Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g 2/11 bl. 19-21
  • In hulle soeke na goud het hulle ’n tuiste gevind

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • In hulle soeke na goud het hulle ’n tuiste gevind
  • Ontwaak!—2011
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • “New Gold Mountain”
  • Harde werk op die goudvelde
  • Toe die goud opgeraak het
  • Die blywende aantrekkingskrag van goud
    Ontwaak!—2005
  • Goud—die geheimsinnige bekoring daarvan
    Ontwaak!—1998
  • Die goud wat berge versit het
    Ontwaak!—2001
  • Ons het ’n moordenaar se bom oorleef
    Ontwaak!—1992
Sien nog
Ontwaak!—2011
g 2/11 bl. 19-21

In hulle soeke na goud het hulle ’n tuiste gevind

“CHINATOWN”, soos Chinese buurte in baie stede regoor die wêreld genoem word, laat lewendige beelde van Chinese winkels, restaurante, feeste en draakdanse by mense opkom. Maar elke “Chinatown” het sy eie geskiedenis. Dié wat vandag in Australië is, het hulle ontstaan grootliks te danke aan vroeëre geslagte van onverskrokke Chinese immigrante wat na hierdie suidelike land gekom het, in die hoop om ryk te word in die pas ontdekte goudvelde.

“New Gold Mountain”

Die stroompie Chinese immigrante na Australië het in ’n vloedgolf verander toe goud in 1851 ontdek is. Duisende mans het die Pêrelrivierdelta in die Guangdong-provinsie van China verlaat om die moeilike seereis na die suide aan te pak. Goud is vroeër in Kalifornië, VSA, ontdek, en die Chinese wat Kantonnees gepraat het, het daardie goudvelde “Gold Mountain” genoem. Daarom is die Australiese goudvelde “New Gold Mountain” genoem.

Dit was nie net die vooruitsig om goud te vind wat die mans beweeg het om hulle vaderland te verlaat nie. China was geteister deur burgeroorlog, natuurrampe en armoede, wat tot baie swaarkry gelei het.

Ongelukkig het party van die pioniers wat na Australië op pad was, nooit daar uitgekom nie. Hulle het gesterf aan siektes wat gedurende die lang seereis deur die oorvol skepe versprei het. En die oorlewendes het allesbehalwe ’n maklike lewe gehad toe hulle uiteindelik die nuwe land bereik het.

Harde werk op die goudvelde

Eensaamheid het vir baie ’n permanente metgesel geword, want tradisie het vereis dat vrouens en kinders in China bly om hulle plek in die voorvaderlike geslagslys te behou. In 1861 het meer as 38 000 Chinese mans in Australië gewoon, maar net 11 Chinese vroue. Min was egter van plan om hulle daar te vestig. Die meeste was vasbeslote om met rykdom en eer na hulle tuiste en gesin terug te keer.

Hierdie ambisie het hulle aangevuur in hulle soeke na goud. Die mynwerkers het in tente gebly en ure lank in die warm son geswoeg en sweet. Aanvanklik was party weens sekere bygelowe bang om ondergronds te myn. Gevolglik het hulle begin deur op die oppervlak na goud te delf en te pan, en hulle het die gruis in houttroë gespoel. Hulle pogings het vrugte afgewerp. Verslae toon dat daar tussen 1854 en 1862 net minder as 18 660 kilogram goud wat in die staat Victoria gevind is, na China gestuur is.

Ongelukkig is van hierdie nuutgevonde rykdom verkwis op dobbelary en opiumverslawing—slegte gewoontes waarvoor die eensames makliker geswig het. Die gevolge was alte dikwels dat hulle gesondheid verwoes is en dat hulle inkomste sowel as die vooruitsig om terug te keer huis toe, daarmee heen was. Party het hulp van Chinese organisasies en van welwillende persone ontvang, maar ander het ontydig gesterf—verarm en alleen.

Die Chinese moes ook die jaloesie en agterdog van nie-Chinese mynwerkers verduur, wat die uitlanders as ’n hegte en suksesvolle mededingende myngemeenskap gesien het. Hierdie vyandigheid het oproere en aanvalle op Chinese tot gevolg gehad. Hulle goud is geplunder en hulle tente en lewensmiddele is verbrand. Hierdie vyandigheid het uiteindelik afgeneem. Nietemin het die Immigrasiebeperkingswet van 1901 die deur gesluit vir Asiate om na Australië te immigreer—’n deur wat eers weer in 1973 oopgemaak is.

Toe die goud opgeraak het

Toe die myne niks meer gelewer het nie, het party Chinese verkies om in Australië te bly. Gevolglik het dorpe wat tydens die goudstormloop ontstaan het, gesien hoe Chinese wasserye, restaurante en groenteplase opskiet. Die Chinese het ook ’n goeie naam verkry as meubelmakers en bemarkers van vars vrugte en groente. Teen die einde van die 19de eeu was daar dus Chinese gemeenskappe, of “Chinatowns”, in baie stede in Australië, insluitende Atherton, Brisbane, Broome, Cairns, Darwin, Melbourne, Sydney en Townsville.

