Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g 10/10 bl. 10-12
  • Maak kennis met die alpemarmot

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Maak kennis met die alpemarmot
  • Ontwaak!—2010
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Samewerking en waaksaamheid
  • Maniere om koel te bly en lekker te slaap
  • ’n Onverwagse ontmoeting met marmotte
    Ontwaak!—2003
  • Die skoonheid van die Alpynse Nasionale Parke
    Ontwaak!—1997
  • Inhoudsopgawe
    Ontwaak!—2010
  • ’n Skuilplek teen die wind
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2002
Sien nog
Ontwaak!—2010
g 10/10 bl. 10-12

Maak kennis met die alpemarmot

’n Harde gefluit het deur die lug geklief. Dit het soos ’n seun geklink wat vir ’n vriend fluit—maar dit was baie harder. Die gefluit het oor die berghelling weergalm, wat dit moeilik gemaak het om te hoor waar dit vandaan kom. Toe het ek gesien hoe ’n klein harige knaagdier vinnig by ’n nabygeleë gat inskarrel. ’n Vinnige kykie in my gids het bevestig dat ek so pas ’n alpemarmot gesien en gehoor het.

GEDURENDE die volgende paar dae het ek hierdie harige knaagdiere beter leer ken. Ek het gesien op watter rotse hulle graag in die son sit, waar hulle hooftonnels is en hoe hulle in die onherbergsame omgewing bo die boomgrens aan die lewe bly.

Samewerking en waaksaamheid

Die lewe op die weivelde van die Alpe is nie maklik vir die marmot nie. Die winters is koud, en hulle habitat kan maande lank toegesneeu wees. Dan is daar ook roofdiere op land en in die lug wat vir hulle ’n bedreiging inhou. Die marmot se oorlewing hang dus af van samewerking, beplanning en waaksaamheid.

Marmotte doen baie dinge saam as ’n gesin en lewe gewoonlik in groepe wat bestaan uit ’n broeipaar en hulle nakomelinge. Elke gesin het verskeie tonnels—een dien as die gesin se woonplek en die ander voorsien skuiling wanneer gevaar dreig. Soms grawe marmotte hulle tonnels in skeure onder groot rotse. Vanaf hierdie “kastele” kan die marmotte gevaar van ver af sien aankom, en hulle kan hier luilekker in die son lê.

Higiëne is baie belangrik vir die marmot. ’n Aparte tonnel word as ’n toilet gebruik sodat die woonplek skoon gehou word. Aan die eindpunt van hulle hooftonnel maak marmotte ’n groot lêplek, wat hulle met gras uitvoer. Dit is ’n veilige plek waar die wyfie geboorte kan gee. Dit is ook ’n snoesige skuilplek waar die hele gesin tydens hulle lang winterslaap styf teen mekaar kan lê.

Die belangrikste gesinsverantwoordelikheid is seker om wag te staan. ’n Volwasse marmot hou wag terwyl ander gesinslede daar naby kos soek. Die marmot staan soms op sy agterpote sodat hy die omgewing goed kan bespied om te sien of daar enige gevaar dreig. Arende, jakkalse en mense is die alpemarmot se grootste vyande. As hy hulle of enige groot roofvoël gewaar, gee hy ’n alarmroep. Interessant genoeg, die alarmroep vir arende—die marmot se grootste geveerde vyand—kan maklik van ander onderskei word. Wanneer ’n alarmroep gehoor word, skarrel die marmotte vinnig na veiligheid. Binne ’n oogwink is al wat ’n marmot is, skoonveld!

Gehoorsaamheid is veral vir jong marmotte ’n saak van lewe en dood, want hulle is ’n gunstelingprooi vir goudarende. As daar ’n onmiddellike gevaar is, gaan skuil die wag ook in ’n nabygeleë gat. Dan, ná ’n paar minute, steek hy sy kop versigtig uit om te sien of die gevaar verby is.

Maniere om koel te bly en lekker te slaap

Op die hoë weivelde waar alpemarmotte leef, is daar oorgenoeg gras om te eet en is die klimaat in die somer gematig. As dit koud is, sal die marmotte op ’n rots in die son lê en bak. Hoë temperature skep groter probleme vir hulle, want hulle kan nie hulle “pelsjas” uittrek nie. Daarom is marmotte gewoonlik aktiewer vroeg in die oggend en laat in middag.

Slaaploosheid is beslis nie ’n probleem vir alpemarmotte nie; hulle winterslaap duur omtrent ses maande. ’n Verwante spesie, die groumarmot, se winterslaap kan tot nege maande duur. Gedurende sy winterslaap daal die alpemarmot se hartklop tot een of twee slae per minuut, en sy liggaamstemperatuur daal tot omtrent vyf grade Celsius. So ’n lang vastydperk verg natuurlik voorbereiding. Gedurende die somer en vroeë herfs eet die marmotte groot hoeveelhede kos om vetreserwes op te bou waarop hulle deur die lang winterslaap kan teer.

Jong marmotte is spelerig en jaag mekaar dikwels al in die rondte. Ek het gesien hoe ’n groep van drie jongelinge teen ’n grashelling afrol terwyl hulle al drie maak of hulle baklei. Jong sowel as ou marmotte groet mekaar deur hulle neuse teen mekaar te laat raak; gesinslede versorg mekaar se pelse en wanneer dit koud is, lê hulle styf teen mekaar om warm te bly.

Marmotte berei vir die toekoms voor en is op die uitkyk vir gevaar (Job 12:7). Miskien kan mensegesinne ’n paar lesse by hierdie knaagdiere leer.

[Lokteks op bladsy 11]

Die marmot dra by tot die bekoring van die weivelde van die Alpe, en hulle samewerking as gesin getuig van die wysheid van die Skepper.—Psalm 50:10

[Lokteks op bladsy 12]

’n Volwasse marmot hou wag terwyl ander gesinslede daar naby kos soek

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel