ’n Brasiliaanse navorser. “Kyk na die groot deel van die woud wat reeds vernietig is. Daar is geen rede om meer van die ongerepte woud uit te kap nie. Ons kan eerder die dele wat reeds ontbos en verswak is, herwin en herbenut.” En in die Amasonestreek is daar genoeg verswakte grond om te herwin.

Sedert die laat sestigerjare het die regering groot subsidies gegee om groot beleggers aan te moedig om die woud in weivelde te verander. Hulle het dit gedoen, maar soos dr. Ferraz verduidelik “was die weiveld na ses jaar in ’n verswakte toestand. Later, toe almal besef het dat dit ’n groot fout was, het die groot grondeienaars gesê: ‘Goed, ons het genoeg geld van die regering ontvang’, en hulle het vertrek.” Die gevolg? “Ongeveer 80 000 vierkante myl [200 000 vk. km] verlate weiveld is besig om te verdor.”

Vandag vind navorsers soos Ferraz egter nuwe gebruike vir hierdie verswakte grond. In watter opsig? ’n Paar jaar gelede het hulle 320 000 saailinge van die Amasoneneutboom op ’n verlate veeplaas geplant. Vandag is daardie saailinge bome wat vrugte dra. Aangesien die bome vinnig groei en ook waardevolle hout voorsien, word Amasoneneutsaailinge nou op ontboste grond in verskeie dele van die Amasonebekken geplant. Om produkte te oes, boere op te lei om standhoudende gewasse te plant, metodes aan te wend om hout te versamel sonder om die woude te beskadig en verswakte grond te herwin, is volgens deskundiges ingeligte alternatiewe wat die woud behoue kan laat bly.—Sien die venster “Werk vir behoud”.

En tog, sê beamptes, vereis dit meer as net die verandering van verswakte grond om die woude te red. Dit verg ’n verandering in die menslike natuur.

Hoe om reguit te maak wat krom is

Gee aandag aan onregverdighede. Onredelike mensegedrag wat die regte van ander skend, word dikwels deur gierigheid veroorsaak. En, soos die eertydse filosoof Seneka gesê het, “vir gierigheid is die hele natuur te min”—met inbegrip van die uitgestrekte Amasonereënwoud.

In teenstelling met die Amasone se arm, sukkelende boere is nyweraars en eienaars van groot landstreke besig om die woud kaal te stroop om hulle eie beurse vol te stop. Owerhede wys daarop dat Westerse lande eweneens blameer moet word vir die feit dat hulle in groot mate hand bysit om die kettingsae in die Amasone te laat werk. ’n Groep Duitse navorsers het tot die slotsom gekom dat “die ryk nywerheidslande grotendeels die oorsaak is van die omgewingskade wat reeds aangerig is”. Die Kommissie vir Ontwikkeling en Omgewingsake vir die Amasonegebied sê dat die behoud van die Amasone niks minder vereis nie as “’n nuwe wêreldetiek, ’n etiek wat ’n verbeterde ontwikkelingstyl sal voortbring en wat op menslike samehorigheid en regverdigheid gegrond is”.

Maar voortdurende rookwolke oor die Amasone herinner ’n mens aan die feit dat dit, ondanks die pogings van omgewingsbewuste mans en vrouens regoor die wêreld, blykbaar net so moeilik is om ingeligte idees ’n werklikheid te maak as wat dit is om rook te vang. Waarom?

Die wortels van verdorwenhede, soos gierigheid, het diep in die struktuur van die menslike samelewing ingedring, baie dieper as wat die wortels van die Amasonebome in die woudgrond ingedring het. Hoewel ons persoonlik moet doen wat ons kan om tot die behoud van die woud by te dra, is dit nie realisties om te verwag dat mense, al is hulle hoe opreg, daarin sal slaag om die diep en ingewikkelde oorsake van woudvernietiging te ontwortel nie. Wat eertydse koning Salomo, ’n wyse waarnemer van die menslike natuur, ongeveer drieduisend jaar gelede gesê het, is steeds waar. “Wat krom is, kan nie reguit word” deur mensepogings alleen nie (Prediker 1:15). Dit stem ooreen met die Portugese gesegde: “O pau que nasce torto, morre torto” (Die boom met ’n krom begin, sterf krom). Maar die reënwoude regoor die wêreld het ’n toekoms. Waarom?