Omdat min Chineesgebore vroue na Australië gekom het, het baie van die mans ongetroud gebly. Party het egter met Australiese vroue getrou, ondanks plaaslike vooroordeel teen sulke verbintenisse. Met verloop van tyd het die nageslag wat uit hierdie gemengde huwelike gebore is, heeltemal deel van die Australiese gemeenskap geword.

Vandag is daar meer Chinese immigrante in Australië as ooit tevore. Die meeste is op soek na hoër onderwys en sakegeleenthede. Wat meer is, die immigrante sluit nou baie vroue in. En as gevolg van veranderinge in die wêreldekonomie is dit nou ironies dat baie mans wat broodwinners is en hulle gesinne in Australië gevestig het, nou na Asië terugvlieg om in China, Hongkong, Singapoer of Taiwan te gaan werk.

Ja, tye het verander. Maar vir immigrante regoor die wêreld bly die basiese doelwitte feitlik dieselfde—hulle is op soek na sekuriteit en sukses in die buiteland.

[Venster/Prent op bladsy 20]

VERDER AS WAT HULLE GEDINK HET

Omdat Chinese passasiers nie hawebelasting wou betaal nie, het hulle langs die Australiese kus ver van groot hawens en honderde kilometers van die goudvelde af aan land gegaan. Robe, Suid-Australië, was een van hierdie plekke. Robe het ’n bevolking van tussen 100 en 200 gehad, en in 1857 het ten minste 12 000 Chinese binne net vyf maande daardeur getrek.

Met verstommende volharding en samewerking het honderde mans op ’n slag deur die yl bevolkte platteland na die goudvelde getrek. Maar dit was baie verder as wat hulle gedink het, en die reis het tot vyf weke geduur. Die immigrante het seegras vir die reis geoes en kangaroes en wombats op pad geëet. Hulle het ook putte gegrawe en ’n pad vir ander agtergelaat.

Die mans het tradisionele haarvlegsels en strooihoede gedra, en hulle het dikwels in ’n ry gehardloop terwyl hulle gesing het. Chinese muntstukke is al langs die roete gevind. Die nuwelinge het die geld weggegooi wanneer hulle uitgevind het dat dit in Australië waardeloos is.

[Erkenning]

Image H17071, State Library of Victoria

[Venster/Prent op bladsy 21]

IETS BETERS AS GOUD

Wayne Qu het as ’n omgewingswetenskaplike gewerk vir die Chinese Akademie vir die Wetenskappe. Om sy loopbaan te bevorder, het Wayne en sy vrou, Sue, in die 1990’s na Europa gegaan, waar hy verder gestudeer het. Terwyl hulle daar was, het die egpaar Jehovah se Getuies ontmoet, wat die Bybel met hulle bespreek het. In 2000 het Wayne en Sue na Australië getrek, waar albei hulle sekulêre studies voortgesit het—Sue het molekulêre biologie gestudeer. Hulle het ook hulle studie van die Bybel voortgesit.

Wayne verduidelik: “Ons het jare lank gestudeer om gevorderde universiteitsgrade te verkry. Maar ek het vir myself gesê: ‘Op die ou end word ons almal oud, word ons siek en sterf ons. Is dit die doel van die lewe?’ Dit het alles sinloos gelyk. Maar die Bybel het vir my en Sue logiese, bevredigende antwoorde op die lewe se belangrikste vrae gegee.

“Ons studie van die Bybel het ons ook ’n konsep laat ondersoek waaraan ons nooit voorheen gedink het nie—die bestaan van ’n Skepper. Ek het die Getuies se publikasie Lewe—Hoe het dit hier gekom? Deur evolusie of deur die skepping? asook ’n werk deur Charles Darwin oor evolusie gelees. Dít, tesame met my eie wetenskaplike navorsing, het my oortuig dat daar ’n Skepper is. Sue het tot dieselfde gevolgtrekking gekom.

“Nog iets wat ons oortuig het dat daar ’n God is, is die krag wat die Bybel het om lewens te verbeter. Ja, hierdie uitsonderlike boek het ons nie net ’n hoop vir die toekoms gegee nie, maar ook ware vriende en ’n sterker huwelik. Ek en Sue is in 2005 gedoop en is bly dat ons iets gevind het wat baie waardevoller is as hoër onderwys en ‘goud wat vergaan’.”—1 Petrus 1:7.

[Prent op bladsy 19]

Chinese goudmynwerker, 1860’s

[Foto-erkennings op bladsy 19]

“Chinatown” in Sydney: © ARCO/G Müller/age fotostock; goudmynwerker: John Oxley Library, Image 60526, State Library of Queensland

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel