Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g 7/10 bl. 4-6
  • “Moet jou nie oor môre bekommer nie”

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • “Moet jou nie oor môre bekommer nie”
  • Ontwaak!—2010
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Identifiseer jou vrese
  • Kweek vergenoegdheid aan
  • “Ons moet jou laat gaan”
    Ontwaak!—2010
  • Matteus 6:34 – “Moet julle . . . nie oor môre bekommer nie”
    Verduidelikings van Bybelverse
  • Lewe met môre in gedagte
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2007
  • Ek vind vertroosting in “’n dal van doodskaduwee”
    Ontwaak!—1998
Sien nog
Ontwaak!—2010
g 7/10 bl. 4-6

“Moet jou nie oor môre bekommer nie”

Renée het breekpunt bereik. Haar man, Matthew, was al meer as drie jaar lank sonder ’n vaste werk. “Ek het innerlik ontplof”, sê Renée. “Die feit dat ek nie geweet het wat om te verwag nie, het my so mismoedig gemaak!” Matthew het sy vrou probeer gerusstel deur te verduidelik dat daar nog altyd in hulle behoeftes voorsien is. “Maar jy het nog steeds nie ’n werk nie!” het Renée geantwoord. “Ons het ’n inkomste nodig!”

AS ’N mens jou werk verloor, veroorsaak dit uiteraard benoudheid. ‘Hoe lank sal ek sonder werk wees?’ wonder die werklose persoon. ‘Hoe kan ons intussen die pot aan die kook hou?’

Hoewel dit normaal is om hieroor besorg te wees, het Jesus Christus realistiese raad gegee wat benoudheid kan verminder. Hy het gesê: “Moet jou nie oor môre bekommer nie . . . Elke dag het genoeg van sy eie probleme.”—Matteus 6:34, The New Jerusalem Bible.

Identifiseer jou vrese

Jesus het nie gesê dat ons moet maak asof ons probleem nie bestaan nie. Maar om jou te bekommer oor wat dalk môre sal gebeur, sal net vandag se emosionele vrag swaarder maak. Om eerlik te wees, ons het min beheer oor wat dalk môre sal gebeur, hetsy goed of sleg. Maar ons kan maatreëls tref om wat vandag gebeur, die hoof te bied.

Is dit makliker gesê as gedaan? Beslis! Rebekah, wie se man sy werk van 12 jaar verloor het, sê: “Wanneer jou emosies so intens is, is dit moeilik om logies oor dinge te dink. Maar ons moes. Ek het dus probeer om my denke te beheers. Toe die dinge wat ek die meeste gevrees het, nooit gebeur het nie, het ek besef dat dit nie help om jou te bekommer nie. Deur te fokus op vandag en vandag se probleme, het ons allerhande soorte spanning verwyder.”

Vra jou af: ‘Wat is my grootste vrees? Hoe waarskynlik is dit dat hierdie vrees ’n werklikheid sal word? Hoeveel energie bestee ek daaraan om my te bekommer oor dinge wat dalk nie sal gebeur nie?’

Kweek vergenoegdheid aan

Ons beskouing kan ’n uitwerking op ons emosies hê. Die Bybel spoor ons dus aan om hierdie geestesgesindheid te hê: “As ons dan voedsel, klere en onderdak het, sal ons met hierdie dinge tevrede wees” (1 Timoteus 6:8). Om vergenoeg te wees, beteken om die dinge wat ons wil hê, te beperk en tevrede te wees as daar in ons daaglikse behoeftes voorsien word. As jy jou begeerte na nog besittings probeer bevredig, sal dit net jou pogings om jou lewe te vereenvoudig, in die wiele ry.—Markus 4:19.

Renée het dit reggekry om vergenoegdheid aan te kweek nadat sy realisties na haar situasie gekyk het. Sy sê: “Ons was nog nooit sonder elektrisiteit of verhitting nie, en ons is ook nooit op straat gesit nie. Die eintlike probleem was dat ons nie daaraan gewoond was om so te lewe nie, en my onrealistiese begeerte om ons vorige lewenswyse te handhaaf, het my benoudheid net vererger.”

Renée het gou besef dat dit haar beskouing was—nie haar omstandighede nie—wat dinge ondraaglik laat lyk het. “Ek moes die werklikheid van ons situasie onder die oë sien en nie tob oor hoe ek wou hê dit moet wees nie”, sê sy. “Toe ek geleer het om vergenoeg te wees met wat God elke dag voorsien het, het ek gevind dat ek baie gelukkiger is.”

Vra jou af: ‘Is daar in my behoeftes vir vandag voorsien? Kan ek, as dit die geval is, een dag op ’n slag neem in die vertroue dat daar ook môre in my behoeftes voorsien sal word?’

As ’n mens die uitdaging om met minder klaar te kom, die hoof wil bied, moet jy eerstens die regte beskouing hê.a Maar watter praktiese stappe kan jy doen wanneer jou inkomste weens werkloosheid gekrimp het?

[Voetnoot]

a Vir meer inligting oor hoe om ’n werk te kry en dit te behou, sien die Ontwaak! van 8 Julie 2005, bladsye 3-11.

[Venster op bladsy 5]

Volharding word beloon!

Nadat Fred weke lank tevergeefs na werk gesoek het, het hy gevoel dat alle moontlikhede uitgeput was. “Dit was soos om by ’n bushalte te wag dat iemand jou kom haal, maar niemand daag op nie”, sê hy. Fred het besluit om beheer te neem van die een ding wat hy kon beheer—sy eie dade. Hy het sy CV gestuur na enige maatskappy wat gelyk het of hulle enigsins van sy vaardighede gebruik kon maak. Hy het alle terugvoering opgevolg en deeglik vir elke onderhoud voorberei, vol vertroue dat “die planne van die vlytige . . . gewis tot voordeel [lei]” (Spreuke 21:5). Fred sê: “By een maatskappy is daar twee onderhoude met my gevoer waartydens topbestuurders my met vrae bestook het.” Maar Fred se volharding is beloon. “Ek is aangestel!” sê hy.

[Venster/Prent op bladsy 6]

Iets belangrikers as ’n inkomste

Wat is belangriker—jou sedelike karakter of jou inkomste? Kyk na twee Bybelspreuke.

“Die arme wat in sy onkreukbaarheid wandel, is beter as iemand wat verdorwe is in sy weë, hoewel hy ryk is.”—Spreuke 28:6.

“’n Bak groente waar daar liefde is, is beter as ’n vetgemaakte bul en haat daarby.”—Spreuke 15:17.

Dit is duidelik dat ’n persoon se sedelike onkreukbaarheid en waarde nie deur ’n verlies aan inkomste verlaag word nie. Toe Renée se man dus sy werk verloor het, het sy vir haar kinders gesê: “Baie pa’s het hulle gesin verlaat. Maar julle pa is nog hier vir julle. Julle weet hoe lief hy vir julle is en hoe hy julle deur al julle probleme gehelp het. Julle kon nie vir ’n beter pa gevra het nie!”

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel