Wat ouers sê
As jy die ouer van ’n voorskoolse kind is, kom jy waarskynlik voor uitdagings te staan. Byvoorbeeld, hoe moet jy woedebuie hanteer? Hoe kan jy jou kind leer om tussen reg en verkeerd te onderskei en hoe kan jy gebalanseerde dissipline toedien? Let op hoe party ouers hierdie uitdagings die hoof gebied het.
WOEDEBUIE
“Wanneer ’n kind deur die moeilike stadium gaan wat tweejariges kenmerk, verwag hy om sy sin te kry. Ons seun het hierdie probleem gehad. As hy nie sy sin gekry het nie, het hy goed begin rondgooi. Hy was ons eerste kind, en daarom het ons nie geweet hoe om sy woedebuie te hanteer nie. Dit het nie gehelp wanneer ander vir ons gesê het dat ons hierdie soort gedrag moet verwag nie.”—Susan, Kenia.
“Toe ons dogter twee was, het sy dikwels op die vloer gaan lê, geskreeu, gehuil, geskop . . . Dit was baie frustrerend! Dit het nie gehelp om op daardie oomblik met haar te probeer praat nie. Daarom het ek en my man haar na haar kamer gestuur en kalm vir haar gesê dat sy kan uitkom wanneer sy beter voel en dat ons dan daaroor sal praat. Nadat sy gekalmeer het, het een van ons na haar kamer toe gegaan en haar gehelp om te verstaan waarom haar optrede onaanvaarbaar was. Hierdie metode het gewerk. Ons het selfs eenkeer gehoor hoe sy tot God bid en hom om vergifnis vra. Mettertyd het haar woedebuie minder geword en toe heeltemal opgehou.”—Yolanda, Spanje.
“Kleuters probeer kyk hoe ver hulle kan gaan. As jy jou kind toelaat om iets te doen wat jy uitdruklik verbied het, stuur dit ’n verwarrende boodskap uit. Ons het gevind dat wanneer ons ferm en konsekwent was, ons kinders mettertyd geleer het dat hulle nie hulle sin sal kry met ’n geskreeu nie.”—Neil, Brittanje.
DISSIPLINE
“Wanneer ’n kind jonger as vyf is, is dit moeilik om vas te stel hoe goed hy luister. Die sleutel is herhaling. Jy moet herhaal en herhaal, skynbaar duisende kere, en ook gebare en ’n ferm stemtoon gebruik.”—Serge, Frankryk.
“Hoewel ons vier kinders in dieselfde milieu grootgeword het, was elkeen uniek. Een het gehuil as sy net geweet het dat sy ons teleurgestel het; ’n ander een het weer probeer kyk hoe ver sy kon gaan. Soms was ’n streng kyk of ’n bietjie raas genoeg, maar ander kere moes ons die kind straf.”—Nathan, Kanada.
“Dit is belangrik om dissipline deur te voer. Maar terselfdertyd moet ’n ouer nie dogmaties of onbuigsaam wees nie. Soms, wanneer die kind werklik jammer is, meen ons dat dit die beste is om redelik te wees en die dissipline te versag.”—Matthieu, Frankryk.
“Ek probeer om nie te veel reëls te maak nie, maar dié wat ek wel gemaak het, is nie onderhandelbaar nie. My driejarige seuntjie weet wat die gevolge van ongehoorsaamheid is, en dit help hom om hom te gedra. Wanneer ek moeg is, sal dit weliswaar vir my makliker wees om sy verkeerde gedrag te ignoreer. Maar omdat ek konsekwent wil wees, dwing ek myself om op te tree. Konsekwentheid is uiters belangrik!” —Natalie, Kanada.
KONSEKWENTHEID
“Dit lyk asof klein kindertjies ’n geheueskyfie het waarop enige inkonsekwentheid van ’n ouer geberg word.”—Milton, Bolivia.
“Soms vra my seun dieselfde ding op verskillende maniere om te sien of ons dieselfde antwoord sal gee. Of as ek een ding sê en sy ma iets anders sê, beskou hy dit as ’n skuiwergat en probeer hy die situasie uitbuit.”—Ángel, Spanje.
“Soms het ek my seun se slegte gedrag geïgnoreer wanneer ek in ’n goeie bui was, maar hom streng gestraf wanneer ek in ’n slegte bui was. Ek het gevind dat dit die slegte gedrag net vererger het.”—Gjeong-ok, Korea.
“Dit is belangrik dat jong kinders verstaan dat gedrag wat vandag verkeerd is, altyd verkeerd sal wees.”—Antonio, Brasilië.
“As ouers nie konsekwent is nie, sal die kind dink dat sy pa en ma onvoorspelbaar is, dat hulle besluite afhang van hulle bui. Maar as ouers by hulle beginsels bly, sal die kinders weet dat wat verkeerd is, altyd verkeerd is. Dit is een manier waarop ouers hulle kinders veilig en geliefd laat voel.”—Gilmar, Brasilië.
