Werp al julle bekommernis op Jehovah
“Verneder julle . . . onder die kragtige hand van God, sodat Hy julle kan verhoog op die regte tyd. Werp al julle bekommernis op Hom, want Hy sorg vir julle.”—1 PETRUS 5:6, 7.
1. Hoe kan bekommernis ons beïnvloed, en hoe kan dit toegelig word?
BEKOMMERNIS kan ons lewe op dramatiese wyse beïnvloed. Dit kan vergelyk word met die statiese steurnis wat soms ’n pragtige melodie oor die radio bederf. As daar geen radiosteurnis is nie, kan soet klanke geniet word en kan dit ’n kalmerende invloed hê. Maar die krapperige geraas van statiese steurnis kan selfs die mooiste deuntjie bederf en ons irriteer en frustreer. Bekommernis kan ’n soortgelyke uitwerking op ons gemoedsrus hê. Dit kan ons so terneergedruk laat voel dat ons nie aan belangrike sake kan aandag skenk nie. Ja, “bekommernis in die hart van ’n mens druk dit neer”.—Spreuke 12:25.
2. Wat het Jesus Christus oor die “sorge van die lewe” gesê?
2 Jesus Christus het oor die gevaar daarvan gepraat om deur uitermatige bekommernis van koers af gebring te word. In sy profesie oor die laaste dae het hy gesê: “Pas op vir julleself, dat julle harte nie miskien beswaar word deur swelgery en dronkenskap en sorge van die lewe nie, en dié dag julle nie skielik oorval nie. Want soos ’n strik sal hy kom oor almal wat op die hele aarde woon. Waak dan en bid altyddeur, sodat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge wat kom, te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan” (Lukas 21:34-36). Net soos oormatige etery en dronkenskap tot ’n trae verstandelike toestand kan lei, kan die “sorge van die lewe” veroorsaak dat ons ons verstandelike perspektief verloor, met tragiese gevolge.
Wat is bekommernis?
3. Hoe is “bekommernis” al gedefinieer, en wat is sommige oorsake daarvan?
3 “Bekommernis” word gedefinieer as “pynlike of bevreesde onrustigheid van die gemoed, gew[oonlik] oor ’n dreigende of verwagte onheil”. Dit is “bevreesde besorgdheid of belangstelling” sowel as “’n abnormale en oorweldigende gevoel van besorgdheid en vrees wat dikwels deur fisiologiese tekens (soos sweet, spanning en ’n vinniger pols) gekenmerk word, weens twyfel oor die werklikheid en aard van die bedreiging en weens onsekerheid oor jou vermoë om dit die hoof te bied” (Webster’s Ninth New Collegiate Dictionary). Bekommernis kan dus ’n komplekse probleem wees. Siekte, ouderdom, vrees vir misdaad, werkloosheid en bekommernis oor die welsyn van ’n mens se gesin tel onder baie van die oorsake.
4. (a) Wat kan ons gerus omtrent mense en hulle bekommernisse onthou? (b) Wat kan gedoen word as ons deur bekommernis geteister word?
4 Dit is duidelik dat daar grade van bekommernis is, net soos daar verskillende toestande of omstandighede is wat daartoe aanleiding kan gee. Almal reageer nie dieselfde in ’n sekere situasie nie. Gevolglik moet ons besef dat, al kwel iets ons nie, dit vir sommige van ons medeaanbidders van Jehovah ’n bron van groot bekommernis kan wees. Wat kan gedoen word wanneer bekommernis so erg raak dat ons nie op die harmoniese en aangename waarhede van God se Woord kan konsentreer nie? Sê nou ons word so deur bekommernis geteister dat ons nie die geskille van Jehovah se soewereiniteit en Christelike onkreukbaarheid voor oë kan hou nie? Ons kan moontlik nie ons omstandighede verander nie. In plaas daarvan moet ons na skriftuurlike punte soek wat ons sal help om oormatige bekommernis wat deur die lewe se moeilike probleme veroorsaak word die hoof te bied.
