Die grootmaak van kinders—Tussen die kleinkinderjare en adolessensie
“Totdat jou kinders vyf jaar oud is, geniet hulle beskerming in die gesinskring en is dit makliker om goeie eienskappe by hulle in te skerp. Maar sodra hulle skool toe gaan, word hulle blootgestel aan ander maniere van dinge doen en ander maniere van praat.”—Valter, Italië.
NAMATE kinders ouer word, word die wêreld wat hulle verken, al hoe groter. Hulle word blootgestel aan meer mense—speelmaats, skoolmaats en uitgebreide familie. Soos Valter, wat hierbo aangehaal is, sê, is jy nie meer die enigste invloed in jou kind se lewe, soos tydens sy kleinkinderjare nie. Daarom is dit noodsaaklik dat jy hierdie jare gebruik om jou kind die waarde van gehoorsaamheid en goeie maniere te leer. Dit is ook belangrik dat jy jou kind leer hoe om tussen reg en verkeerd te onderskei.
’n Kind leer hierdie vaardighede nie gou en sommer net vanself aan nie. Jy sal hom waarskynlik moet “[teregwys], berispe, vermaan, met alle lankmoedigheid en onderrigkuns” (2 Timoteus 4:2). Israelitiese ouers is aangaande God se wette beveel: “Jy moet dit by jou kind inskerp en daaroor praat wanneer jy in jou huis sit en wanneer jy op die pad loop en wanneer jy gaan lê en wanneer jy opstaan” (Deuteronomium 6:6, 7). Soos hierdie teks toon, is voortgesette onderrigting noodsaaklik.
Die verantwoordelikheid om kinders groot te maak, gaan met ’n aantal uitdagings gepaard. Kom ons kyk na net ’n paar.
’n Tyd om te luister
Die Bybel sê dat daar nie net “’n tyd [is] om te praat” nie, maar ook ’n tyd is om te luister (Prediker 3:7). Hoe kan jy jou kind leer om aandag te skenk wanneer ander—en ook jy—praat? Een manier is om die voorbeeld te stel. Luister jy aandagtig na ander, insluitende jou kinders?
Kinders se gedagtes dwaal maklik, en jou geduld sal ongetwyfeld op die proef gestel word wanneer jy met hulle probeer kommunikeer. Elke kind is anders, en daarom moet jy oplettend wees en bepaal watter kommunikasiemetodes die beste vir jou kind is. David, ’n pa in Brittanje, sê byvoorbeeld: “Ek laat ons dogter in haar eie woorde herhaal wat ek vir haar gesê het. Gevolglik luister sy beter namate sy groter word.”
Toe Jesus sy dissipels onderrig het, het hy vir hulle gesê: “Skenk . . . aandag aan hoe julle luister” (Lukas 8:18). As volwassenes dit moet doen, hoeveel te meer moet kinders dit doen!
‘Vergewe mekaar vryelik’
Die Bybel sê: “Hou aan om mekaar te verdra en mekaar vryelik te vergewe as iemand rede tot klagte teen ’n ander het” (Kolossense 3:13). Kinders kan geleer word om die vermoë te ontwikkel om te vergewe. Hoe?
Soos vroeër bespreek is aangaande die kuns om te luister, moet jy die voorbeeld stel. Laat jou kinders sien dat jy vergewensgesind is in jou handelinge met ander. Marina, ’n ma in Rusland, probeer dit doen. “Ons probeer ’n goeie voorbeeld vir ons kinders stel deur ander te vergewe, toegewings te maak en nie aanstoot te neem nie”, sê sy en voeg by: “Wanneer ek verkeerd is, vra ek my kinders om verskoning. Ek wil hê hulle moet leer om dieselfde te doen in hulle handelinge met ander.”
Die vermoë om geskille op te los en te vergewe, is iets wat jou kinders in hulle volwasse lewe nodig sal hê. Leer jou kinders nou al om bedagsaam teenoor ander te wees en om verantwoordelikheid vir hulle foute te aanvaar. Sodoende sal jy hulle ’n waardevolle gawe gee wat vir hulle baie nuttig sal wees terwyl hulle grootword.
“Toon dat julle dankbaar is”
In hierdie “kritieke tye . . . wat moeilik is om deur te kom”, is baie mense “liefhebbers van hulleself” (2 Timoteus 3:1, 2). Dit is nou die tyd, terwyl jou kinders nog jonk is, om ’n dankbare gesindheid by hulle in te skerp. “Toon dat julle dankbaar is”, het die apostel Paulus geskryf.—Kolossense 3:15.
Selfs wanneer hulle nog jonk is, kan kinders leer om goeie maniere te hê en bedagsaam teenoor ander mense te wees. Hoe? “Die beste manier waarop jy jou kinders kan help om ’n dankbare gesindheid aan te kweek, is om dit voortdurend by die huis te openbaar”, het dr. Kyle Pruett vir die tydskrif Parents gesê. Hy het bygevoeg: “Dit beteken dat jy gereeld sê hoeveel jy dit waardeer wanneer ander jou help of op ander maniere bedagsaam teenoor jou is . . . Dit verg baie oefening.”
Richard, ’n pa in Brittanje, probeer dit doen: “Ek en my vrou wys vir die kinders hoe om mense te bedank wat gaaf teenoor ons was, soos onderwysers of oupas en oumas”, sê hy. “Wanneer ons by ’n ander gesin gaan eet, skryf ons ’n dankiesêkaartjie, en al die kinders skryf hulle naam daarin of teken ’n prentjie daarop.” As jou kind bedagsaam en dankbaar is, sal dit hom help om later in die lewe blywende en hegte verhoudings op te bou.
“Moenie dissipline terughou” nie
Terwyl jou kinders grootword, is dit uiters belangrik dat hulle leer dat dade gevolge het. Selfs op ’n jong ouderdom moet kinders hulle aan gesag onderwerp, nie net by die huis nie, maar ook by die skool en in die gemeenskap. Jy kan jou kinders help om die beginsel te leer dat jy maai wat jy saai (Galasiërs 6:7). Hoe?
Die Bybel sê: “Moenie dissipline terughou” nie (Spreuke 23:13). As jy dit duidelik gemaak het dat ’n sekere verkeerde daad ’n spesifieke gevolg sal hê, moet jy nie skroom om die beloofde dissipline toe te dien nie. “Konsekwentheid is noodsaaklik”, sê Norma, ’n ma in Argentinië. “As jy nie konsekwent is nie, spoor dit ’n kind aan om situasies te manipuleer om sy sin te kry.”
Ouers kan baie doen om ’n eindelose gestry ná ’n misstap te vermy deur seker te maak dat hulle kinders vooraf verstaan wat die gevolge van ongehoorsaamheid sal wees. Kinders is minder geneig om hulle teen dissipline te verset as hulle weet wat die reëls is, wat die gevolge sal wees as hulle die reëls oortree en as hulle besef dat die gevolge nie onderhandelbaar is nie.
Dissipline sal natuurlik slegs doeltreffend wees as dit nie in woede toegedien word nie. Die Bybel sê: “Laat alle kwaadwillige bitterheid en toorn en gramskap en geskreeu en smadende taal van julle af weggeneem word” (Efesiërs 4:31). Dissipline moet nooit wrede straf insluit nie en moet nooit neerkom op mishandeling nie—hetsy fisies of emosioneel.
Maar hoe kan jy jou humeur beteuel as jou kind jou geduld tot die uiterste beproef het? “Dit is nie altyd maklik nie”, erken Peter, ’n pa in Nieu-Seeland, “maar kinders moet leer dat die dissipline as gevolg van hulle handelinge toegedien word en nie as gevolg van ’n ouer se gebrek aan selfbeheersing nie.”
Peter en sy vrou probeer hulle kinders help om te sien watter voordele teregwysing op die lange duur inhou. “Selfs as die kinders iets werklik aanstootliks gedoen het”, sê hy, “praat ons eerder met hulle oor die soort persoon wat hulle moet wees as oor die oortreder wat hulle kort tevore was.”
‘Laat julle redelikheid bekend word’
Aangaande die teregwysing wat God sy volk sou gee, het hy gesê: “Ek sal jou in die regte mate moet tugtig” (Jeremia 46:28). Jy sal die beste resultate kry as jy teregwysing gee wat regverdig is en gepas is vir die oortreding. “Laat julle redelikheid . . . bekend word”, het Paulus aan Christene geskryf.—Filippense 4:5.
Redelikheid behels onder andere dat teregwysing gegee word op ’n manier wat jou kinders hulle waardigheid laat behou. Santi, ’n pa in Italië, sê: “Ek verkleineer nooit my seun of dogter nie. Ek probeer eerder sien wat die oorsaak van die probleem is en doen dan iets daaromtrent. Ek dissiplineer nie my kinders voor ander nie en, as dit enigsins moontlik is, nie eers voor mekaar nie. En ek spot hulle nie oor hulle tekortkominge nie—nie in die openbaar nie en ook nie wanneer ons alleen is nie.”
Richard, wat vroeër aangehaal is, besef ook dat dit wys is om redelik te wees. “Die straf moenie vererger met elke nuwe oortreding wat die kind begaan nie”, sê hy. “Nadat jy die kind gedissiplineer het, is dit belangrik dat jy nie op die oortreding bly hamer en die kind voortdurend aan sy foute herinner nie.”
Om kinders groot te maak, is harde werk wat selfopoffering behels, maar dit bring ryk belonings mee. Dit is wat Jelena, ’n ma in Rusland, gevind het. Sy sê: “Ek het ’n deeltydse werk gekry sodat ek meer tyd saam met my seun kan deurbring. Dit verg inspanning en die geld is minder, maar dit is die opoffering werd wanneer ek sien hoe gelukkig dit my seun maak en hoe dit ons nader aan mekaar laat kom.”
[Prent op bladsy 11]
Kinders kan leer om bedagsaam teenoor ander te wees
[Prent op bladsy 12]
Wys kinders tereg op ’n manier wat hulle hulle waardigheid laat behou