“Die kragtigste leermasjien in die heelal”
’NBABA se brein is al “die kragtigste leermasjien in die heelal” genoem—en met goeie rede. Wanneer ’n baba in die wêreld kom, is hy gereed om alles in te neem wat hy om hom sien, hoor en voel.a
’n Baba word bowenal gefassineer deur ander mense—hulle gesigte, hulle stemme, hulle aanraking. Die boek Babyhood, deur Penelope Leach, sê: “Baie studies is al gedoen oor die geluide wat ’n baba se aandag trek en behou, die dinge wat hy sien wat hom die meeste fassineer, die sensasies wat hy graag oor en oor wil ervaar. Dit alles word gewoonlik geredelik voorsien deur ’n volwassene wat die baba versorg.” Geen wonder dat ouers so ’n noodsaaklike rol in die kind se ontwikkeling speel nie!
‘Ek het soos ’n klein kindjie gepraat’
Ouers sowel as kinderartse is verstom oor ’n pasgebore baba se vermoë om ’n taal te leer deur net daarna te luister. Navorsers het gevind dat ’n baba binne ’n paar dae gewoond is aan sy ma se stem en dit bo die stem van ’n vreemdeling verkies; dat hy binne weke die verskil kan hoor tussen die spraakklanke van sy ouers se taal en dié van ander tale; en dat hy binne maande kan hoor dat woorde in sinne saamgevoeg word, wat hom die vermoë gee om normale spraak van onverstaanbare geluide te onderskei.
Die Christenapostel Paulus het geskryf: “Toe ek ’n klein kindjie was, het ek soos ’n klein kindjie gepraat” (1 Korintiërs 13:11). Hoe praat ’n klein kindjie, of ’n baba? Gewoonlik met ’n onsamehangende gebabbel. Is dit net geraas? Glad nie! In haar boek What’s Going On in There?—How the Brain and Mind Develop in the First Five Years of Life herinner dr. Lise Eliot ons daaraan dat spraak “’n ingewikkelde motoriese taak [is], wat die vinnige koördinasie vereis van tientalle spiere wat die lippe, tong, verhemelte en stemkas beheer”. Sy voeg by: “Hoewel ’n gebabbel dalk lyk asof dit net ’n oulike manier is waarop babas aandag probeer kry, dien dit ook as ’n baie belangrike oefening vir die komplekse gimnastiek van spraak.”
Ouers reageer op hulle baba se gebabbel deur op ’n vermaaklike manier met hom te praat, en dit dien ook ’n doel. Sulke oordrewe spraak spoor die baba aan om verder te babbel. Hierdie interaksie leer die baba die grondbeginsels van gesprekvoering—’n vaardigheid wat hy vir die res van sy lewe sal gebruik.
Die ouers se rol verander
Om na hulle pasgebore baba se daaglikse behoeftes om te sien, hou ouers nogal besig. Die baba huil, en iemand is daar om hom te voed. Die baba huil, en iemand is daar om sy doek om te ruil. Die baba huil, en iemand is daar om hom vas te hou. Hierdie vertroeteling is gepas en noodsaaklik. Dit is ’n belangrike manier waarop ouers hulle rol as versorgers vervul.—1 Tessalonisense 2:7.
Met die oog op die bogenoemde is dit net natuurlik as ’n baba dink dat die hele wêreld om hom draai en dat volwassenes—in die besonder sy ouers— bloot daar is om sy wense te vervul. Hierdie beskouing is verkeerd, maar is heeltemal begryplik. Onthou dat die baba dit meer as ’n jaar lank elke dag ondervind het. Sover dit hom aangaan, is hy die koning van ’n ryk vol grootmense wat daar gesit is om hom te dien. Die gesinsberader John Rosemond skryf: “Dit neem net onder twee jaar om hierdie fantastiese indruk te skep; dit neem ten minste ’n verdere sestien jaar om dit reg te stel! En vreemd genoeg is dit ’n ouer se taak: om sy/haar kind in hierdie fantasie te laat glo en om dan—al is dit sagkens—die kind se seepbel te laat bars.”
Op omtrent tweejarige ouderdom bars die seepbel inderdaad wanneer die ouer se rol verander van versorger na onderrigter. Nou word die baba daarvan bewus dat sy ouers nie sy leiding volg nie; daar word eerder van hom verwag om hulle leiding te volg. Die baba is van sy troontjie afgestoot, en hy verwelkom dalk nie die nuwe bewind nie. Gefrustreerd probeer hy sy man staan. Hoe?
