Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g 8/11 bl. 24-28
  • Borskanker—Die verwagtinge en die vrese

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Borskanker—Die verwagtinge en die vrese
  • Ontwaak!—2011
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Basiese feite oor borskanker
  • Die oorsake?
  • Wat vroue oor borskanker moet weet
    Ontwaak!—1994
  • Die sleutels tot oorlewing
    Ontwaak!—1994
  • Die soort ondersteuning wat tel
    Ontwaak!—1994
  • Van ons lesers
    Ontwaak!—1994
Sien nog
Ontwaak!—2011
g 8/11 bl. 24-28

Borskanker—Die verwagtinge en die vrese

CONCHITA het geen tipiese risikofaktore gehad nie.a Sy was 40 jaar oud, gesond en het geen familiegeskiedenis van borskanker gehad nie. Haar roetinemammogram het getoon dat alles normaal is. Maar toe sy eendag haar borste in die stort ondersoek het, het sy ’n knop gevoel. Dit was kanker. Conchita en haar man het verslae gesit en luister terwyl die dokter haar opsies uiteengesit het.

In die verlede het ’n dokter vir ’n vrou met borskanker gesê dat haar enigste hoop op herstel ’n radikale mastektomie is—’n verminkende operasie waartydens die bors, limfkliere in die borsgedeelte en die armholte asook die borsspiere verwyder word. Chemoterapie of bestraling het die pynlike ervaring dikwels uitgerek. Dit is te verstane dat baie vroue banger was vir die behandeling as vir die siekte.

In die stryd teen borskanker kom dokters voor ’n voortdurende dilemma te staan—die belangrikheid daarvan om hierdie dodelike siekte aggressief te behandel en die begeerte om onnodige verminking en pynlike newe-effekte te vermy. Soos Conchita, het borskankerpasiënte vandag moontlik verskeie behandelingsopsies.b En die een mediese studie en mediaberig ná die ander bied die hoop dat deurbraakbehandelings, genetiese toetse om vatbaarheid te bepaal en voorkomende diëte die siekte uiteindelik sal oorwin.

Maar ten spyte van mediese vooruitgang is borskanker nog steeds ’n vername oorsaak van kankersterftes onder vroue.c Die nywerheidslande van Noord-Amerika en Wes-Europa het die meeste kankergevalle, maar dit neem ook toe in Asië en Afrika, wat oor die jare laer voorkomssyfers gehad het. Trouens, sterftesyfers onder vroue wat in Asië en Afrika gediagnoseer is, is hoër. Waarom? “Oor die algemeen word die siekte nie vroeg opgespoor nie”, het ’n dokter in Afrika gesê. “Die meeste pasiënte kom na ons toe wanneer die kanker al gevorderd is.”

Namate ’n vrou ouer word, neem die risiko toe. Sowat 80 persent van alle gevalle kom by vroue oor 50 voor. Maar die goeie nuus is dat borskanker een van die mees behandelbare kankers is. Trouens, 97 persent van vroue wie se borskanker nog in die vroeë stadium is en nie versprei het nie, lewe nog vyf jaar nadat hulle daarmee gediagnoseer is. Meer as vyf jaar het al verloop sedert Conchita se diagnose.

Basiese feite oor borskanker

Soos in Conchita se geval word borskanker dikwels opgespoor wanneer die persoon ’n vreemde knop voel. Maar gelukkig is ongeveer 80 persent van hierdie knoppe goedaardig, dit wil sê dit dring nie ander weefsel binne nie, en baie is eenvoudig vloeistofgevulde sakkies wat siste genoem word.

Borskanker begin wanneer ’n abnormale sel onbeheersd verdeel en geleidelik ’n gewas vorm. ’n Gewas raak kwaadaardig, of kankeragtig, wanneer die selle daarvan ander weefsels binnedring. Party gewasse groei vinnig; ander word dalk eers ná tien jaar opgespoor.