Verligte tye op hande

Die Brasiliaanse skrywer Euclides da Cunha was om en by honderd jaar gelede so beïndruk deur die Amasone se groot oorvloed van lewensvorme dat hy die woud beskryf het as “’n ongepubliseerde en hedendaagse bladsy van Genesis”. En hoewel die mens besig is om daardie “bladsy” te beklad en te skeur, is die gevestigde Amasone steeds, soos die verslag Amazonia Without Myths sê, “’n nostalgiese simbool van die aarde soos dit ten tye van die Skepping was”. Maar hoe lank nog?

Dink hieraan: Die Amasonereënwoud en die wêreld se ander reënwoude lewer bewys van “’n buitengewone intelligensie”, soos Da Cunha dit gestel het. Die woud se bome maak, van hulle wortels tot hulle blare, bekend dat hulle die handewerk van ’n meesterargitek is. Aangesien dit die geval is, ontstaan die vraag of hierdie Groot Argitek dan gierige mense sal toelaat om die reënwoude te vernietig en die aarde te verderf. ’n Bybelprofesie beantwoord hierdie vraag met ’n besliste nee! Dit lui: “Die nasies se gramskap het ontvlam, en u [God se] eie gramskap het gekom, en die vasgestelde tyd . . . om die verderwers van die aarde te verderf.”—Openbaring 11:18.

Let egter op dat hierdie profesie vir ons sê dat die Skepper nie net reg tot die kern van die probleem sal deurdring deur gierige mense te vernietig nie, maar dit ook in ons tyd sal doen. Waarom kan ons hierdie stelling maak? Wel, die profesie sê dat God begin optree op ’n tydstip wanneer die mens die aarde “verderf”. Toe daardie woorde bykans tweeduisend jaar gelede opgeteken is, het die mens nie oor die getalle of die middele beskik om dit te doen nie. Maar die situasie het verander. “Vandag, vir die eerste keer in sy geskiedenis”, sê die boek Protecting the Tropical Forests—A High-Priority International Task, “is die mens by magte om die grondslae van sy eie voortbestaan te vernietig, nie net in individuele gebiede of sektore nie, maar op ’n wêreldskaal.”

“Die vasgestelde tyd” wanneer die Skepper sal optree teen “die verderwers van die aarde” is op hande. Die Amasonereënwoud en ander bedreigde omgewings op aarde het ’n toekoms. Die Skepper sal daarvoor sorg—en dit is nie ’n mite nie, maar ’n werklikheid.

[Venster op bladsy 13]

Werk vir behoud

In ’n gebied van bykans 400 000 vierkante meter welige sekondêre woud in die sentrale Amasonestad, Manaus, is die verskillende kantore van Brasilië se Nasionale Instituut vir Navorsing in die Amasone, of INPA, geleë. Hierdie instituut, wat 42 jaar oud is en 13 verskillende departemente het wat alles van ekologie tot bosbou tot mensegesondheid dek, is die gebied se grootste navorsingsorganisasie. Dit bevat ook een van die wêreld se rykste versamelings van die Amasone se plante, visse, reptiele, amfibieë, soogdiere, voëls en insekte. Die werk van die instituut se 280 navorsers dra daartoe by dat mense ’n beter begrip van die ingewikkelde wisselwerkings van die Amasone se ekosisteme verkry. Besoekers aan die instituut gaan weg met ’n gevoel van optimisme. Ondanks burokratiese en politieke beperkings het Brasiliaanse en buitelandse wetenskaplikes moue opgerol om hulle te beywer vir die behoud van die kroonjuweel van die wêreld se reënwoude—die Amasone.

[Prent op bladsy 10]

Pad deur houtkappery uit die woud gekap

[Prente op bladsy 11]

Produkte uit die reënwoud: vrugte, neute, olie, rubber en baie meer

[Erkenning]

J. van Leeuwen, INPA-CPCA, Manaus, Brasilië

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel