’n Besondere boek wat nie vernietig kon word nie
“Geen boek is al so hewig teëgestaan nie; maar dit het elke aanslag deurstaan wat mag, talent en welsprekendheid al ooit daarteen geloods het.”
WAAROM verdien die Bybel jou aandag? Om maar een ding te noem, dit verklaar dat dit God se boodskap aan die mensdom bevat (2 Timoteus 3:16). As hierdie verklaring waar is, sal jy beslis iets misloop as jy dit nie lees nie.
Nog ’n rede waarom ’n mens die Bybel moet ondersoek, is dat dit een van die oudste boeke is wat bestaan en verreweg die mees vertaalde en wyds verspreide boek ter wêreld is. Dit is die topverkoper van alle tye en is steeds elke jaar bo-aan die topverkoperlys.
Die Bybel se verklarings, ouderdom en verspreiding is selfs indrukwekkender in die lig van al die pogings wat deur die geskiedenis heen gemaak is om dit te vernietig. “Geen boek is al so hewig teëgestaan nie; maar dit het elke aanslag deurstaan wat mag, talent en welsprekendheid al ooit daarteen geloods het”, het die 19de-eeuse teoloog Albert Barnes gesê.
Dieselfde skrywer het gesê dat mense van nature belangstel in enigiets wat herhaalde aanslae deurstaan het. “Maar geen leër het al soveel gevegte deurgemaak as die Bybel nie”, sê Barnes verder, “geen eertydse verskansing het soveel beleërings deurstaan en so vasgestaan ondanks die gedonder van oorlog en die tand van die tyd nie; geen rots is deur soveel strome oorspoel en het steeds onbeweeglik gebly nie.”
Talle eertydse geskrifte het verlore geraak, is vernietig of het bloot vergete geraak, maar die Bybel het ondanks hewige aanslae behoue gebly. Party mense het hulle lewe op die spel geplaas om dit aan die gewone mense beskikbaar te stel. Dan was daar ander wat dit uit die hande van gretige lesers gegryp het en Bybels en diegene wat dit besit het, in die openbaar verbrand het.
Waarom het party mense hierdie boek so liefgehad en ander dit so gehaat? Watter aanslae is daarteen gemaak? Wie het dit probeer vernietig? Nog belangriker, waarom het dit behoue gebly? En waarom is die boodskap daarin vir jou belangrik? Die volgende bladsye sal hierdie vrae beantwoord.
Tabel/Prente op bladsye 2, 3]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
TYDLYN WAT TOON HOE DIE BYBEL ONS BEREIK HET
1513 VHJ–ca. 98 HJ Die Bybel word in Hebreeus, Aramees en Grieks geskryf
100 Beskikbaar in die meer draagbare kodeksvorm
405 Deur Hieronimus in Latyn vertaal
1380 Deur Wycliffe uit Latyn in Engels vertaal
1455 Gutenberg vervaardig die eerste gedrukte Bybel
1525 Deur Tyndale in Engels vertaal
1938 In meer as 1 000 tale gedruk
2011 In meer as 2 500 tale beskikbaar