Ek het die beste wedloop in my lewe betree
Soos vertel deur Karl-Erik Bergman
Dit was vir my opwindend om vinnig te hardloop. Ek het ’n natuurlike talent gehad, en daarom het naellope die belangrikste ding in my lewe geword.
IN 1972, toe ek 17 was, het ek by ’n sportklub aangesluit. Ek het weldra besef hoeveel werk vir my voorgelê het as ek ’n topatleet wou word. Natuurlike talent is nie genoeg om ’n kampioennaelloper te word nie. Maar ek was reg vir die werk.
Toe ek 22 was, het ek die nasionale span van Finland gehaal. Die volgende jaar het ek in die 100-meter-naelloop die beste gemiddelde tyd onder al die atlete in Finland behaal. Beserings aan my haksening en dyspiere het egter gekeer dat ek my potensiaal bereik. Maar my entoesiasme vir wedlope was so groot dat ek belowende atlete begin afrig het. In 1982 het ek beplan om na Kalifornië in die Verenigde State te trek om aan ’n universiteit te studeer en, in ’n gunstiger klimaat, ’n sportloopbaan na te streef. Ek het selfs ’n vliegtuigkaartjie gekoop.
Wat my lewe verander het
Een aand, kort voordat ek na Kalifornië sou vertrek, het my deurklokkie gelui. Toe ek die deur oopmaak, het twee vroue, Jehovah se Getuies, daar gestaan. Hulle was baie kalm en beheers, eienskappe wat ’n mens in ’n atleet wil sien. Ek het hulle ingenooi, en ons het gaan sit en gesels. Ná ’n insiggewende bespreking het hulle die boek Jy kan vir ewig in die Paradys op aarde lewea by my gelaat. Ek het dit begin lees. Toe ek omtrent halfpad was, het ek besef dat wat daarin staan, die waarheid is. Die vroue het teruggekom, en ek het hulle gevra hoe ek een van Jehovah se Getuies kan word. Hulle het gesê dat ek ’n Bybelstudie nodig het.
Ek het nie net ’n persoonlike Bybelstudie aanvaar nie, maar het ook vergaderinge van die Getuies begin bywoon by die Koninkryksaal in Vantaa, waar ek gewoon het. Ek het gesien dat die dinge wat hulle daar leer, op die Bybel gebaseer is. Trouens, die Bybelwaarhede wat ek geleer het, het my beskouing van wat werklik belangrik is in die lewe, geleidelik begin verander. Ek het dus na die reisagentskap gegaan en my vliegtuigkaartjie gekanselleer. Ek het deel van die geld gebruik om ’n pak klere vir die vergaderinge en ’n aktetas vir my Bybel en Bybellektuur te koop. In 1983 is ek by ’n streekbyeenkoms in Helsinki as een van Jehovah se Getuies gedoop.
Ander atlete volg my voorbeeld
Ek het my vriende entoesiasties vertel van die Bybelwaarhede wat ek geleer het. Ongeloof was hulle onmiddellike reaksie. Trouens, kort voor lank het gerugte die ronde begin doen dat ek van my verstand af geraak het. Een vir een het my vriende my begin vermy. Ná my doop het ek mede-atlete by die baan raakgeloop, aangesien ek gereeld geoefen het om fiks te bly. Ons besprekings het hulle gehelp om te sien dat ek wel verander het, maar nie van my verstand af geraak het nie.
’n Paar van hierdie atlete het mettertyd besef dat wat ek gesê het, redelik is en dat dit die moeite werd is om te ondersoek. Hulle het opgemerk dat ek nie meer vuil taal gebruik en aggressief is nie. Van hulle wou meer van die Bybel leer. Ek het dit geniet om vir ander te wys dat die Bybel ’n Christen se lewe met ’n wedloop vergelyk. Ons is in die wedloop met die ewige lewe as prys.—2 Timoteus 2:5; 4:7, 8.
Ja, ware sin en geluk in die lewe word nie verkry deur atletiese prestasies nie, maar deur te doen wat ons Skepper behaag. My besprekings met ander atlete het party beweeg om hulle doelwitte weer te ondersoek, en ’n hele paar van hulle het die Bybelwaarhede wat my lewe verander het, aangeneem. Gelukkig het van hulle dieselfde ywer in hulle diens aan God getoon as wat hulle in atletiek getoon het.