Hulp is beskikbaar
5. Hoe kan ons in ooreenstemming met Psalm 55:23 optree?
5 Wanneer Christene geestelike hulp nodig het en met bekommernisse belas is, kan hulle vertroosting uit God se Woord put. Dit voorsien betroubare riglyne en talle versekeringe dat ons as Jehovah se lojale knegte nie alleen is nie. Die psalmis Dawid het byvoorbeeld gesing: “Werp jou sorg op die HERE, en Hý sal jou onderhou; Hy sal nooit die regverdige laat wankel nie” (Psalm 55:23). Hoe kan ons in ooreenstemming met hierdie woorde optree? Deur al ons bekommernisse, kwellinge, vrese en teleurstellings op ons liefdevolle hemelse Vader te werp. Dit sal ons help om ’n gevoel van veiligheid en ’n kalm hart te verkry.
6. Wat kan gebed volgens Filippense 4:6, 7 vir ons doen?
6 Gereelde, hartgrondige gebed is noodsaaklik as ons ons sorge, met inbegrip van al ons bekommernisse, op Jehovah wil werp. Dit sal ons innerlike vrede verskaf, want die apostel Paulus het geskryf: “Wees oor niks besorg nie, maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God. En die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan, sal julle harte en julle sinne bewaar in Christus Jesus” (Filippense 4:6, 7). Die weergalose “vrede van God” is ’n ongewone kalmte wat Jehovah se toegewyde knegte selfs in die moeilikste situasies geniet. Dit is ’n resultaat van ons intieme persoonlike verhouding met God. Wanneer ons om heilige gees bid en toelaat dat dit ons motiveer, word ons nie van alle lewensprobleme bevry nie, maar ons geniet die gees se vrug van vrede (Lukas 11:13; Galasiërs 5:22). Ons word nie deur bekommernis oorweldig nie, want ons weet dat Jehovah al sy getroue knegte “in veiligheid [laat] woon” en dat hy niks sal laat gebeur wat ons blywend kan benadeel nie.—Psalm 4:9.
7. Watter rol kan Christen- ouere manne speel om ons te help om bekommernis die hoof te bied?
7 Maar sê nou ons blý bekommerd, al bepeins ons die Skrif en volhard ons in gebed? (Romeine 12:12). Die aangestelde ouere manne in die gemeente is ook ’n voorsiening van Jehovah om ons geestelik te help. Hulle kan ons vertroos en help deur God se Woord te gebruik en deur saam met ons en vir ons te bid (Jakobus 5:13-16). Die apostel Petrus het sy mede- ouere manne aangemoedig om gewillig, ywerig en op ’n voorbeeldige wyse as herders oor die kudde van God toesig te hou (1 Petrus 5:1-4). Hierdie manne dra ons belange op die hart en wil graag help. As ons ten volle by die hulp van die ouere manne wil baat vind en wil hê dat dit geestelik met ons goed moet gaan in die gemeente, moet ons almal natuurlik Petrus se raad toepas: “Julle, jongeres, [moet] aan die oueres onderdanig wees; en wees almal met ootmoed bekleed in onderdanigheid aan mekaar, want God weerstaan die hoogmoediges, maar aan die nederiges gee Hy genade.”—1 Petrus 5:5.
8, 9. Watter bemoediging kan ons uit 1 Petrus 5:6-11 put?
8 Petrus het bygevoeg: “Verneder julle dan onder die kragtige hand van God, sodat Hy julle kan verhoog op die regte tyd. Werp al julle bekommernis op Hom, want Hy sorg vir julle. Wees nugter en waaksaam, want julle teëstander, die duiwel, loop rond soos ’n brullende leeu en soek wie hy kan verslind. Hom moet julle teëstaan, standvastig in die geloof, omdat julle weet dat dieselfde lyding opgelê word aan julle broederskap wat in die wêreld is. En mag die God van alle genade self, wat ons geroep het tot sy ewige heerlikheid in Christus Jesus, nadat ons ’n kort tyd gely het, julle volmaak [“opleiding voltooi”, NW], bevestig, versterk en grondves! Aan Hom die heerlikheid en die krag tot in alle ewigheid! Amen.”—1 Petrus 5:6-11.
9 Hoe bemoedigend om te besef dat ons ‘al ons bekommernis op God kan werp, want hy sorg vir ons’! En as van ons bekommernis die gevolg van die Duiwel se pogings is om ons verhouding met Jehovah te vernietig deur vervolging en ander lyding oor ons te bring, kan ons ons daarin verheug dat alles goed sal afloop vir handhawers van onkreukbaarheid. Ja, nadat ons ’n kort tyd gely het, sal die God van alle genade ons opleiding voltooi en ons versterk.
10. Eerste Petrus 5:6, 7 sinspeel op watter drie eienskappe wat kan help om bekommernis te verminder?
10 Eerste Petrus 5:6, 7 sinspeel op drie eienskappe wat ons kan help om ons bekommernis te verwerk. Een is nederigheid, of “ootmoed”. Vers 6 sluit af met die uitdrukking “op die regte tyd”, wat toon dat ons geduldig moet wees. Vers 7 toon dat ons met vertroue al ons bekommernis op God kan werp ‘want hy sorg vir ons’, en daardie woorde spoor ons aan om volkome op Jehovah te vertrou. Kom ons kyk dus nou hoe nederigheid, geduld en volkome vertroue op God ons kan help om ons bekommernis te verminder.
Hoe nederigheid kan help
11. Hoe kan nederigheid ons help om ons bekommernis te verwerk?
11 As ons nederig is, sal ons erken dat God se gedagtes ver bo ons s’n verhewe is (Jesaja 55:8, 9). Nederigheid sal ons help besef dat ons verstandelike visie beperk is in vergelyking met Jehovah se alomvattende perspektief. Hy sien dinge wat nie vir ons waarneembaar is nie, soos in die geval van die regverdige man Job (Job 1:7-12; 2:1-6). Deur ons “onder die kragtige hand van God” te verneder, erken ons ons nederige posisie in verhouding met die Oppersoewerein. Dit weer help ons om ons aan te pas by die omstandighede wat hy toelaat. Ons hart hunker dalk na onmiddellike verligting, maar aangesien Jehovah se eienskappe in volmaakte balans is, weet hy presies wanneer en hoe om ten behoewe van ons op te tree. Laat ons dus soos jong kinders Jehovah se magtige hand in nederigheid vashou, vol vertroue dat hy ons sal help om ons bekommernisse te verwerk.—Jesaja 41:8-13.
12. Watter uitwerking kan dit op ons bekommernis oor materiële sekuriteit hê as ons die woorde van Hebreërs 13:5 nederig toepas?
12 Nederigheid sluit gewilligheid in om raad uit God se Woord toe te pas, wat dikwels bekommernis kan verminder. As ons bekommernis byvoorbeeld die gevolg van diep betrokkenheid by materiële strewes is, sal dit dalk goed wees as ons oor Paulus se raad nadink: “Julle gedrag moet vry van geldgierigheid wees. Wees tevrede met wat julle het, want [God] het gesê: Ek sal jou nooit begewe en jou nooit verlaat nie” (Hebreërs 13:5). Deur sulke raad nederig toe te pas, het baie hulle van groot bekommernis oor materiële sekuriteit bevry. Hoewel hulle finansiële posisie dalk nie verbeter het nie, oorheers dit nie hulle gedagtes tot hulle geestelike nadeel nie.
Die rol van geduld
13, 14. (a) Watter voorbeeld het Job met betrekking tot geduldige volharding voorsien? (b) Wat kan dit vir ons doen as ons geduldig op Jehovah wag?
13 Die uitdrukking “op die regte tyd” in 1 Petrus 5:6 dui daarop dat dit nodig is om geduldig te volhard. Soms duur ’n probleem lank voort en dit kan ’n mens se bekommernis vergroot. Dit is veral dan wanneer ons sake aan Jehovah moet oorlaat. Die dissipel Jakobus het geskryf: “Ons noem dié wat volhard het gelukkig. Julle het gehoor van die volharding van Job en het gesien hoe Jehovah dit laat afloop het, dat Jehovah baie teer in geneentheid en barmhartig is” (Jakobus 5:11, NW). Job is ekonomies geruïneer, hy het tien kinders aan die dood afgestaan, aan ’n weersinwekkende siekte gely en is verkeerdelik deur valse troosters veroordeel. ’n Sekere mate van bekommernis sou onder sulke omstandighede normaal wees.
14 In ieder geval, Job was ’n voorbeeld van geduldige volharding. As ons ’n ernstige toets van ons geloof moet verduur, moet ons dalk, soos hy, op verligting wag. Maar God hét ten behoewe van Job opgetree en hom uiteindelik uit sy lyding verlos en hom oorvloedig beloon (Job 42:10-17). As ons geduldig op Jehovah wag, laat dit ons in groter mate volhard en toon dit die diepte van ons toegewydheid aan hom.—Jakobus 1:2-4.
Vertrou op Jehovah
15. Waarom moet ons volkome op Jehovah vertrou?
15 Petrus het sy medegelowiges aangespoor om ‘al hulle bekommernis op God te werp, want hy sorg vir hulle’ (1 Petrus 5:7). Ons kan en moet dus volkome op Jehovah vertrou. Spreuke 3:5, 6 sê: “Vertrou op die HERE met jou hele hart en steun nie op jou eie insig nie. Ken Hom in al jou weë, dan sal Hy jou paaie gelykmaak.” Vanweë vorige ondervindinge vind sommige wat met diepe kommer te kampe het dit moeilik om ander mense te vertrou. Maar ons het alle rede om ons vertroue in ons Skepper, die Bron en Onderhouer van die lewe, te stel. Al vertrou ons nie ons eie reaksie in ’n sekere saak nie, kan ons altyd op Jehovah staatmaak om ons uit ons beproewinge te verlos.—Psalm 34:19, 20; 36:10, NAV; 56:4, 5.
16. Wat het Jesus Christus omtrent bekommernis oor materiële dinge gesê?
16 As ons op God vertrou, beteken dit ook dat ons gehoorsaam moet wees aan sy Seun, Jesus Christus, wat ander geleer het wat sy Vader hom geleer het (Johannes 7:16). Jesus het sy dissipels aangespoor om ‘skatte in die hemel bymekaar te maak’ deur Jehovah te dien. Maar wat van materiële behoeftes, soos voedsel, klere en skuiling? “Hou op om besorg te wees”, het Jesus gemaan. Hy het daarop gewys dat God die voëls voed. Hy klee die blomme op pragtige wyse. Is God se menseknegte nie meer werd as al hierdie dinge nie? Natuurlik is hulle. Gevolglik het Jesus gesê: “Soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.” Jesus het verder gesê: “Wees dus nooit besorg oor die volgende dag nie, want die volgende dag sal sy eie sorge hê” (Mattheüs 6:20, 25-34, vgl. NW). Ja, ons het voedsel, drank, klere en skuiling nodig, maar as ons op Jehovah vertrou, sal ons ons nie onnodig oor hierdie dinge bekommer nie.
17. Hoe kan ons die nodigheid daarvan om die Koninkryk eerste te stel, toelig?
17 As ons die Koninkryk eerste wil stel, moet ons op God vertrou en ons prioriteite reg hê. ’n Duiker sonder ’n asemhalingsapparaat duik dalk onder die water op soek na ’n oester met ’n pêrel daarin. Dit is hoe hy sy gesin onderhou. Beslis ’n hoë prioriteit! Maar wat is belangriker? Lug! Hy moet gereeld opkom om sy longe weer met lug te vul. Lug is ’n hoër prioriteit. Ons moet dalk eweneens in sekere mate by hierdie stelsel van dinge betrokke wees sodat ons in ons lewensbehoeftes kan voorsien. Maar geestelike aangeleenthede moet eerste kom omdat ons huisgesin se lewe van hierdie dinge afhang. As ons oormatige bekommernis oor materiële behoeftes wil vermy, moet ons volkome op God vertrou. As ons ‘oorvloedig in die werk van die Here is’, kan dit bowendien help om bekommernis te verminder omdat “die vreugde van Jehovah” ons vesting sal wees.—1 Korinthiërs 15:58; Nehemia 8:10, NW.
Hou aan om julle bekommernis op Jehovah te werp
18. Watter bewys is daar dat dit ons werklik kan help as ons al ons bekommernis op Jehovah werp?
18 As ons ons altyd op geestelike dinge wil toespits, moet ons al ons bekommernis op Jehovah werp. Hou altyd in gedagte dat hy werklik vir sy knegte omgee. Ter toeligting: Vanweë haar man se ontrouheid aan haar het een Christenvrou se bekommernis so toegeneem dat sy nie kon slaap nie. (Vergelyk Psalm 119:28, NW.) Maar wanneer sy in die bed was, het sy al haar bekommernis op Jehovah gewerp. Sy het haar hart teenoor God uitgestort en hom vertel van die pyn wat sy en haar twee klein dogtertjies deurmaak. Nadat sy in vurige gebed om verligting gesmeek het, kon sy altyd aan die slaap raak omdat sy vertrou het dat Jehovah na haar en haar kinders sal omsien. Hierdie vrou, wat ’n skriftuurlike egskeiding verkry het, is nou gelukkig getroud met ’n ouere man.
19, 20. (a) Wat is sommige maniere waarop ons bekommernis die hoof kan bied? (b) Wat moet ons aanhou om met al ons bekommernis te doen?
19 As Jehovah se volk het ons verskillende maniere waarop ons bekommernis die hoof kan bied. Dit help veral om God se Woord toe te pas. Ons het die ryk geestelike voedsel wat God deur “die getroue en verstandige dienskneg” voorsien, met inbegrip van nuttige en verkwikkende artikels wat in Die Wagtoring en die Ontwaak! verskyn (Mattheüs 24:45-47). Ons het die hulp van God se heilige gees. Gereelde en vurige gebed is van groot nut. Aangestelde Christen- ouere manne is gereed en gewillig om ons van geestelike hulp en vertroosting te voorsien.
20 Ons eie nederigheid en geduld is van groot nut om enige bekommernis te verwerk waarmee ons dalk te kampe het. Volkome vertroue op Jehovah is veral belangrik, want ons geloof word opgebou namate ons sy hulp en leiding ervaar. Geloof in God kan weer keer dat ons ons onnodig kwel (Johannes 14:1). Geloof spoor ons aan om die Koninkryk eerste te stel en om besig te bly in die Here se vreugdevolle werk, wat ons kan help om bekommernis die hoof te bied. Sulke bedrywigheid laat ons veilig voel tussen diegene wat tot in alle ewigheid tot God se lof sal sing (Psalm 104:33). Laat ons dus aanhou om al ons bekommernis op Jehovah te werp.
Hoe sou jy antwoord?
◻ Hoe kan bekommernis gedefinieer word?
◻ Wat is sommige maniere waarop ons bekommernis die hoof kan bied?
◻ Hoe kan nederigheid en geduld help om bekommernis te verlig?
◻ Waarom is dit noodsaaklik om volkome op Jehovah te vertrou as ons bekommernis die hoof wil bied?
◻ Waarom moet ons aanhou om al ons bekommernis op Jehovah te werp?
[Prent op bladsy 24]
Weet jy waarom Jesus gesê het: “Hou op om besorg te wees”?