Om vas te stel of Conchita kanker het, het haar dokter ’n dun naald gebruik om ’n weefselmonster van die knop te neem. Dit het kankerselle bevat. Sy het ’n operasie ondergaan om die gewas en omliggende borsweefsel te verwyder en om die stadium (grootte, soort en of dit versprei het) en die graad (hoe vinnig dit groei) vas te stel.

Ná die operasie ontvang baie pasiënte verdere behandeling om te probeer verhoed dat die kanker terugkeer of versprei. Kankerselle kan van ’n gewas wegbreek, via die bloedstroom of limfstelsel versprei en weer begin groei. Die verspreiding, of metastase, van kanker na lewensorgane en weefsels—die brein, die lewer, die beenmurg of die longe—is wat die siekte so dodelik maak.

Conchita het bestraling sowel as chemoterapie ontvang om enige oorblywende kankerselle in die omgewing van die oorspronklike gewas en in die res van haar liggaam te vernietig. Aangesien haar vorm van kanker deur estrogeen gevoed word, het sy ook antihormoonterapie ontvang om te voorkom dat nuwe kankers groei.

Vooruitgang in die behandeling van borskanker bied pasiënte ook ander opsies afhangende van hulle ouderdom, gesondheid, kankergeskiedenis en die spesifieke soort kanker. Byvoorbeeld, in die geval van Arlette het toetse haar kanker opgespoor voordat dit verder as die melkbuis versprei het. Sy het dus ’n lumpektomie gehad, wat haar bors gered het. Alice het chemoterapie voor die operasie ontvang om haar gewas te laat krimp. Janice se chirurg het die gewas en slegs die brandwag-limfklier, die eerste klier waarheen vloeistof van die gewas dreineer, verwyder. Aangesien daar geen kankerselle in hierdie klier was nie, is die ander limfkliere nie verwyder nie. Dit het die kanse verminder dat Janice limfedeem sou kry, ’n ongemaklike swelling van die arm wat kan ontstaan wanneer baie van die limfkliere verwyder word.

Hoewel ons baie omtrent die groei van borskanker weet, is die vraag nog steeds: Waarom en hoe begin borskanker?

Die oorsake?

Die oorsake van borskanker bly ’n raaisel. Kritici sê dat meer navorsing gedoen word oor behandeling en toetse—wat groot winste oplewer—as oor oorsake en voorkoming. Nogtans het wetenskaplikes belangrike leidrade gevind. Party glo dat borskanker die gevolg is van ’n komplekse proses wat uit ’n aantal stappe bestaan en begin met ’n foutiewe geen wat veroorsaak dat selle abnormaal optree—dat hulle baie vinnig verdeel, ander weefsel binnedring, immuunselle ontwyk en lewensorgane onmerkbaar aanval.

Waar kom foutiewe gene vandaan? In tussen 5 en 10 persent van die gevalle is die vroue gebore met gene wat hulle vatbaar maak vir borskanker. Maar in baie gevalle word gesonde gene blykbaar beskadig deur eksterne agense—waarvan straling en chemikalieë van die vernaamstes is. In die toekoms sal studies moontlik bevestig of daar wel ’n verband bestaan.

Nog ’n faktor is die hormoon estrogeen, wat blykbaar tot sekere soorte borskanker aanleiding kan gee. ’n Vrou sal dus moontlik ’n groter risiko loop as sy baie jonk was toe sy begin menstrueer het of later as normaal deur menopouse gegaan het, as sy ouer was toe sy haar eerste kind gehad het of nooit kinders gehad het nie of as sy hormoonvervangingsterapie ontvang het. Aangesien vetselle estrogeen produseer, kan vetsug die risiko ná menopouse vergroot, wanneer ’n vrou se eierstokke nie meer hormone produseer nie. Ander risikofaktore is onder meer hoë vlakke van die hormoon insulien en lae vlakke van die slaaphormoon melatonien, iets waardeur nagskofwerkers dikwels geraak word.