Een van hulle was Yvonne, ’n begaafde 800-meter-atleet. Sy was in hierdie item die vinnigste vroue-atleet in Skandinawië en het Finland se nasionale rekord gehou. Sy het Finland met welslae by Europese atletiekbyeenkomste verteenwoordig. As gevolg van ons besprekings het Yvonne begin insien dat dit tevergeefs is om roem in vandag se wêreld na te streef. Sy het geleer, soos die Bybel sê, dat hierdie wêreld verbygaan, wat die weg sal baan vir God se nuwe wêreld.—1 Johannes 2:17.
Yvonne het kort voor lank ’n Bybelstudie aanvaar. Op dié stadium het sy uitgegaan met Jouko, ’n talentvolle lid van Finland se nasionale atletiekspan. Om die waarheid te sê, hy het Finland by atletiekbyeenkomste in Europa en by wêreldkampioenskappe verteenwoordig. Later het Yvonne en Jouko na die Verenigde State getrek om hulle atletiekloopbane voort te sit.
Terwyl hulle daar was, het Yvonne haar Bybelstudie voortgesit, en Jouko het by die studie aangesluit. Hy het dit gedoen om fout te vind en Yvonne tot besinning te bring. Stadig maar seker het Bybelwaarhede egter ook Jouko se hart bereik. Yvonne en Jouko het getrou en later hulle lewe aan God toegewy en dit deur waterdoop gesimboliseer. Vandag is hulle albei pioniers, oftewel voltydse bedienaars van Jehovah se Getuies.
Ek het ook ’n Bybelstudie begin met Barbro, ’n Finse kampioen in die 400 meter vir vroue. Sy het Finland kort tevore by Europese atletiekbyeenkomste verteenwoordig. Barbro en haar man, Jarmo, wat ’n paalspringer was, het toe na Swede verhuis. Barbro het haar Bybelstudie daar voortgesit, en Jarmo het by die studie aangesluit. Hulle was al twee op soek na ’n doel in die lewe, en nadat hulle Bybelwaarhede geleer het, is hulle in Swede gedoop. Later het Jarmo ’n fisioterapeut geword, en as ’n egpaar het hulle ywerig aan die bediening deelgeneem. Jarmo dien as ’n ouer man in die Christengemeente.
Dan was daar Heidi, ’n jong tiener wat ook ’n begaafde atleet was. As haar afrigter het ek opgelet dat sy in geestelike dinge belangstel. Ek het dus eendag met haar gesels oor wat die Bybel leer omtrent God se Koninkryk en die seëninge wat dit oor die aarde gaan bring. Ek het gevra: “Glo jy dat ons hierdie beloofde seëninge sal ondervind?”—Psalm 37:11, 29; Matteus 6:9, 10.
“Ja”, het sy geantwoord. Sy wou die Bybel studeer. Ek het dus gereël dat ’n Christensuster met haar studeer. Ná ’n paar jaar het ook Heidi haar toewyding aan God deur waterdoop gesimboliseer. Mettertyd het sy ’n pragtige geestelike vrou geword, en ons is getroud. Sy is ’n uitstekende metgesel en openbaar ’n vasbeslotenheid om God te dien—’n vasbeslotenheid wat haar ’n topatleet kon gemaak het as sy ’n atletiekloopbaan nagestreef het.
My jonger broer Peter, wat ook by sport betrokke was, was aanvanklik baie negatief oor die feit dat ek die Bybel begin studeer het. Toe het ek hom ’n Paradys op aarde-boek gegee. Later het hy na my toe gekom en gesê: “Ek het daardie boek begin lees, maar ek het nie alles verstaan nie. Kan jy my help?” Ek het gereël dat ’n ander Getuie met hom studeer, en nadat hy vier maande gestudeer het, is hy gedoop. Hy is later getroud, en sy vrou dien as ’n pionier.
Die wedloop duur voort
Voordat ek gedoop is, was dit al my doelwit om ’n sendeling te word. Kort nadat ek gedoop is, het ek as ’n pionier begin dien. Ek het besef dat ’n mens jou bes moet doen as jy in die wedloop om die lewe is. Ek en my vrou, Heidi, het aansoek gedoen vir Gilead, die sendingskool van Jehovah se Getuies in New York, en ons is in 1994 aanvaar. Ná ons graduering is ons na Letland gestuur, waar baie mense Russies praat.
Ná die ineenstorting van die Sowjetunie was baie mense ontnugter. Die Bybel was vroeër in twyfel getrek en selfs verbied, maar ons het gevind dat baie mense belangstel in wat dit sê. Om Russies te leer, was een van die grootste uitdagings waarvoor ek nog te staan gekom het. Maar ná ses jaar van sendingdiens in Letland, is ek aangestel om gemeentes van Jehovah se Getuies as ’n reisende opsiener te besoek en aan te moedig. Ek doen nog steeds hierdie werk saam met my getroue vrou.
Oor die jare heen kon ek baie mense “afrig” om vordering te maak in die wedloop om die lewe, “die werklike lewe” in God se nuwe wêreld (1 Timoteus 6:19). ’n Mens moet atlete verstaan as jy hulle wil afrig om hulle beste te lewer. Die afrigter moet hulle help om hulle sterk punte te ontwikkel en aan hulle swak punte te werk. Hy moet hulle inspireer om deur te druk en hulle volle potensiaal te bereik.
Ek was verbaas om te sien hoeveel ’n Christen en ’n atleet in gemeen het, soos die apostel Paulus in sy eerste brief aan die Korintiërs beklemtoon het. ’n Suksesvolle atleet konsentreer deurentyd op sy fisiese oefening en droom nie net van ’n oorwinning nie. Hy stel realistiese doelwitte en werk stelselmatig daaraan om dit te bereik. As hy van sy doelwit vergeet en ophou om dit na te streef, sal dit al die harde werk wat hy reeds gedoen het, tot niet maak. ’n Ware Christen moet eweneens sy oë op die einddoel gevestig hou.
’n Suksesvolle atleet bly ook by ’n streng oefenprogram en bly gedissiplineerd wanneer dit by sy dieet kom. Dieselfde geld vir ’n ware Christen. Hy voed hom nie met verdorwe leringe nie, want dit sou beteken dat hy deel het aan “die tafel van demone”, soos die apostel Paulus dit gestel het. Hy voed hom eerder met ryk geestelike voedsel wat God in sy Woord, die Bybel, voorsien (1 Korintiërs 10:21). Wat meer is, wanneer probleme ontstaan, bly ’n suksesvolle atleet positief. Hy erken sy foute en stel dit reg. “Die manier waarop ek hardloop, [is] nie onseker nie”, het Paulus geskryf. “Maar ek kasty my liggaam”, het hy gesê, om nie gediskwalifiseer te word nie.—1 Korintiërs 9:24-27.
Ek en my vrou geniet dit nog steeds om fisies fiks te bly deur gereeld by ’n gimnasium te oefen. Maar ons laat nie toe dat dit ons verhinder om Jehovah, wat die mens so wonderbaar gemaak het, te dien nie (Psalm 139:14). Saam hou ons ons oë gerig op die prys van “die werklike lewe”—“die toekomstige lewe” in God se nuwe wêreld.—1 Timoteus 4:8.
Nadat die apostel Paulus die “wolk van getuies” beskryf het wat in voor-Christelike tye gelewe het, het hy die aansporing gegee: “Laat ons ook elke gewig aflê en die sonde wat ons maklik verstrik, en laat ons die wedloop wat voor ons gestel is, met volharding hardloop” (Hebreërs 12:1). Daar is niks lonenders as om in hierdie wedloop te wees nie. Dit is omdat alle hardlopers wat dit voltooi, ewige seëninge sal ontvang.—2 Timoteus 4:7, 8.
[Voetnoot]
a Uitgegee deur Jehovah se Getuies, maar nou uit druk.
[Prent op bladsy 14]
In die middel-1980’s: Ek en Heidi, saam met Yvonne bo en Jouko en hulle dogter onder
[Prent op bladsy 15]
Vandag saam met Heidi in die bediening
[Prent op bladsy 15]
By die 2009-streekbyeenkoms van Jehovah se Getuies in Helsinki. Yvonne en Jouko aan ons linkerkant en Jarmo en Barbro aan ons regterkant
[Foto-erkenning op bladsy 12]
Published in Aamulehti 8/21/1979