Woedebuie—Hoe om dit te hanteer
Baie babas se gedrag verander drasties wanneer hulle omtrent twee jaar oud is, en woedebuie maak dikwels deel daarvan uit. Dit is baie frustrerend vir ouers omdat die kind dan baie moeilik is. Skielik is die kind se gunstelinguitdrukking “Nee!” of “Ek wil nie!” Hy raak moontlik gefrustreerd met homself en met sy ouers terwyl hy met sy eie teenstrydige gevoelens worstel. Hy wil nie by jou wees nie, en tog wil hy ook naby jou wees. Vir die verbysterde ouers maak die situasie nie sin nie, en dit lyk of niks wat hulle doen, help nie. Wat is aan die gang?
Wel, dink aan die groot verandering wat in die kind se lewe plaasgevind het. Tot onlangs toe kon hy net ’n kermgeluidjie maak en dan was die volwassenes dadelik daar. Nou begin hy besef dat sy “bewind” net tydelik was en dat hy ten minste ’n paar dinge self sal moet doen. Hy begin al hoe meer besef dat hy in ’n ondergeskikte rol is, wat opgesom kan word deur hierdie woorde in die Bybel: “Kinders, wees in alles aan julle ouers gehoorsaam.”—Kolossense 3:20.
Gedurende hierdie moeilike stadium moet ouers hulle gesag laat geld. As hulle dit op ’n ferm maar liefdevolle manier doen, sal die kind by sy nuwe rol aanpas. En hy sal voorbereid wees vir verdere fassinerende aspekte van die grootwordproses.
Sedelike karakter
Diere, selfs masjiene, kan woorde herken en spraak naboots. Maar net ’n mens kan selfondersoek doen. Op twee- of driejarige ouderdom kan ’n kleuter emosies soos trots, skaamte, skuldgevoelens en verleentheid ondervind. Dit is die eerste stadiums in die proses om ’n volwassene met sedelike eienskappe te word—iemand wat ferm standpunt kan inneem vir wat reg is, selfs wanneer ander verkeerde dinge doen.
Omstreeks dié tyd het ouers die voorreg om nog ’n wonder te ondervind. Hulle kind word bewus van die gevoelens van ander. Toe hy twee was, het hy net langs ander kinders gespeel, nou speel hy moontlik met hulle. Hy kan ook sien wanneer sy ouers goed voel en sal hulle moontlik tevrede wil stel. Daarom sal hy nou waarskynlik gewilliger wees om te leer.
’n Driejarige begin meer as ooit tevore leer wat reg en verkeerd is, wat goed en sleg is. Dít is dus die tyd vir ouers om hulle kinders op te lei met die doel om hulle te help om verantwoordelike volwassenes te word.
[Voetnoot]
a Ter wille van eenvoud sal ons in hierdie tydskrif na die kind as manlik verwys. Maar die beginsels wat bespreek word, is op albei geslagte van toepassing.
[Lokteks op bladsy 5]
’n Baba is binne ’n paar dae gewoond aan sy ma se stem en verkies dit bo die stem van ’n vreemdeling
[Lokteks op bladsy 6]
’n Driejarige begin meer as ooit tevore leer wat reg en verkeerd is, wat goed en sleg is
[Venster op bladsy 6]
WAAROM WOEDEBUIE DALK VOORTDUUR
“Party ouers voel dat ’n kind ’n woedebui het omdat hulle dalk verkeerd opgetree het toe die kind iets wou hê”, skryf John Rosemond in New Parent Power. “As hulle wel die oorsaak van die kind se woedebui is, spreek dit vanself dat hulle die verkeerde optrede so gou as moontlik sal wil regstel. Daarom sê hulle ja nadat hulle nee gesê het. Of as hulle die kind ’n pak slae gegee het, gee hulle hom of haar meer as wat hy of sy aanvanklik gevra het, om van hulle skuldgevoelens ontslae te raak. Hierdie strategie werk. Die woedebui kom tot ’n einde, die ouer voel verlig en die kind, wat geleer het dat woedebuie hom help om sy sin te kry, sorg dat sy woedebuie meer en doeltreffender raak.”