Die boek met die grootste verspreiding ter wêreld
“Die Bybel is die boek wat die meeste gelees is in die geskiedenis. . . . Daar is meer eksemplare van die Bybel versprei as van enige ander boek. Die Bybel is ook meer dikwels vertaal, en in meer tale, as enige ander boek.”—“The World Book Encyclopedia.”1
IN SEKERE opsigte is die meeste boeke soos mense. Hulle verskyn op die toneel, word dalk al hoe gewilder en—buiten ’n handjievol klassieke werke—word oud en sterf. Biblioteke dien dikwels as begraafplase vir tallose boeke wat verouderd, ongelees en in werklikheid dood is.
Maar die Bybel is selfs onder klassieke werke uitsonderlik. Hoewel daar 3 500 jaar gelede begin is om dit te skryf, lewe dit beslis nog. Dit is die boek met verreweg die grootste verspreiding op aarde.a Elke jaar word ongeveer 60 miljoen eksemplare van die hele Bybel of dele daarvan versprei. Die eerste uitgawe wat met los letters gedruk is, het omstreeks 1455 van die Duitse uitvinder Johannes Gutenberg se drukpers gekom. Sedertdien is ongeveer viermiljard eksemplare van die Bybel (in sy geheel of ten dele) al gedruk. Geen ander boek, godsdienstig of niegodsdienstig, kom selfs naby nie.
Die Bybel is ook die mees vertaalde boek in die geskiedenis. Die hele Bybel of dele daarvan is al in meer as 2 100 tale en dialekte vertaal.b Meer as 90 persent van die mensdom het toegang tot ten minste ’n deel van die Bybel in hulle eie taal.2 Hierdie boek is dus nie deur landsgrense en rasse- en etniese hindernisse aan bande gelê nie.
Statistiek op sigself sal miskien nie vir jou ’n dwingende rede gee om die Bybel te ondersoek nie. Tog is die verspreiding- en vertalingsyfers indrukwekkend, en dit getuig van die Bybel se universele trefkrag. Die gewildste en mees vertaalde boek in die ganse mensegeskiedenis verdien beslis ons aandag.
[Voetnote]
a Naas die Bybel is die boekie met die rooi omslag Quotations From the Works of Mao Tse-tung vermoedelik die publikasie met die grootste verspreiding; ongeveer 800 miljoen eksemplare is al verkoop of versprei.
b Gegewens oor die aantal tale is gebaseer op syfers wat deur die Verenigde Bybelgenootskappe bekend gemaak is.
[Prent op bladsy 6]
Die Gutenberg-Bybel, in Latyn, die eerste volledige boek wat met los letters gedruk is