Van ons lesers
Dubbele lewe Ek wil julle bedank vir die artikel “Jongmense vra . . . ’n Dubbele lewe—Niemand hoef mos te weet nie” (8 Januarie 1994). Toe ek 16 jaar oud was, het ek agter my ouers se rug begin drink en rook en met seuns begin uitgaan. Hierdie artikels het my werklik help besef dat niks vir God se waaksame oë verborge is nie.
T. T., Fidji
Die najaging van rykdom Ek het nou net die reeks “Die najaging van rykdom—Waar sal dit eindig?” (22 Maart 1994) gelees. Die artikels het die onderwerp uitstekend gedek. Ek het nie geweet dat trekarbeiders en hulle gesinne nog onder sulke haglike omstandighede verkeer nie. My hart gaan na hulle uit.
G. M., Verenigde State
Julle het die werksomstandighede en lae lone akkuraat beskryf. Dit illustreer die betreurenswaardige beskouing wat party mense van hierdie werkers het—nie as mense met gevoelens soos ons nie. Ja, “die een mens heers oor die ander tot sy ongeluk”!—Prediker 8:9.
K. V., Verenigde State
Borskanker In julle reeks “Borskanker—elke vrou se vrees” (8 April 1994) het julle glad nie melding gemaak van studies wat toon dat borsvoeding die gevaar van borskanker kan verminder nie.
B. J. M., Duitsland
Dit spyt ons dat ons dit nie gemeld het nie. Die punt is egter gestel in die artikel “Moedersmelk bly maar die beste” in ons nommer van 22 September 1993.—RED.
Ek het tyd saam met ’n Christensuster deurgebring wat haar bors laat verwyder het. Sy was 62 jaar oud en baie terneergedruk. Ek onthou dat ek nie geweet het wat om te sê om haar te bemoedig nie. Danksy die kommentare wat julle in die artikels aangehaal het, kan ek haar nou opbouende ondersteuning gee.
D. H., Verenigde State
Ek het omtrent twee jaar gelede ’n operasie vir borskanker ondergaan. Ek het ’n mediese ensiklopedie gekoop om inligting oor die onderwerp in te win, maar ek het nie veel daaroor gevind nie. Julle artikel het egter my vrae beantwoord. Dit het my werklik bemoedig.
M. G., Italië
Nege jaar gelede het my ma aan borskanker gesterf. Ek was destyds net nege jaar oud, en ek het nooit besef watter lyding sy verduur het nie. Toe ek daardie artikels lees en aan haar dink, was dit moeilik om nie te huil nie. Ek sal nooit genoeg kan dankie sê vir die insig wat julle my in die laaste paar jaar van haar lewe gegee het nie.
K. F., Verenigde State
Vigs-slagoffers Ek het julle artikel “Hulp aan diegene met vigs” (22 Maart 1994) gelees. Ek is HIV-positief en het dit baie moeilik gevind om die artikel te verwerk. My gesin het gehuil omdat hulle hartseer en verwerp voel.
B. J., Verenigde State
Ons het gewis medelye met sulke geteisterdes in ons midde. Ons artikel het die balans tussen hulle behoeftes en die belange van die meerderheid probeer handhaaf. Aangesien God se Wet aan Israel streng maatreëls getref het om die gesondheid van die nasie as ’n geheel te beskerm, het ons gemeen dat dit van pas is om redelike gesondheidsvoorsorgmaatreëls aan te beveel. (Vergelyk Levitikus 13:21, 33, NAV.) Ons het erken dat “’n mens nie uitermate bang hoef te wees om in die geselskap van iemand te wees wat vigs het nie”. Nogtans is talle steeds bang ten spyte van dokters se versekeringe. Daarom het ons vigs-lyers aangemoedig om die gevoelens van ander te respekteer wat dalk ongemaklik voel oor fisiese liefdesbetonings. Onbesmette mense moet self besluit wat hulle in dié opsig sal doen. Hoe dit ook al sy, alle Christene moet ’n opregte begeerte hê om vriendelikheid en medelye aan lyers te betoon.—RED.
Dit het my baie bemoedig om te sien dat so ’n medelydende en goedgeskrewe artikel voorsien is. Ek het veral die voorstelle waardeer dat ons, hoewel ons “universele voorsorgmaatreëls” moet tref, medelye moet toon en simpatieke hulp moet verskaf.
M. H., Verenigde State