Is daar behandelings vir borskanker in die vooruitsig wat doeltreffender en terselfdertyd minder traumaties sal wees? Navorsers is besig met die ontwikkeling van behandelings wat van die liggaam se eie immuunstelsel gebruik sal maak asook geneesmiddels wat kankergroei op molekulêre vlak sal teëwerk. Intussen behoort verbeterde beeldingstegnologie klinici te help om bestraling met groter presisie en doeltreffendheid toe te dien.

Wetenskaplikes sit die stryd ook op ander gebiede voort. Hulle probeer onder meer om die geheim van metastase te ontrafel, kankerselle wat teen chemoterapie bestand is, te ‘uitoorlê’, selgroeiseine te versteur en die behandeling by die spesifieke soort gewas aan te pas.

Maar in vandag se wêreld sal siekte nooit uit die weg geruim word nie en sal mense aanhou sterf (Romeine 5:12). Slegs ons Skepper kan hierdie droewige situasie verander. Maar sal hy? Die Bybel se antwoord is ja! Dit sê dat die tyd sal aanbreek wanneer “geen inwoner sal sê: ‘Ek is siek’ nie” (Jesaja 33:24).d Wat ’n verligting sal dit tog wees!

[Voetnote]

a Van die name is verander.

b Ontwaak! staan nie enige spesifieke behandeling voor nie.

c Borskanker by mans is redelik seldsaam.

d Hierdie belofte word in groter besonderhede bespreek in die Bybelstudiehulp Wat leer die Bybel werklik?, uitgegee deur Jehovah se Getuies.

[Venster/Prent op bladsye 24, 25]

WAARSKUWINGSTEKENS

Vroeë opsporing is uiters noodsaaklik, maar party studies waarsku dat borsondersoeke en mammogramme dalk minder akkuraat is in die geval van jonger vroue, wat tot onnodige behandeling en bekommernis kan lei. Maar deskundiges raai vroue ten sterkste aan om op die uitkyk te wees na veranderinge in hulle borste en limfkliere. Wees op die uitkyk na die volgende tekens:

● ’n Knop of verdikking op enige plek in die armholte of bors

● Enige afskeiding uit die tepel buiten borsmelk

● Enige verandering in die kleur of tekstuur van die vel

● ’n Tepel wat abnormaal ingeduik of teer is

[Venster op bladsy 25]

AS JY MET BORSKANKER GEDIAGNOSEER WORD

● Jy kan verwag dat jy ’n jaar of langer op die behandeling en herstelproses sal moet konsentreer.

● Indien moontlik moet jy bekwame dokters kies wat jou behoeftes en oortuigings respekteer.

● Besluit saam met jou gesin vir wie julle sal vertel, en wanneer. Dit sal jou vriende die geleentheid gee om hulle liefde vir jou te toon en om saam met jou en vir jou te bid.—1 Johannes 3:18.

● Bied emosionele spanning die hoof deur middel van Bybellees, gebed en opbouende bepeinsing.—Romeine 15:4; Filippense 4:6, 7. 

● Praat met ander wat borskanker gehad het en wat aanmoedigend sal wees.—2 Korintiërs 1:7.

● Probeer konsentreer op vandag se bekommernisse, nie môre s’n nie. “Moet julle . . . nooit kwel oor die volgende dag nie”, het Jesus gesê, “want die volgende dag sal sy eie sorge hê.”—Matteus 6:34.

● Gebruik jou energie spaarsaam. Jy moet genoeg rus kry.

[Venster/Prent op bladsy 26]

WANNEER JY MET JOU DOKTER PRAAT

● Leer die basiese mediese terminologie van borskanker ken.

● Voordat jy jou dokter besoek, kan jy ’n lysie vrae neerskryf en jou huweliksmaat of iemand anders vra om saam met jou te gaan en jou te help om aantekeninge te maak.

● As jou dokter iets sê wat jy nie verstaan nie, moet jy hom of haar vra om dit te verduidelik.

● Vra jou dokter hoeveel soortgelyke gevalle hy of sy al behandel het.

● Kry indien moontlik ’n tweede opinie.

● As jou dokters nie saamstem nie, moet jy opweeg hoeveel ondervinding elkeen het. Vra hulle om met mekaar te beraadslaag.

[Venster/Prente op bladsy 27]

WAT JY OMTRENT DIE NEWE-EFFEKTE KAN DOEN

Die newe-effekte van party kankerbehandelings kan die volgende insluit: naarheid, haarverlies, chroniese moegheid, pyn, ’n dooie of tintelende gevoel in die arms, bene, hande en voete asook velaandoenings. Die volgende eenvoudige stappe kan sulke newe-effekte verlig:

● Eet gesond en genoeg om jou immuunstelsel te versterk.

● Hou ’n rekord van jou energievlakke en hoe jou liggaam op sekere kossoorte reageer.

● Kyk of medikasie, akupunktuur of massering naarheid en pyn sal verlig.

● Doen matige oefening om jou meer stamina te gee, jou gewig te beheer en jou immuunreaksie te verbeter.e

● Rus dikwels, maar onthou dat lang tye in die bed jou moeër kan laat voel.

● Hou jou vel vogtig. Dra los klere. Bad in warm water.

[Voetnoot]

e Kankerpasiënte moet ’n mediese deskundige raadpleeg voordat hulle met ’n oefenprogram begin.

[Venster op bladsy 28]

AS ’N GELIEFDE KANKER HET

Hoe kan jy ’n geliefde ondersteun wat kanker het? Pas die volgende Bybelbeginsel toe: “Wees bly saam met mense wat bly is; huil saam met mense wat huil” (Romeine 12:15). Toon jou liefde en besorgdheid deur middel van telefoonoproepe, briewe, kaartjies, e-posse en kort besoeke. Bid saam en lees vertroostende tekste uit die Bybel. “Moenie praat oor mense wat aan kanker gesterf het nie, praat eerder oor dié wat dit oorleef het”, sê Beryl, die vrou van ’n reisende bedienaar van Jehovah se Getuies. “Gaan gee jou vriendin net ’n drukkie”, sê Janice, wat ook kanker gehad het. “As sy daaroor wil praat, sal sy dit doen.” Mans moet veral daarop let dat hulle hulle vrouens van hulle liefde verseker.

“Ons het gereeld ’n ‘kankervrye’ dag gehad”, vertel Geoff. “My vrou was vasbeslote om nie toe te laat dat haar gesondheid al ons aandag in beslag neem nie. Daarom het ons besluit om gereeld ’n dag te hê waarop ons glad nie oor die kanker praat nie. Ons het eerder op die positiewe dinge in ons lewe gekonsentreer. Dit was ’n welkome blaaskansie.”

[Venster op bladsy 28]

GEVOELENS

Oor die diagnose

Sharon: My lewe het in ’n oomblik verander. “Dis die einde”, het ek gesê.

Oor die moeilikste oomblikke

Sandra: Die emosionele stres is erger as die behandeling.

Margaret: Ná die tweede behandeling sê jy: “Ek wil dit nie regtig doen nie.” Maar jy doen dit maar net.

Oor vriende

Arlette: Ons het ons vriende vertel sodat hulle vir ons kon bid.

Jenny: Nie een glimlag, kopknik of hallo het ongemerk verbygegaan nie.

Oor ’n ondersteunende man

Barbara: Ek het besluit om my hare af te skeer voordat dit uitgeval het. Colin het gesê: “Jou kop het so ’n mooi vorm!” Hy het my laat lag.

Sandra: Ons het saam in die spieël gekyk. Ek het Joe se gesig dopgehou, en dit het my gerusgestel.

Sasha: Karl het vir ander gesê: “Ons het kanker.”

Jenny: Geoff se liefde was nimmereindigend, en sy geestelikheid was gerusstellend en bestendig.

[Diagram/Prent op bladsy 27]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

Kankerselle volg nie normale groeiseine nie, maar vermeerder en dring ander weefsel binne

[Diagram]

Melkbuis met normale selle

Kanker wat tot die buis beperk is

Buiskanker wat versprei

[Prent op bladsy 28]

’n Onontbeerlike deel van kankerbehandeling is die liefdevolle ondersteuning van familie en vriende

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel