Musiekinstrumente in eertydse Israel
MUSIEK was ’n onlosmaaklike deel van die kultuur in eertydse Israel. Trompette en horings is geblaas om mense byeen te roep vir aanbidding en om belangrike gebeurtenisse aan te kondig. Harpe en liere is gespeel om koninklikes te kalmeer (1 Samuel 16:14-23). Tromme, simbale en ratels is geslaan en geskud om vreugdevolle geleenthede te vier.—2 Samuel 6:5; 1 Kronieke 13:8.
Jubal, ’n nakomeling van Kain, word in die Bybel genoem as “die vader van almal wat op die harp en die fluit speel” (Genesis 4:21). Hy was moontlik die uitvinder van snaar- sowel as blaasinstrumente.
Die Bybel beskryf baie gebeurtenisse waarin musiek ’n rol gespeel het. Tog sê dit baie min oor die instrumente self. Maar geleerdes het met behulp van argeologiese ontdekkings en eertydse geskrifte probeer vasstel hoe eertydse musiekinstrumente gelyk en geklink het. Party van die gevolgtrekkings berus op gissings, maar kom ons kyk na ’n paar goed gedokumenteerde voorbeelde.
Tamboeryne, sistrums en simbale
Nadat God Moses en die Israeliete op wonderdadige wyse deur die Rooisee gelei het, het Moses se suster, Mirjam, tesame met “al die vroue” uitgegaan “met tamboeryne en in danse” (Eksodus 15:20). Hoewel daar geen tamboeryne wat uit Bybeltye dateer en wat lyk soos dié wat ons vandag ken, al opgegrawe is nie, is daar wel al eertydse kleifiguurtjies van vroue met klein handtromme gevind in plekke in Israel soos Agsib, Megiddo en Bet-Sean. Hierdie instrument, waarna daar dikwels in Bybelvertalings as ’n tamboeryn verwys word, was waarskynlik ’n eenvoudige houthoepel waaroor ’n dierevel gespan is.
In die tyd van die aartsvaders is tamboeryne tydens feesvieringe deur vroue bespeel, en sang en dans het daarmee gepaardgegaan. Die Bybel verduidelik dat die dogter van die Israelitiese leier Jefta hom “met tamboerynspel en gedans” tegemoetgekom het toe hy ná ’n belangrike oorwinning teruggekeer het huis toe. By een geleentheid het vroue Dawid se prestasies “met sang en danse” en “met tamboeryne” gevier.—Rigters 11:34; 1 Samuel 18:6, 7.
Toe koning Dawid die verbondsark na Jerusalem gebring het, het die volk “die geleentheid voor Jehovah gevier met allerhande instrumente van jenewerhout en met harpe en met snaarinstrumente en met tamboeryne en met sistrums en met simbale” (2 Samuel 6:5). Later het die tempel in Jerusalem sy eie orkes gehad, wat geoefende musikante ingesluit het wat simbale, trompette en harpe sowel as ander snaarinstrumente bespeel het.
Ons weet min of meer hoe tamboeryne gelyk het, maar wat was sistrums? Dit was klaarblyklik musikale ratels wat ’n klein ovaal metaalraam en ’n handvatsel gehad het. Wanneer dit geskud is, het dit skerp, tingelgeluide gemaak. Die Bybel meld sistrums net een keer. Dit is toe die verbondsark na Jerusalem geneem is. Maar volgens Joodse tradisie is die sistrum ook tydens droewige geleenthede gespeel.
Wat van eertydse simbale? Jy dink dalk aan groot metaalskywe wat teen mekaar geslaan word. Maar party simbale wat in eertydse Israel gebruik is, was net sowat tien sentimeter in deursnee, soortgelyk aan kastanjette, en het ’n klingelende geluid voortgebring.
