Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g 3/12 bl. 25-27
  • Hoe om diegene met angsversteurings te help

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hoe om diegene met angsversteurings te help
  • Ontwaak!—2012
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Hoe om te help
  • Werp al julle sorge op Jehovah
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe)—2016
  • Werp al julle bekommernis op Jehovah
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1994
  • Wat kan ek omtrent angstigheid doen?
    Jongmense vra
  • Mans wat angstig is – Hoe die Bybel kan help
    Nog onderwerpe
Sien nog
Ontwaak!—2012
g 3/12 bl. 25-27

Hoe om diegene met angsversteurings te help

“My hart klop dikwels baie hard, koue sweet slaan op my uit en ek raak kortasem. Ek voel oorweldig deur vrees, angstigheid en verwarring.”—Isabella, ’n vrou in haar veertigerjare wat aan ’n paniekversteuring ly.

ANGS kan beskryf word as “’n gevoel van senuweeagtigheid of bekommernis”. Het jy byvoorbeeld al ooit senuweeagtig gevoel wanneer jy ’n kwaai hond teëkom? Wat gebeur wanneer die hond weggaan? Die senuweeagtigheid en bekommernis verdwyn ook. Maar wat is ’n angsversteuring?

Wanneer angs chronies raak, wanneer dit voortduur selfs wanneer daar nie meer ’n rede daarvoor is nie, kan angs ’n versteuring word. Volgens die Amerikaanse Nasionale Instituut van Geestesgesondheid (NIMH) “[ly] sowat 40 miljoen Amerikaanse volwassenes van 18 jaar en ouer . . . in ’n gegewe jaar aan angsversteurings”. Neem byvoorbeeld Isabella, wat aan die begin aangehaal word. Voortdurende angstigheid, soos sy ondervind, kan ernstige gevolge vir die lyer inhou.

Wat meer is, dit kan ook ’n negatiewe uitwerking hê op die lyer se gesin. Maar daar is goeie nuus. ’n Publikasie van die NIMH sê: “Doeltreffende behandeling vir angsversteurings is beskikbaar, en navorsers ontdek nuwe behandelings wat die meeste mense met angsversteurings kan help om ’n produktiewe, sinvolle lewe te lei.”

Familie en vriende kan ook bystand verleen aan iemand wat aan ’n angsversteuring ly. Hoe?

Hoe om te help

Wees ondersteunend: Monica, wat ly aan algemene angsversteuring en posttraumatiese stresversteuring, noem ’n probleem waarmee sy te kampe het: “Die meeste mense vind dit moeilik om my emosionele probleme te verstaan.”

Gevolglik is mense wat aan angsversteurings ly, dikwels so bang dat ander hulle verkeerd sal verstaan dat hulle hulle probleem probeer wegsteek. Dit kan skuldgevoelens tot gevolg hê wat hulle emosionele toestand vererger. Dit is dus noodsaaklik dat familie en vriende hulle ondersteun.

Leer meer oor die versteuring: Dit is veral belangrik vir diegene wat nou omgaan met iemand wat aan ’n angsversteuring ly. Dit kan ’n gesinslid of ’n hegte vriend insluit.

Hou aan om mekaar te vertroos: Die eerste-eeuse sendeling Paulus het vriende in die Griekse stad Tessalonika aangespoor: “Hou . . . aan om mekaar te vertroos en mekaar op te bou” (1 Tessalonisense 5:11). Ons kan dit doen deur middel van ons woorde sowel as ons stemtoon. Ons moet toon dat ons innig lief is vir ons vriende, en ons moenie kwetsende insinuasies maak nie.

Dink aan die drie sogenaamde vriende van die man Job, na wie ’n Bybelboek vernoem is. Jy onthou moontlik dat daardie mans verkeerdelik geïnsinueer het dat Job verborge sondes bedek en dat sy lyding die gevolg hiervan was.

Wees dus ingestel op die lyer se gevoelens. Luister aandagtig. Probeer om sake uit die lyer se oogpunt te sien, nie jou eie nie. Moenie oorhaastige gevolgtrekkings maak terwyl jy luister nie. Dit is wat Job se sogenaamde vriende gedoen het, en gevolglik is hulle “ellendige vertroosters” genoem. Hulle het hom in werklikheid erger laat voel!—Job 16:2.

Onthou om goed te luister wanneer ’n lyer met jou praat. Laat die persoon toe om sy gevoelens vryelik uit te spreek. Dit sal jou moontlik help om beter te verstaan wat hy deurmaak. En dink aan die voordele wat dit sal meebring! Jy sal iemand met ’n angsversteuring dalk kan help om ’n produktiewer en sinvoller lewe te lei.

[Venster/Prent op bladsy 27]

Verskillende soorte angsversteurings

Dit is baie belangrik om angsversteurings te verstaan, veral wanneer ’n gesinslid of hegte vriend daaraan ly. Kyk na vyf van hierdie versteurings.

Paniekversteuring Dink aan Isabella, wat aan die begin van ons artikel gemeld word. Dit is nie net die paniekaanvalle wat haar lewe ontwrig nie. “Tussen die aanvalle is ek heeltyd bang vir die volgende aanval”, sê sy. Daarom vermy lyers gewoonlik plekke waar hulle ’n aanval gehad het. Dit beperk party in so ’n mate dat hulle heeltyd tuis bly of ’n gevreesde situasie slegs kan aandurf as iemand wat hulle vertrou, aan hulle sy is. Isabella het verduidelik: “Net die feit dat ek alleen is, kan ’n aanval aanbring. My ma laat my veilig voel; ek kan dit nie verdra as sy nie naby is nie.”

Obsessief-kompulsiewe versteuring ’n Persoon wat obsessief is oor kieme of vuilheid, kan die kompulsiewe drang ontwikkel om sy hande oor en oor te was. Renan sê aangaande sy kompulsiewe gedrag: “Die foute wat ek in die verlede gemaak het, maal heeltyd in my gedagtes. Ek is alewig besig om dit te ontleed en uit elke moontlike hoek te beskou.” Die gevolg is ’n obsessie om by ander te bieg oor foute van die verlede. Renan moet voortdurend gerusgestel word. Maar hy gebruik medikasie wat hom help om sy obsessie te beheers.a

Posttraumatiese stresversteuring (PTSV) Hierdie term is in onlangse tye gebruik om verskeie sielkundige simptome te beskryf wat mense moontlik sal ondervind ná ’n uiters traumatiese gebeurtenis wat fisiese leed of die moontlikheid daarvan behels het. PTSV-lyers ondervind moontlik die volgende simptome: Hulle skrik maklik, is prikkelbaar, raak emosioneel afgestomp, verloor belangstelling in dinge wat hulle voorheen geniet het en vind dit moeilik om geneentheid vir ander te voel—veral vir dié met wie hulle voorheen ’n hegte verhouding gehad het. Party word aggressief, selfs gewelddadig, en vermy gewoonlik situasies wat hulle aan die traumatiese gebeurtenis herinner.

Sosiale fobie, of sosiale angsversteuring Hierdie term word gebruik vir mense wat uiters angstig en uitermate selfbewus is in alledaagse sosiale situasies. Party het ’n intense, voortdurende vrees dat ander hulle dophou en veroordeel. Hulle sal hulle dalk dae of weke lank bekommer oor ’n geleentheid wat hulle gaan bywoon. Hulle vrees kan so erg word dat dit inmeng met hulle vermoë om te funksioneer by die werk, die skool of gedurende ander gewone bedrywighede en dit vir hulle moeilik maak om vriende te maak en te behou.

Algemene angsversteuring Monica, wat vroeër gemeld is, ly aan hierdie versteuring. Sy word die hele dag gekwel deur “oordrewe bekommernisse”, al is daar min of geen rede daarvoor nie. Lyers is geneig om die ergste te verwag en is oorbesorg oor gesondheidsake, geld, gesinsprobleme of probleme by die werk. Net die gedagte aan die dag wat voorlê, kan angs veroorsaak.b

[Voetnote]

a Ontwaak! staan nie enige spesifieke mediese behandeling voor nie.

b Die inligting hierbo is gebaseer op ’n publikasie van die Nasionale Instituut vir Geestesgesondheid van die Amerikaanse Departement van Gesondheid en Menslike Dienste.

[Prent op bladsy 26]

“Hou . . . aan om mekaar te vertroos”

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel