Aardbewing in Haïti—Geloof en liefde in aksie
Op Dinsdag 12 Januarie 2010, om 16:53, het Evelyn ’n gedreun gehoor soos dié van ’n groot vliegtuig wat opstyg, en die grond het begin skud. Naby haar het die betonbalke met harde geluide begin kraak, en geboue het ineengestort. Toe die geskud opgehou het, het Evelyn hoër op geklim sodat sy kon sien wat gebeur het. Sy het oral om haar mense hoor huil. ’n Wolk sementstof het bo Haïti se hoofstad, Port-au-Prince, opgestyg.
BINNE sekondes het huise, regeringsgeboue, banke, hospitale en skole ineengestort. Mense uit alle agtergronde—meer as 220 000—het gesterf. Sowat 300 000 is beseer.
Baie oorlewendes het stomgeslaan langs die oorblyfsels van hulle huis gesit. Ander het koorsagtig met hulle kaal hande deur die puin gegrawe om familielede en bure te red. Daar was nie krag nie, en dit het vinnig donker geword; gevolglik moes reddingswerkers flitse en kerse gebruik.
In die stad Jacmel was die 11-jarige Ralphendy vasgevang onder ’n gebou wat gedeeltelik ineengestort het. ’n Reddingspan in die stad het ure lank naarstiglik gewerk om hom te bevry. Herhaaldelike naskokke het hulle gedwing om op te hou omdat hulle bang was dat die gekraakte vloere bo hulle op hulle sou val. Philippe, ’n sendeling van Jehovah se Getuies, het geweier om op te gee en het later verduidelik: “Ek kon dit nie oor my hart kry om Ralphendy net te laat sterf nie.”
Philippe en drie ander het deur ’n nou opening onder die beskadigde gebou ingekom en stadig vorentoe gekruip tot waar Ralphendy gelê het, met sy voete onder die puin vasgepen. Van middernag af het hulle gewerk om die puin versigtig te verwyder. Met elke skudding het hulle die beton bokant hulle hoor skuif en kraak. Om vyfuur die oggend, meer as 12 uur ná die aardbewing, het hulle Ralphendy veilig daar uitgebring.
Ongelukkig was nie alle reddingspogings suksesvol nie. In die stad Léogâne, wat swaar getref is, het Roger en sy oudste seun, Clid, veilig uit hulle huis gekom wat ineengestort het. Sy jongste seun, Clarence, het gesterf. Roger se vrou, Clana, het nog gelewe en kon praat, maar haar kop was vasgepen onder die plafon, wat ingeval het. Roger en ’n vriend het hulle ingespan om haar te probeer bevry. “Maak gou!” het sy onder die puin gepleit. “Ek raak swak! Ek sukkel om asem te haal!” Drie uur later het ’n reddingspan opgedaag. Maar toe hulle haar uitlig, was sy reeds dood.
Woensdag 13 Januarie, Dag 2
Met dagbreek het die omvang van die verwoesting sigbaar geword. ’n Groot deel van Port-au-Prince het in puin gelê. Toe die nuus van die verwoesting die res van die wêreld begin bereik het, het noodlenigingsorganisasies en tallose onselfsugtige mense regoor die wêreld ingespring om te help. Vrywilligers by die takkantoor van Jehovah se Getuies in die Dominikaanse Republiek, omtrent 300 kilometer daarvandaan, het ook die aardbewing gevoel. Toe hulle uitvind dat die episentrum naby die digbevolkte Port-au-Prince was, waar omtrent ’n derde van Haïti se bevolking van negemiljoen woon, het die Dominikaanse Getuies onmiddellik noodleniging begin beplan.