“Kinders kan situasies uitbuit as dit lyk of ’n ouer geen ander keuse het as om ’n versoek toe te staan nie—soos wanneer ander mense teenwoordig is. As my antwoord nee is, sê ek van die begin af so, en ek laat my seun duidelik verstaan dat ek nie na ’n aanhoudende geneul sal luister nie.”—Tsjang-seok, Korea.
“Ouers moet saamstaan. As ek en my vrou nie oor iets saamstem nie, praat ons privaat daaroor. Kinders kan sien wanneer ouers nie oor iets saamstem nie, en hulle sal die situasie probeer uitbuit.”—Jesús, Spanje.
“Wanneer ’n kind weet dat sy ouers saamstaan en nie gemanipuleer kan word nie, voel hy veilig. Hy weet wat om te verwag, of hy nou gehoorsaam of ongehoorsaam is.”—Damaris, Duitsland.
“Vir my en my vrou beteken konsekwentheid ook dat ons ons woord hou wanneer ons ons dogter iets aangenaams belowe. So leer sy dat sy op ons beloftes kan staatmaak.”—Hendrick, Duitsland.
“As my werkgewer gedurig dit wat hy van my verwag, verander, sal dit my irriteer. Dit is ook die geval met kinders. Hulle voel veilig as hulle weet wat die reëls is en dat die reëls nie sal verander nie. Hulle moet ook weet wat die gevolge van ongehoorsaamheid is en dat dit ook nie sal verander nie.”—Glenn, Kanada.
[Lokteks op bladsy 8]
“Laat julle Ja, Ja beteken, en julle Nee, Nee.”—Jakobus 5:12
[Venster/Prente op bladsy 9]
GESINSPROFIEL
’n Onbeplande swangerskap—Hoe ons aangepas het
Soos vertel deur Tom en Yoonhee Han
Tom: Ons was net ses maande getroud toe my vrou, Yoonhee, uitgevind het dat sy swanger is. Uiterlik het ek kalm gebly, aangesien ek Yoonhee wou verseker dat sy op my kon vertrou om haar te vertroos en by te staan. Maar innerlik was ek paniekbevange!
Yoonhee: Ek was verpletter—en bang! Ek het gehuil en gehuil; ek het nie gereed of bekwaam gevoel om ’n ma te wees nie.
Tom: En ek het nie gereed gevoel om ’n pa te wees nie! Maar nadat ons met ander ouers gepraat het, het ons besef dat ’n onbeplande swangerskap algemener is as wat ons gedink het. Om te hoor wat ander ouers sê oor die vreugdes wat dit meebring om ’n pa of ’n ma te wees, het ons ook gehelp. My vrees en onsekerheid is geleidelik deur ’n gevoel van afwagting vervang.
Yoonhee: Nadat Amanda gebore is, was daar nuwe uitdagings. Sy het aanhoudend gehuil, en ek kon weke lank nie slaap nie. Ek het geen eetlus gehad nie en het heeltemal uitgeput gevoel. Aanvanklik wou ek nie in mense se geselskap wees nie. Maar toe het ek besef dat dit nie sal help as ek my by die huis afsonder nie. Daarom het ek tyd met ander nuwe ma’s deurgebring. Sodoende kon ek my situasie met hulle s’n vergelyk, en dit het my gehelp om te besef dat ek nie die enigste een met bekommernisse is nie.
Tom: Ek het ’n vaste gesinsroetine probeer behou. As Jehovah se Getuies was ek en Yoonhee byvoorbeeld vasbeslote om gereeld aan die bediening deel te neem en Christelike vergaderinge by te woon. Wanneer ’n mens ’n kind het, bring dit ook uitgawes mee, waarvan party onvoorsien is. Ons het seker gemaak dat ons binne ons vermoë lewe sodat ons nie skuld maak nie, wat net tot meer stres sou gelei het.
Yoonhee: Ek het eers gedink dat dit dalk onprakties sal wees om aan die bediening deel te neem, aangesien babas steurend kan wees. Maar eintlik hou mense van babas. Hierdie besef het my gehelp om bedrywig in die bediening te bly en om positiewer oor my kind te voel.
Tom: Die Bybel sê dat kinders “’n erfdeel van Jehovah” en “’n beloning” is (Psalm 127:3). Hierdie woorde sê vir my dat ’n kind ’n kosbare gawe is. Soos met enige erfdeel het jy ’n keuse: Jy kan óf ’n verstandige belegging maak óf dit verkwis. Ek leer dat elke stadium van ’n kind se ontwikkeling uniek is, en ek moet gedurende elke stadium deel van my dogter se lewe wees, want as hierdie geleentheid eers verby is, kan jy dit nie terugkry nie.
Yoonhee: Soms verras die lewe ons, en ’n onbeplande kind is nie ’n slegte verrassing nie. Amanda is nou ses jaar oud, en ek kan my nie die lewe sonder haar voorstel nie.
[Prent]
Tom en Yoonhee saam met hulle dogter, Amanda