Ons beskou die wêreld
Italië het sy eerste egskeidingskou gehou. Besoekers het huweliksagentskappe geraadpleeg om ’n nuwe metgesel te vind, asook reisagentskappe om vakansies vir ongetroudes te reël en egskeidingsagentskappe om regsgeleerdes, boekhouers, sielkundiges en gesinsbemiddelaars te vind.—CORRIERE DELLA SERA, ITALIË.
Die “vertrouenskrisis” wat ontstaan het omdat die Katolieke Kerk “die molesteringskrisis waarvoor geestelikes verantwoordelik is, verkeerd hanteer het”, het gelei tot die “grootste krisis in die instelling in eeue en moontlik in kerkgeskiedenis”.—NATIONAL CATHOLIC REPORTER, VSA.
Wetenskaplikes wat die DNS ontleed het van die gevriesde hare van ’n Groenlander wat omtrent 4 000 jaar gelede gesterf het, het gevind dat hy “skynbaar uit Siberië afkomstig is”.—DIE REUTERS-NUUSDIENS, VSA.
Groot afname in vertroue in die Kerk
“Meeste mense vertrou [die Katolieke] Kerk nie meer nie”, sê ’n opskrif in The Irish Times. Die berig plaas die Katolieke Kerk in dieselfde kategorie as ander instellings waarin die meeste Iere vertroue verloor het—die regering en die banke. In ’n land waar lojaliteit teenoor die kerk legendaries was, het meer as die helfte van die respondente in ’n onlangse meningspeiling gesê dat hulle die kerk “glad nie” (32 persent) vertrou nie of dat hulle die kerk “nie regtig” (21 persent) vertrou nie. Skandale wat die kerk in onlangse tye geskud het, word blameer vir die “groot afname” in openbare vertroue in die kerk.
Werklose gegradueerdes
Is ’n universiteitsopleiding ’n waarborg dat ’n mens werk sal kry? In baie gevalle is dit nie, volgens die Manila Bulletin. Dit haal die woorde van Herbert Bautista, die burgemeester van Quezon City, aan: “Aan ons kolleges en universiteite gradueer daar elke jaar miljoene studente wat eenvoudig onder die werkloses beland omdat hulle kursusse nie ooreenstem met die werk wat beskikbaar is nie.” Baie gaan werk op die ou end as kantoorklerke of in kitskosrestaurante. Die regering spoor matrikulante aan om kort kursusse te loop in praktiese vaardighede of tegniese velde waar werk makliker gevind kan word.
Brug word deur spoeg weggevreet
In Kolkata, Indië, word die 457 meter lange Howrah-brug deur voetgangers se spoeg bedreig. Waarom? Gutkha—die gewilde mengsel van betelblare, arekaneute en gebluste kalk, wat deur baie burgers gekou en uitgespoeg word—is ’n sterk bytstof. Volgens The Telegraph, ’n koerant van Kolkata, het “die gesamentlike krag van die spoeg die dikte van die staalkappe wat die [brug se] pilare beskerm, sedert 2007 van ses tot drie millimeter laat afneem”. Sowat 500 000 voetgangers en 100 000 voertuie gebruik hierdie rivierbrug elke dag.