Dit was byna 150 jaar sedert Haïti se laaste groot aardbewing plaasgevind het. Die meeste geboue in Haïti is dus gebou om die bevolking teen orkane en oorstromings te beskerm, nie teen aardbewings nie. Daarom was die meeste van die mure, wat met boublokke gebou is, asook die swaar betondakke nie opgewasse teen die skudding van 7,0 op die Richterskaal nie. Die takkantoor van Jehovah se Getuies in Haïti, wat in 1987 voltooi is, is egter ontwerp om aan aanvaarde boustandaarde vir aardbewingsgebiede te voldoen. Hoewel dit naby die oostelike rand van Port-au-Prince geleë is, het dit feitlik geen skade opgedoen nie.
Die takkantoor in Haïti het oornag in ’n besige noodlenigingsentrum verander. Aangesien internasionale kommunikasie via telefoon en e-pos onbetroubaar was, het personeellede twee keer na die grens van die Dominikaanse Republiek gery om berigte te stuur. Intussen het honderde slagoffers, baie met ernstige beserings, na Haïti se takkantoor gestroom. Baie ander is na die paar hospitale in die gebied geneem wat nog in werking was, maar dit was gou oorvol.
Oral om die hospitale het bloeiende en skreeuende slagoffers op die grond gelê. Tussen hulle was Marla, wat agt uur lank onder die puin van ’n gebou begrawe was. Sy kon nie haar bene voel of beweeg nie. Bure het haar uitgegrawe en na ’n hospitaal geneem, maar na watter een? Evan, ’n Getuiedokter wat vroeër uit die Dominikaanse Republiek gekom het, het haar gaan soek, hoewel hy net haar naam geken het.
Teen dié tyd het meer as 24 uur sedert die aardbewing verloop, en dit was weer nag. Evan het stilletjies gebid terwyl hy oor die dooie liggame buite een hospitaal geklim het en Marla se naam bly uitroep het. Uiteindelik het hy iemand hoor antwoord: “Ja!” Marla het met ’n stralende glimlag na hom opgekyk. Evan het verbaas gevra: “Waarom glimlag jy?” Sy het geantwoord: “Omdat ek nou saam met my geestelike broer is.” Evan kon sy trane nie inhou nie.
Donderdag 14 Januarie, Dag 3
Die wêreldhoofkwartier van Jehovah se Getuies, wat in die Verenigde State is—tesame met die takke in die Dominikaanse Republiek, Duitsland, Frankryk, Guadeloupe, Kanada, Martinique en elders—het noodlenigingspogings gekoördineer om die beskikbare materiaal, vervoer- en kommunikasiemiddele, fondse en mannekrag ten beste te benut. Altesaam 78 mediese deskundiges wat Jehovah se Getuies is, het kom help, asook baie ander vrywilligers. Teen halfdrie die oggend, het die eerste vragmotor van die Dominikaanse takkantoor na Haïti vertrek met 6 800 kilogram noodlenigingsvoorraad, wat kos, water, medisyne en ander materiaal ingesluit het.
Toe die besending later dieselfde oggend in Haïti aangekom het, het die personeel by die takkantoor die voorraad reggekry om versprei te word. Om te voorkom dat diewe die kos steel sodat hulle dit kan verkoop, het die noodlenigingswerkers die vrag so verpak dat ’n mens nie kon sien wat dit is nie. Vrywilligers het dag en nag gewerk om kos en ander voorraad in klein sakke vir gesinne en individue te verpak. Oor die volgende paar maande het Jehovah se Getuies uiteindelik meer as 450 000 kilogram geskenkte voorraad, insluitende meer as 400 000 etes, gratis versprei.
Vrydag 15 Januarie, Dag 4
Teen twaalfuur die middag het 19 mediese dokters, verpleegsters en ander mediese deskundiges wat Getuies is, uit die Dominikaanse Republiek en Guadeloupe in Haïti aangekom. Hulle het gou ’n noodhulpkliniek op die been gebring. Diegene wat daar behandel is, het beseerde kinders van ’n groot weeshuis ingesluit. Wat meer is, die Getuies het vir die weeshuis kos en seile vir skuiling gegee. “Ek is baie dankbaar teenoor Jehovah se Getuies”, sê Étienne, die hoof van die weeshuis. “Ek weet nie wat ons sonder hulle sou gedoen het nie.”
Verlore en toe gevind
Toe die aardbewing plaasgevind het, het die sewejarige Islande buitentoe gekyk en gesien hoe kragdrade breek en vonke oral spat. Binne die huis het die mure begin meegee, en vallende boublokke het haar been gebreek en haar ernstig beseer. Nadat sy uit die puin gelig is, het haar pa, Johnny, Islande net oor die Dominikaanse grens na ’n hospitaal geneem. Sy is na ’n hospitaal in die land se hoofstad, Santo Domingo, gevlieg. Maar toe Johnny later die hospitaal gebel het, was Islande nie daar nie.
Johnny het twee dae lank oral na Islande gesoek, maar sonder sukses. Sy is na ’n ander hospitaal geneem, waar ’n vrywilliger haar tot Jehovah hoor bid het (Psalm 83:18). “Is jy lief vir Jehovah?” het die vrywilliger gevra. “Ja”, het Islande deur die trane geantwoord. “Dan hoef jy nie bang te wees nie”, het die vrywilliger haar verseker. “Jehovah sal jou help.”
Johnny het die takkantoor van Jehovah se Getuies in die Dominikaanse Republiek gevra om hom te help om Islande op te spoor. ’n Getuie met die naam Melanie het aangebied om haar te soek. Toe Melanie by een hospitaal navraag gedoen het, het die vrywilliger wat Islande hoor bid het, die gesprek gehoor en haar gewys waar die dogtertjie is. Islande was gou weer met haar gesin verenig.
Operasies en rehabilitasie
Baie van die beseerdes het geen of min behandeling ontvang voordat hulle by die Getuies se kliniek by Haïti se takkantoor aangekom het, en hulle beseerde ledemate was reeds deur gangreen aangetas. Alte dikwels kon slegs ’n amputasie die pasiënt se lewe red. In die eerste dae ná die aardbewing was daar ’n tekort aan chirurgiese toerusting, medisyne en selfs verdowingsmiddels. Die situasie was selfs vir die dokters traumaties. Een het gesê: “Ek wens God wil van die dinge wat ek gesien en gehoor het, uit my geheue wis.”
In die tweede week ná die aardbewing het Getuiedokters uit Europa wat die ondervinding en toerusting gehad het om ingewikkelde en dringende operasies te doen, begin aankom. Die mediese span het 53 operasies gedoen sowel as duisende ander mediese behandelings. Wideline, ’n 23-jarige Getuie, het ’n dag voor die aardbewing in Port-au-Prince aangekom. Toe dit plaasgevind het, is haar regterarm vergruis, en dit moes in ’n plaaslike hospitaal afgesit word. Familielede het haar later na ’n hospitaal naby hulle huis in Port-de-Paix geneem, wat sewe uur daarvandaan is. Maar Wideline se toestand het versleg, en die hospitaalpersoneel het die stryd gewonne gegee.
’n Mediese span wat uit Getuies bestaan het, het van haar toestand te hore gekom en van Port-au-Prince af gereis om Wideline te behandel en haar vir verdere behandeling terug te bring. Toe die ander pasiënte sien dat haar geestelike broers haar kom haal, was daar ’n groot applous. Met die hulp van haar gesin en gemeente, pas Wideline nou goed by haar nuwe omstandighede aan.
In die Dominikaanse Republiek het Jehovah se Getuies huise gehuur om as rehabilitasiesentrums te dien vir pasiënte wat daarheen gestuur is. Spanne Getuievrywilligers—dokters, verpleegsters, fisioterapeute en ander versorgers—het beurte geneem om by hierdie sentrums te help. Hulle het met vreugde na die pasiënte omgesien terwyl hulle herstel het.