Harpe en snaarinstrumente
Die kinnor, wat dikwels ’n “harp” of “lier” genoem word, was ’n algemene instrument in eertydse Israel. Dawid het dit bespeel om koning Saul te kalmeer (1 Samuel 16:16, 23). Geleerdes het ten minste 30 voorstellings van die lier wat gegrond is op afbeeldings wat op eertydse klipmure, muntstukke, mosaïeke, gedenkplate en seëls gevind is. Die vorm van die instrument het deur die eeue heen verander. Die speler het dit in sy arms vasgehou en dit met sy vingers of ’n plektrum bespeel.
Die nebel was soortgelyk aan die kinnor. Daar is onsekerheid omtrent hoeveel snare die nebel gehad het, hoe groot dit was en presies hoe dit bespeel is. Die meeste geleerdes is egter van mening dat die nebel sowel as die kinnor deur die musikant rondgedra kon word.
Trompette en horings
Moses is deur God beveel om twee trompette te maak. Dit moes van gedrewe, of uitgeslaande, silwer gemaak word (Numeri 10:2). Die priesters het dit gebruik om talle gebeurtenisse in verband met die tempel en verskeie feeste aan te kondig. Verskillende klanke is voortgebring afhangende van die doel daarvoor, onder andere ’n harde en uitgerekte klank of ’n korter trompetstoot. Daar is nog nie vasgestel hoe hierdie trompette werklik gelyk het nie, aangesien geen trompette uit Bybeltye al ontdek is nie. Ons het net kunstenaarsvoorstellings, soos dié wat gevind is op ’n vlakreliëf op die Titusboog in Rome.
Die horing, of sjofar, word meer as 70 keer in die Hebreeuse Geskrifte genoem. ’n Bok- of ramshoring is gebruik om hierdie instrument te maak. Volgens Joodse bronne het die horing twee vorme gehad—een was reguit met ’n goue mondstuk en die ander was krom en met silwer versier. Die horing is dikwels as ’n seininstrument gebruik omdat dit ’n hol klank van twee of drie toonhoogtes kon voortbring wat ver gehoor kon word.
In eertydse Israel is die horing gebruik om sekere godsdienstige gebeurtenisse, soos die begin en die einde van die Sabbat, aan te dui. Maar dit is ook op ander maniere gebruik—byvoorbeeld gedurende oorlogstyd. Ons kan ons net voorstel hoe vreesinboesemend die geluid van die 300 horings was net voordat Gideon se leër die Midianiete onverwags in die nag aangeval het.—Rigters 7:15-22.
Allerhande musiekinstrumente
Instrumente soos klokkies, fluite en luite is ook in Bybeltye gebruik. Jehovah se profeet Daniël, wat in eertydse Babilon in ballingskap was, het geskryf oor die orkes van koning Nebukadnesar van Babilon. Dit het die siter, die fluit en die doedelsak ingesluit.—Daniël 3:5, 7.
Hierdie vlugtige kykie na ’n paar van die instrumente wat in die Skrif genoem word, bevestig die feit dat musiek deel was van die alledaagse lewe in eertydse Israel en waarskynlik ook in ander eertydse beskawings. Musiek is in die koninklike hof en plekke van aanbidding sowel as in dorpies en huise gehoor.
[Prent op bladsy 15]
’n Sistrum is soos ’n ratel geskud
[Prent op bladsy 15]
Koning Dawid kon die harp goed bespeel
[Prent op bladsy 15]
Die tamboeryn is sedert die tyd van die aartsvaders gebruik
[Prent op bladsy 15]
Die trompet is gebruik om talle gebeurtenisse aan te kondig
[Prent op bladsy 16]
Figuurtjie van ’n vrou met ’n slaginstrument, agtste eeu VHJ
[Prent op bladsy 16]
Muntstuk waarop ’n snaarinstrument uitgebeeld word, tweede eeu HJ
[Prent op bladsy 16]
Hierdie steen van die tempelomheining in Jerusalem bevat die woorde “na die plek van trompetgeskal”, uit die eerste eeu VHJ
[Foto-erkennings op bladsy 16]
Kleifiguurtjie: Z. Radovan/BPL/Lebrecht; muntstuk: © 2007 by David Hendin. All rights reserved; tempelsteen: Photograph © Israel Museum, Jerusalem; courtesy of Israel Antiquities Authority