Geloof, hoop en liefde
Net 6 van die 56 Koninkryksale van Jehovah se Getuies in Haïti se aardbewingsone is aansienlik beskadig. Die meeste van die Getuies wat hulle huise in die aardbewing verloor het, het by die onbeskadigde sale of in ander oop areas gebly. Die Getuies, wat reeds daaraan gewoond was om saam te vergader, het sake georganiseer soos hulle dit vir een van hulle gereelde byeenkomste sou doen.
“Ons het volgehou met die gemeente se gereelde geestelike programme, wat vir jonk sowel as oud die nodige stabiliteit gegee het”, het Jean-Claude, ’n plaaslike opsiener van Jehovah se Getuies, verduidelik. Wat was die gevolg? “Ek is so bly om te sien dat Jehovah se Getuies nog steeds uitgaan en preek”, het een man gesê. “As ons julle nie gesien het nie, sou dit vir ons gevoel het asof dinge baie slegter is.”
Die Getuies het vertroosting gebring. “Byna almal wat ons ontmoet, glo dat die aardbewing ’n straf van God was”, het een Getuie verduidelik. “Ons verseker hulle dat die aardbewing ’n natuurramp was en nie deur God veroorsaak is nie. Ons wys vir hulle Genesis 18:25. Daar sê Abraham dat dit ondenkbaar is dat God goeie mense saam met die slegtes sou vernietig. Ons wys hulle ook Lukas 21:11. Daar het Jesus voorspel dat daar in hierdie tyd groot aardbewings sal wees, en ons verduidelik dat hy binnekort afgestorwe dierbares sal opwek en alle lyding sal verwyder. Baie mense spreek groot dankbaarheid uit vir hierdie kennis.”a
Maar daar is nog steeds uitdagings. “Ons het die eerste ramp gehad, die aardbewing. Nou moet ons die gevolge daarvan die hoof bied”, het Jean-Emmanuel, ’n Getuiedokter gesê. “Behalwe die risiko dat verskeie siektes in oorvol, onhigiëniese en reëndeurdrenkte kampe kan uitbreek, is daar die emosionele trauma wat onderdruk word, maar nie weggaan nie.”
Weke ná die aardbewing het ’n Getuie na die kliniek toe gekom en gekla dat hy gedurig hoofpyn kry en aan slapeloosheid ly, simptome wat dikwels deur slagoffers van ’n ramp ondervind word. “Het iets jou teen die kop getref?” het ’n Getuieverpleegster gevra. “Nee”, het hy gelate gesê. “My vrou, met wie ek 17 jaar getroud was, het gesterf. Maar ons verwag dat sulke dinge sal gebeur. Dis wat Jesus gesê het.”
Die verpleegster het die moontlike oorsaak van die probleem raakgesien en gesê: “Maar jy het jou lewensmaat verloor. Dis verskriklik! Daar’s niks fout daarmee om te treur, om te huil nie. Jesus het gehuil toe sy vriend Lasarus gesterf het.” Daarop het die bedroefde man in trane uitgebars.
Van die meer as 10 000 Getuies in die gebied het 154 as gevolg van die aardbewing gesterf. Meer as 92 persent van Port-au-Prince se inwoners het volgens skatting een of meer geliefdes in die ramp verloor. Om hierdie bedroefdes te help, het Jehovah se Getuies mense wat fisies en emosioneel getraumatiseer was, herhaaldelik besoek om hulle die geleentheid te gee om oor hulle gevoelens te praat met iemand wat hulle kan vertrou. Die bedroefde Getuies was reeds vertroud met die Bybel se belofte van ’n opstanding en ’n paradysaarde, maar hulle moes ook met empatieke mede-Christene oor hulle gevoelens praat en medelydende, aanmoedigende woorde hoor.
Huidige en toekomstige uitdagings
Die apostel Paulus het geskryf: “Nou bly geloof, hoop, liefde, hierdie drie; maar die grootste hiervan is die liefde” (1 Korintiërs 13:13). Hierdie eienskappe stel die Getuies in Haïti in staat om huidige omstandighede te verduur, ander aan te moedig en die toekoms sonder vrees tegemoet te gaan. Dit is duidelik dat ware geloof, eenheid en geneentheid die dryfveer agter die voortdurende internasionale noodleniging is. “Ek het nog nooit tevore soveel liefde gesien nie”, het Petra gesê, ’n Getuiedokter wat van Duitsland gekom het om te help. “Ek het baie gehuil, maar meer van vreugde as van pyn.”
The Wall Street Journal het gesê dat die aardbewing in 2010 in Haïti “in sekere opsigte die vernietigendste natuurramp is wat enige land nog ondervind het”. Maar sedert hierdie gebeurtenis het die wêreld nog tragiese rampe gesien, natuur- sowel as mensgemaakte rampe. Sal dit ooit tot ’n einde kom? Jehovah se Getuies in Haïti en regoor die wêreld is vol vertroue dat die dag binnekort sal aanbreek wanneer God hierdie Bybelbelofte sal vervul: “Hy sal elke traan van hulle oë afvee, en die dood sal daar nie meer wees nie, en ook verdriet en angsgeroep en pyn sal daar nie meer wees nie. Die vorige dinge het verbygegaan.”—Openbaring 21:4.
[Voetnoot]
a Sien hoofstuk 11, “Waarom laat God lyding toe?”, in die boek Wat leer die Bybel werklik?, uitgegee deur Jehovah se Getuies.
[Lokteks op bladsy 15]
“Ek kon dit nie oor my hart kry om Ralphendy net te laat sterf nie”
[Lokteks op bladsy 19]
“Ek is so bly om te sien dat Jehovah se Getuies nog steeds uitgaan en preek”
[Venster/Prente op bladsy 17]
HUISE VIR SLAGOFFERS
Binne ’n maand ná die aardbewing het siviele ingenieurs wat Getuies is, begin ondersoek watter huise veilig genoeg is sodat gesinne weer daarin kon woon. Baie wat hulle huise verloor het, het tydelike behuising nodig gehad totdat hulle ’n permanenter blyplek kon vind.
“Ons het gebruik gemaak van die ondervinding van internasionale noodlenigingsorganisasies om ’n goedkoop huis te ontwerp wat maklik aanmekaargesit kan word en omtrent so groot is soos hulle vorige huise”, verduidelik John, ’n personeellid by die takkantoor in Haïti. “Dit bied skuiling teen die reën en wind, sonder om ’n gevaar vir die gesin te wees as dit weens verdere skuddings ineenstort.” Slegs drie weke ná die aardbewing het ’n span Haïtiaanse en internasionale vrywilligers tydelike huise begin oprig.
Mense op straat het gejuig toe vragmotors met die voorafvervaardigde dele van hierdie huise verbygery het. Terwyl ’n Haïtiaanse doeanebeampte die boumateriale ingeklaar het, het hy gesê: “Jehovah se Getuies was onder die eerstes wat oor die grens gekom het om mense te help. Hulle sê nie net hulle sal help nie, hulle doen dit.” Reeds in die eerste paar maande ná die aardbewing het die Getuies 1 500 huise gebou vir diegene wat hulle huis verloor het.
[Kaart op bladsy 14]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
HAÏTI
PORT-AU-PRINCE
Léogâne
Episentrum
Jacmel
DOMINIKAANSE REPUBLIEK
[Prent op bladsy 16]
Marla
[Prent op bladsy 16]
Islande
[Prent op bladsy 16]
Wideline
[Prent op bladsy 18]
’n Groep van Jehovah se Getuies in Haïti op pad om vertroosting vir slagoffers van die ramp te bring
[Prent op bladsy 18]
’n Dokter behandel ’n seuntjie by die kliniek van Jehovah se Getuies